Lydenstyd “Visio Divina” Dag 38

VISIO DIVINA #38

Deel 1

Nelly Bube – ‘n kunstenaar van Kazakhstan – beeld met hierdie werk die gelykenis van “Die weduwee en die regter” (Luk 18:1-9) uit. Hier is ‘n vrou op haar knieë voor ‘n toe deur. Pleitend. Of is die deur dalk oop en wys die ryk man (met sy geldsak oor sy skouer en luukse bo-kleed) vir haar – letterlik – die deur? Tyd vir haar om op te staan en uit te gaan? Genoeg is genoeg!

Aan die regterkant is kleiner uitbeeldinge van ‘n man – dit lyk amper soos ‘n godsdienstige man; biddend sit hy voor ‘n boekrol; belese; gesagvol. Aan die linkerkant is hy tuis: kos op die tafel; ‘n bed om in te slaap; ‘n familieman. Vergete is die vrou wat voor hom gepleit het.

Wat “hoor” jy soos jy met jou geestesoog na hierdie skildery kyk?

Deel 2

TEKSVERS:

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?” (Luk 18:11).

Iets pas nie in die gelykenis waar Jesus leer “dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word” (v1). Wie is die regter “wat geen eerbied vir God of agting vir ‘n mens gehad het nie” (v2)? Gewoonlik interpreteer ons die gelykenis asof dit ons is wat, soos die vrou, moet aanhou pleit by God. “Een of ander tyd” sal God (soos die regter) wel van plan verander? Maar juis gister (VD #36) het ons God dan “anders” leer ken!

In Hebreeus beteken weduwee letterlik “die een wie se stem stil gemaak is.” Daar is niemand meer oor om namens haar te kan praat nie. Niemand gee ag nie! In die Ou Testament het die profete die onderdrukte ballingvolk, Israel, gereeld met ‘n vrou vergelyk; en haar dan getroos (bv Jes 54:1-8). Steeds is hulle die onderdruktes van Rome! So lê die las van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes ook op hulle skouers (Matt 11:28-30). (Nou maak die figure in die regterkant van die skildery sin!) Sekeres in die gemeenskap leef gemaklike lewens (soos dié figure aan die linkerkant).

En steeds pleit die onderdruktes dat die Messias moet kom. Die koninkryk van Rome se regsmag moet gebreek word. Hoe nader Jesus aan Jerusalem kom, hoe meer weet Hy, sy Stem gaan stilgemaak word. Almal gaan uitroep, “Kruisig Hom!”

Dalk is Jesus die laaste pleitende: “Vader, vergeef hulle” bid hy. En blaas sy asem uit. Stil – soos ‘n weduwee.

Maar God hóór! Die Stem is nie stil gemaak nie! Die Woord lewe!

GEBED:

Onse Vader, ek wil een van die pleitendes wees wat by U wil intree vir ander, wetend daar word vir my ook by U ingetree.

———

Op Dag 38 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die pragtige verwerking van “Is He Worthy” soos uitgevoer deur Michael Sanchez, twee kore en orkes. Besonderse musiek!

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Dankfees / Bazaar 22 April 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier

Gemeentefees Oktober 2021

Kom geniet ‘n koppie koffie of tee en iets lekkers te ete en kuier saam. Lyste met die oog op die gemeente dankfees sirkuleer tans in die gemeente, maar geldelike bydraes is altyd welkom by die kerkkantoor of per direkte inbetaling in die bankrekening.

Pannekoektafel:
Ons benodig helpers vir bak en oprol van die pannekoek, asook donasies (suiker, meel, olie en kaneel), wat by die kerkkantoor kan afgegee word. Indien u kan help skakel asb. Piet Snyman – 082 297 3476.

Gebak:

Ons benodig produkte vir die koektafel. Enige gebakte items is welkom. Liana – 084 764 6155.

 Enige bestanddele is baie welkom. Dui dit asb op u lys aan of kontak die betrokke persone. Die bestanddele moet asb. ‘n week voor die dankfees by die betrokke sameroeper of by die kerkkantoor ingehandig word.

