Kom bid saam met die Ring van Mosselbaai vir die brande

Ring van Mosselbaai Bid saam vir die Brande NGK Groot-Brakrivier

Die Ring van Mosselbaai, waarvan ons gemeente deel is, het Sondag 11 Januarie 2026 om 18:00 saamgekom om te bid by die ATKV Amfiteater.

Die Ring het reeds ook n noodfonds. Indien enigeen n skenking ten behoewe van die brandslagoffers wil maak, is die bankbesonderhede op die foto beskikbaar.

Vir enige skenkings:
NGK Brandwag
(Ring Noodfonds)
ABSA Mosselbaai
Tjek:
207 058 0007
Verwysing: Noodfonds

Ons medelye aan die mense wie deur die brand geraak is, sowel as hul families en vriende.

Wêreldbiddag vir Vroue 6 Maart 2026 – Nigerië: “Kom, Ek sal julle rus gee!”

artwork 2026 rest for the weary by gift amarachi ottah WDPIC 2026

Kom, Ek sal julle rus gee”

Matteus 11:28-30 
6 Maart 2026

  

Agtergrond Wêreldbiddag vir vroue 2026: Nigerië

Geïnspireer deur Matteus 11:28-30, rig die Nigeriese komitee vir die 2026 Wêreldbiddag ‘n wêreldwye uitnodiging om vertroosting in God te vind. Hulle verwoord ‘n diepgaande begrip van rus, geraam deur die lens van hedendaagse laste soos sistemiese onderdrukking, vervolging en wanhoop. Hierdie perspektief beweeg verder as fisiese verligting om ‘n rus te bevorder wat genees en transformeer deur genade en gemeenskaplike sorg.

Diep gewortel in die Nigeriese kultuur, gebruik die viering resonante simbole; die kalbasbak word byvoorbeeld ‘n metafoor vir hoe God voorsien in beide ons tasbare en geestelike honger. Die bydraes van hierdie vroue verweef plaaslike wysheid met ‘n universele oproep om ons swaarste laste neer te lê, daar waar God ons in ons moegheid ontmoet.

Lees meer “Wêreldbiddag vir Vroue 6 Maart 2026 – Nigerië: “Kom, Ek sal julle rus gee!””

Gebedsgids Desember 2025

Jesus bid / gebed

1 Desember – Maandag – Droogte

Jesus, U weet hoe droog dit in ons land is en hoe swaar die boere kry, maar ook die veld en vee. Gee U lewegewende water vir mens en dier en loof ons U vir U wonderlike gawe van Reën.

2 Desember – Dinsdag – Polisie

Die polisiemag is nou nog meer paraat tydens die feestyd en dra ons hulle en hul families aan die Here op vir leiding en gesondheid.

3 Desember- Woensdag – Eensaamheid

Mense kuier gedurende die feestyd by familie en vriende en dink ons vandag aan al die eensames wie nie meer familie het nie, of dalk nooit by hul familie besoek aflê nie en eensaam is tydens die kersseisoen.

4 Desember – Donderdag – Radio FEBA

Ons vra vandag Here dat U sal help met die uitreike en uitsaai boodskappe wat Radio FEBA se span behartig om U woord uit te dra en mag ons vra dat U boodskap by die onbereiktes sal uitkom.

5 Desember – Vrydag – Geestesgesondheid

Jesus, depressie en verwante siektes is iets wat al hoe meer voorkom. Gee asseblief dat die persoon wat hieraan lei hulp sal soek op die regte plek en by die regte persone.

6 Desember – Saterdag  – Stranddiensspanne

Here, help die stranddiensspanne wat besig is om U Woord ook uit te dra tydens die feestyd en dan veral met pret en plesier op die strande. Mag U woord op vrugbare grond val.

7 Desember – Sondag – BADISA

Vandag is ons offer vir BADISA en vra ons dat die kerkgangers mildelik sal bydra ter ondersteuning van hierdie werk in die NG kerk.                                                                                                                                                                              

8 Desember – Maandag – Verheerlik die Vader

Vader, ek wil U elke dag Verheerlik. 

9 Desember – Dinsdag  – Geloof

Wat help dit as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade wys dit nie? Bid dat ons dade by ons woorde pas om ander na die Here te lei.

10  Desember – Woensdag – Skole sluit

Dankie Vader vir nog ‘n jaar. Gaan asseblief met die leerders en leerkragte gedurende die heerlike vakansie en gee dat hulle sal uitrus om weer met nuwe ywer die nuwe jaar aan te pak. 

11 Desember – Donderdag  – Middelafhanklikheid

Ons dink vandag aan persone wat verslaaf is aan een of ander middel en bid dat die Vader deur Sy troue liefde, die persone sal help om weg te beweeg en hulp te ontvang.

12 Desember – Vrydag  – Liefde

Vader, baie dankie vir U troue liefde. Gee dat ons ook liefde aan onsself en medemens bewys.

13 Desember – Saterdag  – Sport

Here, Baie dankie vir die wonderlike gawe wat u aan ons sportmanne en vroue gee. Gee dat hulle hul sport so speel tot eer en verheerliking van U.

 14 Desember – Sondag – Gemeente-Instandhoudingsfonds

Ons gee vandag ’n bydrae vir ons kerk se instandhouding. Ons bid dat die persone in beheer die nood sal aanspreek en die geld reg sal aanwend.

15 Desember – Maandag – Sending

Kom ons reik uit en raak betrokke by die sendingaksies, geldelik, deur gebed en dalk hulp waar jul kan. Bid ook vir die sendelinge wat die Woord van die Here versprei.

 16 Desember – Dinsdag – Versoeningsdag

Op 16 Desember het hulle ‘n gelofte voor God afgelê. Hulle het belowe om ‘n kerk te bou en dat hulle nageslagte hierdie dag as ‘n dankseggingsdag sal vier. In 1994 is Versoeningsdag ingestel en dink ons vandag aan altwee hierdie gebeurtenisse.

17 Desember – Woensdag – Vergifnis

Dankie Hemelse Vader dat U ons sondes vergewe en sê U ons moet ook die wat teen ons sondig, vergewe. Here, help my om dit te doen – 70 x 7.

