Sondag, 1 Desember – Kinders in verwaarlosing
Talle huishoudings in behoeftige areas word deur kinders so jonk as 9 jaar daagliks alleen gelaat. Bid vir daardie kinders en vra dat meer kinderhuise beskikbaar sal kom om ook aan ouerlose kinders sorg te bied. Bid dat mense mildelik sal bydra tot die kindersorg.
Maandag, 2 Desember – Eerste Advent week
Die 1ste kers van hoop word aangesteek om saam met Christene oor die wêreld ons harte en denke voor te berei vir die koms van God se Seun – Jesus Christus, ons Verlosser. Bid dus die week elke dag vir die Hoop op ons Verlosser.
Dinsdag, 3 Desember – Jesaja 9 : 5 – Wonderbare Raadsman
Bid vandag en juig dat Jesus gekom het as ons Raadsman en staan stil en bedank Hom dat Hy ons lei in ons vrae.
Woensdag, 4 Desember – VGK Greenhaven en Wolwedans
Bid dat die mooi verhouding met die VGK sal uitbou in onderlinge vertroue en samewerking. Dank vir wonderlike groei in die sop-projek waarin die VGK Greenhaven en Wolwedans-inwoners wat nie lede van VGK is nie, almal voordeel trek. Bid dat die liefde vir Jesus die saambindende faktor sal wees.
Donderdag, 5 Desember – Sending en Getuienis
“Here, gee asseblief aan ons gemeente ‘n sendingsvisie. Ons bid vir elke sendeling, ook vir die werk van ons Getuienis-aksie. Ons pleit ook dat U elke kind van U se oë en harte sal oopmaak, sodat ons elke getuienis- geleentheid sal aangryp.”
Vrydag, 6 Desember – Werkloses en Armes
Ons stap só maklik verby! Kom ons bid vir elke werklose: dat werk op een of ander manier geskep sal word. Kom ons kyk daardie bedelaar op straat in sy/haar oë en groet vriendelik! Dit gee nie geld nie, maar tog ‘n gevoel van menswaardigheid.
Saterdag, 7 Desember – Voorbereiding vir Woordverkondiging
Bid vandag spesifiek vir die predikante wat DV môre die Woord vanaf die kansels sal verkondig: dat elkeen deur die Heilige Gees vervul sal wees en dat elke hoorder ook ‘n dader sal word.
Sondag, 8 Desember – BADISA
Badisa.org.za – Gaan loer gerus wat hulle alles doen en lees die stories op die web. Gee van jou gawes vandag vir hierdie saak en bid dat dit almal se harte sal aanraak om betrokke te raak.
Maandag, 9 Desember – Tweede Advent week
Die tweede kers wat aangesteek word is vir Vrede want Jesus het in Joh. 14:27 gesê dat ons nie ontsteld moet word nie omdat Hy Sy Vrede vir ons gee. Dink in die week aan die Vrede wat hy vir ons gee om nie ontsteld en bang te wees nie.
Dinsdag, 10 Desember – Jesaja 9:5 – Magtige God
God is Magtig en so ook Jesus as God. Bid hierdie week dat die mense die magtigheid van God sal respekteer en dank God dat Hy met ons bemoeienis maak al is ons klein.
Woensdag, 11 Desember – Kankerlyers
Vandag bid ons vir almal wat aan een of ander vorm van kanker ly. Bid vir krag om vas te staan in geloof en nie moedeloos te word nie; vir naasbestaandes wat bemoedig en hulle wat mediese hulp verleen.
Donderdag, 12 Desember – Jeugbediening
Die kerk se taak ten opsigte van die Jeug kan nie oorbeklemtoon word nie. Bid dat die Gees ons Jeugbediening sal lei om vars en nuut te dink om die Jeug se verbeelding aan te gryp. Bid ook vir die Jeug en waar skole nou sluit vir die vakansie.
Vrydag, 13 Desember – Verkeerspersoneel
Die paaie is die tyd van die jaar baie besig en ongelukke kom baie voor. Bid vir die verkeerspersoneel wat toesien dat wet en orde ook op die paaie gehoorsaam uitgevoer word.
Saterdag, 14 Desember – Owerhede
Wanneer ons na die Nuus-uitsending kyk of koerant lees, voel dit soms of ons leiers nie die wil van God soek nie. Kom ons bid ernstig dat ons leiers die Here sal leer ken en dat God ook in ons parlement verheerlik sal word.
