Week 6 Dag 26 – “Ain’t no definition gonna help” – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Leef jy met ’n droom in jou hart? Kan jy dit in woorde omsit? Onthou, ek praat nie van verskillende doelwitte en ideale waarvan jy ’n lys kan maak nie. Ek praat van iets anders. Iets wat sin, rigting en betekenis aan jou lewe gee. Ek praat van daardie droom wat jou motiveer om te lewe en nie net voetslepend deur elke dag te slof nie.

Skryf / Vul in

Skryf dit in die linkerkantste kolom neer:

Gebed

Nou moet jy met God praat oor wat jy geskryf het. Toets dit met Hom. Bedink die implikasies van die droom; die motief van die droom; en toets dit aan sy Woord. Vra die Here om sy wil met en deur jou lewe opnuut te bevestig.

Lees die Skrif

Lees Spr 29:18; Jes 8:19-9:1.

Spr 29:18;

18Wanneer daar geen profetiese
visioen is nie,
raak ‘n volk bandeloos;
maar wanneer hulle die wet nakom,
is hulle gelukkig.

Jes 8:19-9:1

19Wanneer hulle vir julle sê, “Raadpleeg die waarsêergeeste en voorvadergeeste wat fluister en mompel – moet ‘n volk nie sy gode raadpleeg, die dooies ter wille van die lewendes nie?” 20moet julle antwoord: “Gaan na die onderrig en die getuienis!” Hulle moet beslis antwoord volgens hierdie uitspraak, waarteen geen beswering bestand is nie.

21Die volk sal die land deurkruis, bedruk en verhonger. En wanneer hulle honger is, sal hulle woedend word en hulle koning vervloek en, terwyl hulle boontoe kyk, hulle God vervloek. 22Na die grond sal hulle staar, en kyk, uitgedryf in die duisternis, is daar net benoudheid en donkerheid, angs sonder lig. 23Ja, daar sal nie ‘n ligstraal wees vir hulle wat angs ervaar oor die land nie.

In ‘n vroeër tyd
het Hy vernedering gebring
vir die land Sebulon
en die land Naftali.
In die toekoms
bring Hy eer
vir die weg na die see,
oorkant die Jordaan
en die gebied van die nasies.

Die 1983 Afrikaanse vertaling sê: “waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk ” Kyk hoe ’n paar Engelse vertalings dieselfde vers hanteer:

  • “Where there is no vision, the people cast off restraint.” (ASV)
  • “Where there is no vision, the people perish.” (KJV)
  • “Without prophetic vision, the people shall perish.” (NKJ)
  • “Where there is no revelation, the people cast off restraint.” (WEB)
  • “Without a vision is a people made naked.” (YLT)


As ons ’n voëlvlug oor die verskillende vertalings neem en ek verstaan die insigte van teoloë reg, blyk dit dat dit vir God belangrik is dat die gemeente, gesamentlik en gelowiges individueel, ’n visie moet hê. Dit lyk ook nie asof dit ’n opsionele ekstra is nie, want die Skrifgedeelte impliseer dat die prentjie sonder só ’n visie, maar bra duister lyk. Wat meer is, hierdie visie gaan klaarblyklik nie oor eie persoonlike welstand, voorspoed en geluk nie – dit gaan eerder oor God en wat God met en deur sy mense se lewens wil doen.

Nou is ons by die eerste kontrolepunt. Stem jy saam dat visie vir God se mense belangrik is? As jy saamstem kan ons aangaan.

Uit die Woord kan ons agterkom dat hierdie ding wat ons visie noem, belangrik is, maar wat is dit dan eintlik? Ek was al in vergaderings waar bestuurspanne van groot ondernemings of kerkleiers bymekaar is en waar bloedig gedebatteer word oor wat die woord tog eintlik beteken. Ons noem dit semantiese gevegte en gaan hopelik nie daardie pad volg nie. Kom ons probeer duidelikheid kry wat visie vir ons, as God se mense, moet beteken.

