DRINGENDE GEBED NODIG VIR CHRISTENE IN PAKISTAN

Ons familie in Pakistan is in pyn gedompel na die geweld van bende-aanvalle op minstens 20 kerke en 93 huise wat aan Christene behoort.


Sondag, 20 Augustus, het groepe Christene in Jaranwala, Pakistan, buite bymekaargekom vir hul kerkdiens. In plaas daarvan om in banke of op stoele te sit, het hulle langs gebrande mure gesit. In stede van aanbidding in ʼn kerk met sierglas vensters en pragtige argitektuur, het hulle bymekaar gekom tussen gebreekte glas en hope rommel. En in stede daarvan om terug te keer huis toe vir ʼn familie-ete, kon talle gelowiges nie huis toe gaan nie – hulle huise lê in puin.

Lees meer “DRINGENDE GEBED NODIG VIR CHRISTENE IN PAKISTAN”

Gebedsgids vir Augustus 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed Foto deur Ivan Samkov: https://www.pexels.com/photo/woman-in-gray-knit-sweater-praying-6436311/

Gebedsgids

Augustus 2023

Dinsdag 1 Augustus:Kom ons bid vir al die eensames

“My God My God waarom het u My verlaat” was Sy woorde met Sy kruisiging. Eensaamheid kan erg wees en daar kan tye kom dat ons ook so mag voel. Kom ons bid tot die Here vir Sy alom teenwoordigheid en nabyheid.

Woensdag 2 Augustus:Kom ons bid vir al die siekes

Daar is vele siekes in ons gemeenskap. Kom ons dra hulle almal aan die Vader op vir genesing.

Donderdag 3 Augustus: Kom ons bid vir al die armes

In ons gemeenskap is daar baie gesinne wat brandarm is en skaars ‘n huis het om in te woon. Wat snags in die koue in ‘n sink kaia moet slaap. Ons bid dat die Vader hulle moet bystaan in hulle nood.

Vrydag 4 Augustus: Beskermingsdienste en Polisie

Die land se beskermingsdienste verkeer onder groot druk. Ons dra hulle aan die Vader op.

Saterdag 5 Augustus:Eerbiedwaardige optrede

Ons kan ons soms so skuldig maak aan ruwe en onbeskofte optrede teenoor ons medemens en naaste. Kom ons vra die Vader deur gebed om Sy Heilige Gees in ons harte te vestig en dat ons gelei kan word tot eerbiedwaardige en vreugdevolle optrede.

Sondag 6 Augustus: Gestremdes

Gestremdheid van watteraard ookal is nie maklik nie. Die gestremde asook hulle gesinne het ‘n swaar las om te dra. Ons smeek God in Sy almag om Sy genade oor gestremdes en hul gesinne in oormaat uit te stort.

Maandag 7 Augustus: Oues van dae

In ons omgewing is daar vele oues van dae. Hulle woon by kinders, in ouetehuise of sorgsentrums. Van hulle is ook enkellopend en woon alleen. Ons bid vir hulle en vir mekaar en vra ons Almagtige Vader vir Sy liefde en beskerming en dat die laaste jare met vreugde, lag en liefde gevul sal wees.

Dinsdag 8 Augustus:Beskerming van gelowiges in die Midde-Ooste

Ons broers en susters in die Here in die Midde-Ooste het dit geweldig swaar. Word hulle geïdentifiseer, is dood of is marteling hulle voorland. Ons bid tot God vir ‘n versoenende Gees aldaar en dat Hy hulle sal beskerm om Hom vrylik te kan aanbid en dien.

Woensdag 9 Augustus: Nasionale Vrouedag

Ons rig ons gebede tot die Vader om Sy vleuels van liefde en beskerming oor die ganse vroulike geslag uit te sprei en hulle te seën vir die enorme positiewe bydrae wat vroue oor die wêreld, in die wêreld maak.

