GEBEDSGIDS OKTOBER 2023

Gebed

Gebed verander alles.
Moenie angstig wees nie.
Bid tot God.
As God vir ons is,
wie kan teen ons wees.
Sy genade is genoeg.

1 Oktober – Sondag- Eljada Nasorg

Ons gee vandag ons spesiale kollekte vir Eljada in Oudtshoorn wat hierdie spesiale werk verrig. Bid dat die hande en harte oop sal wees vir hierdie saak en dat daar ‘n groot kollekte ingesamel sal word.

2 Oktober – Maandag – Bejaardes

Gister was biddag vir bejaardes en wil ons vandag spesiaal dink aan al ons bejaardes. Bid dat hulle nie alleen sal wees nie en dat hul in die besonder ook sal uitreik na vriende en familie en ‘n gees van positiwiteit sal aankweek.

3 Oktober – Dinsdag – Polisie

Ons dra vandag alle lede van die polisiemag op aan die sorg van die Here en bid dat hulle hul werk met die nodige sorg sal verrig en dat die Hand van die Here hul veilig sal bewaar waar hulle in groot gevaar verkeer in hul daaglikse werk.

4 Oktober – Woensdag – Bybelvertaling

Daar is miljoene mense wat nog nie een woord van die skrif in hul eie taal gehoor of gelees het nie. Bid dat die Bybel binnekort in meer tale vertaal sal word.

5 Oktober – Donderdag – Mediese personeel

Bring mediese personeel in hospitale, noodeenhede en nasorg fasiliteite in gebed na God. Bid vir hulle vir krag, akkurate diagnoses, geduld en liefdevolle sorg aan hul pasiënte.

6 Oktober – Vrydag – Moslems

Vandag is dit die Moslems se “kerkdag”. Bid dat hul die woord sal hoor en tot inkeer sal kom. Ons bid ook vir die baie bekeerde Moslems wat nie in hul eie huise en families aanvaar word nie, maar daagliks vervolg word.

7 Oktober – Saterdag – Studente

Bid vir werksgeleenthede vir die studente wat hulle studies voltooi en hul grade, diplomas of sertifikate sal ontvang. Bid ook dat hulle hul lewe en toekoms aan God sal toevertrou vir die regte geleenthede en leiding.

8 Oktober – Sondag – Alta du Toit Skool

Alta du Toit versorg kinders van klein tot 18 jaar. Bid dat mense se harte sal oopgaan en sal help deur te bid, skenkings te gee, te help met huiswerk, handvaardighede, klere, biblioteek, toiletware asook skryfgoed en speelgoed. Bid ook dat die mense se harte sal oop wees en mildelik sal gee by vanoggend se spesiale offer by die kerk.

9 Oktober – Maandag – MIV/Vigs

Hou asseblief aan om te bid vir mediese deurbrake in die behandeling van MIV/VIGS. Bid vir die wat geïnfekteer is vir ‘n geleentheid om die Here Jesus persoonlik te leer ken.

10 Oktober – Dinsdag – Skole heropen

Bid vir die leerders en leerkragte dat hulle hul werk met entoesiasme sal voltooi vir die laaste kwartaal. Ons bid ook spesifiek vir die matrieks waar hul eindeksamens nou sal plaasvind.

11 Oktober – Woensdag- Werkskepping

Diefstal vier hoogty a.g.v. ‘n tekort aan werk en bid ons dat daar werkskepping sal plaasvind maar dat die mense wat nie werk het nie, ook hul kant sal bring indien hul ‘n werk ontvang om dit met die nodige aandag te verrig.

12 Oktober – Donderdag – Woorde en Dade

Kom ons bid vandag dat ons dade en ons woorde ooreenstem, laat ons met ons verlede breek en ‘n bewustelike keuse maak om ‘n verskil te maak daar waar ons is.

13 Oktober – Vrydag – Families

Bid vandag vir huwelike, verhoudings tussen ouers en kinders, asook tussen kinders onder mekaar. Bid vir sagte harte in die daaglikse omgang met mekaar.

14 Oktober – Saterdag – Kerkbywoning

Na Covid is baie mense nie genoop om die kerkdienste by te woon nie. Ons bid dat daar weer ‘n gees van samesyn en vriendskap sal ontstaan wat die mense na die kerk sal lei waar hul weer die Here kan bedien met lofprysing en sang.

15 Oktober – Sondag – Gideons

Die Gideons reik uit na mense wat nie die woord van God ken nie deur onder andere Bybels te versprei. Ons bid dat hulle werk geseën sal word en dat die plekke waar hulle uitdeel hulle goedgunstiglik sal ontvang.

16 Oktober – Maandag – Christene in die Midde-Ooste

Bid asseblief vir alle Christene wat in die Midde-Ooste en Asië woon om steeds met vrymoedigheid van die liefde van Christus teenoor ander te getuig en dat hulle sal getrou bly aan die Here.

17 Oktober – Dinsdag – Rasseverhoudinge

Ons bid, Heer, dat daar ‘n positiewe gesindheid sal heers tussen die verskillende rasse op Grootbrak en dat hulle in vrede en liefde sal saamleef.