Persoonlike visie word deur die Heilige Gees geïnspireer en is iets wat hier binne iewers begin lewe kry. Dit veroorsaak ’n lewensbruising wat soos brandstof werk. Jy kan visie nie vir iemand leer of die kinders daaroor ’n toets laat skryf nie. As jy met visie in jou hart leef, sal jy (en hulle wat met jou te doen kry) dit weet! Toe iemand vir Duke Ellington, legendariese jazz-musikant, vra om ’n definisie van ritme te gee, het hy gesê: “If you got it, you need no definition – and if you don’t have it, ain’t no definition gonna help”. Ek dink dis ook waar van visie. Ons hoef nie lank met ’n persoon te doen te hê, of in ’n gemeente te wees, voordat jy weet of daar visie is nie.

Vir ’n gemeente is visie niks anders as om God se bedoeling met hulle in woorde uit te druk nie. As visie een van daardie dinge is wat ons moet hê, omdat alle gemeentes dit deesdae het, dan het dit net kosmetiese waarde. Ons sou kon sê – deur ’n Godgegewe visie vind die gemeente sy bestaansdoel en kry hy sy marsopdrag om ’n verskil te maak. ’n Visie behoort daarom nie vaag en algemeen te wees nie. Dit beskryf in woorde wat God se besondere en unieke doel met sy gemeente is. Om ander gemeentes met ’n oulike visie na te boots, of hulle visie effens te duikklop om ons te pas, is tydmors. God wil sy doel met sy gemeente bereik en hierdie doel sal bydra tot die uitvoering van sy plan met sy skepping.

Skryf / Vul in

Sou jy God se visie vir Jesus se koms na die wêreld kon neerskryf? Skryf dit nou neer.


Lees die verhaal van Jesus se intreepreek in Lukas 4:16-30, 42-44

Lukas 4:16-30, 42-44

JESUS SE PREEK IN NASARET

16Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die •sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, 17is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan:

18“Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het
om die goeie boodskap
aan arm mense te verkondig.

Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word,
en vir blindes dat hulle weer sal sien,
om onderdruktes te bevry,

19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”20Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. 21Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig, en was verwonderd oor die woorde vol genade wat uit sy mond gevloei het. En hulle het gesê: “Is Hy dan nie die seun van Josef nie?”

23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou, ‘Geneesheer, genees jouself. Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen daardie dinge nou ook hier in jou tuisdorp.’ ” 24En Hy het gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Geen profeet is welkom in sy tuisdorp nie. 25Wat Ek vir julle sê, is die waarheid: In Elia se tyd, toe die hemel vir drie jaar en ses maande gesluit gebly en ‘n groot hongersnood in die land geheers het, was daar baie weduwees in Israel. 26Tog is Elia nie na een van hulle gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat, in die omgewing van Sidon. 27Daar was ook in die tyd van die profeet Elisa baie melaatses in Israel. Tog is nie één van hulle gereinig nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword. 29Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. 30Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

VERTREK UIT KAPERNAUM

42Teen dagbreek het Hy vertrek en na ‘n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan. 43Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”

44En Hy het voortgegaan om in die •sinagoges van Judea te preek.

Beantwoord die volgende 3 vrae:
Wat lees jy hier van Jesus se visie?


Wat is die oorsprong of bron van sy visie?


Hoe raak dit jou of die gemeente se visie?


Lees die Skrif

Lees Joh 20:21.

21Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Dink na / Besin

Dink weer hoe raak dit jou persoonlike visie…

Ek wil hê dat jy teruggaan na hierbo waar jy jou visie in die linkerkantste kolom neergeskryf het. Na aanleiding van wat jy vandag gelees en beleef het – volstaan jy steeds daarmee of is daar iets wat jy wil verander? Indien wel, doen dit in die regterkantste kolom.

Gebed

Nou wil ek vra dat jy tyd in gebed sal deurbring. Wil jy nie opnuut jou lewe aan die Here toewy en jouself beskikbaar maak, sodat Hy sy doel met en deur jou lewe tot uitvoer kan bring nie?