Donderdag 10 Augustus:Misbruik van kinders (Markus 9:42)

Miljoene kinders van alle ouderdomme word dwarsoor die wêreld misbruik en verniel. Hulle word seksueel misbruik, hulle word as slawe verkoop, op allerlei wyses mishandel en verniel. Ons dra die kinders se lot deur ons gebede aan die Here op.

Vrydag 11 Augustus:Bekommerde mense

In ons gemeenskap kan vele bekommerde geliefdes wees. Bekommerd oor finansies, behuising, gesondheid, kinders, ouers ens. Kom ons dra hulle almal aan die Vader op vir die nodige gemoedsrus.

Saterdag 12 Augustus: Stop van bendegeweld

Bendegeweld is ‘n groot probleem in ons samelewing. Gepaardgaande daarmee ook baie misdaad en moord. Kom ons vra die Vader vir vrede op hierdie gebied en dat Hy dit sal omskakel na iets wat Sy grote naam tot eer sal strek.

Sondag 13 Augustus:Werkende mense

Ons dank en gebede gaan uit na werkende mense wat ons land instand hou. Ons vra vir die Vader om hulle te onderskraag, ook in so ‘n mate dat hulle Hom nooit sal vergeet nie.

Maandag 14 Augustus: Radelose mense

Vele mense in ons omgewing en in ons land is raadop met omstandighede wat hulle deel is. Dit mag hulle finansies wees, hulle kinders, hulle ouers, hulle vriende en dalk nog hulle kerk ook. Kom ons dra hulle aan die Here op vir verligting van hulle omstandighede.

Dinsdag 15 Augustus: Korrupsie

Ons land word geteister deur korrupsie van der duisende miljarde rande. Skaamtelose amptenare maak hulle skuldig daaraan. Ons bid tot die Vader om hulle gewetes aan te raak om die gestelery te staak.

Woensdag 16 Augustus: Ons land se leiers

Ons dra ons land se leiers aan die Here op. Ons land is in groot verknorsing op alle gebiede. Ons vra vir die Vader om ons leiers met helderheid van verstand toe te rus om sodoende ons land weer op ‘n wenpad te plaas en hulle te weerhou van korrupsie en staatskaping.

Donderdag 17 Augustus:U Skepping

Soos Adam en Eva in ‘n pragtuin gewoon het, woon ons steeds in U tuin Here. Deur ‘n “klein” oortreding het U hulle verblyf opgeskort. In teenstelling bemors en vernietig ons U Skepping teen ‘n ongehoorde tempo. Ons gebede is om die Vader te vra om elke mens se gesindheid teenoor Sy Skepping positief te verander.

Vrydag 18 Augustus:Bybelgenootskap

Ons weet almal wat die Bybelgenootskap vermag. Kom ons dra die genootskap aan die Vader op om in al hulle behoeftes te voorsien en hulle wonderlike werk te seën.

Saterdag 19 Augustus:Ons land se jeug

U, Here het eenkeer gesê dat as een kinders leed aandoen, dit vir hom beter sal wees om met ‘n meuelsteen om die nek in die see gewerp te word. Kom ons bid vir kinders en dat God Sy vleuels van beskerming oor elkeen sal hou.

Sondag 20 Augustus: Ons erediens

Ons dra vanoggend se erediens in ons gebede aan die Vader op en vertrou dat ons lofprysing vir Hom aanneemlik sal wees.

Maandag 21 Augustus:Sending

Oor die hele wêreld heen is daar pragtige mense wat die evangelie aan ander bekendstel en baie mense wat die evangelie aanvaar of dalk twyfel of hulle dit moet aanvaar. In sekere wêrelddele is dit ‘n lewensgevaarlike taak vir beide partye. Kom ons bid weer dat die Vader hulle almal onder Sy vleuels sal intrek, sal lei en bewaar.

Dinsdag 22 Augustus: Verslaafdes

Baie volwassenes, jong mense en jong-jong kinders is verslaaf aan dwelms. Ons kan maar net vir God vra om hulle van hulp te wees met genesing. Mag God se gramskap ook fel neerkom op hulle wat die dwelms verskaf sodat hulle eerder smokkelaars van Sy Woord sal word.

