Elmar en Nadine van OMF se Nuusbrief vir Januarie 2023
Konnichiwa Nuusbrief こんにちは
Goeie dag liewe ondersteuner, “You will keep him in perfect peace,whose mind is stayed on You,because he trusts in You.” Isaiah 26:3 NIV Hierdie vers in Jesaja is ‘n belofte dat as ons ons gedagtes op Christus vestig, ons vrede sal ervaar. In die Nuwe Testament beloof Jesus aan Sy volgelinge Sy vrede. Dit is nie die valse vrede van die wêreld nie rn ook nie ‘n vrede wat afhangend van die omstandighede rondom ons is nie. Dis ‘n innelike vrede wat ons die vertroue gee dat Jesus altyd saam met ons is. Dis ons gebed dat jy vrede in Jesus sal vind temidde van moeilike omstandighede en dat jy sal onthou Hy het beloof dat Hy met ons is tot die voleinding van die wêreld.
In hierdie nuusbrief vertel ons jou graag van gebeure in ons lewens, waarmee ons tans besig is en wil ons ook deur die brief jou bedank vir jou getroue ondersteuning. Ons is albei nie die beste skrywers nie, maar ons poog om deur ons nuusbriewe jou deel van ons roeping vir Japan te maak. Translation
Leah du Rand リア デュ ランド
Ons voel dikwels so hartseer om te dink dat Leah sal uitmis om in Suid-Afrika groot te word. ‘n Plek waar sy tussen grootouers, niggies, neefs en so baie mense wat vir haar lief is, sou kon groot word. Terwyl daar ook wonderlike vooruitsigte is vir groot word jare in Japan, koester ons elke oomblik hier in SA. Ons geniet dit om Leah aan almal voor te stel. Wanneer ons na Japan vertrek, kom ons dalk eers oor vier jaar terug SA toe.
Die Here het ons onlangs bemoedig met die woorde wat Mordagai vir Ester gesê het. Hy sê vir haar: “Ester, miskien is jy vir ‘n tyd soos hierdie gebore”(Ester 4:15). Leah het nie gekies om deel van ons gesin te wees nie en sy het ook nie gekies om in Japan groot te word nie. Dit is die Here wat haar gekies het, miskien vir ‘n tyd soos hierdie om vir Jesus in Japan te lewe. Wat ‘n vreugde en troos om te weet dat die Here haar gekies het om deel van ons familie en roeping na Japan te wees. Leah ontwikkel nog mooi en bereik ook al haar mylpale vir ‘n 5 maande oue baba.
Ons beplan om in hierdie jaar soveel moontlike gemeentes te besoek. Ons wil graag al ons ondersteunende kerke besoek, maar moet ook nuwe gemeentes besoek. Ons finansiële ondersteuning is tans op 50% van wat ons benodig om na Japan te kan terugkeer. Bid asseblief dat ons finansiële ondersteuning sal groei. Ons voel dikwels oorweldig deur die gedagte dat ons van ‘n derdewêreldland na ‘n duur land soos Japan gestuur word. Soos ons egter vantevore gesien het, is God getrou en waardig om vertrou te word. God is die Een wat ons geroep het en Hy is ook die Een wat sal voorsien. Dit is ook egter waar dat Hy deur Sy gehoorsame kinders gee. Wat ‘n vreugde en voorreg om te belê in wat ewigheidswaarde het.
Alle huishoudings het ‘n blikkie wat getuig van die getrouheid van die Here nodig. Hierdie blikkie word gevul met klein stukkies papier. Op elkeen van die klein papiertjies skryf jy ‘n antwoord op gebed neer en sit dit in die blikkie. Op dae wanneer jy bekommerd voel, kan jy altyd een van die stukkies papier uithaal, die antwoord op gebed lees en bemoedig word in jou geloof. As gevolg van die voortdurende beurtkrag het ons gebid vir ‘n klein “power station” (‘n klein battery boks) wat ons internet en skootrekenaars aan kan hou terwyl daar beurtkrag is sodat ons kan voortgaan met ons studies. Ons het nou nog ‘n klein papiertjie met hierdie antwoord op gebed daarop geskryf om by ons blikkie met beantwoorde gebede te voeg. Die Here het dit op iemand se hart gelê om vir ons ‘n klein “power station” battery te koop. Dankie Jesus!
Ons het hierdie jaar begin met ‘n paar besoeke aan gemeentes in Pretoria. Leah is nie eers 5 maande nie en geniet dit reeds om ons aanbieding oor Japan voor die kerk op die verhoog aan te bied. Soos jy in die foto hierbo kan sien, wou sy die mikrofoon gryp. Miskien wou sy ook iets sê. Ons is so bly om Leah voor te stel aan ondersteuners en diegene wat vir ons en vir Leah bid.
Terwyl ons in Japan was, het ons Japannees vir 2 jaar studeer. Om nie die vermoë om Japannees te praat te verloor nie, probeer ons om Japannees in ons daaglikse lewe in te sluit. Teologiese studies, reis, kerk besoeke en die versorging van Leah hou ons besig en het ons nie altyd tyd om Japannees te sit en studeer nie, daarom probeer ons dit in ons daaglikse lewe inkorporeer.
Ons praat Japannees met Leah. Ons lees Bybel in Japannees. Ons praat Japannees met mekaar en hou kontak met Japannese vriende in Japan. Ons kyk na lesse oor Japannese grammatik en iets so eenvoudig soos om ‘n inkopielys te maak of Leah se slaapskedule neer te skryf, word in Japannees gedoen.
1 Februarie begin ons nuwe kwartaal vir ons SATS-studies. Nadine het vir 2 derdejaarsvakke ingeskryf en ek het vir 3 derdejaarsvakke ingeskryf. Bid asseblief dat ons goed sal kan vaar met ons studies en dat ons sal groei deur alles wat ons leer. Mag die Here ons help om te volhard met ons studies temidde van baie rond reis en verskeie verantwoordelikhede.
Nadine, Leah, Joreth (skoonsus) en Reina (Leah se niggie wat net 10 dae ouer is).
Dankbaar: *Leah se mooi groei en ontwikkeling *Die “power station” battery wat ons nou instaat stel om te kan voort gaan met ons studies terwyl daar beurtkrag is. *Ons is dankbaar vir elke oopdeur by gemeentes en kleingroepe. *Vordering met ons teologiese en Japannese studies.
Gebedsversoeke Bid asseblief vir die volgende: *Leah se verdere groei en ontwikkeling. *Verdere finansiële ondersteuning sodat ons OMF se vereiste begrotingsbedrag kan behaal. *Ons teologiese en Japannese taalstudies. *Bid asseblief die Here se seëning oor elke geleentheid waar ons kan getuig van wêreld sending. *Bid asseblief vir ons OMF mediese ondersoeke waarmee ons tans besig is. Ons moet “medical clearance” kry voor ons weer Japan toe ek kan gaan.