18 Oktober – Woensdag – Geestelike leiers

Vandag bid ons in besonder vir ons geestelike leiers en leraars in ons Ring – vir hulle gesinne, hulle gesondheid, hulle huwelike en bid ons teen aanvalle van die Bose, kritiek, misverstande, moegheid en dat hulle harte met God se liefde vervul sal wees.

19 Oktober – Donderdag – Gevangenes

Bid dat gevangenes, veral jongmense, ‘n persoonlike openbaring van die liefde van Christus sal ervaar. Ons bid dat hulle harte ontvanklik sal word en dat hulle gewillig sal wees om te leer en getrou aan die rehabilitasie projekte sal deelneem.

20 Oktober – Vrydag – Verslawing

Ons bid vir soveel mense wat vasgevang is deur een of ander vorm van verslawing soos alkohol, dwelms, kos, tegnologie of slegte gewoontes. Vra vir die oortuiging van die Heilige Gees om hulle uit die duisternis na die lig te bring.

21 Oktober- Saterdag – Ons Middelpunt

Bid dat ons gemeente elke dag van die week en nie net Sondae, alle eer aan ons Hemelse Vader sal gee en besef dat Hy die middelpunt van alles en elkeen is.

22 Oktober – Sondag – Aarde

Laat ons vandag dink aan ons aarde en dat die mens wat aangestel is om die aarde te beskerm, sal optree met die nodige sorg en ook almal sal bewus maak van ons aarde se bronne se beskerming.

23 Oktober – Maandag – Sendelinge

Ons het baie sendelinge wat ons ondersteun in ons gemeente. Bid asseblief vir almal van hulle en bid ook dat ons gemeentelede sal uitreik na hulle en getrou hul werk sal ondersteun. Bid ook vir geestelike ondersteuning.

24 Oktober – Dinsdag – Radio Feba

Radio Feba doen sending d.m.v. die radio en wil ons bid dat die Here se woord ook so uitgedra sal word na die onbereiktes. Maak hulle harte ook ontvanklik vir die woord wat hulle so ontvang.

25 Oktober – Woensdag- Blokbyeenkomste

Elke Woensdag word Blokbyeenkomste gereël waar ons in kleingroepe bymekaar kom. Bid dat die nuwe intrekkers hier sal inskakel en deel van die gemeente sal word. Laat dit ook ‘n samesyn tussen die wykslede bewerkstellig.

26 Oktober – Donderdag – Regering

Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13 : 1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.

27 Oktober – Vrydag- Gemeentefees en Konsert

“ Here, ons wil ons lewe aan U wy en wil ons met die konsert ons talent aan U opdra. Ons vra ook dat U elke projek by die fees sal seën en dat die gelde wat so ingesamel word tot U eer aangewend sal word.”

28 Oktober – Saterdag- Kerkprojekte

Ons bid vir alle projekte wat in ons kerk geloods word en dat dit deur U geseën sal word. Ons dank U vir lidmate wat getrou is met die Kategese-klasse, projekte, sopkokers, nasorg-aktiwiteite, gebede groepe en bid vir kreatiewe idees, geduld en liefde om hierdie groot werk te doen.

29 Oktober – Sondag- Kindersorg

Vandag is die spesiale offer by die deure vir Kindersorg en bid ons dat die lidmate mildelik sal gee vir die aanwending by behoeftes waar dit die grootste is.

30 Oktober – Maandag – Sendelinge

Ons bid vandag in die besonder vir die sendelinge en predikers en hulpwerkers wat op straat die mense help en leiding gee. Mag hul elke dag God se nabyheid ervaar, en die wonderwerke waarvoor hulle bid raaksien in die Straatmense se lewens.

31 Oktober – Dinsdag – Eskom

Bid dat Eskom sy probleme sal oorkom en dat die Here al hoe meer son-en windkrag projekte tot stand sal laat kom. Bid dat soortgelyke projekte spoedig voltooi sal word en werk verskaf aan baie mense.

Afkondigings 24 September – 1 Oktober 2023

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Vandag – Sondag 24 September 2023 :

• Baie welkom by die erediens en ’n spesiale verwelkoming aan dr Gerrie van Deventer wat vanoggend se erediens lei.
• Ons skriflesing kom vanoggend uit 2 Tim 1:1-14.

Die tema van die prediking is: Erfenis.
• Erfenisdag.
• GEEN Kategese.
• Sinodale Offer vir Bediening aan die Jode by die deure.
• Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.

Lees meer “Afkondigings 24 September – 1 Oktober 2023”

Gemeentefees 2023

27 – 29 Oktober

Kom kuier saam by ons Oktober gemeentefees. Ons begin die naweek met ‘n vrolik en prettige Vrydagaandkonsert. Saterdag kan u kom saam kuier om ‘n koppie koffie of tee en iets lekkers te ete; of kuier saam om die pannekoektafels en sosatie braai vleisvuur. Vir die kinders sal daar ook pret aktiwiteite wees.