Woensdag 23 Augustus:Mediese Wetenskap

Ons bid en dank die Vader vir die hulp en leiding wat Hy aan die mediese wetenskap gee in die ontwikkeling van medikasie. Medikasie wat siekes oor die hele wêreld van ‘n beter lewe verseker. Maar ook vir die voordeel wat ons hier in die Brak daaruit geniet.

Donderdag 24 Augustus: Diens aan oues van dae

In ons gemeenskap is daar dokters, verpleegpersoneel, verpleeg-assistente en omsien peroneel wat na vele van ons gemeenskap omsien. Kom ons dra hulle almal aan die Here op in ons gebede en dank ook die Here dat ons sulke pragtige mense om ons het.

Vrydag 25 Augustus: Vermiste mense en kinders

Ons hoor gereeld van volwassenes en kindertjies so jonk as 10 jaar en selfs jonger wat op een of ander tragiese wyse vermis geraak het. Ons bid vir kalmte en hoop by families en gesinne, maar ook vir die ingesteldheid of vrees wat by die vermistes aanwesig mag wees. Ons vra vir Vader vir hulle veiligheid en spoedige terugkeer.

Saterdag 26 Augustus: Verwaarloosde mense

Daar is vele verwaarloosde mense in ons en in die breër gemeenskap om ons, wat in wanhoop lewe. Laat ons die Vader in ons gebede vra om ook met elkeen van sulke mense te wees. Dat ons as sy bevooregte kinders die moed sal hê om ook na hierdie mense om te sien al is dit net deur ‘n bydrae te maak aan hulle wat daagliks na hierdie mense omsien.

Sondag 27 Augustus: Ons Munisipaliteite

Met meeste munisipaliteite gaan dit nie goed nie. Dienslewering en herstelwerk het tot stilstand gekom, korrupsie vier hoogty, miljarde rande word aan leweransiers geskuld en inwoners ly daaronder. Ons bid tot God om hier in te tree en ‘n verantwoordelikheid by amptenare te skep wat hierdie tragiek moet regstel.

Maandag 28 Augustus:Plaasmoorde

Ons land word geteister met plaasmoorde en sommige politici hits dit aan. Ons gaan die Vader vra om drasties hier in te tree ter beskerming van ons land se boere, maar ook om die hele ingesteldheid van moordenaars en potensiële moordenaars en aanhitsers te verander.

Dinsdag 29 Augustus:Skooldogters

Skooldogters is vandag onder geweldige sosiale druk. Duisende is swanger juis as gevolg van hulle weerloosheid. Kom ons dra hulle almal aan die Here op vir Sy beskerming.

Woensdag 30 Augustus:Ons skole

Dit is van groot belang dat ons jeug goeie skoolopleiding kry. Ongelukkig is dit nie oral die geval nie en is daar groot leemtes. Kom ons pleit by ons Here om ons skolestelsel ter wille te wees en dit sodanig op te hef dat ons dankbaar trots sal wees op die kinders wat dit sal lewer en wat hierdie pragtige land van ons die toekoms sal kan inlei.

Donderdag 31 Augustus: Omgeebediening

Ons dra vandag ons gemeente se omgeebediening aan die Here op deur ons gebede. Ons bid vir Sy seën op al hulle omgeewerk.

Gebedsgids Junie 2023

Gebed

1 Junie – Donderdag – Konflik

Bid vir oplossings in konflik situasies en vra dat vrede sal seëvier. Bid ook dat mense mekaar se siening sal insien en nie altyd “reg” moet wees nie, maar dalk die ander kant van die saak ook insien.

2 Junie – Vrydag – Eskom

Ons bid vandag vir ons leiers en die Eskom direksie om die regte besluite te neem en hul gelde reg aan te wend sodat die land se krag weer herstel sal word. Ons bid ook dat alternatiewe metodes van kragopwekking gevind sal word en meer werkskepping sal bevorder en krag sal vernuwe.

3 Junie – Saterdag – Vertroue

Ons bid vandag dat die gemeentelede sal leer om stil te raak en op God te vertrou vir versorging, leiding, wysheid en insig.

4 Junie – Sondag – Biddag vir Ekologie

Ons wêreld raak al hoe droӫr en daarom bid ons vandag dat die mense sal besef dat hul opdrag as mens uitgevoer moet word en dat hulle na die wêreld moet omsien en pro-aktief moet optree ter bewaring van ons bronne.

5 Junie – Maandag – Finansiӫle swaarkry

Ons bid vandag vir alle ouers wat finansieӫl swaarkry en nie altyd kan byhou vir alles wat hul kinders benodig nie. Ons bid ook vir die kinders se aanvaarding met hul ouers se situasie.

6 Junie – DinsdagSending

Ons bid dat die kanale waarop die sendelinge boodskappe kan uitdra soos radio en tv en ander sosiale media, oop sal wees en gebruik sal word om die mense wat in afgeleë plekke leef, te bereik.

7 Julie – Woensdag- Geestelike gesondheid

Bid dat mense wat in hierdie uitdagende tye sukkel met hul geestelike gesondheid die nodige leiding sal kry en ook by die regte plekke sal aanklop vir hulp.

8 Julie – Donderdag – Hulpverlening

Ons wil graag vandag stil raak voor God en die mense wat altyd hulp verleen aan Hom opdra en vra dat daar uit ander bronne baie skenkings sal kom vir behoeftige kinders en dat hul ook die behoefte sal raaksien van die wat hulp benodig.

9 Julie – Vrydag – Paulus se gebed

Ons bid vandag Paulus se gebed in Ef 3: 14-21 – Ons bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

10 Julie – Saterdag – Huis van God

Dank God met ‘n opregte hart en blymoedige gees dat ons in Sy huis kan aanbid sonder dat ons vervolg word en openlik tot Hom kan bid en gesange kan sing.

11 Julie – Sondag – Instandhoudingsfonds

Ons deurkollekte is vandag vir ons kerk se instandhouding en daarom vra ons vandag voorbidding dat gemeentelede met ‘n oop hart en hand sal skenk vir die instandhouding van die perseel.

12 Julie – Maandag – Hoop

Bid vir hulle wat hoop verloor het en wat elke dag net “oorleef” en wat nie meer kans sien om aan te gaan in ‘n wêreld wat geen hoop het in hulle oӫ nie.

13 Julie – Dinsdag – Geestelike gawes

Die Heilige Gees rig ons almal toe met sekere gawes wat in die kerk van God gebruik word. Bid dat die mense hul geestelike gawes sal raaksien en sal besef dat hul dit kan aanwend om God se koninkryk te bevorder.

14 Julie – Woensdag – Die Politiek

Ons bid vandag dat die korrupsie in die land en in die politiek uitgewys sal word en sal verminder en dat hulle die fondse wat tot hulle beskikking is sal aanwend tot opbou van ons land en sy mense en nie vir eie gewin nie.

15 Julie – Donderdag – Onsekerheid

Wag jy vir ‘n antwoord van God en is jy onseker? Bid en lê jou probleem aan God voor en wag dan getrou vir Sy antwoord. God het Sy eie tyd, maar wees gerus dat God sal antwoord. 1 Pet 5: 7.

16 Junie – Vrydag – Jeugdag

Bid vandag vir ons jeug en hul geestelike en emosionele welstand in vandag se tye en dat hulle standvastig sal bly in ‘n wankelende wêreld.

17 Junie – Saterdag – Leraars

Ons bid dat ons leraars die nodige insig en kennis van U sal ontvang om met die gemeente te deel en dat hulle dit op so ‘n ontvanklike manier aan die gemeente kan meedeel dat hulle dit sal verstaan en ook kan uitleef.

18 Junie – Sondag – Vadersdag

“Vader, kom versterk ons Vaders dat hulle ons huishoudings weer as die Koning van die huis sal beharting en die nodige leiding en rigting aan die huisgenote gee en versterk hulle met die nodige insig en begrip om as ware leiers op te tree.”