18 Desember – Donderdag  – Versoekings

Versoekings is elke dag op ons pad en vra ons, Vader, dat U vir ons die nodige insig en begrip sal gee en sal uitwys wanneer ons moet omdraai en wegstap.

19 Desember – Vrydag – Leiers

Leiers is mense wat die voortou moet neem en in die land se mense se belang moet optree. Gee vir hulle die nodige leiding Heer sodat ons kan opkyk na hulle.

20 Desember- Saterdag – Gawes

Dankie Heilige Gees dat U ons elkeen seën met unieke gawes. Ons vra dat U ons elke dag sal bemoedig en aanpor om ons gawes tot die welstand van ander aan te wend.

21 Desember – Sondag – Gee

Here, ons is dankbaar vir alles wat U ons gee en wil ons ook ons 10de tot U eer gee en aanwend vir U kerk.

22 Desember – Maandag – Sendelinge

Elkeen van ons is ’n sendeling daar waar ons is. Vader, help ons om U woord uit te dra aan elkeen met wie ons in aanraking kom deur woord en daad. 

23 Desember – Dinsdag  – Verhoudings 

God ken ons lewe. God ken ons verhoudings. Vra vandag vir God om jou te help om te sien waar jy optree met onvergewensgesindheid of liefdeloosheid en stel dit reg. 

24 Desember – Woensdag – Oukersdag

Vanaand in die stilte van die nag dink ons aan daardie eerste nag met die Betlehem-ster wat vir die skaapwagters en wyse manne die pad aangedui het na die Baba in die krip.

25 Desember – Donderdag –  Kersfees

Dankie Vader vir U Seun wat na die Werêld gekom het vir ons sondes. Ons dink vandag aan U Seun in die krip en wil U loof en prys vir U liefde vir ons.

26 Desember – Vrydag – Welwillendheidsdag

Hierdie dag was vroeër in Engels, Boxing Day, vanweë ’n ou Engelandse gebruik waarvolgens werknemers Christmas boxes of geskenke aan hul werkers gegee het. Onder sy nuwe naam beklemtoon dit vandag die toegeneentheid en liefde wat in die Kersboodskap vervat is. Reik uit na alle persone wie met jou in aanraking kom.

27 Desember – Saterdag – Kinders

God gee aan ons kinders om hulle in die Woord op te lei en nie te verwaarloos nie. Bid vandag vir alle ouers om hulle kinders in liefde te versorg.

28 Desember – Sondag  – Vir God is alles moontlik

Wanneer jy nie meer weet nie, herinner die Here jou: “Ek wil, en ek kan”.

29 Desember – Maandag – God hou van jou

Jesus wil vandag vir jou kom sê dat Hy van jou hou en dat jy lieflik geskape is. Hy wil jou sien in jou volle potensiaal. Praat net met hom.

30 Desember – Dinsdag  – Mediese personeel

Gedurende hierdie feestyd is die paaie baie besig en ongelukke meer. Bid vandag vir die mediese personeel wat oortyd werk en hul families alleen moet laat.

31 Desember – Woensdag – Oujaarsdag

Vader, ons dank U vir die jaar wat verby is en dat U ons gespaar het en ook met al U milde seëninge bederf het.

Gebedsgids vir November 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed
1 Joh 5:4 “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof

1 November – Saterdag – God se genade is vir vandag

Here, help my om die mense wat my pad vandag verbykom nie mis te kyk nie,  maar my oor hulle te ontferm. Hulle is dalk honger, koud, siek, eensaam of  hartseer. God se genade is vir almal beskikbaar maar ek moet net die  bereidwillige instrument wees.

2 November – Sondag – Ek is nie bang nie 

Mag die liefde van God en Sy beloftes jou altyd verseker van Sy nabyheid en  beskerming. Mag Sy vrede jou gemoedsrus gee en Sy blydskap jou beskerm. Al druis en skuim die waters van die see, weet ek U is vir my ‘n beskutting.

3 November – Maandag – Aanvaar net Sy plan

Het God vandag jou planne gekanselleer om gevaar te vermy? Hy het dalk  jou   ‘n ander pad laat ry om jou lewe te red.  Jy moet dit net aanvaar, want Sy plan   is beter as joune.                                         

4 November – Dinsdag – Die veelkleurigheid van God                                                                                      

Jesus se paaie is hoër as myne, Sy gedagtes is by verre meer verrykend en kan  nie met myne vergelyk word nie.  Sonder Hom is ek totaal verlore.  Jesus, neem  my hand en lei my veilig na U Koninkryk. 

5 November – Woensdag – Wandel deur geloof

God wil hê ons moet gister se laste agter laat, want Sy genade is elke oggend  nuut. Hy wil saam met ons wandel, want Hy het reeds die pad vir ons voorberei.   Hou jou oë gerig op Hom, dan sal jy nooit in die duisternis wandel nie.

6 November – Donderdag – Hy is die kern van alles

Jesus, U is nie net deel van die skepping nie, maar die middelpunt waartoe alles  lei. U is die Brood van die lewe, die Opstanding en wat die ewige lewe bied aan  diegene wat in U glo – te midde van lyding en dood.

7 November – Vrydag –  Sout van die aarde

Vader, leer ons ook hoe om die sout van die aarde te wees soos wat ons in U  woord lees. Ons moet die gemeenskap met medelye, geregtigheid en  barmhartigheid kan geur deur aktief die leringe van Jesus uit te leef.

8 November – Saterdag – Here, leer ons 

Here,  help ons om ‘n baken van U liefde te wees. Gee ons die wysheid om  geduldig en vriendelik te wees met elkeen wat ons pad kruis. Help ons om U  lig uit te leef. 

9 November – Sondag – My spesiale kind is deel van Sy plan

Wanneer ouers verneem dat hul baba met Downs Sindroom gediagnoseer is,  dui jou wêreld ineen. Jy wil nie hierdie grondpad loop nie. Maar as jy met God die pad stap, dan kry jy die mooiste waardering vir die klein mensie wat jou  lewe inkleur.

10  November – Maandag  –  Volhard in geloof

Vader, help my om te volhard in geloof met die wete dat U my nooit sal verlaat  nie. Anker my siel in U waarheid en hou my vas in tye van twyfel en  onsekerheid. 

11 November – Dinsdag – Die lang vermoeiende pad 

Jesus, wanneer ek so verlang na my familie of kinders wat so wyd versprei is, is   dit net U wat my kan troos.  Dit is ook net U wat langs my staan en my optel as   die pad vir my te lank is. 

12 November – Woensdag – Die prys is ook vir jou betaal

Jesus word geslaan, gekruisig en Hy sterf. Hy beleef die uiterste liggaamlike  pyn. Hy word verwerp en verloën. Hy kan nou vir jou meegevoel en troos bied  want Hy het die ergste reeds beleef deur die prys vir ons redding te betaal.

13 November – Donderdag – Vermy jy die kruis?

Vermy ons dalk die kruis omdat dit ontbering en opoffering is? Kom ons  hardloop eerder  na die kruis, nie in vrees nie, maar met volharding. Die doel is  om die wedloop van die lewe te voltooi, met Jesus as die Leidsman en  Voleinder.

14 November – Vrydag – Wanneer ons Jesus se voetstappe hoor

Jesus, wat ‘n wonderlike voorreg om U voetstappe te hoor,  veral wanneer ons  oorweldig en moedeloos voel. Om by U voete te sit, is vir my ‘n plek van  veiligheid en vurige gebed. 

15 November – Saterdag – Vertrou Hom met jou hele hart

God sê: “Ek is die opstanding en die lewe wat die dode laat verrys. Ek is die  Waarmaker van jou drome  – laat my toe om jou drome wat gesterf het weer  te laat herleef.  Jy sal leer om My stem te herken, moenie bang wees om My te  vertrou met jou hele hart nie. 

16 November – Sondag –  Ons diepe afhanklikheid van God

Jesus Christus het juis aan die kruis ons siektes op Hom geneem en ons  swaarkry gedra. Ons besef ons diepe afhanklikheid van God en weet dat Hy  alleen in beheer is.

17 November – Maandag – Hy is  my geliefde Seun,  ‘n Kind so na my hart

Hy is die Seun van God, die Opstanding en die Lewe, die Alfa en die Omega. Hy  is die Goeie Herder. Jesus Christus is onveranderlik – tot in ewigheid.  Amen.

18 November – Dinsdag – God laat alles ten goede meewerk

God se waarheid is nie afhanklik van ons emosionele toestand nie. Al is ons van  alles gestroop, is Jesus steeds die Koning van die konings en is aan stuur van  ons lewe – ongeag wat die uitkoms gaan wees. Vertrou Hom, Hy is steeds in  beheer.

19 November – Woensdag – Hoe gaan dit regtig met jou

Here, help my om op u beloftes te vertrou en op u voorsiening staat te maak.   Ek wil my bekommernisse en angs aan u voete neerlê. Ek vertrou alleen op U.

20 November – Donderdag –  Vertroetel die huwelik

Hemelse Vader, ons bid vir alle verhoudings en huwelike en dat U hulle sal  beskerm teen elemente wat dit wil vernietig. Seën hulle met ‘n diep liefde vir  mekaar en vul hulle met ‘n passie om mekaar elke dag opnuut  te ontdek en te  waardeer. 

21 November – Vrydag – God se goedheid en guns

Vader, as ek my hoof buig voor ‘n bord kos, dan wil ek U ook dank vir lepels vol  genade, koppies vol hoop en bakke vol liefde. Mag elkeen se  beker vandag  oorloop in die teenwoordigheid van Jesus. U goedheid en guns is  nimmereindigend.

22 November – Saterdag – Mededeelsaamheid 

Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die  lippe wat Sy naam bely. Vergeet die weldadigheid maar nie van  mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.

23 November – Sondag – Reik uit na die ongekende

Psalm 142:7  Luister tog na my hulpgeroep want ek is magteloos. Red my van  my vervolgers want hulle is te sterk vir my. FEBA verkondig die Goeie Nuus  onder die nasies sodat elke man, vrou en kind die Evangelie van Jesus Christus  kan hoor.  

24 November – Maandag – Omsluit my van alle kante

Here, U ken my en sien dwarsdeur my.  U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U is goed bekend met my paaie – of ek reis of oorbly, U bepaal dit.  Hoe kan ek anders om myself volkome oor te gee aan God wat so Almagtig is?   

25 November – Dinsdag – Elkeen sterf, maar net een het opgestaan

Hemelse Vader, die dood is buite ons beheer, dit is bedreigend en onvriendelik.  Die angel van die dood, die sonde, is aan ‘n kruishout vasgeslaan.  Die skuldbrief is vereffen en daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Ons loof U!

26 November – Woensdag –  Sprei jou vlerke en vlieg my kind 

Spreuke 4:4 “Wat ek jou sê, moet jy vashou.  Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie en wees veral versigting met wat in jou hart omgaan”.   So moet ons ook ons kinders as verantwoordelike, selfstandige volwassenes die lewe instuur.

27 November – Donderdag – Uit eerbied vir God,  respekteer die bejaardes

Hemelse Vader, ons wil vir elke bejaarde bid vir gesondheid en krag, hoop en vertroosting,  vrede en berusting en bid dat hulle familielede hulle met baie liefde sal omring. Maak dit vir hulle ‘n tyd van verdieping en voortgesette diens.

28 November – Vrydag –  Welk ‘n vriend het ons in Jesus

Welk ‘n vriend het ons in Jesus, wat ons sonde straf wou dra.  Wat ‘n voorreg dat ons alles, in gebed van God kan vra. As ons vriende ons verlaat het, dra ons hul op aan die Heer, in Sy arms is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer.   Amen.

29 November – Saterdag –  Vir ons onderwysers

Here, rus die opvoeders toe met wysheid om gedagtes te vorm. Rus hulle toe met die waarheid en visie om die toekoms te vorm en leer hulle van liefde om die wêreld te vorm. Ons is dankbaar vir hul onbaatsugtige liefde in elke kind se lewe.

30 November – Sondag – Wees U vir ons kinders ‘n toevlug

Vader, ons bid vandag vir beskerming vir ons kinders en kleinkinders in hierdie wêreld waar dit so boos is. Seën hulle oorvloedig en help hulle om in U wysheid te groei en U weë te wandel.