Ter voorbereiding word lyste met die oog op die gemeentefees gesirkuleer in die gemeente. Ons tema vir die jaar is dankbaarheid. Daar sirkuleer ook “dankbaarheidskoevertjies” waarin u enige bydrae kan insit. Die naweek word afgesluit met ‘n dankbaarheidsdiens in die kerkgebou. Geldelike bydraes kan by die kerkkantoor of per direkte inbetaling in die bankrekening gedoen word. (Indien ‘n EFT gedoen word, moet u dit asb as “GFees” & Bloknr & Van, merk).

  • Pannekoektafel:
    Ons benodig helpers vir bak en oprol van die pannekoek, asook donasies (suiker, meel, olie en kaneel), wat by die kerkkantoor kan afgegee word. Indien u kan help skakel asseblief Piet Snyman – 082 297 3476.
  • Gebak:
    Ons benodig produkte vir die koektafel. Enige gebakte items is welkom.
    Liana – 084 764 6155.
  • Kindertafel:
    Ons benodig asb geldelike bydraes en/of spesiale lekkergoed en speelgoed vir die jeug se basaartafel. Ook vrywilligers wat kan help met insamelings en by die tafel. Alle skenkings kan asseblief by die kerkkantoor of by De Kaap Eiendomme vir Pauline afgegee word. Pauline Richards – 079 557 8591.
  • Enige bestanddele is baie welkom. Dui dit asb op u lys aan of kontak die betrokke persone. Die bestanddele moet asseblief ‘n week voor die dankfees by die betrokke sameroeper of by die kerkkantoor ingehandig word.

SAMEROEPERS

  1. KERRIE-EN-RYS:
    250 ml @ R15 & 500 ml @ R30. Corita du Preez – 084 265 9487. Kontak ons indien u wil help deur maalvleis te skenk.
  2. JAFELS: @ R20 elk: Daar sal jafels op die dag beskikbaar wees, maar om teleurstelling te voorkom en ons ook te help met beplanning sal ons dit waardeer indien u asseblief u bestellings per WhatsApp of sms by Annatjie Janse van Rensburg – 082 871 0927 of
    Corrie Pieters – 082 327 9527 plaas.
  3. ROOSTERKOEKE: Heel @ R15 elk / Konfyt @ R20 elk / Konfyt en Kaas @ R25 elk / Hoender Mayo @ R25 elk. Amelia – 072 975 0917.
  4. PANNEKOEK: Piet Snyman – 082 297 3476.
  5. SOSATIES: Sosaties @ R16 elk. Asseblief geen bestellings! Eddie Drost – 082 920 1829.
  6. GEBAK EN TEETUIN:
    Liana Boshoff – 084 764 6155 / Michelle Roon – 064 674 9756 /
    Marie Snyman – 082 229 8316.
  7. GROENTE: Robert Crause – 071 243 9181.
  8. WIT OLIFANT: Bring asseblief enige goedere na die kantoor en ons sal dit daar sorteer. Ek sal goedere enige tyd by die huise gaan oplaai indien moeilik om self in te bring. Annalene de Swardt – 082 495 5011.
  9. KINDERTAFEL: Pauline Richards – 079 557 8591.
  10. POEDING: 350ml @ R15 elk: Kontak Dirk Visser – 082 416 3281 of Dorette Visser – 072 400 1991 indien u ‘n poeding wil skenk of graag wil help. Dui asseblief net aan of dit ‘n warm of koue poeding is.
  11. BOEKE:
    Enige ou boeke sal waardeer word. Bring dit asseblief solank na die kerkkantoor of kontak Ina Blom – 083 651 4517.

Nuusflitse Week 45+ van 2022

Nuusflitse

Gebedsgidse: Gebedsgidse vir November 2022 is beskikbaar in die voorportaal.
Woensdag – 2 November 2022 Kooroefening om 17:15 by die orrel. Marida (082 471 0751). Alle belangstellendes is welkom.
Sondag – 6 November 2022 Kategese om 09:00. Erediens 10:00 Prediker:  Dr. Frans Hancke.
Woensdag – 8 November 2022 Daar sal nie ’n gesamentlike afsluiting vir die Bybelstudiegroepe op 8 November in die kerksaal wees nie. Elke groep gaan hul eie afsluiting vir hul groep reël in November of Desember soos dit hul groep pas.
Donderdag – 10 November 2022 KLUB 50* hou hulle jaarlikse ete afsluiting vir lede op 10 November 2022  Bespreek by Johan Snyman (083 736 5747) / Debbie Nel (083 395 8789). Koste R70 per persoon
HARTENBOS BEJAARDESORGDIENS 17 DESEMBER 2022 Kontak Elize Zinser 044 695 2386 / 044 695 1948
Getuienisbediening2, 16 & 30 November 2022. Uitdeel van Kerspakkies op 7 Desember 2022.
OMGEEBEDIENING:  KERSPAKKIES voor begin Desember 2022. Ons moet 40 bottels vul.
Daar is ‘n dringende behoefte vir ‘n stootwaentjie en babaklere.
Aansoeke deur persone wat kwalifiseer vir studielenings uit die Groenewaldfonds sluit op 30 November 2022.


