Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 22 Maart 2023

VISIO DIVINA #29

22 Maart – Deel 1

Uit die 40+ gelykenisse wat Jesus vertel, is bykans vyftien die sg. Koninkryksgelykenisse. Hoe kan ‘n mens ooit die koninkryk van God voorstel as jy dit nie kan sien nie! Daarom gebruik Jesus alledaagse beelde om die ingewikkelde teologiese konsep te verduidelik. Daar is voorbeelde uit boerdery; sommige hou verband met geld, ander met visvang; daar is beelde van ‘n huwelik; selfs een uit ‘n kombuis. So help Jesus sy luisteraars (ons ook) om te sien.

Elke kunswerk vertel ‘n visuele storie. Wat hierdie skildery van Daniel Bonnell so treffend maak is dat ons twee van Jesus se gelykenisse gelyktydig sien. Dink jouself in dat Jesus saam met jou kyk en vir jou sê, “Met die koninkryk van die hemele gaan dit soos met…” Wat sou dit wees?

VISIO DIVINA #29

22 Maart – Deel 1

TEKSVERS: “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus,ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” (Fil 3:7-8).

Jesus vertel drie baie kort gelykenisse in Matteus 13:44-50. Die skildery van Daniel Bonnell, getiteld, “The pearl of great price”, beeld twee daarvan uit. Die dissipels het steeds nie heeltemal verstaan wat Jesus hulle oor die koninkryk van God wou leer nie; toe gebruik Jesus hierdie voorbeelde: dit is soos ‘n waardevolle skat is wat iemand in die grond ontdek. So waardevol is dit vir hom, dat hy alles verkoop wat hy het, net om die grond te gaan koop sodat hy die skat kan kry. Dan kom die tweede voorbeeld, “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.”

Destyds was pêrels werklik so skaars dat ‘n handelaar alles daarvoor sou opoffer net om die eienaar daarvan te kon word. Maar as jy daardie één gekry het, dan hoef jy nooit weer te soek nie. Jou soekende siel het tot bedaring gekom. Paulus het dit verstaan. Niks ewenaar die vrede wat jy ervaar as die vrede tussen mens en God nie. Soos Paulus ook skryf, dit is vrede wat ‘n mens se verstand te bowe gaan.

Net as jy dit eers self beleef, sal jy weet hoekom dit so kosbaar is!

GEBED: Here, my Here, laat alles wat eens waardevol was, hul betekenis verloor net sodat ek meer van U kan kry.

———

Op Dag 29 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n “Laat U Koninkryk hier kom”, soos gesing deur Jannie du Toit, op sy CD: Palet.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun