Gebedsgids vir Oktober 2024 – NG Kerk Groot-Brakrivier

GEBEDSGIDS – OKTOBER 2024

1 Oktober – Dinsdag – Skole heropen

“Ons dra vandag die leerkragte aan U op, Here, dat U hulle spesiaal sal seën waar hulle elke dag die kinders moet lei om goed voorbereide volwassenes te wees.”

2 Oktober – Woensdag – Matrikulante

Bid vandag vir ons Matrikulante wat nou in hul finale eksamenfase is sodat hul nou hul beste sal doen vir die laaste tydperk.

3 Oktober – Donderdag – Sendelinge

Ons Here, dit is so belangrik om U Naam te verkondig en bid ons dat U met die sendelinge sal wees wat U Woord aan Nie-gelowiges verkondig. Ons vra ook dat U hulle sal beskerm waar hulle in moeilike omstandighede getrou moet bly en U Woord verkondig.

4 Oktober – Vrydag – Werkloosheid

Werkloosheid is ‘n wesentlike probleem in ons land, wat gepaardgaan met basiese- en voedseltekorte. Bid dat oplossings gevind sal word om meer werk te skep en werkloosheid te verminder.

5 Oktober – Saterdag – Kerksaal 100 jaar oud

“Baie dankie Heer, dat U met ons is vir die afgelope 100 jaar waar ons menige heerlike samekomste kon vier en mense bymekaar kon bring.

6 Oktober – Sondag – Bediening aan die Jode

Bid vandag vir die Jode oraloor en veral in Suid-Afrika en ons bid dat die Here in hulle harte sal werk sodat hulle ook vir Jesus in hulle lewe sal innooi.

7 Oktober – Maandag Eensames

Ons bid vandag vir ons afgetrede persone wat in ouetehuise en aftreeoorde woon en wie nie gereeld besoekers ontvang nie. Ons bid dat hulle die Here se nabyheid sal ervaar en dat daar ander lede van die gemeenskap sal uitreik na mense wat alleen en eensaam is.

8 Oktober – Dinsdag – Omgeebediening

Dank die Here vir ons Omgeebediening waar hulle elke behoefte waar ons gemeente moet help, sal raaksien en met deernis sal aandag gee. Bid ook dat ons gemeente getrou aan U roeping sal wees en mildelik sal bydra vir die behoeftes.

9 Oktober – Woensdag – Jesus sterf vir ons sondes

Jesus het vir my en jou gesterf en vir ons sondes betaal. Bedank God vir Sy onbaatsugtige liefde wat Hy aan ons bewys het en dat Hy ons gered het van die ewige dood.

10 Oktober – Donderdag – Gebede

Bid asb. dat NG gemeente Grootbrak ‘n biddende gemeente sal wees wat sal besef dat gebed nie ‘n laaste uitweg moet wees nie, maar ‘n eerste prioriteit. Bid daar baie groepies sal begin en sal bid vir ons dorp, ons gemeente, ons kinders en dat ons sal saamstaan teen die aanslae van buite.

11 Oktober – Vrydag – Hernuwing

Martin Luther het in 1517 sy idees vasgepen en hervorming bewerkstellig. Ons bid vandag nog vir hervorming van siel, gees en verstand. Ons bid ook vir voortdurende verandering en die regte implementering van vernuwende denke en dat dit in ooreenstemming met die wil van God sal wees.

12 Oktober – Saterdag – Die aarde

“Jesus, ons dra vandag die mensdom en die bewaring van die aarde aan U op en vra dat mense weer sal bewus raak van hul optrede en so ons aarde beskerm.”

13 Oktober – Sondag – Gideons

Ons wil vandag kom en die Gideons met hulle werksaamhede aan die Here opdra vir Sy Leiding en Hulp. Dit is ‘n groot en onbaatsugtige diens wat hulle lewer om die Here se Woord uit te dra deur bybels te skenk aan die wat nie het nie.

14 Oktober – Maandag – Radio Feba

Hulle leuse is: “reaching the unreached” en bid ons vandag vir al die mediums wat hulle gebruik om by mense uit te kom met die goeie nuus wat nooit andersins die goeie nuus sou hoor nie.

15 Oktober – Dinsdag – Nuwe intrekkers

Ons wil vandag vir alle nuwe intrekkers in ons gemeente bid. Mag ons lidmate hulle besoek, gou laat tuis voel, uitnooi na gemeentelike aktiwiteite en hulle werklik met “Jesus- liefde en omgee” omarm. Seën asb die “Nuwe Intrekker-bediening” met groot wysheid om hierdie enorme taak te verrig.

