Week 5 Dag 22 – Arm van Gees? – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Gebed

Raak geestelik en emosioneel stil in die lewende God se teenwoordigheid. As jy nou bly fokus op goed wat jy nog moet doen of op ander knaende gedagteafleiers, gaan hierdie tyd vir jou min beteken. Neem ’n wilsbesluit om vir die volgende halfuur of meer op niks anders te fokus as op God en sy Woord nie.

Skryf / Vul in

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het ’n behoefte gehad aan ’n koninklike Messias wat hulle van die Romeinse juk kon verlos. Lees Joh 5:37-40 en kyk wat is die fundamentele fout wat hulle gemaak het?

Joh 5:37-40
37En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. 38En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. 39Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. 40Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.


Net so maak gelowiges meermale die fout om die Bybel te degradeer tot op die vlak waar dit met hulle belewenis of ervaring versoen kan word. Ons ervaring (of gebrek daaraan) word dan ’n demper wat God se stem verdoof. Bv: My ervaring van God se teenwoordigheid of afwesigheid bepaal dan wat ek daarvan glo en nie God se beloftes of sy Woord nie. (Vgl Matt 18:20 “want, waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”) Petrus het aan die tradisies van die Ou Testament bly vashou. Dit het gemaak dat hy vergeet het wat Jesus op ’n keer gesê het (Mark 7:6-9).

6En Hy antwoord hulle: “Jesaja het tereg oor julle skynheiliges geprofeteer, soos daar geskryf staan,
“ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,
maar hulle harte is ver van My af.
7Tevergeefs vereer hulle My,
want hulle onderrig as leerstellings
die voorskrifte van mense.’
8“Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.”
9Hy het ook vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en sodoende julle tradisie te handhaaf. 
Hierdie verknogtheid aan tradisies het verder gemaak dat hy blykbaar nie die implikasies van Jesus se belofte in Hand 1:8 ten volle kon begryp nie. Die Here moes hom deur ’n visioen wakker skud om die evangelie na die heidene te neem (Hand 10:13-16).

13Toe kom daar ‘n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” 14Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie.” 15Maar die stem het weer, ‘n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” 16Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.

Skryf / Vul in

Daar is ook ander filters of dempers wat daartoe aanleiding gee dat ons God verkeerd kan hoor. Dink aan ’n paar voorbeelde:


Ek noem slegs 2 moontlikhede:

  • Verkeerde, onverantwoordelike interpretasie van die Bybel.
  • Kultuuropvattings.
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook 2 Pet 1:20-21; 3:16.

2 Pet 1:20-21;
20Dit moet julle veral besef: Geen profesie in die Skrif berus op eie uitleg nie. 21Want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie; maar, meegevoer deur die Heilige Gees, het mense die woorde uitgespreek wat van God afkomstig is.

2 Pet 3:16
16soos in al sy briewe waarin hy oor hierdie sake praat. Daarin kom sekere moeilik verstaanbare dinge voor, wat onkundige en onstandvastige mense tot hulle eie ondergang verdraai – soos hulle ook met die ander geskrifte maak.

Skryf / Vul in

Lees 1 Kor 2:13-14;1 Kor 3:1.

1 Kor 2:13-14;
13Ons praat ook oor hierdie dinge, nie met woorde wat menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer, terwyl ons geestelike dinge met geestelike dinge beoordeel. 14Maar ‘n niegeestelike mens aanvaar nie wat van die Gees van God kom nie; vir hom is dit immers dwaasheid, en hy kan dit nie begryp nie, omdat dit slegs geestelik beoordeel kan word.

1 Kor 3:1
31Wat my betref, broers, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie, maar wel soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies, in •Christus.

Wat maak dat ons die Woord nie verstaan en dus nie geestelik groei nie?


Daar was niks verkeerd met die Emmausgangers se IK’s nie. Tog vermaan Jesus hulle oor hulle gebrek aan begrip en traagheid van gees . Hy moes hulle verstand open (hulle in staat stel) om die Skrif te verstaan (Luk 24:25, 45).
25Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! 
45Daarop het Hy hulle verstand daarvoor geopen om die Skrifte te verstaan, 

Niks het sedertdien verander nie. Ons het vandag steeds nodig dat Hy deur sy Gees ons in staat stel om die Bybel te verstaan.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Dan 2:21-22; 2 Kor 4:3-6; Ef 1:17-18; 1 Joh 2:27.