SAMEROEPERS

1. KERRIE-EN-RYS:
250 ml @ R15 & 500 ml @ R30.
Barbara Gericke – 082 411 1222 / Corita du Preez – 084 265 9487.

Kontak ons indien u wil help deur maalvleis te skenk.

2. JAFELS @ R20 ELK: Daar sal jaffels beskikbaar wees. Om teleurstelling te voorkom en ons ook te help met beplanning sal ons dit waardeer indien u asseblief u bestellings per WhatsApp of sms by Annatjie van Rensburg – 082 871 0927 of

Corrie Pieters – 082 327 9527 plaas.

3. ROOSTERKOEKE: Heel @ R15 elk / Konfyt @ R20 elk / Konfyt en Kaas @ R25 elk / Hoender Mayo @ R25 elk. Amelia – 072 975 0917.

4. PANNEKOEK: Piet Snyman – 082 297 3476.

5. SOSATIES: Sosaties @ R16 elk. Asseblief geen bestellings!
Eddie Drost – 082 920 1829.

6. GEBAK EN TEETUIN

Liana Boshoff – 084 764 6155 / Michelle Roon – 064 674 9756 / Marie Snyman – 082 229 8316.

7. GROENTE: Robert Crause – 071 243 9181.

8. WIT OLIFANT: Bring asb. enige goedere na die kantoor en ons sal dit daar sorteer. Ek sal goedere enige tyd by die huise gaan oplaai indien moeilik om self in te bring. Annalene de Swardt – 082 495 5011.

9. KINDERTAFEL: Pauline Richards – 079 557 8591.

10. POEDING 350ml@ R15 ELK: Kontak Dirk Visser – 082 416 3281 of Dorette Visser – 072 400 1991 indien u ‘n poeding wil skenk of graag wil help. Dui net aan of dit ‘n warm of koue poeding is.

11. BOEKE

Enige ou boeke sal waardeer word. Bring dit asseblief solank na die kerk of kontak Ina Blom – 083 651 4517.

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 37

VISIO DIVINA #37

Deel 1

In Istanbul (Turkeye) staan die Kariye Moskee. Sedert die 1500’s word dit as ‘n moskee gebruik, maar die oorspronklike gebou dateer uit die 400 n.C, met die naam “Die Kerkie in die Veld.” (In Engels: “The Chora Church”.) Een van die mosaïek-ikone wat behoue gebly het is die vermeerdering van die 5 broodjies en twee vissies.

Volgens die Johannesevangelie was die paasfees van die Jode naby (Joh 6:8). Twee dissipels word by name genoem: Filippus en Andreas (v7,8). Om hul voete (nie sigbaar in die foto nie) staan die mandjies, tot oorlopens vol van die garsbroodjies wat oorgebly het. Deel Jesus dalk in hierdie uitbeelding nou ook brood aan Filippus en Andreas uit? Hulle was sekerlik ook honger nadat 5000+ mense gevoed is. En Jesus? Het iemand vir hom iets te ete aangebied? Ek wonder sommer.

Deel 2

TEKSVERS:

“Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee?” (Luk 10:11-12).

Dit was die mosaïek-ikoon waar Jesus ook vir Filippus en Andreas brood aangee wat my aan hierdie gelykenis van Jesus (in Luk 10:3-12) laat dink. Die dissipels het vir Jesus gevra om hulle te leer hoe (en wat) om te bid. Nadat Jesus hulle die “Onse Vader” leer, begin hy toe met hierdie woorde: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie” (v5,5).

Dit is seker gepas om van geestelike blindheid (#36) na geestelike honger te gaan. Want, is dit nie mense met ‘n geestelike hongerte wat smag na God nie? Is dit nie geestelike honger mense wat bid vir die versadiging wat net God kan gee nie? Is dit nie die rede waarom ons ook in Lydenstyd behoort te vas nie – sodat dit ons fisieke honger ons kan herinner waarna ons eintlike behoefte is nie?

Eers leer Jesus die dissipels om te bid vir “vandag se brood” – die gewone, alledaagse waarvan ons moet leef. En direk daarna, asof in een asem, gaan Jesus voort en bid dan vir die vergifnis van ons sondes.