Gebedsgids vir Oktober 2025

Gebed

GEBEDSGIDS – OKTOBER 2025

1 Oktober – Woensdag –  Oktober maand

Dit is Oktobermaand en ons sê saam met Louis Leipoldt dankie vir die helder dae, ‘n blou hemel en ‘n blomtuin vol bome.

2 Oktober – Donderdag – Helpende Hand

Kom ons sê dankie vir almal wat ‘n helpende hand uitsteek en die moed het om betrokke te raak by hulle wat langs die pad lê. 

3 Oktober – Vrydag – Vakansie

Dit is die begin van ‘n kort vakansie. Kom ons tree so op dat ons kinders ons ook sal navolg en ons maak hierdie vakansie vir hulle onvergeetlik. Ons bid vir alle rolmodelle en dat ons besef dat elke dag is ‘n dag om ‘n voorbeeld vir hulle te kan wees.                  

4 Oktober – Saterdag – Verslaafdes

Ons gebed is dat alle verslaafdes na U sal kom vir redding, reiniging en genesing en dat hulle sal besef dat die Here hulle lief het al is hulle ook in ‘n diep put en dat Hy hulle sal vergewe ongeag waarin hulle ookal verval het.

5 Oktober – Sondag – Bejaardes

Daar is baie bejaardes onder ons. Kom ons dank God dat hy by ons bejaardes is en hulle begenadig met rustigheid, vrede en wysheid en dat hulle ook sal voel dat hul nog iets beteken vir die jongeres.

6 Oktober – Maandag – Stilte

“Here, te midde van ‘n besige en luidrugtige wêreld, is ons gebed: maak dit stil in ons binneste sodat ons net ‘n sagte teenwoordigheid sal ervaar en so sensitief vir U stem sal wees.”

7 Oktober – Dinsdag – Getuig

Kom ons bid dat mense in liefde en vrede sal saam leef, dat elke knie sal buig en elke tong sal getuig dat Christus die Here is.

8 Oktober – Woensdag – Leiers

Bid vandag vir almal wat leiding gee voor U sal buig en dat hulle suiwer sal koers hou en nie sal betrokke raak by korrupsie nie en die mense vir wie hulle moet lei, hul uiteindelike oorweging sal wees.

9 Oktober – Donderdag – Ons huis

Here, maak ons huis die eerste skool en kerk vir ons kinders en dat hulle hier sal leer wat goed en reg en edel is.

10  Oktober – Vrydag – Rustigheid

Ons bid vandag dat Psalm 23 se groen weivelde en rustige waters nie net ‘n droom sal wees nie, maar ‘n werklikheid en dat ons die rustigheid en vrede wat God gee in ons elkeen se lewe sal wys en dat ons dit ook kan uitdra aan ander.

11 Oktober – Saterdag – Werk vir die Here

“Here, help ons om elke ding wat ons hand vind om te doen, ons na die beste van ons vermoë doen, asof ons dit vir U doen”.

12 Oktober – Sondag – Gideons

Ons dankoffer is vandag vir die Gideons en ons dank God vir die miljoene testamente wat hulle al langer as ‘n eeu versprei in skole, hotelle, hospitale, gevangenisse en militêre basisse en so miljoene mense bereik met die evangelie van Jesus.

13 Oktober – Maandag – Onderwysers

Die skole open weer vandag en ons dank God vir toegewyde onderwysers wat leerders voorberei vir die eise van die lewe. Ons dink aan hulle wat ook die kinders moet leer en wys met hul optrede hoe om te lewe. 

14 Oktober – Dinsdag – Beskerming van Jesus

Dankie Here dat U die Weg, die Waarheid en die Lewe is en dat U met U liefde ons beskerm teen gevare en die invloed van die duiwel wat ons wil wegraap van U liefde.

15 Oktober – Woensdag – Fyn aanvoeling

Ons bid dat U aan ons sal gee, ‘n fyn aanvoeling om die regte besluite te neem en ‘n positiewe gesindheid te openbaar.

16 Oktober – Donderdag – Woord van die Here

Vandag dank ons U vir U Woord wat ewig, onfeilbaar en onmisbaar is en ons spesiale dank ook vir die leraars, sendelinge, pastore en godsleiers wat dit vir ons oopmaak en verduidelik sodat ons dit kan verstaan en uitleef.

17 Oktober – Vrydag – Jesus-liefde

Leer my Here, om lief te hê soos U liefgehad het: onvoorwaardelik en tot die einde toe. Dankie dat U gesterf het vir my sondes en my vergewe vir al my sondes.

18 Oktober – Saterdag – Sagte hart

Here, gee ons ‘n sagte hart wat medelye het met die armes en almal wat in nood is en gee dat ons sal help waar ons kan en so hul nood verlig en ook maniere sal vind om hul te bemagtig en hul trots sal herstel.

19 Oktober – Sondag – Gesondheidsdienste

Vandag is dit ‘n biddag vir gesondheidsdienste. Gee vir die dokters en verpleegsters simpatieke harte en seën hulle op hul arbeid en help hul ook dat hul die nodige insig en krag sal ontvang om hul werk met vreugde te doen.

 20 Oktober – Maandag – Sondes

Kom ons bid vandag saam met Dawid in Psalm 51 dat die Here ons sondes sal weg neem sodat ons weer rein kan wees om so voor Hom te verskyn.

21 Oktober – Dinsdag – Stem van die Here

Dankie Here dat U deur U Gees by ons teenwoordig is. Help ons om U stem duidelik te hoor. Maak ons ook stil sodat ons U stem in die sagte fluistering van die wind sal herken.

22 Oktober – Woensdag- Ons land

Here, ons bid U seën af op ons land en al sy mense en ons bid dat U ons sal bevry van bitterheid en haat. Ons bid dat ons in liefde en vrede sal saambly en werk en U naam in alles sal vereer.

23 Oktober – Donderdag – Sintuie

Kom ons dank die Here vandag vir die gawe van ons sintuie en die gawe van lewe en gesondheid, die feit dat ons kan beweeg, sien voel en hoor. Ons bid ook dat ons sal dink aan die mense wat sukkel. Gee ons die empatie om ook uit te reik om behulpsaam te wees indien hulle sukkel.