16 Oktober – Woensdag – Boerdery en geweld

Suid Afrika is ‘n ryke land wat baie kos verskaf deur boerdery. Ons bid vandag vir die veiligheid van die boere waar hulle elke dag ‘n teiken is van mense wat nie verstaan wat hulle doen nie. Ons bid ook dat hul boerdery besonder geseën sal wees.

17 Oktober – Donderdag – Siekes

Kom ons maak ‘n vaste besluit om gereeld vir siekes in ons gemeente te bid. Kom ons glo en dank Jesus vir Sy vernuwingskrag in elke sel en atoom van ons liggame.

18 Oktober – Vrydag – Tyd

“Jesus, die Satan is die vader van die leuen en wil hy aan ons dit stel dat ons besig moet wees, en laai net meer en meer verantwoordelikhede op ons. Help dat ons sal besef dat tyd saam met U die belangrikste is. Gee dat ons spesiale tyd sal maak vir U en U Woord”.

19 Oktober – Saterdag – Geweld

“Heer, die vader van die leuen versprei stories en stook haat en kwaad tussen die suid- afrikaners. Ons bid dat U die rassehaat, geweld teen vroue en kinders sal uitwys en vrede tussen die nasies en mekaar sal bewerkstellig. Ons vertrou op U en weet dit is net U wat hierdie vrede kan verskaf.”

20 Oktober – Sondag – Instandhouding van ons geboue

Ons dink vandag aan al die hulp wat ons ontvang van die gemeente en bid ons ook vandag dat die fondse korrek aangewend sal word tot voordeel van die gemeente.

21 Oktober – Maandag – Werkskepping

Ons bid vandag vir werkskepping in ons land. Ons vra dat beleggers hul kapitaal beskikbaar sal stel vir die skepping van nuwe besighede.Bid ook vir politieke stabiliteit wat ‘n klimaat van groter ekonomiese groei sal skep.

22 Oktober – Dinsdag – Die Naam van die Here

Die Naam van die Here is heilig. Kom ons bid dat mense die Here se Naam met die nodige respek sal behandel en hulle sal weerhou van kru taal en bid ons dat die Heilige Gees ‘n wag voor hul mond sal plaas.

23 Oktober – Woensdag – Regering

Laat ons bid vir ons regeringsdepartemente. Ons bid dat daar ‘n wil sal wees om te werk en ‘n dankbaarheid omdat jy ‘n werk het. Ons bid ook vir die staatsamptenare dat hulle weer trots sal wees om hulle werk te doen en ons dank die Here dat daar wel nog baie is wat wel hul werk doen.

24 Oktober – Donderdag – Ons Roeping

“Vader, ons glo dat U vir elkeen van ons ‘n doel en roeping het. Gebruik dan vir ons om met ons woorde en dade, mede-lidmate te inspireer, bemoedig, versterk en ook “afgedwaaldes” na U Kudde terug te bring. Mag U Gees ons hierin lei en leer en gee asb vir ons harte vir verlorenes.”

25 Oktober – Vrydag – Dankfees en konsert

Here, ons dra vandag die gemeentefees aan U op en vra dat U ook ons feestelike en gemaklike samesyn sal seën en so die gawe van gasvryheid sal ten toon stel.

26 Oktober – Saterdag – God maak nie gemors nie

Voel jy af en alleen? Volgens Kol. 3: 12 sê God Hy het jou uitverkies en jy is ‘n Meesterstuk in Sy spesiale wêreld en dat Hy baie lief is vir jou. Bid vandag vir mense wat voel hulle kan nie meer nie en dat hulle sal weet en ervaar dat Jesus vir hulle omgee.

27 Oktober – Sondag – Bybelgenootskap

Jesus, Ons bid dat die gemeente mildelik sal bydra tot die fondse van die uitbreiding van die Bybel en die vertaling in ander tale sodat ons alle soorte tale kan bereik met die boodskap van die Here.

28 Oktober – Maandag – Die Regering

Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13:1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word.

29 Oktober – Dinsdag – Gelowiges moet staande bly

In Ef 3:16 bid Paulus dat ons geestelik ons man sal kan staan waar ons so sukkel om die goeie te doen. Bid vir gelowiges om staande te bly in ons gebroke wêreld teen die aanslae van die duiwel en dat, waar ons sukkel, ons op die krag van die Heilige Gees sal staatmaak

30 Oktober – Woensdag – Medewerkers

Bid vandag vir die lidmate wat getrou vir Wolwedans en ander plaaslike aksies gereeld sop kook en ondersteun en so die woord aan die minder bevoorregtes oordra.

31 Oktober – Donderdag – Inbrake

Residensiële inbrake en voertuigkapings  vermeerder drasties.  Bid dat elke Christen in elke voorstad hul plek van gebed, voorbidding en intersessie voor die HERE sal inneem.  Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 1 Tim 2:1,2.