Beste ondersteuner,
Meer as elf maande ná die reuse aardbewing wat op nuwejaarsdag vanjaar onverwags die Japannese volk geskok het, lê die pyn en ontwrigting vir die inwoners van die Noto skiereiland nog vlak. Onlangs (September) het ‘n vlaag van vernietigende vloede verder nóg sout in hulle wonde ingevryf. Gisteraand het pas weer ‘n skudding van 5 op die Richterskaal dié omgewing laat bewe. Ontelbaar baie mense is opnuut getraumatiseer. “Ek het gedog dit klaar met my!”, vertel een oorlewende wat nouliks ontkom het op nuwejaarsdag, by wie ons betrokke was in verlede week se uitreik na die Noto rampgebied, Noord van Kanazawa stad.
Ons ~ ek en een van my KRTS kollegas en elf van ons studente ~ het normale kweekskool klasse (vir ‘n week) gestop om as vrywilligers ‘n klein bydrae te maak. Hierdie is die vierde grootskaalse ramp waarby ek betrokke is, vandat ons in Japan begin werk het 15 jaar gelede. Van Noord-Oos (Sendai area in Maart 2011) tot Suid-Wes (Kumamoto area in April 2016 en Okayama area in Julie 2018), en hierdie keer in sentraal-Japan (Noto skiereiland). Die uiteenlopende aard van die rampe (aarbewings, vloede, tsoenami’s en kernkrag kwessies) asook van die hulpverlening-strategieë, kompliseer vrywilligers se betrokkenheid. Tog is dit opvallend hoeveel vordering/groei gemaak is i.t.v. interkerklike samewerking en ‘n gekoördineerde netwerk van ondersteuning wat op grondvlak ‘n daadwerklike verskil maak.
Toe ons in 2011 betrokke was by rampverligting ná die tsoenami in die Sendai area, was daar ooglopende wantroue tussen kerke en regererings-hulp. Dis nie verbasend in ‘n land met net 1% Christene nie. Dis nie asof jy ‘n kerk om elke hoek en draai raakloop, soos in Suid-Afrika nie. Christen vrywilligers (en andere) het gewerk tot hulle uitbrand. Hierdie keer, met die Noto span, is dit anders. Só vertel ‘n jong man langs wie ek gesit het, terwyl ons ‘n middag-ete breuk vat. Hy het self sy werk as elektriese ingenieur opgegee om nou voltyds by ‘n dinamiese kinderbediening betrokke te wees. Hy sê die ontstaan van die nuut-gestigde NOTO HELP organisasie het gegroei deur bestaande vertrouensverhoudinge, uit ‘n reeds gevestigde netwerk van plaaslike leraars en kerkleiers, wat paraat was vir rampgebeure. In Noto het die kerk dié keer reeds aktief met rampverligtingswerk begin nog vóór die regering met infrastruktuur herstel begin het. Die krag van vrywilligers bou nou die fondament van die lang herstelpad. My (vrywillige) ingenieur-vriend span ook sy vorige werkservaring en gawes in om namens NOTO HELP slagoffers se beskadigde huise te herstel en (elektries te) beveilig.
Alhoewel die lewensverlies hierdie redelik laag was, leef baie mense steeds in tydelike huise onder moeilike omstandighede. Vir duisende is die realiteit van 5-10 jaar van verwagte herstel, ‘n wanhopige en verlammende vooruitsig. Die Noto skiereiland is geleë in die area met die kleinste Christen bevolking in Japan, bekend as ‘n Boeddhistiese vesting. “Soveel te meer is die hande en voete van Christen vrywilligers nóu hier nodig”, sê een plaaslike Baptiste kerk leraar vir my, toe ons ontmoet in die swaar getrefde Wajima area. Hy het pas 70 jaar oud geword, toe die aardbewing hulle geruk het. Nou is hy en sy vrou genoop om nog 10 jaar aan te hou (as sy gesondheid hou), gaan hy voort met ‘n glimlag. Hy is een van vele wat ‘n groot skuif moes maak. Ander (sendeling-)vriende van ons se seun, wat nou NOTO HELP se werk lei, het met sy hele gesin uit die Noorde getrek om betrokke te wees op die langtermyn. Dit vra baie opoffering.
Ons week was gevul met sulke betekenisvolle ontmoetings. Ons het o.a. vragte vol modder en sand verwyder, uit slote in woonbuurte en by boere se groente-tonnels. Op ander plekke het ons die oorblywende meubels ens. uitgedra uit geboue wat wag om gesloop te word (sien foto’s hieronder). Ek het op ‘n vars manier besef: deur liefdesdiens leer ons elkeen watter gawes ons ontvang het, en hoe ons dit ten beste kan aanwend in diens van die kerk en gemeenskap t.w.v. God se werk in ons wêreld.
Die Reformed Church in Japan (RCJ), die NG Kerk se susterskerk in Japan, maak ook op unieke maniere ‘n verskil. Nie net deur spesiale rampfonds bydraes van amper ¥10 miljoen nie, maar ook deurdat baie van ons 140 plaaslike gemeentes meer as 12,000 (!) vloerlappe en klein handdoeke ingesamel en na RCJ Kanazawa gemeente gestuur het (wat gebruik is/word in die skoonmaak proses). Op die manier het ons gepoog om saam met die ramp slagoffers klein, volhoubare treë te gee oppad na herstel ná die reuse verliese.
Aan die begin van elke dag se werk saam met die NOTO HELP span, open ‘n leier met ‘n kort boodskap uit die Bybel en gebed. “Die rampe het ons soos die donker oorval”, vertel een. “Maar tog skyn die lig van Christus helder deur die skrefies wat vrywilligers stilweg oopskuif deur hulpverlening”, vervolg hy. Terwyl ons aan die einde van ons dag se werk by een skeefgetrekte hotelgebou uitstap, sluit ons weer af met gebed. Die persoon wat ons gehelp het, soos die ander 99% van die mense daar, is nie ‘n Christen nie. Dis ‘n bejaarde oom wat desperaat is om weer nuwe lewe te smaak ná die aardbewing hulle hotel se fondamente geruk het. Deur ons interaksie met hom beleef ons iets van sy liefde vir hulle pragtige omgewing en die lewenslange verbintenisse met hul leefwêreld. Hy het waarskynlik nog nooit ‘n Christelike gebed gehoor nie.
Ds. Hideyuki Urushizaki (ons plaaslike RCJ Kanazawa leraar) vra respekvol of hy kan bid. En hy maak so. Aangrypend. Eenvoudig. Onder andere soos volg: “Here, ware lewende God, dankie dat ons hier betrokke kon wees vandag. Wees asb. met elkeen hier wat herbou aan hierdie hotel en omgewing. Mag dit weer ‘n plek word wat herleef en t.w.v. die streek se bemoediging ‘n tuiste en gemeenskap is vir vele …” Onwillekeurig kom Jeremia 29:7 by my op: Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.
Ek is dankbaar vir verlede week se ervaringe. Dit was ‘n uitstekende geleentheid om ons Praktiese Teologie klasse te verruil om in die ‘klaskamer’ van rampgebeure veel meer te leer. Onder andere van pastorale sorg en diakonale liefdesdiens, as deel van God se sending waar ons gestuur is. In navolging van die Groot Vrywilliger, Jesus Christus.
Bid asseblief saam met ons vir die lang pad van herstel vir die mense van Noto.
Vrede en seën,
Stéphan, Carina en gesin
Pasadres is:
Shobu Ga Oka 3-1-3, Kita Ku, Kobe City, JAPAN, 651-1306