24 Oktober – Vrydag – Gemeentekonsert

Dit is vanaand ons gemeentekonsert en ons wil saam met Paulus in Filippense 4:4 sê: “wees bly in die Here!” Ons sê dankie vir heerlike samesyn van ons gemeente dat hulle ook so U Naam kan vereer.

25 Oktober – Saterdag – Dankfees

Vandag is ons Dankfees! Kom ons juig saam met Dawid in Psalm 65:12. U kroon die jaar met U goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed. Ons dank U Here.

26 Oktober – Sondag – Hervormingsondag

Op Hervormingsondag dank ons die Here vir ons duur gekoopte Protestantse erfenis en vir al die geestelike seëninge waaraan ons vandag opnuut herinner word.

27 Oktober – Maandag – Getuienisbediening

Die getuienisbediening vergader vandag en ons dank die Here vir die bereidwillige sopkokers, sopskenkers en die uitreikspan wat die sop, brood en die Woord gaan uitdra en verkondig en ons dank die Here vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen.

28 Oktober – Dinsdag – Die Here se lig

“Here, hoe helderder die lig van U heerlikheid skyn, hoe meer word ons bewus van ons donkerte. Dankie dat ons uit die bevryding van ‘n opregte skuldbelydenis kan leef”.

29 Oktober – Woensdag – Geloof

“Jesus, versterk tog ons hoop en liefde, maar veral ook ons geloof sodat ons seker kan wees dat niks ons van U liefde sal skei nie.”

30 Oktober – Donderdag – Geskeides

Kom ons bid vir alle geskeides dat hulle sal opstaan tot ‘n nuwe lewe van hoop en dat die Here vir hulle die pad wat hulle moet loop, sal wys. Bid ook dat hulle die liefde van God sal ervaar en weer geliefd sal voel.

31 Oktober – Vrydag –Sportmanne en vroue

Bid vandag saam vir alle sportmanne en -vroue dat hulle nie sal nalaat om aan die Heer al die eer te gee vir hul gesondheid en talent nie.

Nasionale Biddag vir Dowes – 07 September 2025, Nasionale Instituut vir Dowes

2025-09-07 Biddag vir dowess

Nasionale Biddag vir Dowes – 07 September 2025 Op hierdie Biddag vir Dowes eer ons die taal van die hande, die krag van stille geloof, en die skoonheid van gebede wat verder strek as woorde. Ons bid vir Dowes en persone met gehoorverlies. Mag vrede, liefde, hoop en begrip die dowe gemeenskap vandag en altyd omring.

On this Prayer Day for the Deaf, we honor the language of hands, the power of quiet faith, and the beauty of prayers heard beyond words. We pray for the Deaf and persons with hearing loss. May peace, love, hope and understanding surround the Deaf community today and always.

Lees meer “Nasionale Biddag vir Dowes – 07 September 2025, Nasionale Instituut vir Dowes”

GEBEDSGIDS SEPTEMBER 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed

1 Johannes 3:16  Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

1 Sep – Maandag – Jesus se nuwe seisoen begin met ‘n wildernis tyd

Nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water uitgeklim en die  Hemele het meteens vir Hom oopgegaan. Dit is Sy nuwe seisoen en Hy  verwag ook dat ons elke seisoen van ons lewe vreugdevol sal ervaar tot ere  van Sy naam.    

2 Sep – Dinsdag – ‘n Fondasie vir ewige lewe

Jesus, dankie dat U die ewige en onwrikbare rots in my lewe is waarop ek  my fondasie kan bou.  Met U kan ek die storms en aanslae teëstaan sonder  om te val.

3 Sep – Woensdag – God se genade is baie meer

Die dorings van ons lewe is baie, maar God se genade is baie meer. En daar  waar jy die seerste kry, is waar God se genade op sy grootste is.

4 Sep – Donderdag –  Wie het ek buiten U in die hemel?

Buiten U in die hemel, begeer ek niks op aarde nie. Dankie Vader vir U  teenwoordigheid in my lewe.  Al is ek afgetakel na liggaam en gees,  aan U  behoort ek vir altyd.    

5 Sep – Vrydag – God se beloftes

Jesus, versterk ons geloof sodat ons op U alleen sal vertrou.  Verlos ons van  die kleingeloof wat ons verhinder om U wonderwerke te sien en te ervaar.

6 Sep – Saterdag  – Brandende Bos

Here, help ons om bewus te wees van die brandende bosse in ons lewens.  Gee ons die vermoë om U stem duidelik te hoor en ons harte oop te maak  vir U leiding. 

7 Sep – Sondag – Nasionale Biddag vir Dowes 

Hou my vas Here Jesus te midde van stormagtige weer. Wanneer vrese en  twyfel ontstaan wil ek U liefde en vrede ervaar. Hou my naby U Jesus, daar  voel ek veilig.      

8 Sep – Maandag –  Is jy gereed?

Vader, ek wil elke dag gereed wees om U te verheerlik.  Ons vertoon U  beeld en moet U koningskap en liefde weerspieël. Sonder U is ons geestelik swak.

9 Sep – Dinsdag  – Geestelike Fiksheid

Wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Dankie Here vir geleenthede om geestelik fiks te bly, om vir die gemeenskap te bid en iemand na die Here toe te lei.

10  Sep – Woensdag – Waak en bid

Dankie Vader dat U ons toerus met sintuie om waaksaam te wees. Ons sal  aanhou waak en bid om oorwinning oor die wêreld, die vlees en die vyand te  behaal. 

11 Sep – Donderdag  – Dankbaarheid van kind van God

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders  van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat hulle Hom nie  ken nie. 

12 Sep – Vrydag  – Wees soos ‘n arend

Vader, ons wil gevul wees tot volheid van U. Ons wil uitstyg soos ‘n arend,  want saam met U is daar geen beperking van U liefde en genade vir ons nie.

13 Sep – Saterdag  – U liefde is oneindig groot

Vader, ons begryp hoe oneindig diep die liefde van Christus strek. Mag ons  U liefde ken wat ons verstand te bowe gaan en vervul word met die volheid  van God.

