Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 28

VISIO DIVINA #28

Deel 1

In 1684 is hierdie Arabiese manuskrip in Egipte deur ‘n koptiese monnik geïllustreer, toegebind met ‘n bokvel buiteblad. Die hele bundel (met bykans 50 illustrasies) is uitbeeldinge oor die vier evangelies. Hierdie is die 24ste folio van die bundel, en die gelykenis is getiteld: Die mosterdsaad. ““Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.” (Matt 13:31-32). ‘n Piepklein (2mm) swart mosterdsaadjie met ‘n enkele stam wat uitspruit met takke en tot 3 meter hoog kon groei.

Hierdie word ‘n “profetiese gelykenis” genoem: nou sien julle net die saadjie, maar in julle leeftyd sal julle sien…

Soms wonder ek of ons nog hierdie sin – “in julle leeftyd…” – in die Bybel glo?

Deel 2

TEKSVERS:

“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.” (Ef. 1:20-21).

Die Arabiese manuskrip waaruit hierdie ikoon kom het een spesifieke kenmerk: die blaaie is oral met blomme en voëls versier. Dit is ryke simboliek oor skoonheid, groei en floreer. Die koninkryk van God mag dalk vir die dissipels klein lyk in verhouding tot die koninkryk van Rome, maar daarom is die gelykenis van die mostertsaad so betekenisvol. Sommige bome groei so stadig dat jy dalk sterf voordat jy die boom sal sien groot word; maar die mostertsaad is anders: in julle leeftyd sál julle dit kan sien. As die mostertsaad begin vertak, is dit gou-gou reusagtig. En dit sou plek bied vir voëls om daarin ‘n tuiste te vind.

Wie sou ooit kon dink hoe letterlik Jesus hierdie gelykenis bedoel het om te wees! Die koninkryk van God sal julle tuiste wees; hier op aarde, maar ook in die lewe hierna (net soos Jesus in Joh 14:2 ook leer.)

Op ‘n stadium vra die dissipels vir Jesus “Gee ons meer geloof.” Waarop Jesus antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het…” (Luk 17:5-6). Nee, ons het nie meer geloof, of “groter” geloof nodig nie. As ons maar net dit wat ons hét in die grond gooi om te sterf, sal dit die wonderwerke bereik wat God daarmee bedoel het! Met die koringkorrel (of die saad) wat sterf kan God kragtig te werk gaan

Laat God vandag dan toe om die werk deur jou (die mostertsaadjie) te doen!

GEBED:

Here Jesus, nie meer van my nie, maar meer van U.

————

“Die mostersaad in my”, deur die musiekgroep,“Manne wat glo.”

Op Dag 28 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “Die mostersaad in my”, deur die musiekgroep,“Manne wat glo.” Hierdie mans is Willie Joubert, Jan de Wet, Leon Ferreira, Rudi Muller

Uit die lirieke:

Hy’t die mosterdsaad kom plant in my
Met Sy Woord het Hy dit nat gelei
En ‘n sonstraal van liefde daaroor laat skyn
En die mosterdsaad word ‘n lewensboom
Gewortel, langs
‘n Waterstroom en dra vrugte van geloof, liefde en hoop
En as jy my vra, hoe ek staande bly
In ‘n stukkende wereld rigting kry
Dan kan ek bely
Dis die mosterdsaad in my.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun