Week 5 Dag 23 – Gaan lê maar weer? – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

’n Jongman het werk gesoek by die Poskantoor as morsekode operateur. Nadat hy vir ’n kort tydjie heel agter in die ry gestaan het, het hy skielik by almal verbygeloop tot in die posmeester se kantoor. Almal het gekla oor sy indrukkery en veral toe die posmeester vir hom sê dat hy die werk gekry het, want terwyl hul almal in die ry gestaan het, is daar deurentyd ’n morsekode gestuur: “As jy hierdie boodskap kan hoor, kom kantoor toe, want jy het die werk!” Hy was die enigste wat die morsekode boodskap bo die geraas van die poskantoor kon hoor.

Gebed

Hoe gefokus of ingestel is jy op die stem van God midde-in die geraas van die lewe? Hoe’t jou dag begin? Rustig en ontspanne? Gejaagd? Stel jou daarop in om rustig te word. Dit kan help om strelende musiek saggies in die agtergrond te speel en om een van jou gunstelinggedeeltes uit die Bybel hardop met groot konsentrasie te lees. Vra die Here om jou op sy stem in te stel.

Skryf / Vul in

Lees Op 1:10-20;

10Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my ‘n harde stem, soos dié van ‘n basuin, gehoor 11wat sê: “Skryf wat jy sien in ‘n boekrol op, en stuur dit aan die sewe •gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

12Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, 13en in die middel van die kandelare, iemand net soos die •Seun van die Mens. Hy het ‘n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met ‘n goue band wat om sy bors vasgebind was. 14Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vlammende vuur. 15Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. 16In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar ‘n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.

17Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste 18en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. 19Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur. 20Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.”

Op 4:1.
41Hierna het ek gesien, en kyk, ‘n deur wat in die hemel geopen is, en die stem wat ek voorheen so hard soos ‘n basuin met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal aan jou wys wat hierna moet gebeur.”

Praat die Here vandag nog met ons soos in Openbaring? Maak ’n kruisie in die blokkie wat jou standpunt weergee.

Week 5 Dag 23 Ja Nee Onseker
Week 5 Dag 23 Ja Nee Onseker

Daar is die voorbeelde van Francis Shaefer en Peter Marshall* met wie God hoorbaar gepraat het terwyl hulle ernstig gebid het. Twee van my kollegas het al soortgelyke ervarings gehad. Dikwels kan net die persoon met wie God so kommunikeer, Hom hoor – soos in die geval van Samuel (1 Sam 3:1-5, 8)
1 Sam 3:1-5, 8

1Die seun Samuel was in diens van die Here onder toesig van Eli. ‘n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie.

2In daardie tyd het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het al begin swak word, hy kon nie meer sien nie. 3Die lamp van God was nog nie dood nie, en Samuel het al gaan lê in die •tempel van die Here waar die ark van God was. 4Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: “Hier is ek!” 5Hy hardloop toe na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie. Gaan lê maar weer.” Hy het toe gaan lê.

8Die Here roep toe weer na Samuel vir die derde maal. Hy staan toe op, gaan na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Eli besef toe dat dit die Here is wat na die seun roep.

maar soms kan ander dit ook hoor – soos by Moses, Aäron en Mirjam (Num 12:4) 4Die Here het dadelik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle drie na die Tent van Ontmoeting!” Hulle drie het toe gegaan. 

asook Paulus en dié wat saam met hom op die pad na Damaskus was (Hand 9:3-5, 7).
3Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het ‘n lig uit die hemel hom skielik omstraal, 4en hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” 5Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg.
 7Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie

Vir Israel was die aanhoor van die Here se stem by tye so ’n vreesaanjaende ervaring dat hulle Moses versoek het om liewer namens hulle voor God te verskyn en met Hom te praat (Eks 20:18-19).18Toe die hele volk die donderslae hoor en die weerlig sien, asook die geluid van die •ramshoring, en die berg wat rook, was hulle bang en het gebewe. Hulle het op ‘n afstand bly staan 19en vir Moses gesê: “Praat u met ons, en ons sal luister. Maar God moet nie met ons praat nie, sodat ons nie sterf nie.” 