14 Sep – Sondag –   Sending aan Melaatses

Vader, ons bid dat elkeen wat geaffekteer is met die siekte, U net kan  aanraak. U het nie gekom om ons liggame te genees nie, maar om ons  verhouding met God te herstel.  

15 Sep – Maandag – Koninkrykswerk

Laat God toe om jou toe te rus vir Sy werk.  Kom ons reik uit en raak  betrokke by die kerk se sendingwerk, gemeenskapswerk of by die ontferming oor die kwesbares.

16 Sep – Dinsdag – As die lewenstrome woedend om jou slaan

My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek  met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil. Ek dank U vir U beskerming,  leiding, wysheid en liefde.

17 Sep – Woensdag – Gee jy soms oor

Dankie Hemelse Vader dat U die duurste prys vir ons betaal het. U is  my  rots by wie ek skuil. U is die stuurman van my lewe en my veilige hawe. Sonder U is ek niks. 

18 Sep – Donderdag  – Verwoesting in jou hart?

Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie en begeer nie om met hulle  saam te wees nie. Hulle hart bedink verwoesting en hulle lippe spreek  moeite. 

19 Sep – Vrydag –  God is my rigtingwyser

Here, ek erken dat ek nog te veel beheer oor my eie besluite het en vra  vergifnis vir my rebelsheid. Onderrig my met wysheid in oorvloed. U leiding is konstant.

20 Sep – Saterdag – Die begeerte om te kan hoor

Jesus het gekom om ons te versoen met die Vader. Hy is die lewende weg  na die troon – die voorhangsel is geskeur. Dit is ons geboorte-voorreg om Sy  stem te kan hoor.

21 Sep – Sondag – Bediening aan die dowes

Here, ons buig nederig voor U en dank U vir genade so groot. Ons bid vir  herstel in ons liggame wat gebreek en gekneus is.  Vader, raak asb die  gehoor aan van diegene wat nie al hulle sintuie kan geniet nie. By U is niks  onmoontlik nie.

22 Sep – Maandag – Word ‘n visser van mense

Laat jou geloof sigbaar word in jou dade. Deel jou geloof en maak dissipels  vir Jesus. Volhard sodat jy eendag alles wat Jesus vir jou in die hemel  bewaar, in besit neem.  

23 Sep – Dinsdag  –  Sy oneindige liefde vir jou

God ken ons lewe. Hy het die pad reeds voorberei. Hy ken die toekoms,  vertrou Hom net. Hy ken jou bekommernis, gee dit oor en raak stil. Hy ken  jou hartseer, teleurstellings en sien jou trane – Hy sal dit afdroog. Daar is geen einde aan Sy goedheid nie.               

24 Sep – Woensdag – Erfenisdag 

Vader, ons dra hierdie land met sy kulturele diversiteit op aan U. Seën  asseblief ons land en mense en leer ons hoe om mekaar te kan aanvaar, te  vergewe en lief te hê.  

25 Sep – Donderdag –  Alle eer aan U

Dankie Vader vir die wonderlike gawe om te kan kommunikeer. Lei ons om  dit met oorgawe te gebruik om mekaar aan te moedig en te vertroos en om  U te eer. 

26 Sep – Vrydag – God laat alles ten goede werk 

Here, ek weet dat U tot alles in staat is en alles kan uitvoer volgens U wil.   Soms is ons ongeduldig as ons gebede nie dadelik verhoor word nie.   Vergewe ons ongeduld Here – U is altyd op tyd. 

27 Sep – Saterdag –  Is die losprys te hoog?

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar deur die genade  van God en die genade van een mens, Jesus Christus, was Hy bereid om die  losprys te betaal – vir jou.

28 Sep – Sondag  – Bediening aan Jode 

Johannes 8:31 – Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord  bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

29 Sep – Maandag – Jesus is jou skans

Jesus is die vrede in tye van moedeloosheid, siekte en hartseer. Jy is nie  gemaak om hierdie storms te beleef en te beveg nie. Jy is gemaak om God  te beleef en te sien hoe Hy jou storms stilmaak. 

30 Sep – Dinsdag  – Die uniekheid van Jesus

Hy is die enigste seun van God. Hy is ewig en die enigste weg na die Vader.   Hy het die mag om lewe te gee en die enigste Regverdige wat vir ons  sondes verruil het.

GEBEDSGIDS – JULIE  2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed

1 Julie – Dinsdag – Siekes      

Ons Bid vandag vir alle siek mense en allerhande soorte siektes van ons tyd en bid dat hulle die nodige geduld sal hê om dit te hanteer en ook bid ons vir U genesende hand.

2 Julie – Woensdag – Besluite

Liewe Vader,  ek wil nie net besluite neem en my kop stamp nie. Laat ek volgens U wil bid en in U spoor loop sodat ek die regte optrede aan die dag sal lê.   

Lees meer “GEBEDSGIDS – JULIE  2025 NG Kerk Groot-Brakrivier”

Gebedsgids April 2025

Gebed

 As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”

Lukas 9:23

GEBEDSGIDS – APRIL  2025

1 April – Dinsdag – Niks vir onsself nie

Vader, help ons om weer bewus te word van ons gawes om ‘n seën vir ‘n ander een te wees. Om ander met onvoorwaardelike liefde en deernis te aanvaar en te bemoedig. Niemand van ons leef tog vir onsself nie, ons doen dit tot eer van God.

Lees meer “Gebedsgids April 2025”

Bybelgenootskap – Gebedsgids Herfs 2025

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Kom bid saam met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vir die werk wat hulle doen vir die verspreiding van Bybels in die wêreld.

Met die Bybel as grondslag en gemotiveer deur die Groot Opdrag, vervul die Bybelgenootskap van Suid-Afrika hul missie om bekostigbare Bybels beskikbaar te stel terwyl die volgende waardes al hul aktiwiteite rig – integriteit, vertroue, respek, diens, aanspreeklikheid – sodat elkeen die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.

Lees meer “Bybelgenootskap – Gebedsgids Herfs 2025”

Gebedsgids Maart 2025

Gebed hande

Lukas 9:23 – 24

 “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg: want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red”

1 Maart – Saterdag – Wat op aarde doen ek hier?

Vader, hoe wonderlik is dit om te weet dat U  my lewe op aarde beplan het en dat dit geen fout was nie. Ek weet Vader dat ek nie hier op aarde geplaas is om onthou te word nie, maar om vir die Ewigheid voor te berei. U naam sal ek loof.  Dankie dat U my gekies het.