Afkondigings – 30 oktober 2022

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Vandag – Sondag 30 Oktober 2022:

  • Die gemeente vier nagmaal en nooi graag alle besoekers om dit saam met ons te gebruik. Plaas asb. u leë nagmaalkelkie in die houers in die voorportaal na die erediens.
  • ‘n Spesiale verwelkoming aan Ronike Steyn wat vanoggend belydenis van geloof aflê.
  • Ons Skriflesing vanoggend kom uit Lukas 19 vers 1 tot 10. Die tema van die prediking is: ‘n Vasgeloopte situasie?
  • Geen kategese.
  • Spesiale Offer by die deure vir Kindersorg.
  • Tee in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.
Lees meer “Afkondigings – 30 oktober 2022”

Stof tot nadenke: Gee jy regtig om?

“Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself”

Jak. 1: 22

Ons Christelike geloof het wonderlike leerstellings, wat die moeite werd is om aan te hang. Dit is egter van min nut indien ons Sondag na Sondag met voorgee gesigte die eredienste bywoon, of selfs aktief betrokke is, maar nie die Christelike voorbeeld uitleef nie. Christus vra dat ons meer en meer soos Hy moet wees. Dat ons alle mense moet aanvaar. Dat ons omgee opreg moet wees. Dat ons nooit uit die oog moet verloor dat ons net nietige mense is nie. Ons moet waak om nie met mense oë na mense te kyk nie, maar met die oë van Christus. Geen mens is te min in die oë van God nie. Dit was die hele rede vir Christus se sterwe aan die kruis. Hy het vir almal gesterwe, ongeag of jy ryk of arm, mooi of lelik is in mense oë.

Ons moet gedurig waak dat ons nie net na die uiterlike van die menslike persoon moet kyk nie. Vir Christus is die innerlike, die wesenlike menswees, die hartseer en pyn, die swaarkry van so ‘n mens belangrik. Dis is ons mense se fisiese en psigiese nood wat ons na God toe dryf. Ons moet mense word wat met oop arms, net soos Christus se arms oop was vir enigeen wat Hom gesoek het, deur die lewe loop. Aanvaarding en net die erkenning van elke mens wat jou pad kruis, se bestaan, deur ‘n kopknip, ‘n groet, selfs net ‘n glimlag, kan ‘n verandering aan ‘n ander se lewe bring. Niks is so sieldodend soos om te voel dat jy onsigbaar is nie – want niemand sien jou eers raak nie.

Ons moet besef dat kerkwees nie net gaan oor die gebou, die reëls en regulasies of ons eie geloof nie. Ons moet elke dag poog om ‘n verskil te maak in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. God wil hê dat ons moet omgee vir mekaar; en dit beteken nie net daardie mense na aan jou nie. Om hulle lief te hê, of voor om te gee, is maklik. Dit is daardie mense wat deur die kunsmatigheid van die wêreld uitgewerp word, of onaanvaarbaar is – vir hulle moet ons opreg omgee. Dit is in ons mag om deur die hulp van die Heilige Gees mense te word wat doen wat die Woord sê. Dit is die enigste manier om in Christus se voetspore te volg.  

Makhatini vennootskapsvergadering: Oktober 2022 – Saam is ons beter

Makhatini

Soos ons weet, is die vorming van vennootskappe een van die kragtigste samewerkings- en ondersteuningsmetodes wat ons as gelowiges kan ervaar. Dit gee ook vir ons die geleentheid om mekaar oor ons kultuurgrense heen te leer ken en as EEN in Christus tot seën te wees vir die omgewings waarin ons woon en werk.

Lees meer “Makhatini vennootskapsvergadering: Oktober 2022 – Saam is ons beter”

Missie Japan: Oktober 2022 Nuusbrief

Missie Japan okt 2022

Voet in die hoek! Dis hoe dit hier gegaan het die afgelope maand of twee. Die hekke is nou weer wawyd oop in Japan, ná die 7e vlaag van Corona verby is. Alhoewel alle maskers nog nie die trekpas gekry het nie, is daar beslis meer interaksies en ontmoetings.  

Ons is veral dankbaar dat ‘n onlangse jeugbyeenkoms (met ‘n braai ingesluit) en verskeie kampe regtig goed verloop het, in groot getalle. Dit het vir heelwat nie-Christene) ‘n kans gegee om die evangelie te hoor, en verál vir Carina geleentheid gebring om haar getuienis en ervaringe te deel (sien foto, méér in video hierby). Ons is bemoedig en aangespoor. Intussen het Carina heelwat ander aanbiedings en werk as deel van RCJ Kita Kobe gemeente.

Lees meer “Missie Japan: Oktober 2022 Nuusbrief”

Madagaskar: Lynette’s Weekly newsletter: the Week 9 October 2022

Oekraine watertenk

The roof on our house has been replaced. That makes one out of three, the school’s roof next in line and then the toilets. Exactly one day after the finishing touches were made, we had strong wind and heavy rain that night. Some parts of the house were wet as the wind pushed the water through the front windows and door, but no leaks from the roof. I cannot describe the relief, as the rainy season is almost upon us.