God is soewerein en praat hoorbaar wanneer Hy wil, met wie Hy wil en soos Hy wil. So praat Hy hoorbaar wanneer dit bv. nodig is dat die hoorder ’n baie moeilike opdrag uitvoer en nodig het om krag te put uit so ’n besondere ervaring (Num 12:2-8).2Hulle het gesê: “Is dit dan net deur Moses wat die Here gepraat het? Het Hy nie deur ons ook gepraat nie?” Die Here het dit gehoor. 3Maar die man Moses was baie beskeie, meer as enige mens op aarde. 4Die Here het dadelik vir Moses, Aäron en Mirjam gesê: “Gaan julle drie na die Tent van Ontmoeting!” Hulle drie het toe gegaan. 5Die Here het in die wolkkolom afgekom. Hy het by die ingang van die tent gestaan en Aäron en Mirjam geroep. Toe hulle twee vorentoe kom, 6het Hy gesê: “Luister nou na my woorde:

“As daar ‘n profeet onder julle is,
sal Ek, die Here, Myself
in ‘n visioen aan hom bekend maak;
in ‘n droom sal Ek met hom praat.
7Met my dienskneg Moses is dit anders.
In my hele huishouding
is hy betroubaar.
8Van aangesig tot aangesig
praat Ek met hom,
in ‘n verskyning, nie in raaisels nie;
die verskyningsvorm van die Here
sien hy.
Waarom was julle dan nie bang
om teen my dienskneg, Moses,
uit te vaar nie?”

*Edith Schaefer: The Tapestry, 1981; Cathrine Marshall: A man called Peter, 1951

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Matt 3:17- 4:1;Matt 17:5; Joh 12:27-28; Hand 10:9-16;Hand 23:11.

Matt 3:17- 4:1;
17En meteens het ‘n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”
41Hierna is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei om deur die Duiwel versoek te word.

Matt 17:5;
5Terwyl hy nog praat, het ‘n helder wolk skielik ‘n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, ‘n stem uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Joh 12:27-28;
27“Nou is my siel ontsteld. Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar Ek het tog juis met die oog op hierdie uur gekom! 28Vader, verheerlik u Naam!” Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

Hand 10:9-16;
9Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. 10Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. 11Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos ‘n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. 12Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. 13Toe kom daar ‘n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” 14Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie.” 15Maar die stem het weer, ‘n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” 16Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.

Hand 23:11
11Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê: “Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig.”

Dit kan ook gebeur wanneer daar ’n keerpunt in ’n persoon se lewe aanbreek en die ervaring ’n bevestiging van God se barmhartigheid is (Deut 4:12-15, 32-36).
Deut 4:12-15, 32-36

12Die Here het met julle uit die vuur gepraat. Julle het die geluid van woorde gehoor, maar julle kon geen sigbare gestalte sien nie. Daar was net die stem. 13Hy het aan julle sy verbond bekend gemaak, naamlik die Tien Gebooie, waarvolgens julle moet leef, soos Hy beveel het. Hy het dit ook op twee kliptafels gegraveer. 14Vir my het die Here in daardie tyd die opdrag gegee om julle sy vaste voorskrifte en beslissings te leer sodat julle daarvolgens kan leef in die land waarheen julle trek om dit in besit te neem.

15“Omdat julle nie enige sigbare gestalte gesien het op die dag toe die Here by Horeb met julle uit die vuur gepraat het nie, moet julle uiters versigtig wees ter wille van julleself,

32“Ja, doen gerus navraag van die een uiterste van die hemel tot die ander uiterste oor wat vroeër jare, voor julle tyd, gebeur het, van die dag af dat God mense geskape het op die aarde. Het iets so groots al ooit gebeur of is daar al ooit van so iets gehoor? 33Het enige volk al die stem van ‘n god gehoor wat uit vuur praat, soos wat julle self gehoor het, en nogtans bly leef het? 34Of het enige god dit al gewaag om vir homself ‘n nasie te gaan neem uit die midde van ‘n ander nasie, met teistering, met tekens en met wondertekens, met stryd, met ‘n sterk hand en uitgestrekte arm, en met vreesaanjaende magsvertoon, soos alles wat die Here julle God voor julle oë in Egipte vir julle gedoen het? 35Julle was self ooggetuies daarvan, sodat julle kan besef: die Here, Hy is God. Naas Hom is daar geen ander nie.

36“Uit die hemel het Hy julle sy stem laat hoor om julle op te voed, en op die aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien. En sy woorde het julle uit die vuur gehoor. 

Lees die Skrif

Lees Eseg 14:1-4.
141Manne uit die oudstes van Israel het by my aangekom en voor my gaan sit. 2Die woord van die Here het tot my gekom: 3“Mensekind, hierdie manne het aan afgodsbeelde ‘n plek gegee in hulle harte. Hulle sien nie af van die struikelblok wat hulle sondeskuld meebring nie. Moet Ek My enigsins deur hulle laat raadpleeg? 4Daarom, spreek hulle aan, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here: “Enige persoon uit die huis van Israel wat aan sy afgodsbeelde ‘n plek gee in sy hart en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na ‘n profeet toe kom – Ek, die Here, voel Ek moet hom antwoord in ooreenstemming met die omvang van sy afgodery,

Soms praat die Here ook deur ’n innerlike stem soos in die geval van Esegiël. Die gelowige wéét dan dat dié innerlike oortuiging (ingewing) van die Here is. Paulus het op grond van die innerlike oortuiging, deur die werking van die Heilige Gees, besluit om na Jerusalem te reis, ten spyte van Agabus se voorspelling. (Vgl Hand 21:10-13;Hand 20:22-24.)

Hand 21:10-13;
10Terwyl ons ‘n hele paar dae daar oorgebly het, het ‘n sekere profeet met die naam Agabus uit Judea daar aangekom. 11Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, en sy eie voete en hande daarmee vasgebind, en gesê: “So sê die Heilige Gees, ‘Op hierdie manier sal die Jode in Jerusalem die man aan wie hierdie gordel behoort, vasbind en in die hande van nie-Jode oorgee.’ ” 12Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike mense Paulus gesmeek om nie na Jerusalem op te gaan nie. 13Daarop het Paulus geantwoord: “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus.”

Hand 20:22-24
22En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Gees, na Jerusalem, sonder om te weet wat daar met my gaan gebeur – 23behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag. 24Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.

Skryf / Vul in

Lees Hand 2:16-18;

16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig:
17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.

Joël 2:28.

28“Ná hierdie dinge sal Ek
my Gees uitstort op alle mense.
Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer.
Julle ou mense sal drome droom,
en julle jong mense
sal visioene sien.

Wat is die twee besondere wyses van kommunikasie waarvan ons hier lees?


Met die uitstorting van die Heilige Gees breek ’n nuwe tydvak in die heilsgeskiedenis aan. Drome en visioene (gesigte) was besondere wyses waarop die Here met mense gekommunikeer het (Matt 2:12-13; Luk 1:11, 26- 38; Hand 10:10-11; 18:9-11; 22:17-18; 2 Kor 12:1, 7).
Matt 2:12-13;
12Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen.” 13Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit uitgesteek en dit het gesond geword, gesond soos die ander een. 

Luk 1:11, 26- 38;
11‘n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan.

26In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, ‘n dorp in Galilea, 27na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. 28Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!”

29Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. 30Die engel het vir haar gesê:

“Moenie bang wees nie, Maria,
want jy het genade by God gevind.
31Kyk, jy sal swanger word
en aan ‘n seun geboorte skenk.
Jy moet Hom Jesus noem.
32Hy sal magtig wees,
en die Seun van die Allerhoogste genoem word.
En die Here God sal aan Hom
die troon van sy voorvader Dawid gee.
33Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer.
Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie.”
34Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met ‘n man het nie?” 35Die engel het haar geantwoord:

“Die Heilige Gees sal oor jou kom
en die krag van die Allerhoogste
sal jou oorskadu.
Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;

Hy sal •Seun van God genoem word.36“Kyk, Elisabet, ‘n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag ‘n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, 37want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” 38Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

Hand 10:10-11;
10Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. 11Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos ‘n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word.

Hand 18:9-11;
9Die Here het een nag deur ‘n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! 10Ek is immers met jou en niemand sal ‘n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.” 11Paulus het ‘n jaar en ses maande lank daar gebly en hulle in die woord van God onderrig.

Hand 22:17-18;
17“Toe ek ná my terugkeer na Jerusalem besig was om in die tempelterrein te bid, het ek in geestesvervoering geraak. 18Ek het Hom gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’ 

2 Kor 12:1, 7
1As daar dan geroem moet word, is dit nie voordelig nie; maar ek kom nou by gesigte en openbarings van die Here. 

7selfs met inagneming van die buitengewone aard van my openbarings. Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van Satan, om my met die vuis te slaan.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Matt 1:20, 24;Matt 2:12, 19, 24; Luk 1:11-22, 26-38; Hand 8:26;Hand 11:5; Ef 3:3; Op 9:17.