Lees meer “Gebedsgids Maart 2025”

Wêreld Biddag vir Vroue 2025 – U het my volmaak geskape

Wereld biddag vir vroue Tarani Napa en Tevairangi Napa - Wonderbaarlik gemaak

Kia orana!

Kia orana!’ is hoe die eilandbewoners van die Cook-eilande mekaar groet. Dit beteken: “Mag jy lank lewe en mag jy goed lewe. Mag jy soos die son skyn. Mag jy met die golwe dans.”

Tema

Die Christenvroue van hierdie afgeleë eilande in die Stille Oseaan het die tema gekies vir vanjaar se Wêreldbiddag vir vroue – ’n wêreldwye ekumeniese gebedsdag waaraan mense in 176 lande en streke deelneem. Die gebedsdag val tradisioneel op die eerste Vrydag in Maart. Die datum vanjaar is 7 Maart. 

As tema het hulle Psalm 139:4 gekies ‘U het my volmaak geskape’. Hulle nooi almal wat daaraan deelneem om mekaar op 7 Maart met hierdie Maori-groet te groet en om blomkranse (‘ei katu) te dra. 

Program

Agtergrond WWDP 2025

Hierdie jaar se program nooi ons uit om opnuut te ervaar hoe God elkeen van ons met besondere aandag en liefdevolle sorg geskep het. God ken ons intiem, ons is spesiaal en elkeen uniek. Wanneer ons besef dat God ons wonderlik/volmaak geskape het, verander alles in ons lewe. Ons gloei van binne, en ons begin ander mense ook as geliefde kinders van God hanteer. Die vroue van Cook-Eilande vertrou dat ons geestelik versterk sal word as ons God se liefdevolle teenwoordigheid ervaar

Te dikwels is vroue en meisies stilgemaak en onderdruk, wat hierdie komende tema van WWDP Cook-eilande besonder relevant maak. Die boodskap dat ons, as vroue en meisies, “ontsagwekkend en wonderbaarlik” na die beeld van God gemaak is, versterk ons ​​beweging se ondersteuning van vroue om hul geloof uit te druk en oor hul lewens te praat in gebed en aanbidding voor God en in die gemeenskap.

Die Biddag nooi ons om aspekte van ons God geskape liggame raak te sien wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar.

By die afsluiting van ‘n byeenkoms sê ons Tongareva-ouderlinge altyd hierdie kragtige woorde van bemoediging: ‘Kia mau te serenga! Kia mau te napena! Kia mau!’ Dit beteken ‘hou styf vas aan wie jy is, in alle aspekte van jou bestaan!’ Ons is wonderlik deur God gemaak, en ons moet al die aspekte van wie ons is koester!”

Bybelstudie

14Ek prys U omdat ek op ‘n ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is

Die Bybelstudie lei tot dialoog rondom Psalm 139, en fokus veral op die verhouding tussen God en elkeen van ons. Die studie kyk na 3 afdelings van Psalm 139, elk met ‘n ander fokus: verse 1-6 (God ken ons), verse 7-12 (God is met ons), en 13-18 (God het ons wonderlik gemaak).

14Ek prys U omdat ek
op ‘n ontsagwekkende,
wonderbaarlike wyse gemaak is.
Wonderbaarlik is u werke
en ek besef dit maar te goed.
15My skelet was nie vir U verborge
toe ek in die geheim gemaak is nie,
toe ek kunstig geweef is
in die dieptes van die aarde.
16U oë het my vormloosheid gesien.
En in u •boekrol is hulle almal
opgeteken –
dae wat beplan is,
toe nie een daar was nie.
17En vir my, hoe kosbaar
is u gedagtes, o God –
hoe oorweldigend
is die volle getal daarvan!
18As ek dit tel,
is dit meer as die sand.
Word ek wakker,
dan is ek steeds by U.

Skrifaanhalings geneem uit: die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou. www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za. Kontak: copyright@biblesociety.co.za

Die derde gedeelte van hierdie Psalm fokus op hoe ons “ontsagwekkende en wonderbaarlik” deur God gemaak is. Dit vind aanklank by Genesis 1 en 2, waar ons God se skeppingsdade sien en leer dat mense na die beeld van God gemaak is. God het die skepping in Genesis “baie goed” genoem, wat resoneer met die woord “wonderlik” in hierdie Psalm.
’n Nuwe insig in God wat ons as mense geskep het, verskyn in die Psalm met die woord “ontsagwekkend ”. Die Hebreeuse woord is “yare”, wat vertaal kan word as “om bang te wees”, maar dit beteken ook “om in ontsag en eerbied te staan.” Ons leer dat God met groot eer en respek lewe in ons geskep en geblaas het.
In hierdie deel van die Psalm word die psalmis diep beweeg om lof en dank aan God te gee.

Kunstenaars

Wêreldbiddag vir Vroue- 2025
Wêreldbiddag vir Vroue- 2025

Tarani Napa en Tevairangi Napa is ‘n Moeder-Dogter-kunstenaarspan van die Cook-eilande. Hulle voel geëerd om hierdie kunswerk, “wonderbaarlik gemaak”, te kon deel uit erkenning van hul liefde vir hul huis, hul geloof en hul erfenis. Tarani Napa is ‘n ma van ses kinders en drie kleinkinders. Sy is ‘n gesertifiseerde laerskoolonderwyser, entrepreneur en kreatiewe kunstenaar. Tevairangi Napa is die oudste dogter van Tarani, en sy is ‘n trotse ma van twee kinders. Sy volg in haar ma se voetspore as kreatiewe kunstenaar.