Week 6 Dag 26 Visie is God se plan in woorde
Week 6 Dag 26 Visie is God se plan in woorde
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 91-106
Kyk hoe beïnvloed God se visie die lewens van:

  • Jesaja in Jes 1:1; 6:1-10;
  • Jeremia in Jer 1:4-19; en
  • Esegiël in Eseg 1:1-28; 2:1-10;Eseg 3:4-9.

Jes 1:1;
11Die visioen van Jesaja, seun van Amos, wat hy gesien het aangaande Juda en Jerusalem in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.

Jes 6:1-10;

61In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. 2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.

5Ek het gesê:
“Wee my, want ek is verlore!
Want ek is ‘n mens
met onrein lippe,
en by ‘n volk met onrein lippe
woon ek.
Ja, my oë het die Koning,
die Here, Heerser oor alle magte,
gesien.”

6Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. 7Hy het my mond aangeraak en gesê:

“Kyk, dit het jou lippe aangeraak,
jou sondeskuld het gewyk,
daar is vir jou sonde
versoening gedoen.”
8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê:
“Wie sal Ek stuur
en wie sal vir ons gaan?”
Ek sê toe:
“Hier is ek, stuur my!”
9Hy het gesê:
“Gaan sê vir hierdie volk,
‘Luister goed,
maar moenie verstaan nie;
kyk goed,
maar moenie begryp nie.’
10Maak die harte van hierdie volk
ongevoelig,
maak hulle ore doof
en smeer hulle oë toe,
sodat hulle nie sien met hulle oë,
met hulle ore nie hoor,
en met hulle hart nie verstaan,
en nie terugdraai
en genees word nie!”


Jer 1:4-19

4Wee ‘n sondige nasie,
‘n volk swaar belaai
met sondeskuld,
‘n geslag kwaaddoeners,
kinders wat hulle wangedra!
Hulle het die Here verlaat,
die Heilige van Israel verag,
Hom die rug toegekeer.
5Waarom wil julle
nog geslaan word,
en hou julle vol
met julle onversetlikheid?
Elke kop is siek,
elke hart is swak.
6Van die voetsool tot die kop
is daar nie ‘n gesonde plek nie,
net hale en kneusplekke
en oop wonde.
Dit is nie gedreineer nie,
of verbind of versorg met olie nie.
7Julle land is ‘n woesteny;
julle stede is met vuur verbrand.
Julle landerye – voor julle oë
verteer vreemdes dit;
ja, dit is ‘n woesteny,
asof vreemdes dit verwoes het.
8Die dogter van Sion het oorgebly
soos ‘n takskerm in ‘n wingerd,
soos ‘n oornagskerm
in ‘n lappie komkommers,
soos ‘n beleërde stad.
9As die Here, Heerser oor alle magte,
nie vir ons ‘n klein oorblyfsel
agtergelaat het nie –
soos Sodom sou ons geword het,
aan Gomorra sou ons
gelyk gewees het.

10Luister na die woord van die Here,
•gesagvoerders van Sodom!
Gee aandag aan die wet van ons God,
mense van Gomorra!
11“Wat baat julle magdom
slagoffers My?”
vra die Here.
“Ek het genoeg gehad
van die •brandoffers van ramme
en die vet van gevoerde diere.
Die bloed van bulle,
lammers en bokramme
staan My nie aan nie.
12Wanneer julle kom
om voor My te verskyn –
wie eis dit van julle
om my voorhowe te vertrap?
13Hou op om waardelose
•graanoffers aan te dra!
Reukwerk – afstootlik is dit vir My.
Nuwemaansfeeste en Sabbatte,
die saamroep van byeenkomste –
Ek kan nie onreg én gewyde rusdae
verdra nie.
14Julle nuwemane en vaste feestye
haat Ek met my hele wese;
dit is vir My ‘n las,
Ek is moeg daarvoor om dit te dra.
15As julle julle hande uitstrek,
sluit Ek my oë vir julle.
Selfs as julle baie bid,
luister Ek nie.
Julle hande is vol bloed.
16Was julle! Reinig julle!
Verwyder julle bose dade voor my oë!
Hou op om kwaad te doen!
17Leer om goed te doen!
Bevorder die reg!
Lê die onderdrukker aan bande!
Handhaaf die reg van die vaderloses!
Verdedig die weduwees se regsake!