Dan 2:21-22;
21Hy verander tye en tydperke;
Hy sit konings af
en stel konings aan.
Hy gee wysheid aan wyses
en kennis aan wie insig het.
22Hy openbaar dit wat diep
en verborge is;
Hy weet wat in die duisternis is.
Die lig is by Hom tuis.

2 Kor 4:3-6;
3As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, 4vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van •Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. 5Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. 6Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.

Ef 1:17-18;
17Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus •Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, 18en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien
wat die hoop is wat sy roeping bied,
wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels,

1 Joh 2:27
27Maar wat julle betref: die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en daarom hoef niemand julle te leer nie. Maar omdat sy salwing julle alles leer, en omdat dit die waarheid is, en nie ‘n leuen nie, bly in Hom, net soos Hy julle geleer het.

Skryf / Vul in

Lees Joh 16:12-14. 12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. 13Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. 14Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak.

Wat is deurslaggewend vir insig en begrip in die Woord van die Here?


Ons gees moet ingestem wees op die Heilige Gees. Westerlinge het baie oefening hierin nodig.

Skryf / Vul in

Lees Mark 7:6-8.

6En Hy antwoord hulle: “Jesaja het tereg oor julle skynheiliges geprofeteer, soos daar geskryf staan,
“ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,
maar hulle harte is ver van My af.
7Tevergeefs vereer hulle My,
want hulle onderrig as leerstellings
die voorskrifte van mense.’

8“Julle versaak die gebod van God en klou vas aan die tradisie van mense.”

Wat is die gevaar waarteen Jesus waarsku?


Ons verval so maklik in die ritueel van Bybellees (of eredienste toe gaan) sónder die verwagting dat ons die Here gaan ontmoet en dat Hy met ons gaan praat. Dit hang saam met die beweegrede/s waarom mense die Bybel lees.

Skryf / Vul in

Dink aan ’n paar redes vir bogenoemde.


Hier is ’n paar moontlikhede:

  • Om beginsels te ontdek?
  • Om meer beloftes te kry wat ek vir myself kan toe-eien?
  • Om bewyse te kry vir my eie oortuigings?
  • Om preek-materiaal te kry?
  • Om krag te kry in my bediening?
  • Of dalk sommer omdat dit my gewete sus?
  • Om te groei in my kennis en aanbidding van, liefde vir, asook geloof in God?
Skryf / Vul in

Lees Joh 10:27. 27My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 

Wat is kenmerkend van die Here se skape?


Ons behoort die Bybel te lees met die doel om ’n verhouding met die Outeur te hê. Ons besigwees met die Bybel moet eerstens lei tot ’n ontmoeting met Jesus. (Joh 5:39-40)39Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. 40Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.

Ons moet fokus op ons verhouding met die Here. Dit is die spil waarom alles draai. Dit verg harde oefening om toegewy aan die Here te leef (1 Tim 4:7-8; 1 Tim 6:11-12).

1 Tim 4:7-8 7Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; 8want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. 

1 Tim 6:11-12
11Maar jy, o man van God,
vlug weg van hierdie dinge!
Streef eerder na •geregtigheid,
godvresendheid, betroubaarheid,
liefde, volharding, sagmoedigheid.
12Stry die goeie stryd van die geloof;
gryp die ewige lewe aan,
waartoe jy geroep is
en waarvan jy die goeie belydenis
voor baie getuies afgelê het.
Wie so geoefen is, sal sy stem hoor.

Dit is duidelik dat God se Woord nie deur menslike inspanning verstaan kan word nie, maar dat ons die Heilige Gees nodig het om vir ons insig en begrip te gee (Luk 24:45)25Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het!.

Ons moet dus ’n intieme verhouding met die Here koester – dan sal ons sy stem hoor.

Gebed

Praat met die Here oor wat jy vandag beleef het.

Week 5 Dag 22 Die Heilige Gees maak ons sensitief
Week 5 Dag 22 Die Heilige Gees maak ons sensitief
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 76-81
Lees gerus ook Eseg 13; Joh 14:23, 26; 15:26-27; 16:13; Hand 17:11; Rom 8:9.