19 Junie – Maandag- Buitelandse sending

Buitelandse sending vorm ‘n groot deel van ons insamelings en daarom vra ons vandag vir ekstra voorbidding vir die werk wat die sendelinge in die buiteland onder moeilike omstandighede moet doen.

20 Junie– Dinsdag- Siekes

Vader, ons bid vir alle siekes en die wat in pyn is asook mense wat bekommerd is oor die behandeling wat dalk nie die gewenste uitwerking het nie. Seën asb alle dokters en verpleegpersoneel met wysheid om die regte diagnose te maak en siekes met deernis te versorg.

21 Junie – Woensdag – Internet

Tegnologie speel deesdae ‘n groot rol in ons daaglikse lewe. Ons bid dat daar ontwikkelaars vir die internet sal wees sodat die Woord van die Here weer gehoor en gelees sal word en dat die internet ook tot die uitbreiding van die Koninkryk van die Here gebruik sal word.

22 Junie – Donderdag – Besparing

Ons wêreld gaan gebuk onder allerlei spandabelrigheid en daarom bid ons dat die mense ons hulpbronne in ag sal neem en sal kyk waar hulle kan bespaar eerder as verkwis.

23 Junie – Vrydag- Personeel van Kerk en nuwe Dominee

Bid vandag en ook gedurende die maand vir ons Kerk se personeel asook die proses om ‘n nuwe dominee te beroep en dat ons die regte besluit sal neem, maar dat die dominee ook die bevestiging sal kry om hiernatoe te kom.

24 Junie – Saterdag – Onderwysers en Dosente

Ons dra vandag alle onderwysers en dosente aan die Here op en vra dat die Here hulle leiding sal gee om te alle tye so te leef dat Jesus in hul lewe sigbaar is en dat hulle ‘n voorbeeld van ware Christene sal wees. Bid ook dat hulle sal rus in hierdie vakansietyd.

25 Junie – Sondag – Motoriste

Ons bid vandag vir almal op die paaie. Ons bid dat U met hulle sal wees en dat die bestuurders die nodige respek teenoor ander motoriste sal toon asook kalmte op die paaie sal ervaar.

26 Junie – Maandag – Boere

Bid vir ons boerderygemeenskap wat leef met onsekerheid oor grondhervorming en

arbeidsverhoudings. Bid dat die regering hierdie sake met wysheid sal hanteer en dat hul die nodige oplossings vir die vrae sal vind.

27 Junie– Dinsdag – Wil van God

1 Joh.5:14 sê dat as ons iets vra volgens God se Wil, ons dit sal ontvang. Ons bid dat die mense U Bybel sal lees, sal oordink en op hul lewe sal toepas en gereeld na U sal kom om U wil te ontdek en U Woord te bid.

28 Junie – Woensdag – Ongereddes

Ons bid vandag dat die gemeente die ongereddes wat nog nooit van Christus gehoor het nie, sal nader en dat hul nie sal skaam wees om die Woord van God aan hulle te bring nie. Ons bid ook vir ontvanklike harte en dat Christus die weg vir hulle sal voorberei.

29 Junie – Donderdag – Beskermingsdienste

“Jesus, ons bid vandag vir elke lid van die beskermingsdienste wat onbaatsugtige diens lewer in moeilike plekke en tye en bid dat hulle die nodige krag sal ontvang om hul werk met blymoedigheid te kan doen en ook deur hul optrede U woord verder te versprei. 

30 Junie– Vrydag – Roeping

Sal jy vandag jou drome net so los en Jesus volg? Bid vandag dat jy jou roeping wat jy van Jesus ontvang het, sal uitleef en ook in die proses ander met jou houding na Jesus sal lei.

Gebedsgids Mei 2023

Gebed

GEBEDSGIDS – MEI 2023

In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense” – 1 Timoteus 2:1

MAANDAG 1 MEI – Werkersdag

Bid vir groter hardwerkendheid, arbeidsvrede en versoening by almal wat werk het en arbeidspraktyke waar reg en geregtigheid seëvier.Vra vir uitkoms vir werkloses en armes en dat ons oor hulle besorgd sal wees. Mag mense vreugde in hul arbeid vind.