Sonder die een gaan jy dood. Sonder die ander een is jy reeds dood. En God is begaan oor beide! God wil die LEWE in sy voluit aan jou skenk.

GEBED:

Onse Vader, maak my smagting na U versadiging net meer en meer.


Hunger”- David & Nicole Binion

Op Dag 37 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “Hunger” soos uitgevoer deur David & Nicole Binion. Die lirieke verskyn in die video.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 36

VISIO DIVINA #36

Deel 1

Sommige van Jesus se gelykenisse is so deel van die volksmond dat daar idiome bestaan wat vele mense dalk nie eers besef hul oorsprong kom direk uit Jesus se mond nie, soos byvoorbeeld, ‘n blinde kan nie ‘n blinde lei nie.

In 1568 het die Nederlandse kunstenaar, Pieter Bruegel, ‘n skildery gemaak, genaamd “Die gelykenis van die blinde.” Dit was ‘n tyd in Europe toe protestantse bloed gevloei het. In die agtergrond staan die kerkgebou met sy hemelwaartse toring hoog; op die voorgrond lei ses gesiggestremdes mekaar, selfs ‘n kruisie om die hals; tog, duidelik, sáám, oppad na ‘n afgrond.

Maak ons regtig erns met mekaar se lewens en hoe ons mekaar – met woorde en met gedrag – begelei?

Deel 2

TEKSVERS:

“Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand,” (Jer 17:9-10).

Jesus se oordeel was baie skerp teenoor die Fariseërs wat ‘n stel reëls vir hulself gehad het, maar nie self daarvolgens geleef het nie. “Witgepleisterde grafte” het Jesus hulle genoem. Geestelike blindes. Buitekant was hulle diep gelowige maar verdor van binne. Hulle kon die regte dinge sê, selfs uit die Wet van Moses aanhaal, maar van die God van Moses het hulle niks verstaan nie.

Geestelike blindheid is ‘n gevaarlike ding. Jy maak jouself wys dat jy reg is en glo dan jou eie leuen. Dit is oral om ons – selfs in die kerk! Dit is so volop rondom ons dat ons nie daaraan dink dat dit op onsself ook van toepassing kan wees nie.

Geestelike blindheid doen skade – nie net aan jouself nie maar aan almal om jou. Is wat ons sien in die wêreld gebeur nie juis die gevolg van geestelike blindheid (en geestelike hoogmoed) nie!

Ons beweeg al nader aan die Heilige Week. Moet ons nie ook eerlik worstel met die bedrieglikheid wat dalk in ons eie hart en gemoedere gekoester word nie?

GEBED:

Ek pleit vir ‘n eerlike hart en ‘n eerlike verstand, my Here. Ek pleit dat U my van enige geestelike blindheid sal genees.


Jesse Manibusan – “Open my eyes, Lord.”

Op Dag 36 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n lied, geskryf deur Jesse Manibusan, getiteld, “Open my eyes, Lord.”

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Vriende van Gideon’s nuusbrief – Herfs 2023

Welkom by die eerste uitgawe vir 2023! Hierdie is ʼn besondere uitgawe
en ons gebed is dat ons lesers dit interessant, motiverend en uitdagend
sal vind. Mag 2023 die jaar wees waar ons almal opnuut ons roeping
besef en uitleef.
Hierdie uitgawe is propvol getuienisse wat ons almal sal motiveer om
meer passievol te werk in Sy akker.
Die derde deel van Pastoor Werner Strauss se aanbieding by die Nasionale
Konvensie 2022 is baie insiggewend en roep ons onder andere om meer
aktief te wees by ons medebroers en -susters. Ware dissipels van Jesus
gee om vir mekaar want ons gee om vir die verlorenes daar buite.
Groete in Christus,
Die redaksionele span
facebook.com/
GideonsinternationalSouthAfrica
The Gideons Intl in SA
The Gideons International in
South Africa
@GideonsSA

Lees meer “Vriende van Gideon’s nuusbrief – Herfs 2023”

Madagaskar: Nuusbrief 19 Maart 2023

Dries and I celebrated our 25 years wedding anniversary during the week. But for one of those years, all had been spent in Madagascar. We were basically newly weds when we set out for the mission field. Some might think this to have been a double stress ; getting used to married life as well as settling into a new country. I think that in the end, married life did not nearly present so many challenges as coping with full time missionary life.

