Inleiding
Onlangs het ek ‘n geselsie aangeknoop met Alfred. Hy was in ons straat besig om papier uit asblikke te herwin om vir sy vrou en vier kinders te sorg. Hy’t my laat wonder: hoeveel verarmde, werkloses is daar werklik in Suid Afrika? Mense sonder blyplek, sonder lopende water, magteloos vasgevang in die dodelike spiraal van armoede.
Dit bring ons vandag by een van die helde in die Rut-verhaal, nl. Boas! Sy familielid Naomi en haar skoondogter Rut, kruis sy lewenspad en skielik word dit ‘n kruispad met verskillende keuses. Die een pad daaruit is die pad van die liefde tussen hom en Rut, maar vanoggend volg ons nie daardie pad nie. Waar Naomi en Rut sy pad kruis is daar ook die pad van armoede en nood en die vraag is of hy hierdie pad ook sal kies. Dis die noodpad van die armoede!
Die noodpad van armoede
Sien, Boas is bloedverwant van Naomi = die vrou wat ‘n weduwee sonder kinders is. Sy’t ook haar erfgrond verloor en is n absolute armoede! Twee OT wette gee riglyne:
Lossingsreg – materiële nood (Lev. 25: 23-25, 47-49)
Wanneer ‘n familielid sy grond verloor het, verkry ‘n ander familielid die reg om die grond terug te koop sodat dit in die familie se besit sal bly. Dis God wat vir die reg van die arme opkom.
Swaershuwelik – weduwee-troue
God wil ook die weduwee wat sonder kinders agtergelaat is, beskerm. En die familie was ook belangrik! Die naam, besittings en aansien van die familie kan voortgaan as daar ‘n nageslag is.
Boas neem agter onbaatsugtig die grond en die weduwee en skoondogter onder sy sorg. Waarom? – Vrae ‘n mens. Daar is moontlik drie redes vir sy keuse:
- Miskien allereers omdat hy God gehoorsaam, wat in Lev. 25 en Deut. 25 beveel dat daar na weduwees en armes omgesien moet word.
- Moontlik ook omdat die belang van familie ‘n hoë prioriteit is = Ubuntu beginsel – ‘I am because you are!’
- Waarskynlik ook omdat sy liefde vir Rut geen opoffering te groot maak nie!
Die pad na Goddelike seën
Hierdie keuse van Boas word die pad waarop die seëninge van die Here uitgestort word. Gaan kyk maar hoeveel seëninge word in hierdie verhaal op hom afgebid!
Daarom moet ons ook die woorde van die NT onthou:
“As iemand nie vir sy eie mense, en veral nie vir sy huisgesin sorg nie,
het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige” (1 Tim. 5: 8)
“Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek lei, maar geen gevoel vir hom het nie –
hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3: 17)