Die kunstenaars beskryf dit so:
Die strandmere en oseane is vol seelewe, visse en edelstene (soos swart pêrels), wat ons met die wêreld verbind. Op elke eiland staan ​​die magtige klapperboom hoog, ‘n simbool van krag en goedheid. Die klapperboom sorg vir ons gesondheid en welstand. Ons kosbare Tivaevae-kwilte verteenwoordig geduld, liefde en eenheid. Ons eer God se liefde en barmhartigheid met hoede wat ons kerk toe dra, geweef deur vaardige liefdevolle hande van die stringe rito, die jong klapperblaar. Ons versier onsself met soet geurige Tiare tropiese blomme, gemaak in krone en kranse. Ons is dankbaar vir die koms van die Christendom na ons kus 200 jaar gelede. Christenskap het hoop, vrede en lig gebring, met ‘n begrip van die evangelie van Jesus Christus.

Die Cook-Eilande

Die Cook-eilande bestaan ​​uit 15 eilande wat oor 2 miljoen vierkante kilometer in die Stille Oseaan versprei is. Uit die 15 eilande word 12 bewoon. Die hoofstad van die Cook-eilande is Rarotonga, ‘n vulkaniese eiland met ‘n bevolking van 10 040 (van 15 040 totale mense). Baie Cook-eilandbewoners woon nou in die buiteland in Nieu-Seeland en Australië.

Die 15 eilande wat nou Cook-eilande genoem word, is eers vermoedelik tussen 500-800 nC bewoon deur mense van eilande in wat nou bekend staan ​​as Frans-Polinesië.

​Die Britse ontdekkingsreisiger, Kaptein James Cook het na die eilande gekom in sy ekspedisies van 1773 en 1777. Ten spyte van die eilande wat uiteindelik die groot navigator se naamgenoot gedra het, het Kaptein Cook slegs op die destydse onbewoonde eiland Palmerston aan wal gegaan. Kaptein Cook het die groep die Hervey-eilande genoem, na ‘n Britse Lord of the Admiralty, maar hulle is herdoop na Cook-eilande, ter ere van die groot ontdekkingsreisiger, sowat 50 jaar later deur die Russiese kartograaf, Admiraal Adam Johann von Krusenstern.

Vandag is die Cook-eilande ‘n meerderheid Christelike nasie, waar die mense gedryf word deur ‘n sterk gevoel van gemeenskap en kulturele waardes wat uit hul geloof in God kom.

Die Cook-eilande is in ‘n benydenswaardige posisie waar die meeste mense die rykdom van hul eie grond besit en daarvan leef. Cook-eilandbewoners is trots om wonderlike versorgers van hul familie-stamgrond te wees. Die “grondbesitstelsel” is ingestel deur die Cook Islands Act van 1915, wat bepaal het dat inheemse grond nie gekoop of verkoop mag word nie, behalwe aan die regering vir openbare doeleindes. In plaas daarvan sou alle inheemse grond aan die kinders van Cook-eilanders oorgedra word.

Cook-eilandbewoners is slim. Pandanus (screwpine) en rito (klapperblaarvesel) is die belangrikste natuurlike vesels wat vroue in die Cook-eilande vir weef gebruik. Pandanus word gebruik om matte, mandjies, hoede, waaiers en tafelmatjies te weef. Ei katu is ‘n krans van blomme wat om die kop gedra word. Dit word deur beide vroue en mans gedra as ‘n simbool van liefde en behoort. Dit is ‘n sirkel, wat beteken dat alles verbind is.

Liedjies

Hierdie liedjies is spesiaal geskryf vir die Wereld biddag vir vroue 2025 deur Ruru Maeva

Hierdie liedjies is spesiaal geskryf vir die Wereld biddag vir vroue 2025 deur Ruru Maeva.

Te Pure Ā Te ‘Atu
Cook Islands Māori Lord’s Prayer
By Rev. Ta Upu Pere

Lets talk with the Cook Islands

Addisionele hulpbronne

LW Die onderstaande werke word deur kopiereg beskem en mag slegs deur WWDP Komiteelede op plaaslike en nasionale vlak gebruik of afgelaai word.

Meer inligting – WWDP Amptelik

Music sheets (2 songs)
Music sheets (2 songs)

Postcard (4 x A6)
Postcard (4 x A6)

Children's colouring sheets
Children’s colouring sheets

How to build a model canoe
How to build a model canoe

Taflen Gweithgaredd Plant
Taflen Gweithgaredd Plant

Children's activity sheet
Children’s activity sheet

Leaders of children's groups sheet
Leaders of children’s groups sheet

Youth activity sheet
Youth activity sheet

Useful links
Useful links

Copyright © 2024 World Day of Prayer International Committee, Inc.
“I Made You Wonderful” was prepared by the World Day of Prayer Committee of Cook Islands for the worship service and educational activities for the 2025 World Day of Prayer (WDP) annual celebration.
WDP materials are developed for the exclusive use of WDP programs organized by national or local committees and their partner organizations. For any other use, materials from the WDP 2025 Resource Packet may not be reproduced without the permission of World Day of Prayer International Committee (WDPIC).
Limited reproduction rights granted—Bible study, Worship Service, Country Background, Children’s Program, Artwork and Artist Statement, WDP composed songs and photos may be reproduced—printed or electronically—for WDP activities with congregations and groups, if appropriate credit is given. WDP National/Regional Committees are permitted to resell reproductions of the resources for the purposes of the WDP program.
Only WDP National/Regional Committees connected with WDPIC can make the resource packet or sections of the materials available online. Committees that make materials available online must ensure groups and individuals who access the online materials are accountable to the committee. The songs suggested for the worship service and children’s program include copyrighted information from the publishers. Permission to reproduce or translate the songs must be obtained from the publishers. WDPIC only gives permission to reproduce or translate the songs that are originally composed for WDP programs.
Any offerings or funds collected related to WDP activities must be reported to WDP committees. Scripture quotations are from the New Revised Standard Version of the Bible, copyright © 1989 by the Division of Christian Education of the National Council of Churches of Christ in the U.S.A. and are used by permission. All rights reserved.
For further information, please contact:
World Day of Prayer International Committee
475 Riverside Drive Room 729
New York, NY. 10115. USA
admin@worlddayofprayer.net – http://worlddayofprayer.net
To clarify, there is no restriction about where WDP activities happen, and many countries use the Children’s Activity sheets in Sunday School – if a community decides to utilise the materials, to please inform the committee about their activities. If the materials need to be reproduced, credit must be given to WDPIC.
Vix Daniell, Office Manager,
WDP EWNI – June 2024