Lees meer “Madagaskar: Lynette’s Weekly newsletter: the Week 9 October 2022”

Nuutsflitse week 44+ van 2022

Nuusflitse

Woensdag – 26 Oktober 2022 Kooroefening om 17:15 by die orrel. Marida (082 471 0751)
Sondag – 30 Oktober 2022 (HERVORMINGSFEES) Geen kategese. NAGMAAL. Erediens 10:00 Prediker:  Ds. Danie Goosen
Wolwedans boodskap, sop- en broodbediening is 2, 16 & 30 November 2022. Uitdeel van Kerspakkies op 7 Desember 2022
OMGEEBEDIENING:  KERSPAKKIES voor begin Desember 2022
Daar is ‘n dringende behoefte vir ‘n stootwaentjie en babaklere.
Vrydagaand 28 Oktober 2022 Sop, Sjerrie, Stoepstories en ander stuitighede!Plek: Kerksaal 
Saterdag 29 Oktober 2022 – Gemeentefees 09:00
Aansoeke deur persone wat kwalifiseer vir studielenings uit die Groenewaldfonds sluit op 30 November 2022

Afkondigings 23 – 30 Oktober 2022

Afkondigings

Vandag – Sondag 23 Oktober 2022:

  • Baie welkom by vanoggend se erediens en ‘n spesiale verwelkoming aan dr. Frans Hancke wat vanoggend se erediens lei.
  • Ons Skriflesing vanoggend kom uit 2 Konings 17 en 1 Korintiërs 11. Die tema van die prediking is: Ons voetspore.
  • Kategese om 9:00 vanoggend.
  • Spesiale Offer Gemeente Instandhoudingsfonds.
  • Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.
Lees meer “Afkondigings 23 – 30 Oktober 2022”

Stof tot nadenke: ‘n Afgekeurde hoeksteen

“…Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”

1 Pet. 2: 7

Christus was as hoeksteen deur mense afgekeur is, het die belangrikste hoeksteen van alle tye geword in die gebou van menslike navolgelinge wat God daar gestel het. Christus was waardig deur sy leiding en getrouheid om die ereplek by God te verdien. Petrus maan ons om elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery uit ons lewe te werp en ons te wend tot lewens wat ware volgelinge van Christus weerspieël. Indien ons dit nie sou doen nie sal ons struikel oor hierdie onbreekbare en uitverkore hoeksteen, omdat ons aan die woord van God ongehoorsaam sou wees.

Ons moet te alle tye ons daarop toelê om die voorbeeld van Christus te volg. Ons moet alle mense liefhê en alle eer aan God gee. Volgens Petrus is dit genade om pyn van onverdiende leiding te verduur (1 Pet. 2: 18-21). Hy wys ons daarop dat wanneer ons onverdiende lyding verduur, wanneer ‘n mens goed doen, dit deur die genade van God alleen moontlik is. Hoe kan ons anders wanneer ons kyk na wat Christus vir ons gedoen het. Hy wat geen sonde gehad het nie en geen leuens vertel het nie, wat nie ander beledig het toe Hy beledig en gely het nie. Hy het niemand gedreig nie, maar alles oorgelaat aan God. Die wraak kom ons nie toe nie.

Deur hierdie onbevlekte hoeksteen, wat deur God self as uitverkorene verkies is, het dit vir ons moontlik geword om onder leiding van die Heilige Gees ons lewe in gehoorsaamheid aan God se wil te lewe. Ons is deur dié menslik ‘afgekeurde’ hoeksteen verlos en om deur die genade alleen tot verheerliking van God te kan lewe.

Week 1 Groepgesprek: God en sy mense – Ons is die plan: 9 weke van Transformasie

Skryf / Vul in

Bybelverse wat jou vandag aangespreek het:


Belewenisse en ervarings tydens vandag se Bybelstudie:


Wat het jy geleer of ontdek?


Hoe het vandag se studie jou tot aksie geïnspireer? Hoe het jy geestelik gegroei of is jou lewe verander?


Iets wat jy graag met die groep wil deel of bespreek?


Gebed

Gebedsonderwerpe:


Boublokvrae of -stellings:

  1. Waarom sou God se verhouding en kommunikasie met ons vir Hom belangrik wees? Dit is vir Hom belangrik.
  2. Is daar van God se planne wat, as gevolg van ons, nooit uitgevoer word nie?
  3. Wat is die implikasies as ek God dien met ’n what’s-in-it-for-me benadering?
  4. Wat sou ons kon doen, sodat mense se verstaan van wat die Kerk is, kan verander?
  5. Wat is die praktiese implikasies van ons belydenis dat Christus die Hoof van sy Kerk is?

Inhoudsopgawe

Kopiereg:
Dr. Frans Hanke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hanke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Week 1 Dag 4 Nie sommer-so nie – Ons is die plan: 9 weke van Transformasie

Hieronder sien jy drie blokkies. Kom ons kyk of jy ’n goeie kunstenaar is. Teken in blokkie 01 jou siening van die kerk. Met ander woorde, as jy aan die kerk dink, wat sien jy in jou geestesoog? Onthou net, moenie teken wat jy dink die kerk behoort te wees nie, maar wat jy tans prakties van die kerk ervaar.

Skryf / Vul in

01


02


03


Gebed

Praat nou met die Here oor jou belewenis van die kerk. Miskien is daar mense wat jou verstaan en belewenis van die kerk deur die jare negatief beïnvloed het. Dalk is daar mense wat jy moet vergewe of selfs vryspreek … Dalk is jou belewenis van die kerk ’n hindernis in jou geestelike lewe …

Skryf / Vul in

Skryf neer wat jy ervaar nadat jy hieroor gebid en na God geluister het.