DINSDAG 2 MEI – Die dag van die Here

“Ditis die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps 118:24). Dit is elke dag die dag van die Here, kom ons loof en dank God vir elke dag wat Hy ons skenk en laat ons hierdie maand elke dag voluit vir Jesus leef.

WOENSDAG 3 MEI – Leef jou Christenskap

Vandag kom dank ons die Vader vir elkeen in die gemeente wat God se lig in ‘n donker wêreld laat skyn – deur voorbeeld, uitreik na hulle in nood, ‘n selfoon-oproep, ‘n handdruk, luisterende oor, glimlag en helpende hand. So leef ons Jesus se gesindheid en voorbeeld uit.

DONDERDAG 4 MEI – MES (Mould, Empower, Serve)

MES in Kaapstad se visie is om die haweloses, armes, hongeres, naaktes en behoeftiges te ondersteun. Bid vir meer vrywilligers om te help met die verskillende programme. Bid vir werksgeleenthede vir die gerehabiliteerdes. Dank die Here vir gelowiges wat selfloos, vrywillige diens lewer en hul tyd afstaan by hierdie bediening.

VRYDAG 5 MEI – Moslem Bediening

Bid asb vir Moslems in SA. Vra dat Christene se leefwyse en getuienisse hulle na Jesus sal lei, dat hulle liefde en nie verwerping sal ervaar nie. Dra almal wat by hierdie bediening betrokke is aan die Here op.

SATERDAG 6 MEI – Sosiale Geregtigheid

Bid dat die Gees vir elkeen van ons kreatiewe maniere sal gee om mense in nood te help en dat ons sal weet waar en hoe om betrokke te raak. Dat ons as Sy kerk sal verstaan dat ons hier is ter wille van ander.

SONDAG 7 MEI – Bid en Getuig

Ons prys U Naam dat ons as gemeente saam kan bid. Ons erken ons diepe afhanklikheid van U. Here Jesus, gee ons asb ‘n passie vir siele dat ons begaan sal wees oor hulle wat nog buite staan. Maak ons gehoorsaam en sensitief vir U stem sodat ons nie geleenthede by ons sal laat verbygaan om vir U te getuig nie”.

MAANDAG 8 MEI – Suid-Afrika se mense en leiers

Bid dat die probleme in ons land ons tot verootmoediging sal lei. Bid dat die lig van die Evangelie ons politieke, sake- en maatskaplike-leiers sal verlig en dat hulle voor Sy almag sal buig en erken dat die Bybel ons hoogste gesag is. Bid vir gelowiges om te erken en te bely dat ons God in beheer is, al lyk dit nie vir ons so nie.

DINSDAG 9 MEI – Ons Gemeente

Dra ons leraar, kerkraad, kommissies, amptenare, leiers en elke lidmaat aan die Here op. Bid vir afgedwaalde gemeentelede; gesinne met probleme, hartseer en pyn. Bid dat ons as gemeente waarlik die lewende liggaam van Christus sal wees en dit uitleef.

WOENSDAG 10 MEI – Verantwoordelike Burgers

Bid vir wysheid en insig sodat ons as gelowiges elkeen elekrtrisiteit, water en ander noodsaaklike hulpbronne met verantwoordelikheid sal gebruik. Dank die Here vir al die voorregte en seëninge wat ons geniet.

DONDERDAG 11 MEI – Verslaafdes

Bid vir so baie mense en jeudiges wat verslaaf is aan drank, dwelms en ander vorms van afhanklikheid. Bid vir gesinne wat geraak word en met die probleme worstel. Vra vir begrip, wysheid, geduld en bo-al vir Goddelike ingryping. Laat God ons toevlug wees.