18“Kom tog,
laat ons die saak uitpraat!”
sê die Here.
“Al is julle sondes rooi soos karmosyn,
dit sal wit word soos sneeu;
al is dit rooi soos skarlaken,
soos wol sal dit word.
19As julle gewillig is en luister –
die goeie van die land
sal julle geniet.

Eseg 1:1-28;

11In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde dag van die maand, was ek tussen die ballinge langs die Kebarrivier. Die hemel het toe oopgegaan, en ek het visioene van God gesien.

2Op die vyfde van die maand, dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jojagin, 3het die woord van die Here duidelik tot die priester Esegiël, seun van Busi, gekom in die land van die Galdeërs aan die Kebarrivier. Die hand van die Here was daar op hom.

4Ek het gesien, kyk, ‘n stormwind kom uit die noorde, ‘n groot wolkmassa met ‘n vuur van weerligstrale wat aanhoudend blits, en ‘n helder gloed rondom die wolkmassa. Daarin, in die vuur, was daar iets wat soos witgoud skitter. 5Binne-in die vuur was daar die gestalte van vier wesens. Dit is hoe hulle gelyk het: Hulle het die gestalte van mense gehad, 6maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. 7Hulle bene was reguit; hulle hoewe was soos kalfshoewe en het soos gepoleerde brons geskitter. 8Daar was mensehande onder hulle vlerke aan vier kante.

Wat die gesigte en vlerke van al vier betref: 9Hulle vlerke het aan mekaar geraak. Hulle het nie afgedraai wanneer hulle beweeg het nie; elkeen het reguit vorentoe beweeg. 10Wat die voorkoms van hulle gesigte betref: Elkeen van die vier het die gesig van ‘n mens gehad, die gesig van ‘n leeu aan die regterkant, die gesig van ‘n bul aan die linkerkant, en die gesig van ‘n arend. 11So was hulle gesigte. Hulle vlerke was oopgesprei na bo, elkeen met twee vlerke wat aan dié van die ander raak, en twee vlerke wat die liggaam bedek.

12Elkeen het reguit vorentoe beweeg. Waarheen die gees wou gaan, het hulle ook gegaan, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg.

13Wat die vorm van die wesens betref: Hulle het gelyk soos gloeiende kole vuur wat brand, hulle het gelyk soos fakkels. Die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens. Die vuur het ‘n helder gloed gehad, en uit die vuur het weerligstrale geflits. 14Die wesens het so heen en weer beweeg dat dit gelyk het soos weerligstrale.

15Toe ek die wesens bekyk, sowaar, toe is daar aan die voorkant langs elk van die vier wesens ‘n wiel op die grond. 16Wat die voorkoms en bou van die wiele betref: Dit het soos •chrisoliet geskitter en al vier het een en dieselfde vorm gehad. Dit het gelyk of hulle gemaak was van ‘n wiel binne ‘n wiel. 17Wanneer hulle beweeg het, kon hulle in vier rigtings beweeg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg het. 18En hulle vellings, dié was hoog en angswekkend; al vier hulle vellings was reg rondom vol oë.

19Wanneer die wesens beweeg, het die wiele langs hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opstyg, het die wiele saam opgestyg. 20Waarheen die gees wou gaan, het die wesens ook gegaan. Die wiele het saam met die wesens opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele. 21Wanneer die wesens beweeg, beweeg die wiele, en wanneer die wesens staan, staan hulle. Wanneer die wesens van die grond af opstyg, styg die wiele saam met hulle op; ja, die gees van die wesens was in die wiele.