Noudat jy op “ golflengte Jesus” is, lees 1 Pet 2:1-10; 1 Kor 6:19-20.
1 Pet 2:1-10
21Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, 2en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, 3noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.
4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; 5en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. 6Daar staan immers in die Skrif:
“Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer,
‘n hoeksteen, uitverkore en kosbaar;
maar wie in Hom glo,
sal vir seker nie beskaamd staan nie.”
7Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld,
“Juis die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword,”
8en “’n klip waaroor ‘n mens kan struikel,
ja, ‘n rots wat jou kan laat val.”Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem.
9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig –
10julle wat eers nie ‘n volk was nie,
maar nou volk van God is;
wat eers nie ontferming ontvang het nie,
maar nou ontferming ontvang het.

1 Kor 6:19-20
19Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? 20Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.


Kyk of jy hieronder die kerngedagte van elke Skrifgedeelte in een sin kan saamvat.


Petrus se brief, waaruit jy nou net gelees het, is geskryf aan verstrooide groepies gelowiges wat in heidense samelewings geleef het. Hierdie Christene het diskriminasie ervaar en hulle is beskou as dié soort mense met wie jy liewer nie geassosieer wil wees nie. Dit was selfs erger as dit – hulle het lyding verduur omdat hulle hul geloof openlik uitgeleef het. Petrus noem hulle
daarom tereg bywoners en vreemdelinge.

Petrus se motief is om hierdie jong gelowiges te troos en te bemoedig. Hy wil hulle help om hulle identiteit in Christus, sowel as hul roeping, te herontdek. Jesus het hulle spesiaal uitverkies en met sy bloed losgekoop. Op Christus as die hoeksteen en met hulleself as lewende stene, bou God ’n splinternuwe gebou in hierdie wêreld – dít is hulle identiteit. Hulle roeping is nou om in die wêreld ’n heilige (afgesonder vir God) priesterdom te wees. Priesters se roeping is om dienswerk te doen en offers te bring wat God se hart bly maak. Hulle is dus nie maar net bywoners en vreemdelinge soos wat die wêreld van hulle dink nie, nee, hulle moet hulleself eerder as God se kosbare eiendom
sien, mense met ’n spesiale roeping.

In 1 Pet 2:9-10 gebruik Petrus nog ’n klompie Ou Testamentiese beelde om hulle identiteit en hulle roeping as kerk te verduidelik:

  • Uitverkore volk: ’n Term wat net vir die volk Israel in die Ou Testament gebruik is – mense wat in ’n spesiale verhouding met God staan.
  • Koninklike priesterdom: Mense wat in diens van die Koning staan, dienswerk verrig, offers bring wat vir God aanvaarbaar en goed is.

Dit is egter belangrik om te sien dat dit nou nie meer om diereoffers of ander brandoffers gaan nie, maar om geestelike offers. (Kyk gerus ook na Rom 12:1-2.)

Rom 12:1-2
121Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. 2Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.

  • Nasie vir God afgesonder: Die rol wat Israel as lig vir die nasies moes speel, is nou oorgedra aan hierdie verstrooide gemeentetjies wat lig moet bring in die donkerte van ’n oorweldigende heidendom. Waar Israel as volk etnies verstaan is (net Jode), bestaan hierdie nuwe nasie egter nou uit Jode, Grieke, Romeine en ander – mense wat hulle op Christus as hoeksteen in die geestelike huis laat inbou het en daarom deel van die nuwe volk geword het.
  • Eiendomsvolk van God: Hierdie nuwe volk is God se eiendom. Daar is ’n intieme en hegte verbintenis tussen God en sy volk. As die eiendom van God is hulle (die Kerk) daarom ook net aan Hom gehoorsaam. (Kyk na 1 Joh 5:1-5.)

1 Joh 5:1-5
51Elkeen wat glo dat Jesus die •Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. 2Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. 3Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 4want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof.
DIE WARE GETUIE OOR DIE SEUN
5Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die •Seun van God is?

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Nasie vir God afgesonder: Vgl ook Rom 9:6-8; Hand 2:1-11; Kol 3:11-12.

Rom 9:6-8;
6Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. 7Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou.

Kol 3:11-12
11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. 12Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.

Hand 2:1-11
UITSTORTING VAN DIE HEILIGE GEES
21Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek.

5Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.”


DIEPER DELF: Eiendomsvolk van God: Vgl ook Jes 43:1, 4; Hos 11:8; Ef 2:19-22.

Jes 43:1, 4

431“Maar nou,” so sê die Here,
jou Skepper, Jakob,
die Een wat jou gevorm het, Israel,
“moenie bang wees nie,
want Ek het jou losgekoop,
Ek het jou op jou naam geroep –
aan My behoort jy.

4Omdat jy kosbaar is in my oë,
geëer is,
omdat Ek die Een is wat jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.

Hos 11:8
8“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?
Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel?
Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma,
jou maak soos Sebojim?
My hart is diep ontroer in My,
die deernis brand in My.