Matt 1:20, 24;
20Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en haar as sy vrou by hom geneem. 25Hy het nie met haar gemeenskap gehad totdat sy aan ‘n seun geboorte gegee het nie. En hy het Hom Jesus genoem.

Matt 2:12, 19, 22;
12En omdat hulle in ‘n droom ‘n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.

19Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn 

22Maar toe hy hoor dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was hy bang om daarheen te gaan. Nadat hy in ‘n droom ‘n opdrag van God ontvang het, het hy na die landstreek Galilea vertrek 

Luk 1:11-22, 26-38;

11‘n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. 12Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, 13maar die engel het vir hom gesê:
“Moenie bang wees nie, Sagaria,
want jou gebed is verhoor.
Jou vrou, Elisabet, sal vir jou
geboorte gee aan ‘n seun,
en jy moet hom Johannes noem.
14Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef,
en baie mense sal bly wees oor sy geboorte.
15Inderdaad, hy sal groot wees
in die oë van die Here.
Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie,
en hy sal reeds van voor sy geboorte af
met die Heilige Gees vervul wees.
16Hy sal baie van die kinders van Israel
na die Here hulle God laat terugkeer.
17Hy sal met die gees en krag van Elia
voor die Here uitgaan
om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring,
en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges,
en só ‘n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak.”

18Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” 19Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël, wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. 20Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.”

21Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. 22Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy ‘n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.

26In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, ‘n dorp in Galilea, 27na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. 28Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!”

29Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. 30Die engel het vir haar gesê:
“Moenie bang wees nie, Maria,
want jy het genade by God gevind.
31Kyk, jy sal swanger word
en aan ‘n seun geboorte skenk.
Jy moet Hom Jesus noem.
32Hy sal magtig wees,
en die Seun van die Allerhoogste genoem word.
En die Here God sal aan Hom
die troon van sy voorvader Dawid gee.
33Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer.
Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie.”
34Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met ‘n man het nie?” 35Die engel het haar geantwoord:
“Die Heilige Gees sal oor jou kom
en die krag van die Allerhoogste
sal jou oorskadu.
Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;
Hy sal •Seun van God genoem word.36“Kyk, Elisabet, ‘n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag ‘n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, 37want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” 38Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.

Hand 8:26;
26‘n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak gereed en gaan na die suide, met die pad wat van Jerusalem afwaarts loop na Gasa. Dit is ‘n verlate pad.”

Hand 11:5;
5“Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in ekstase het ek ‘n visioen gesien: iets soos ‘n groot linnedoek wat afsak en wat aan sy vier hoeke uit die hemel neergelaat word; en dit het tot by my gekom.

Ef 3:3;
3Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het.

Op 9:17
7Net so het ek ook in die visioen die perde en hulle ruiters gesien: hulle het vuurrooi, oranjekleurige en swaelgeel borsplate gedra. Die perde se koppe het soos dié van leeus gelyk met vuur, rook en swael wat uit hulle bekke borrel. 

Skryf / Vul in

Lees Hand 9:3-7. (Indien jy tyd het, lees gerus die hele perikoop vanHand 9:1-19.)

SAULUS SE BEKERING

91Saulus, wat nog steeds dreigemente en moord teen die dissipels van die Here aangeblaas het, het na die hoëpriester gegaan 2en van hom briewe gevra aan die •sinagoges in Damaskus, sodat, indien hy enige mense opspoor wat aanhangers van die Weg is, mans sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.

3Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het ‘n lig uit die hemel hom skielik omstraal, 4en hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” 5Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. 6Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” 7Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie. 8Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring. 9Drie dae lank kon hy nie sien nie, en het hy nie geëet of gedrink nie.

10Daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In ‘n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” 11Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, 12en het in ‘n visioen gesien dat ‘n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien.” 13Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u •heiliges in Jerusalem aangedoen het. 14En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” 15Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. 16Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly.” 17Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” 18En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop. 19Nadat hy geëet het, het hy sy krag herwin.

Hy was ‘n paar dae lank saam met die dissipels in Damaskus, 

Op watter wyses kommunikeer God in dié Skrifgedeelte?


Verskeie artikels in Christelike en populêre tydskrifte het al beweer dat engele mense te hulp gesnel het. Alhoewel dit moeilik kontroleerbaar is, moet ons dit op grond van Bybelse getuienis as ’n moontlikheid aanvaar.