Lees meer “Madagaskar: Nuusbrief 19 Maart 2023”

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 35

VISIO DIVINA #35

Deel 1

Teen die muur van ‘n kerk, die St Clement in Tahull, Spanje, is ‘n ikoon uit 1123 nC. Die hand binne ‘n sirkel word die “Dexteria Dei” (Latyn vir die “Regterhand van God”) genoem. Soos Psalm 118:16 sê, “Die regterhand van die HERE is hoog gelig; die regterhand van die HERE doen kragtige dade.”

Dit is nie ‘n vuis nie; nie ‘n afwysende, veroordelende hand nie. Dit is ‘n uitnodigende hand. “Kom na My toe”, nooi die hand. ‘n Eenvoudige ikoon, maar met soveel betekenis! Die hand kom vanuit ‘n “Groot Wit Niks” – ‘n onbekend, misterieuse ruimte. Tog is wit die kleur van reinheid en lig. Om die wit sirkel is ‘n band van koninklike purper; asof dit ons teen die helder lig moet beskerm. Dan volg die blou sirkel – die kleur van die hemel; gevolg deur ‘n sirkel van rooi: die kleur van bloed. Die kleur van liefde.

Deel 2

TEKSVERS:

“Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” (Hand 10:29-30).

Ons Lydensreis raak al hoe korter; tree vir tree kom ons nader aan Palmsondag; die begin van die Heilige Week; die week wat uitloop op die “dag van chaos” en die “dag sonder woorde.”

Deesdae voel dit vir my asof ons in die “Tyd van Chaos” leef. (Was dit al ooit anders?) Terwyl ek hierdie dagstuk skryf, is die nuusblaaie vol van politici se dreigemente om die land tot stilstand te bring. Gaan daar geweld uitbreek, of sal alles vreedsaam verloop? As die chaos nie hierdie keer uitbreek nie; wanneer gaan dit? Is dit nie onvermydelik gegewe die chaos van armoede en magsmisbruik nie? Soos wat die chaos daardie week in Jerusalem ook moes uitbreek nie. Jesus het dit geweet – hy het drie maal sy dood met die dissipels bespreek. Maar sou hulle ooit die impak van die chaos kon begryp?

Waaraan die “Dexteria Dei”-ikoon ons herinner is dat – midde hierdie chaos (wat die wêreld nog nooit ontsien het nie) – word ‘n hand uitgesteek. ‘n Hand wat jou intrek na ‘n plek van rus. ‘n Hand wat jou moeë en (soms) beangsde siel aanraak. ‘n Hand wat troos en versterk. Dit is dieselfde hand tot wie Jesus gesê het, “Vader, in U hande gee ek My gees.” (Luk 23:46). Ons mag dit ook doen.

GEBED:

Maak my ‘n getroue medewerker, my Here, tot U koninkryk kom.


John Rutter n.a.v. Numeri 6:22-24

Op Dag 35 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n verwerking van die Britse komponis, John Rutter n.a.v. Numeri 6:22-24. Wat my veral bygeval het, is die kunswerk op die video – so gepas as ‘n hand wat na ons uitgesteek word.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 34

VISIO DIVINA #34

Deel 1

Hierdie skildery van Jorge Cocco (sien ook #32) en die ikoon van Jesus, die Pantokrator (#31) loop hand-aan-hand. Jesus het herhááldelik sy volgelinge daarop voorberei dat Hy gaan sterf, maar hulle moes nie ontsteld wees nie – vir ‘n kort rukkie sal Hy weggaan, en dan sal Hy weer terugkeer, “sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh 14:5). Die Pantokrator kom beslis terug!

Maar wanneer kom U? Die dissipels wou dit weet; óns ook. Elke nou en dan maak iemand ‘n voorspelling, asof hulle “inside info” het. Tog sê Jesus, “(niemand) weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie” (Matt 24:36; 25:13). Dit is waaroor hierdie gelykenis (en die skildery van Jorge Cocco) gaan: Hou julself gereed – want, sowaar, daar gaan ‘n dag kom waar ons uitoep, “Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!” (Matt 25:6).