Eseg 13;
OORDEEL OOR VALS PROFETE

131Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat besig is om te profeteer. Sê vir die profete wat uit hulle eie harte praat, ‘Hoor die woord van die Here! 3So sê my Heer, die Here: “Wee die dwase profete wat hulle eie gees volg, maar niks gesien het nie. 4Soos jakkalse tussen puinhope het jou profete geword, Israel. 5Hulle het nie opgeklim na die bresse en ‘n klipmuur gepak ter verdediging van die huis van Israel, sodat hy staande kan bly in die stryd op die dag van die Here nie. 6Hulle visioene is vals, ‘n leuenagtige voorspelling, hulle wat telkens sê, ‘Dit is die uitspraak van die Here.’ Die Here het hulle egter nie gestuur nie. En dan wag hulle nog dat die woord vervul sal word! 7Het julle nie valse visioene gesien en ‘n leuenagtige godspraak gelewer toe julle gesê het, ‘Dit is die uitspraak van die Here,’ terwyl Ek nie iets aangekondig het nie?” 8Daarom, so sê my Heer, die Here: “Omdat julle valse uitsprake maak en bedrieglike visioene sien, daarom is dit nou Ek teen julle.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’

9“ ‘ “My hand sal gekeer wees teen die profete wat valse visioene sien en leuenagtige voorspellings maak. In die binnekring van my volk sal hulle nie wees nie, in die boek van die huis van Israel sal hulle nie opgeskryf word nie, en op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Julle sal besef dat Ek, die Heer, die Here, is, 10omdat, ja, omdat hulle my volk mislei het deur te sê, ‘Vrede!’ toe daar geen vrede was nie. Wanneer iemand ‘n klipmuur pak, kyk, dan pleister hulle dit met kalk. 11Sê vir hulle wat met kalk pleister, ‘Die muur gaan val!’ ‘n Geweldige stortreën kom, Ek sal groot haelstene gee, hulle sal val. ‘n Stormwind sal losbreek – 12en kyk, die muur het geval! Daar sal sekerlik vir julle gevra word, ‘Waar is die klei waarmee julle gepleister het?’ ” 13Daarom, so sê my Heer, die Here, “Ek laat ‘n stormwind losbreek in my woede; in my toorn sal stortreën val, ook groot haelstene met vernietigende venyn. 14Ek sal die muur wat julle met kalk gepleister het, afbreek en dit op die grond neergooi, sodat sy fondament ontbloot word. Dit sal val en julle sal daarin omkom. Julle sal besef dat Ek die Here is. 15Ek sal my woede laat uitwoed op die muur en op hulle wat dit met kalk pleister. Dan sal Ek vir julle sê, ‘Die muur is nie meer daar nie, en ook nie hulle wat dit pleister nie – 16daardie profete van Israel wat vir Jerusalem profeteer en vir haar visioene van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie.’ ” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’

17“En jy, mensekind, rig jou tot die dogters van jou volk wat uit hulle eie harte profeteer. Profeteer teen hulle 18en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Ellende wag vir hulle wat towerbande maak vir almal se polse, en hoofbedekkings maak vir koppe van alle groottes, om so op lewens jag te maak. Sal julle op die lewens van my volk jag maak, maar julle eie lewens behou? 19Julle het my heiligheid aangetas by my volk, vir ‘n paar hande vol gars en ‘n paar stukkies brood, deur lewens te vernietig van mense wat nie moes sterf nie, en lewens te behou van mense wat nie moes bly leef nie, toe julle vir my volk wat na leuens luister, gelieg het.” 20Daarom, so sê my Heer, die Here: “Kyk, Ek is teen julle towerbande waarmee julle daar in Jerusalem op lewens jag maak asof hulle voëls is. Ek sal dit van julle voorarms afskeur. Ek sal die lewens wat julle vang asof hulle voëls is, vrylaat. 21Ek sal julle hoofbedekkings afskeur en my volk red uit julle hand. Hulle sal nie meer as ‘n vangs in julle hand wees nie. Julle sal besef dat Ek die Here is. 22Omdat julle deur leuens die harte van regverdiges laat ineenkrimp, terwyl Ek hulle nie pyn wil aandoen nie, en omdat julle die hande van goddeloses sterk, sodat hulle hulle nie bekeer van hulle bose optrede en gevolglik bly leef nie – 23daarom: Valse visioene sal julle nie sien nie, en voorspellings sal julle nie meer maak nie. Ek sal my volk uit julle hand red. Julle sal besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Joh 14:23, 26;
23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

26Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.

Joh 15:26-27;
26“Wanneer die Parakleet kom wat Ek van die Vader af aan julle sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. 27En julle moet ook getuig, omdat julle van die begin af by My is.

Joh 16:13;
13Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak.

Hand 17:11;
11Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. 

Rom 8:9
9Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. 

Wenk

WENK: Vra die Here wat dit vandag van jou mag vra om soos Henog van ouds “met God te wandel”. Dan doen jy dit (Joh 12:26)26As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer..

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za