Sondag, 15 Desember – Paarl skool
Hierdie skool vir serebraal gestremdes is al in wording vanaf 1970. Bid vandag vir hierdie kinders en onderwysers asook die personeel wat die boeke moet laat klop. Gee mildelik wat jou hart jou wys.
Maandag, 16 Desember – Derde Advent week
Die derde kers van vreugde word aangesteek en wil ons vir Christus loof vir sy koms en wil ons ook ons vreugde aan die wêreld verkondig met ons woorde en ons dade.
Dinsdag, 17 Desember – Jesaja 9:5 – Ewige Vader
God en Jesus is ons Ewige Vader en bid ons vandag om eer te betoon aan Hom wat ons liefhet en vir ons sorg.
Woensdag, 18 Desember – Gesondheid van sendelinge
“Here, ons bid dat U ons sendelinge sal bystaan en ons bid in die besonder vir Michelle van die Oekraine se dogter wat ernstig siek is. Raak hulle aan en stuur U genesende krag en omarm die families.
Donderdag, 19 Desember – Omgeebediening
Dank die Here vir ‘n gemeentelede wat dien in die Omgeebediening. Bid dat hulle elke behoefte waar ons gemeente moet help, sal raaksien en met deernis sal aandag gee. Elke een van u is welkom om kos/klere/geld by te dra. U kan verseker wees dat dit reg bestee word.
Vrydag, 20 Desember – Boere
Plaasboere gaan gebuk onder groot druk: aanvalle, droogtes,grondont- eiening, arbeidsonrus, ens. Bid dat die Here hulle op bonatuurlike maniere sal vertroos en verligting sal bring in die groot nood.
Saterdag, 21 Desember – Vertaling van die Bybel
Bid vir diekundiges wat werk aan die vertalings van die Bybel en bid dat die egtheid van die Skrif onaangetas sal bly – 2 Tim 3:16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer …
Sondag, 22 Desember – Gemeente Instandhoudingsfonds
Ons is trots op ons kerk en die kerkgronde en bid ons dat daar genoeg fondse sal ontvang word om die geboue in ‘n goeie toestand te hou.
Maandag, 23 Desember – Vierde Adventweek
Die vierde kers is dié van liefde. Jesus het vir ons gewys wat liefde beteken. Kersfees is ‘n tyd van dink aan ander en deel met ander. Dit is ‘n tyd van liefde net soos God ons liefgehad het toe Hy sy kosbaarste besitting vir ons gegee het. Soos God liefde is, laat ons ook liefde wees.
Dinsdag, 24 Desember – Jesaja 9:5 – Vredevors
Wat beteken Vredevors vir jou? Bid vandag dat ons Jesus se vrede sal ervaar in ons eie lewe sowel as in die land.
Woensdag, 25 Desember – Kersfees
Vandag vier ons die koms van Jesus om vir ons sondes te sterf. Bid dat die materialisme rondom Kersfees sal taan en mense die ware betekenis van kersfees sal insien en vier.
Donderdag, 26 Desember – Familie/Welwillendheid
Raak stil en vra waar jy van jou goedheid en guns kan gaan deel en sit dan daad by die woord.
Vrydag, 27 Desember – Leiers met integriteit
Vra dat die Here leiers in ons land sal oprig wat nie voor Mammon sal buig, omkoopgeld sal aanvaar of op onwettige maniere rykdom sal bekom nie. Bid vir ‘n kreatiewe gees in mense om ‘n welvarende, hardwerkende samelewing te bou (1 Joh 3:17).
Saterdag, 28 Desember – Smokkelary op lughawens
Bid dat lughawepersoneel, veral sekuriteitsbeamptes, met integriteit geseën sal word sodat onwettige bedrywighede oopgekrap en stopgesit sal word. Dink veral aan die smokkel van dwelms.
Sondag, 29 Desember – Die Woord
Wat ‘n voorreg om sonder vervolging na ons kerk te mag gaan!
“Dankie Here, dat ons die Bybel in ons eie taal kan lees. Ons bid vir die vertaling en verspreiding van die Bybel sodat baie ongelowiges tot geloof kan kom. Maak ons nog liewer vir U en vir U Woord.”
Maandag, 30 Desember – Loteryverslawing
Bid vir arm mense wat broodnodige kosgeld op Lotto-kaartjies uitgee met die hoop om skielik ryk te word.
Dinsdag, 31 Desember – Die Kerk as sout en lig
Bid dat God sy Kerk sal help om instrumenteel te wees in die verwydering van haat, bitterheid en wraak in mense se harte sodat Liefde sal seëvier.