Is jou lampie vol olie?

Deel 2

TEKSVERS:

“Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor … om vlekkeloos en onberispelik voor God, en in vrede met Hom, te lewe” (2 Pet 3:12-14).

Dit is vanselfsprekend dat iemand wat die vraag hoor (“Is jou lampie vol olie?”) hulself sou afvra, maar hoe weet ek of my lamp vol olie is? Wie sê ek is nie dalk een van die onverstandige meisies oor wie die gelykenis van Jesus vertel nie? Is dit nie ‘n vraag waaroor ons almal wonder nie?

Die wonderlike is dat Jesus direk na die gelykenis van die 10 jong meisies wat wag op die koms van die Bruidegom (Matt 25:1-13); dadelik oorgaan en vertel wat God se verwagtinge is (Matt 25:14-46). Nes die dissipels is ons ook die tussentydse mense, en van súlke mense verwag God net één ding: soos Jesus die gebrokenes om Hom versorg het, wees julle nou, in die tussentyd, die versorgers. Wees met ander woorde wie Jesus was. Soek die plekke op wat Jesus sou opsoek. Doen die dinge wat Jesus sou doen. Of eenvoudig gestel: volg die voorbeeld wat Hy vir julle nagelaat het. Net dit. Niks meer nie. Niks minder nie.

Daarom het Jesus – heel aan die begin van sy prediking –vertel hoe leef mense wat die koninkryk van God dien: die barmhartiges; die vredemakers; die wat opstaan vir reg en regverdigheid; die wat van God afhanklik is (Matt 5:3-12). Dit is die geseëndes. Hulle is gevul met die Heilige Gees. Hulle lampe is altyd vol. Dit is hulle wat bid, “laat U koninkryk kom.”

GEBED:

Maak my ‘n getroue medewerker, my Here, tot U koninkryk kom.


Russiese “Otche Nash” (Onse Vader) – uitgevoer deur die kwintet , “Olga Vocal Ensemble”.

Op Dag 34 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons (net soos op Dag 32 met Jorge Cocco se kunswerk) na die Onse Vader. Maar, in plaas van ‘n Afrikaanse weergawe, luister ons na ‘n Russiese “Otche Nash”; uitgevoer deur die kwintet , “Olga Vocal Ensemble”.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” 5de Sondag in Lydenstyd

VISIO DIVINA #33

Vyfde Sondag in Lydenstyd

Deel 1

Omdat ek vandag meer as een foto wil plaas, is daar drie stukke wat ek aanstuur:

Dit is juis die spieëlbeeld-skildery van Jorge Cocco (#32) wat my aan hierdie spieëlbeeld-ikoon laat dink. Dit word “Jesus Pantokrator” genoem: Jesus, die Heerser oor alles. Die ikoon hang in ‘n klooster in Sinaï en dateer uit 6.n.C. Danksy ‘n argeologiereis in 1938 het dit bekendheid in die Weste verwerf. Vandag sien ‘n mens in vele katedrale – bo teen die plafon – soortgelyke ikone.

Dit is die verstommendste kunswerk – sou jy die ikoon middeldeur sny is dit twee verskillende gesigte, een van ‘n jonger man, en een van ‘n ouer man. Dit beeld die twee nature van Jesus uit: gelyktydig God en gelyktydig mens.

Voordat jy voortgaan, kyk of jy die verskille kan sien.

Deel 2

Hier kan jy sien, die linkerkantste helfte (met die tipiese seën-teken van die handposisie) is van ‘n jonger man. Sy oë kyk tot diep in jou siel. As jy jou hand so hou dat jy net die oë sien, is dit ‘n deernisvolle, direkte kyk: Jesus sien jou raak. Hierdie kant beeld Jesus, die mens, uit – – gebore as verlosser ook van jóú.