Die Here maak soms ook daarvan gebruik om sy boodskap op ongewone wyses by mense tuis te bring.

Skryf / Vul in

Watter wyses gebruik Hy in die volgende Skrifgedeeltes:
1 Sam 15:26-28?

1 Sam 15:26-28

26Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het die Here jou verwerp as koning oor Israel.”

27Toe Samuel omdraai om te loop, gryp Saul die soom van sy mantel, en dit het geskeur. 28Samuel sê toe vir hom: “Die Here het vandag die koningskap van Israel van jou afgeskeur en Hy het dit aan jou medemens gegee wat beter as jy is.


Ps 119:71;

71Dit is goed vir my
dat ek verneder was,
sodat ek u voorskrifte kon leer.

Jes 30:19-21?

19Ja, volk wat op Sion,
in Jerusalem, woon,
julle sal sekerlik nie meer huil nie.
Die Here sal beslis genade
aan julle bewys
op julle roepstem om hulp.
Wanneer Hy hoor,
sal Hy julle antwoord.
20My Heer sal vir julle
brood van kommer
en water van verdrukking gee.
Maar dan sal julle Groot
Leermeester Hom nie meer
vir julle verberg nie;
julle eie oë sal julle Groot
Leermeester sien.
21Met julle ore sal julle
‘n woord agter julle hoor:
“Hier is die pad, gaan daarop,
wanneer julle regs of links wil hou!”


Jer 18:1-6;

181Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” 3Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. 4Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe ‘n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak.

5Toe het die woord van die Here tot my gekom: 6“Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die Here. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel.

Hos 1:2-6?

2Die begin van wat die Here deur Hosea gesê het.
Die Here het vir Hosea gesê:
“Gaan neem vir jou as vrou
‘n prostituut wat hoerkinders het,
want die land hou aan hoereer,
weg van die Here af.”

3Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. 4Die Here sê toe vir hom:
“Noem hom Jisreël,
want nog ‘n klein rukkie,
dan roep Ek die huis van Jehu
tot verantwoording
oor die bloedbad by Jisreël.
Ek gaan ‘n einde maak
aan die koninkryk
van die huis van Israel.
5Op daardie dag sal Ek
die boog van Israel breek
op die vlakte van Jisreël.”

6Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ‘n dogter. Die Here sê toe vir hom:
“Noem haar Lo-Rugama,
want Ek gaan My nie langer
ontferm oor die huis van Israel nie,
ja, Ek sal hulle geensins vergewe nie.


Lees Hag 1:1-11.

11In die tweede regeringsjaar van koning Darius, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die Here by monde van die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en tot Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak: 2“So sê die Here, Heerser oor alle magte,

‘Hierdie volk sê die tyd is nog nie ryp om die Here se huis te herbou nie.’ ” 3Die woord van die Here het gekom by monde van die profeet Haggai: 4“Is die tyd dan wel vir julle ryp om in huise met houtpanele te woon, terwyl hierdie huis ‘n bouval is? 5Daarom,” so sê die Here, Heerser oor alle magte, “neem ter harte wat julle beleef het:

6Julle het baie gesaai,
maar dit het min opgelewer;
julle eet,
maar word nie versadig nie;
julle drink,
maar julle dors word nie geles nie;
julle trek aan,
maar word nie warm nie.
Wie homself uithuur,
doen dit vir ‘n beursie vol gate.”
7So sê die Here, Heerser oor alle magte: “Neem ter harte wat julle beleef het:
8Gaan teen die berge uit,
bring hout en herbou my huis;
dit sal vir My vreugde verskaf
en Ek sal daardeur verheerlik word.”
Dit is wat die Here sê.
9“Julle verwag baie,
maar kyk, julle kry bloedweinig.
As julle iets huis toe bring,
blaas Ek dit weg.

“En waarom? Omdat my huis ‘n bouval is, terwyl elkeen van julle rondhardloop vir sy eie huis.” Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.

10“Daarom het die hemel bo júlle die dou teruggehou en die aarde sy opbrengs. 11Ek het droogte uitgeroep oor die land en oor die heuwels, oor die koring, die •nuwe wyn en die olie, oor alles wat die grond oplewer; oor mens en dier en alles wat met moeite tot stand gebring is.”

Op watter omstandighede wys Haggai die Israeliete waardeur die Here ’n belangrike saak wou tuisbring?


Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Gen 9:12-13;Gen 12:7-8;Gen 26:19-25;Gen 28:10-12, 17-19;Gen 35:1-7.

Gen 9:12-13;
12God het gesê: “Dit is die verbondsteken wat Ek plaas tussen My en julle en al die lewende wesens by julle, vir toekomende geslagte: 13My boog plaas Ek in die wolke. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en die aarde.

Gen 12:7-8;
7Die Here verskyn toe aan Abram en sê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.” Hy het toe daar ‘n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het. 8Hy het daarvandaan verder getrek na die heuwelland oos van Bet-El, en sy tente opgeslaan tussen Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy vir die Here ‘n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep.

Gen 26:19-25;

19Terwyl die slawe van Isak in die dal grawe, kom hulle toe daar in ‘n put af op ‘n wateraar. 20Maar die herders van Gerar het met Isak se herders gestry en gesê: “Die water behoort aan ons!” Hy het toe die put Esek genoem, omdat hulle daaroor rusie gemaak het. 21Isak se slawe het toe ‘n ander put gegrawe, maar hulle het ook daaroor gestry. Daarom het Isak dit Sitna genoem. 22Hy het daarvandaan verder getrek en ‘n ander put gegrawe, maar daaroor is daar nie gestry nie. Hy het dit Regobot genoem, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land.”

23Hy het toe daarvandaan opgetrek na Berseba. 24Daardie nag het die Here aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag talryk maak ter wille van Abraham, my dienskneg.” 25Hy het toe daar ‘n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het daar ‘n put uitgekap.

Gen 28:10-12, 17-19;
10Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. 11Hy kom toe by ‘n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. 12Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan!

17Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!”

18Jakob het die oggend vroeg opgestaan en die klip wat hy as ‘n kopstut neergesit het, geneem en dit as ‘n gedenksteen opgerig. Hy het olie oor die bopunt daarvan uitgegiet. 19Hy het die plek Bet-El genoem; maar die naam van die dorp was vroeër Lus.

Gen 35:1-7
1God het vir Jakob gesê: “Maak gereed, trek op na Bet-El en woon daar. Bou daar ‘n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op vlug was voor jou broer Esau.” 2Jakob sê toe vir sy huis en almal wat by hom was: “Verwyder die vreemde gode wat in julle midde is en reinig julle; trek ander klere aan. 3Kom ons maak gereed en trek op na Bet-El, sodat ek daar ‘n altaar kan bou vir die God wat my geantwoord het op die dag toe ek in die nood was, en by my was op die pad wat ek gegaan het.” 4Hulle het toe al die vreemde gode wat hulle by hulle gehad het, vir Jakob gegee, ook die ringe wat aan hulle ore was. Hy het dit onder die groot terebintboom wat by Sigem is, weggesteek. 5Hulle het toe weggetrek, en ‘n verskrikking van God af het oor die dorpe rondom hulle geheers, sodat hulle nie die seuns van Jakob agtervolg het nie.

6Toe Jakob by Lus, dit is Bet-El, in die land Kanaän aankom, hy en al die mense wat by hom was, 7het hy daar ‘n altaar gebou en die plek El-Bet-El genoem, omdat God Hom daar aan hom geopenbaar het toe hy op vlug was voor sy broer.

Die Here werk nie lukraak nie, daarom gee Hy dikwels ook bakens in ’n mens se lewe as rigtingwysers. Wanneer ons kan sien waar ons vandaan kom, sal ons duideliker sien waarheen God met ons op pad is.

Soms stuur die Here ook wyse persone wat ’n situasie goed (en reg) kan opsom en kommunikeer (
Spr 5:1 1My seun, op my wysheid
moet jy ag slaan,
vir my verstandigheid
moet jy jou ore spits
,).

Die Here kan deur vriende, familie of gemeentelede met ons praat.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Spr 7:1, 6-8, 24-25; Ps 37:25-26

Spr 7:1, 6-8, 24-25;

71My seun, neem my woorde
ter harte;
en my opdragte,
hou dit veilig by jou.

6Want deur die venster van my huis,
deur my latwerk, het ek afgekyk;
7en ek sien toe
daar by die onkundiges,
ja, ek merk toe onder die seuns
‘n jong man sonder verstand,
8wat die stegie by haar hoek
oorsteek,
wat op pad na haar huis stap

24Daarom, seuns, luister na my,
en slaan ag op die woorde
uit my mond.
25Laat jou hart nie afdraai
na haar weë nie;
moenie op haar paaie ronddwaal nie.