VRYDAG 12 MEI – Vervolging in Turkye

Christene in Turkye ervaar groot druk van toenemende godsdienstige nasionalisme. Die regering teiken alle Christene en selfs buitelandse gelowiges. Bid dat die Turkse regering sal erken dat Christene ‘n waardevolle deel van die bevolking verteenwoordig.

SATERDAG 13 MEI – Christenskap in Skole

Baie skole wêreldwyd verbied Christenskap. Bid dat Christen onderwysers en kinders in ons land, hul geloof sal uitleef, nie skaam sal wees vir die Evangelie van Christus nie.

Dat hul maats hierdeur die liefde van God in hulle sal sien en ook vir Jesus sal leer ken.

SONDAG 14 MEI – Moedersdag

‘Wat is ‘n huis sonder ‘n Moeder’ is ‘n ou gesegde, maar tog so waar. Kom ons dank God vir die moeders in ons lewens, vir hul sorg en liefde en voorbeeld. Bid dat die Here hulle sal seën en Sy liefde altyd oor hierdie besondere mense, die wag sal hou.

MAANDAG 15 MEI – ‘n Stukkende Wêreld

Vader, ons bid opnuut vir lande wat die afgelope tyd deur oorloë en rampe geteister is – Rusland, Oekraïne, Turkye, Sirië en vele lande in Afrika. Ons dank U vir almal wat betrokke was met hulpverlening en bid dat lydendes hul troos en krag by U sal vind.”

Pray often, for prayer is a shield to the soul, a sacrifice to God, and a scourge for Satan.” John Bunyan

DINSDAG 16 MEI – Ongereddes op aarde

Miljoene “Christene” in die wêreld het geen persoonlike verhouding met die Here Jesus nie. Bid vir predikers om mense op te roep tot bekering. Bid dat God vir ons land evangeliste sal gee wat die evangelie kragtig sal verkondig, asook lidmate wat getuig.

WOENSDAG 17 MEI – Inbrake en Kapings

Huis-inbrake en voertuigkapings vermeerder. Bid asseblief vir die Here se bewaring in tye van inbrake en kapings. Mag die Here Jesus ook in die harte van kwaaddoeners werk om tot inkeer te kom en om van hulle planne af te sien.

DONDERDAG 18 MEI – Hemelvaart

Die Heer regeer, Hy’t opgevaar, Die dood kon Hom nie hou nie.

Sy almag sal ook ons bewaar – wie sal op Hom nie bou nie.

Kom sing dan nou ‘n loflied saam: Hy roep ons na Sy woning.

Kom prys die allergrootste Naam, ons Heer en Koning.” (Lied 429)

VRYDAG 19 MEI – Vervolgde vroue wêreldwyd

In Moslemlande word vroue geteiken om die Christengemeenskap te straf of skade te berokken. As Christene en vroue word hul as minderwaardig geag. Bid dat hulle as opvoeders van die volgende geslag hul waarde in God sal besef en Sy beskerming en seën sal ervaar.

SATERDAG 20 MEI – Voorbereiding vir Pinkster

Pinksterdienste begin more. Kom ons loof en dank God as Heilige Gees. Die Bybel sê in I Kor 12:3b: ‘niemand kan sê “Jesus is die Here” nie behalwe deur die Heilige Gees’. So weet ons dat die Heilige Gees in ons woon en ons Leidsman is. Bid dat ons elkeen dit opnuut sal beleef hierdie Pinkster.

SONDAG 21 MEI – Pinkster

O Heil’ge Gees,o God in ons, ons wil u krag besing:

Die krag wat Jesus op laat staan en lewe in ons bring.

Maak ons oorwinnaars in die stryd wat ons ook nou moet stry.

O Gees van God, getuig in ons, dat ons u kinders bly.” (Lied 439)

MAANDAG 22 MEI – God Regeer

Ons oë is op U gerig, ons prys U wat die hele wêreld in die holte van U hand vashou. Wil U ons Regering aanraak met U vuur, bring hulle asb tot die besef van hul verlorenheid sonder U. Ons bid dat U hul asb sal bevry van magshonger en korrupsie”.