Die regterkantste gesig van ‘n ouer man met ‘n boek in sy hand het opgetrekte wenkbroue Wat sou dit kommunikeer? Selfs die oogposisie kyk wyer. Hierdie kant beeld Jesus uit as die regter wat sal kom om te oordeel. Die Een voor wie almal sal buig.

Deel 3

TEKSVERS:

“Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms” (2 Tim 4:8).

Die woord “Pantokrator” word gewoonlik in die Bybel net met God vereenselwig: God, die Almagtige. Tog bring die profeet Jesaja reeds die boodskap: die Seun wat gebore sal word,“…sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. … Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd” (Jes 9:5-6).

Oor Homself het Jesus so getuig: “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.  Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei … Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,.. (Matt 25:31-34).

Intussen oefen ons om in die koninkryk van God te leef. Daagliks. Ons oefen deur die geringstes te versorg. Ons oefen om barmhartig en genadig te wees. Ons oefen om lief te hê en ons medemens te dien (Matt 25:35-40).

Vandag kan ons uitroep: Die Pantokrator kom!

GEBED:

Almagtige God, Heerser oor die heelal – dankie dat ek U Naam ken; en U my naam ken.

­­­­­­­­­­­­———-

“Oorwinningslied” – Piet Smit saam met die Drakensbergse Seunskoor.

Op Dag 33 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die “Oorwinningslied” soos opgeneem deur Piet Smit saam met die Drakensbergse Seunskoor.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Stof tot nadenke: Kinders van die Vader

“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg. Sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”
Matt. 5: 44-45

In die Lydenstyd weet ons dat God se offer in Jesus Christus ons vrymaak van die sonde. Die vraag wat is my reaksie op wat God vir my gedoen het. Die bergpredikasie in Matt. 5 het ‘n baie lang lys van toepaslike dinge waarmee ons ons aanvaarding van Christus se offer kan uitleef. Dit is nie so maklik om Christus te volg in ‘n sosiale wêreld, waar mamon aan die orde van die dag is nie. Waar mense oënskynlik floreer terwyl hulle God en sy voorskrifte negeer.

Lees meer “Stof tot nadenke: Kinders van die Vader”

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 32

VISIO DIVINA #32

Deel 1

Jorge Cocco, die kunstenaar uit Argentinië, het ‘n hele reeks kunswerke oor Jesus se gelykenisse geskilder, o.a. die onbarmhartige skuldeiser. Daar is net drie mense in hierdie kunswerk; die middelste figuur is ‘n duplikaat van mekaar. Eers is hy knielend voor die heerser (in blou); en dan is hy weer die een wat ‘n trappie hoër sit as die een wat voor hom pleit.

Daagliks maak ons ook keuses of ons met genade wil optree, en of ons iemand van genade gaan weerhou. Ons maak almal daagliks die keuse of ons iemand gaan vergewe al dan nie. Soms vra dit dat jy jouself in die spieël van ‘n kunswerk soos hierdie sal raaksien om uit te pluis aan watter kant jy jouself bevind.

Deel 2

TEKSVERS:

“Moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie?” (Matt 18:33).

Jesus het al ‘n tweede keer sy dood aangekondig (Matt 17:22-23), maar hoe min het die dissipels regtig verstaan. (Hulle stry dan selfs oor wie die belangrikste in die koninkryk sal wees – 18:1). Hoe min het selfs Petrus verstaan as hy later vir Jesus vra: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe” (18:21). Die Wet van Moses het gesê, drie keer. Ek wonder of Petrus gedink het dat Jesus hom sal komplimenteer dat hy self antwoord, “sewe maal?” Is sewe dan nie die volmaakte getal nie; wat meer is nodig?

En dan verduidelik Jesus: Die koninkryk van die hemele kan vergelyk word met ‘n amptenaar wat sy koning miljoene rand skuld, en omdat hy dit nie kan terugbetaal nie, sê die koning die amptenaar en sy ganse gesin moet verkoop word om die skuld te betaal. So hartstogtelik pleit die man dat die koning se hart versag en hy al die skuld afskryf (v23-27). ‘n Mens sou verwag dat die amptenaar dan net so goedhartig teenoor ‘n kollega sou wees wat hom weer (‘n bietjie) geld skuld. Die doel van die gelykenis: Vergewe soos julle vergewe is.