Ef 2:19-22
EEN BOUWERK VAN GOD
19So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, 20gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. 21In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. 22In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.


God het hulle wat vroeër geen volk was nie, nou sy eie volk gemaak. Hy het hulle verander van mense wat voorheen in die duister was, verstote was, vreemdelinge was, niks was nie, na ’n nuwe gemeenskap waar daar barmhartigheid, liefde en warmte is. Dit is wat die Kerk is, dit is haar identiteit … of liewer, so behoort dit te wees! As eiendomsvolk het die Kerk die roeping om God se verlossingsdade, hierdie groot barmhartigheid waarmee Hy ’n nuwe gemeenskap, ’n nuwe huis bou, wyd en syd te verkondig.
Met so ’n identiteit en so ’n roeping kan die Kerk (ek en jy) nie anders as om hoopvol en getrou te bly nie – al is dit soms asof ons vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld is. Ons is God se mense (1 Kor 3:22)!
22Of dit Paulus of Apollos of Sefas, of die wêreld, of lewe of dood, of teenswoordige of toekomstige dinge is – alles behoort aan julle. 
Daarom moet ons ook besef: Die Kerk is nie ons vyand nie! ONS is die Kerk!
Inteendeel, as jy die Kerk as vyand beleef, dan beteken dit jy is jou eie vyand – want, jy is die Kerk.

Skryf / Vul in

Dit is nou weer tyd om kunstenaar te speel. Teken ’n beeld van die Kerk in blokkie 03 (p 010), maar hierdie keer soos God sy Kerk sien.

03


  • Hoe verskil God se prentjie (blokkie 03) van die prentjie wat jy (blokkie 01) van die Kerk gehad het?
  • Vul nou blokkie 02 in. Skryf daarin wat die Here van jou vra.

Wat is nodig om jou prentjie (01) te verander na God se beeld (03) van sy Kerk?

Gebed

Wat wil jy vir God sê?

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 18-25
Lees ook Rom 6:1-23; Gal 2:19-20; 3:7; Ef 1:9-14, 22-23; 1 Joh 3:1-10.

Rom 6:1-23
DOOD VIR DIE SONDE EN LEWEND VIR GOD

61Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? 2Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?

3Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? 4Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. 5As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. 6Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. 7Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. 8As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. 9Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 10Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 11Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.

ALLES TOT BESKIKKING VAN GOD

12Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. 13Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God. 14Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.

15Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie!

16Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. 17Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; 18vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword 19– ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. 20Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie.

21Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. 22Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. 23Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.

Gal 2:19-20
19Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; 20ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die •Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.

Gal 3:7
7Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham.

Efesiers 1:9-14

9Hy het die geheimenis van sy wil
aan ons bekend gemaak,
soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het,
10om die volheid van die tye te bestuur,
en om alle dinge
– die dinge in die hemel en die dinge op die aarde
–onder een Hoof in Christus saam te bring,
11In Hom is ons ook as erfgename uitverkies,
voorbestem volgens die voorneme
van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur,
12sodat ons,
wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het,
kan bestaan tot lof van sy heerlikheid.
13In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid,
die evangelie van julle verlossing,
gehoor en tot geloof gekom het,
verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.
14Die Gees is die waarborg van ons erfenis,
om ons los te koop as God se eiendom,
tot lof van sy heerlikheid.

22Hy het alles onder sy voete gestel,
en Hom aan die kerk gegee,
as Hoof oor alles,
23die kerk wat sy liggaam is,
die volheid van Hom
wat alles in almal vul.

1 Johannes 3:-10

31Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. 2Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 3En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. 4Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. 5Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. 6Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.

7Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. 8Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. 9Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie.

Wenk

WENK: Staan nou van jou knieë af op en dan gaan leef jy volgens God se beeld van sy Kerk.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg:
Dr. Frans Hanke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hanke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Week 01 Dag 02 – ‘n Dobbellaar – Ons is die plan: 9 Weke van Transformasie

Ons is die Plan 9 Weke Week01 Dag2

Is jou selfoon af? Jy het nou ’n afspraak met God … wees bewus van sy teenwoordigheid en wanneer jy gereed is om na Hom te luister, kan jy die volgende Skrifgedeelte lees.

Gebed

Dink biddend ná oor:
Gen 1:1:
11In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 
Ps 90:2:
2Voordat die berge gebore is
en U die aarde en die bewoonbare
wêreld voortgebring het,
ja, van altyd af en vir ewig is U God.

Stel jouself oop om jou te verwonder oor die grootsheid van God.

Dink na en besin

Van wanneer af was God daar – van ewigheid af? Ons kan ons dit nie voorstel nie, maar God wás reeds daar vóór die begin – voor die eerste woorde van Gen 1:1.

Kyk na die skets hierbo: Die ruimte van die ovaal stel die ewigheid of God voor, terwyl die lyn tyd voorstel.
Ÿ Watter deel van die lyn is die verste van die ewigheid / God af? Die ewigheid kan nie in terme van tyd gemeet word nie. Soos wat God tyd geskep het (A), sal tyd ook weer ophou (B).

Delf Dieper

DIEPER DELF: Vgl Gen 1:14, 15; Op 21:1, 23, 25.

Gen 1:14, 15:
14God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. 15Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur.