DINSDAG 23 MEI – Bewaring van ons jeug

Bid vir ouers, om hulle doopbelofte na te kom en tyd aan hul kinders te bestee. Bid vir onderwysers, sportafrigters, kategete en almal wat met die jeug werk, dat hul leiding positief en volgens God se Woord sal wees. Vir getrouheid en standvastigheid by die jeug en dat hulle mekaar geestelik sal versterk en saam Jesus se naam sal eer.

WOENSDAG 24 MEI – Die aarde behoort aan die Here

Weeklaag by die Here oor baie mense se ongeërgde houding teenoor die verval van ons natuurlike omgewing. Bid vir nuwe liefde en omgee vir God se skepping, vir insig, verantwoordelikheid en sorg vir die aarde waarop ons deur God se genade leef.

DONDERDAG 25 MEI – Heidense Gewoontes

Bid vir die mense wat betrokke is by die beoefening van toordery, voorvaderaanbidding en okkultiese rituele in landelike gebiede, wat baie arm en niksvermoedende mense lok. Vra die Here Jesus om Homself aan hulle te openbaar en dat hulle Hom sal leer ken en dien.

VRYDAG 26 MEI – Eritrea

Vandag vra ons gebede vir Eritrea, een van die gevaarlikste lande vir Christene om in te woon. ‘n Gelowige daar getuig dat Hy na Christus kyk en weet Hy het erger gely en vervolgers kan nie Hom of die Waarheid van hom wegneem nie.

SATERDAG 27 MEI – Mense in ons diens

Ons bid vandag vir ons huis- en tuinwerkers se welstand. Ons is dankbaar vir hulle getrouheid en bid ook vir hulle afhanklikes en behoeftes. Mag ons optrede teenoor hulle ‘n lewende getuienis wees en Jesus se liefde weerspieël.

SONDAG 28 MEI – Geopende Deure

Tans word meer Christene vir hul geloof dood gemaak as voorheen. Christene word ook vervolg en gemartel. Bid vir die werk van Geopende Deure, sterk hulle hande waar hulle hulp te verleen. Mag ons wat so bevoorreg is, ook mildelik bydra vir hulle werk.

MAANDAG 29 MEI – Die Evangelie aan seemanne

Bid vir hierdie bediening wat in ons land se hawens plaasvind. Dank die Here vir elke Bybel wat aan ‘n soekende siel gegee word en vir elke daad van liefde wat bewys word. Vra vir wysheid en die Gees se leiding wanneer bote besoek word, dat toegang verleen sal word aan die geestelike werkers en dat elke kontak vrugbaar sal wees.

DINSDAG 30 ME I – Werkloosheid

Suid-Afrika se werkloosheidskoers is van die hoogste in die wêreld. Bid asseblief vir almal wat werkloos is en na werk soek, maar nie ‘n werkgeleentheid kry nie. Bid vir ekonomiese groei en entrepreneurs wat met kreatiewe maniere nuwe werksgeleenthede kan skep.Ons Hemelse Vader kan toestande verander.

WOENSDAG 31 ME I – Nog ‘n maand

Here baie dankie vir nog ‘n maand van U liefde en genade wat oor ons wag gehou het. Met ons gebede wil die gemeente, soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het, ook ons amptenare en mede-gelowiges se arms sterk vir hul lewens voor U aangesig.”

Wêreldbiddag vir Vroue 3 Maart 2023

Wêreldbiddag vir vroue 3 Maart 2023

Die wêreldbiddag vir Voue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christinvroue, – mans en -kinders uit verskillende nasies wat elke eerste Vrydag in Maart saambid. Die Wêreldbiddag bring mense uit verskillende rasse, kulture en kerke byeen, om saam voor God te verenig in gemeenskap met Hom en groter begrip vir mekaar.

Hierdie jaar was die Wêreldbiddag, in ons omgewing, by die VGK Groot-Brakrivier gehou. Die tema vir hierdie jaar was:

Lees meer “Wêreldbiddag vir Vroue 3 Maart 2023”