Ps 37:25-26

25Toe ek jonk was en selfs
noudat ek oud geword het,
het ek nie gesien
dat ‘n regverdige versaak word,
of dat sy nageslag kos soek nie.
26Hy is altyd goedhartig
en leen graag uit,
sy nageslag is ‘n seën vir ander.

Lees die Skrif

Lees Hand 13:1-3; 17:10-11; 1 Kor 14:29.

Hand 13:1-3;
131In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, ‘n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. 2Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” 3Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur.

Hand 17:10-11;
10Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan. 11Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. 

1 Kor 14:29
29Laat twee of drie profete praat, en die ander dit sorgvuldig beoordeel.

Skryf / Vul in

Dink jy dis nodig om elke openbaring, visioen, gesig, stem, boodskap, preek of watter manier ek ook al mag ervaar dat die Here met my (of ons) praat, aan die Skrif te toets? Waarom sê jy so? (Vgl Hand 17:11.)

Hand 17:11
11Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is.


God is met sy gemeente op pad. Hy het ’n doel en bestemming met ons en daarom wil Hy dit met ons kommunikeer. Hy wil midde in die bedrywighede van elke dag ons tree vir tree lei (Jes 30:21 21Met julle ore sal julle
‘n woord agter julle hoor:
“Hier is die pad, gaan daarop,
wanneer julle regs of links wil hou!”).

Daarom praat die Here vandag steeds op verskillende maniere met sy mense – net soos in Bybelse tye!

Gebed

Praat met die Here oor wat jy vandag beleef het.

Week 5 Dag 23 Verskilmakers is ontvanklik vir die Here
Week 5 Dag 23 Verskilmakers is ontvanklik vir die Here
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 76-81
Lees gerus ook Eks 17:8-9, 15-16; 24:4-7; Jos 4:8,9; Rig 6:22-24; 1 Sam 7:10-12

Eks 17:8-9, 15-16;
8Toe die Amalekiete kom om teen Israel te veg by Refidim, 9het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die heuweltop gaan staan met die staf van God in my hand.”

15Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem, Die Here is my banier. 16Hy het gesê:
“Omdat ‘n hand teen die troon
van die Here was,
is daar oorlog vir die Here teen
Amalek van geslag tot geslag.”

Eks 24:4-7;

4Moses het al die woorde van die Here neergeskryf. Hy het vroeg die oggend opgestaan en aan die voet van die berg ‘n altaar opgerig en twaalf gedenkstene vir die twaalf stamme van Israel. 5Hy het jong manne uit die Israeliete gestuur, en hulle het •brandoffers geoffer, en vir die Here bulle geslag as •maaltydoffers. 6Moses het die helfte van die bloed geneem en in bakke gegooi. Die ander helfte van die bloed het hy teen die altaar gesprinkel.
7Toe neem hy die Boekrol van die Verbond en lees dit duidelik hoorbaar aan die volk voor. Hulle het gesê: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen en gehoorsaam.”

Jos 4:8,9;

8Die Israeliete het gemaak soos Josua beveel het: Hulle het twaalf klippe, net soveel as die stamme van die Israeliete, uit die middel van die Jordaan opgetel, soos die Here vir Josua gesê het. Hulle het dit met hulle saamgeneem na hulle oornagplek en dit daar neergesit.
9Nog twaalf klippe is deur Josua in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die voete van die priesters wat die verbondsark gedra het, gestaan het. Dit is daar tot vandag toe.

Rig 6:22-24;
22en Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was. Toe sê Gideon: “Ag, Here, my Heer! Want nou het ek die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!” 23Maar die Here sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie!” 24Gideon het toe daar ‘n altaar vir die Here gebou en dit genoem “Die Here is vrede”. Tot vandag toe is dit nog daar in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort.

1 Sam 7:10-12
10Terwyl Samuel nog die brandoffer bring, het die Filistyne nader beweeg vir die geveg teen Israel. Maar die Here het op daardie dag harde donderslae laat dreun oor die Filistyne en hulle verwar. Hulle is toe voor Israel uit verslaan. 11Die manskappe van Israel het uit Mispa getrek en die Filistyne agtervolg en bly neervel, tot onderkant Bet-Kar. 12Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit tussen Mispa en Sen opgerig. Hy het dit Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za