Op 21:1, 23, 25
211Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie.
23Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp.
25Haar poorte sal bedags nie gesluit word nie, en daar sal ook nie meer nag wees nie.

Genesis 1 tot 3 sê één belangrike ding: God IS voordat daar enigiets was, en uit niks het Hy die kosmos volgens sy ewigheidsplan tot stand gebring! Kan jy jou die almag en die grootsheid van die Skeppergod indink, wat die heelal in al sy glorie gemaak het?

Gebed

Raak vir ’n oomblik stil, “sien” die aarde, sterre, planete en sonnestelsels in jou geestesoog en aanbid God vir wie Hy is …

God is nie (soos die lied Spanish Train van Chris de Burgh wil voorgee) ’n dobbelaar wat sy skepping en my en jou ewige bestemming op die spel plaas, of sal toelaat dat enige iemand ’n stok in sy wiel steek, of sy ewigheidsplan omverwerp nie! Die geskiedenis bewys die waarheid hiervan. Daarom lees ons ook telkens in die Nuwe Testament die woorde “… sodat die Skrif vervul sou word …” … en daarom begin die Nuwe Testament in Matt 1:1 met die geslagsregister van Jesus Christus – net om te sê: God se plan is op koers!

God is verseker nie planloos nie! Hy is ook nie reaktief (asof Hy vir die mens wag om iets te doen waarop Hy kan reageer) nie. Nee, Hy is die ewige, onveranderlike God wat sy ewige plan uitvoer tot sy eer. Dis ’n voorreg om te weet dat God mense (soos ek en jy) gebruik om sy plan tot uitvoer te bring. Dink maar aan Jesus wat gesê het: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh 20:21).

Delf Dieper

DIEPER DELF: Vgl Ps 33:10-11; 1 Pet 1:20. Oorweeg gerus om Gideon Joubert se Die Groot Gedagte te lees.

Ps 33:10-11:
10Die Here verydel
die raadsplanne van nasies,
Hy dwarsboom die planne van volke.
11Die raadsplan van die Here
bestaan vir ewig,
die planne wat Hy bedink,
van geslag tot geslag.

1 Pet 1:20:
20Hy is wel vooraf geken, voor die grondlegging van die wêreld. Hy is egter eers in hierdie eindtyd geopenbaar, ter wille van julle 21wat deur Hom glo in God, wat Hom uit die dood opgewek, en heerlikheid aan Hom gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

Beantwoord die vrae

Dink na oor en antwoord die volgende vrae:
Wat sê God se Woord vir jou oor jou skeppingsdoel en God se wil (ewige plan)?


Hoe rig jy jou lewe (huwelik, werk, toekomsplanne, ens.) in sodat dit in lyn kom met God se doel vir jou lewe?


Skryf die dinge neer wat jy moet aflê.


Skryf die dinge neer wat jy moet doen.


Ons is die Plan 9 Weke Week01 Dag2
Ons is die Plan 9 Weke Week01 Dag2
Delf Dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 2-13
Wat sou Albert Einstein bedoel het, toe hy by geleentheid uitgeroep het: “God does not play dice!”?
Watter troos en versekering bied Ps 49:8-16; 1 Kor 6:19-20 vir jou in hierdie verband? Lees ook Ps 22:28-32; Rom 1:19-25. Wat is God se doel met die skepping (mens ingeslote)?

Ps 49:8-16;

8Een familielid kan nooit
‘n ander vrykoop nie,
hy kan nie aan God die losprys
vir hom betaal nie,
9want die vrykoopprys
vir hulle lewens is te hoog
en hy moet vir altyd daarvan afsien
10dat hy vir ewig kan leef
en die graf nie sal sien nie.
11‘n Mens sien immers
dat wyse mense sterf;
saam met die dwaas
en die onverstandige vergaan hulle
en laat hulle besittings aan ander na.
12Hulle graf is hulle tuiste vir altyd,
hulle woning van geslag tot geslag.
Hulle noem stukke grond na hulleself,
13maar ‘n mens met skatte
is nie blywend nie;
hy is net soos die diere –
hulle gaan ten gronde;
14dit is hulle lewenspad,
dié wat vol selfvertroue is,
hulle einde,
dié wat van hulle eie uitsprake hou. •Sela
15Soos kleinvee is hulle
vir die •doderyk bestem,
die dood is hulle herder,
teen die môre heers opregtes oor hulle.
Hulle liggame is bestem
vir vertering deur die doderyk,
ver van hulle indrukwekkende wonings.
16Maar God sal my lewe vrykoop
uit die mag van die doderyk,
ja, Hy sal my wegneem. •Sela

1 Kor 6:19-20
19Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? 20Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.

Ps 22:28-32

28Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29want aan die Here
behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31‘n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen.

Rom 1:19-25

19aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. 20Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; 21want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. 22Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. 23Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir ‘n afbeelding soos dié van ‘n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.

24Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer 25– hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen.

Wenk

WENK: Praat met iemand na aan jou oor God se spesifieke plan en doel met jou lewe. Vra sy of haar ondersteuning en voorbidding en begin bewustelik God se wil uit te leef.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg:
Dr. Frans Hanke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hanke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za