22Bokant die koppe van die wesens was daar, in die vorm van ‘n koepel, iets wat geskitter het soos kristal – angswekkend, gespan bo-oor hulle koppe. 23Onder die koepel was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek. Elkeen het twee vlerke gehad waarmee hulle hulle liggame bedek het.

24Ek het die geluid van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geluid van baie water, soos die stem van die Almagtige, die geluid van ‘n mensemassa, soos die geluid van ‘n leërmag. Wanneer hulle stilstaan, het hulle hulle vlerke laat sak. 25Daar was ‘n geluid bokant die koepel wat oor die koppe van die wesens uitgestrek het. Wanneer die wesens gaan staan het, het hulle hulle vlerke laat sak.

26Bokant die koepel wat bo hulle koppe was, was daar iets wat soos •lasuursteen lyk, in die vorm van ‘n troon; en daarbo, op wat soos ‘n troon lyk – daarop was ‘n gestalte met die voorkoms van ‘n mens. 27Ek sien toe Hy is skitterend soos witgoud, byna soos vuur vasgevang in ‘n omhulsel, vanaf wat na sy heupe gelyk het boontoe. En vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe, het ek gesien dit lyk soos vuur, omring deur ‘n helder gloed. 28Die helder gloed rondom het gelyk soos ‘n reënboog wat in die wolke verskyn op ‘n reëndag.

Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek ‘n stem hoor praat.

Eseg 2:1-10;

21Hy het vir my gesê: “Mensekind, staan regop, dan sal Ek met jou praat.” 2‘n Gees het oor my gekom terwyl Hy met my praat, en dit het my regop laat staan. Ek hoor toe iemand praat met my. 3Hy het vir my gesê: “Mensekind, Ek stuur jou na die Israeliete toe, na daardie rebelse nasies wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorouers het teen My oortree tot op die dag van vandag. 4Dié kinders het stroewe gesigte en harde harte. Ek stuur jou na hulle en jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here.’ 5En hulle, of hulle nou luister of verseg om te luister – want hulle is die rebelse huis – hulle sal besef dat daar ‘n profeet onder hulle was. 6Maar jy, mensekind, jy moet nie bang wees vir hulle of vir hulle woorde nie. Moenie bang wees nie, al is dorings en distels jou voorland en al sit jy by skerpioene. Vir hulle woorde moet jy nie bang wees nie, en deur hulle gesigte moet jy jou nie laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis. 7Jy moet my woorde vir hulle sê, of hulle luister of verseg om te luister, want hulle is opstandig. 8En jy, mensekind, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie opstandig wees soos die rebelse huis nie. Maak jou mond wyd oop en eet wat Ek vir jou gee.”

9Ek sien toe, kyk, daar is ‘n hand uitgestrek na my – met ‘n •boekrol! 10Hy het dit voor my oopgerol. Op die voor- en agterkant daarvan was daar geskryf; treurliedere, versugtinge en weeklagte was daarop neergeskryf.

Eseg 3:4-9
4Toe sê Hy vir my: “Mensekind, gaan na die huis van Israel en sê vir hulle my woorde, 5want jy word nie na ‘n volk gestuur met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal nie, maar na die huis van Israel – 6nie na baie volke met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal waarvan jy die woorde nie begryp nie. Ek verseker jou, as Ek jou na hulle gestuur het, sou hulle wel na jou geluister het, 7maar die huis van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie na My luister nie. Ja, die hele huis van Israel is hardkoppig en hard van hart. 8Kyk, Ek maak jou gesig net so stug soos hulle s’n, en Ek maak jou net so hardkoppig soos hulle. 9Soos ‘n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak. Jy mag nie vir hulle bang wees en jy mag jou nie deur hulle laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis.”


Sien Figuur 4 van Bylae 2, p 17

Figuur 4
Wenk

WENK: Skryf die visie wat jy vir jou eie lewe geformuleer het op ’n kaartjie. Moet dit nie vandag onder jou oë laat uitgaan nie!
Vra dat die Here vir jou vandag ’n geleentheid skep om met iemand oor visie te praat.
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za