Maar dit is met daardie gebeure die Vrydag by Kopbeenkoppie dat die dissipels eers die werklike betekenis van hierdie gelykenis sou begryp. Daar aan die kruis het Jesus uitgeroep: “Vader, vergeef hulle.” Vergewe hulle hul miljoeneaan skuld. Vergewe hulle álles. Vergewe hulle sewe-en-sewentig maal sewe keer.

Hoe kan ons dan wil boekhou van ander se kwaad?

GEBED:

Ons Vader in die hemel, vergeef my, soos ek hulle vergewe wat teen my sondig.


Rina Hugo: Onse Vader,

Op Dag 32 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Rna Hugo se weergawe van die Onse Vader,

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Afkondigings 26 Maart – 2 April 2023

Afkondigings

Vandag – Sondag 26 Maart 2023 :

• Baie welkom by die erediens en ’n spesiale verwelkoming aan dr. Fanus Bergh wat vanoggend se erediens lei.
• Ons skriflesing kom vanoggend uit Rom. 5: 12-21. Die tema van die prediking is : Soveel meer, soveel oorvloediger is Sy genade deur Sy lyding en sterwe.
• Sesde Lydensweek.
• Kategese.
• Spesiale Offer vir Gemeente Instandhoudingsfonds by die deure.
• Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom. 
Lees meer “Afkondigings 26 Maart – 2 April 2023”

VAKATURE: VOLTYDSE MEDELERAAR – VASTETERMYNKONTRAK

Vakature Voltydse Medeleraar

In afhanklikheid van die Here stel die kerkraad van NG Kerk Groot-Brakrivier die pos aan gelegitimeerdes met volle ampsbevoegdheid bekend.

Gemeenteprofiel:

Die gemeente is geleë in die pragtige tuinroete tussen George en Mosselbaai. Daar is ‘n laerskool in die dorp en talle ander uitstekende skole binne ‘n radius van 25km vanaf Groot-Brakrivier. Die dorp het baie ontwikkel en beleef groei op talle gebiede. Groot-Brakrivier is ook die tuiste van talle kunstenaars en alle nodige dienste is op die oewer van die Groot-Brakrivier te vind. Ons gemeente het baie afgetredenes, maar daar is ook talle jongmense in ons gemeente en gemeenskap en ons streef daarna om diensbaar te wees binne ons gemeenskap en wêreld. Ons is lief daarvoor om met sang, kuns en Woordbediening Sondae in die doelmatige kerkgebou as gemeenskap van gelowiges bymekaar te kom.

Ons wil graag van jou hoor as jy saam wil dink en droom oor die pad wat God met ons stap. Ons is in diens van Jesus Christus en dienend betrokke by mekaar en ‘n brose wêreld. Ons visie is: “Jesus vir ons, Jesus vir almal”.

Leraarsprofiel:

Die volgende profiel is ‘n riglyn vir voornemende aansoekers:

– Vereenselwig met die teologiese uitgangspunte van die NG Kerk en van NG Kerk Groot- Brakrivier.

– Verantwoordelik vir deelnemende eredienste asook spesifieke fokus op die gesinsbediening van die gemeente.

– Ontwikkeling van verhoudings met lidmate (oud en jonk), kerkvervreemdes en ander lede van die gemeenskap.

– Begin datum: 1 Augustus 2023 (onderhandelbaar).

Aansoekers kan hulleself vergewis van meer inligting op ons webblad by https://www.nggrootbrak.co.za

Vergoeding:

– Volgens sinodale riglyne met reistoelae, selfoontoelaag asook ‘n doelmatige pastorie/ behuisingstoelaag.

– Mediese fonds.

– Aansluiting tot die pensioenfonds en bydraes.

– Kontrak sal met die suksesvolle kandidaat onderhandel word.

Sluitingsdatum: 2 Mei om 09:00.

Aansoeke:

Indien jy belangstel en met jou gawes hier by ons wil kom dien, stuur ‘n CV en die nodige inligting nl. ‘n kort video waarin jy jou self bekendstel en hoekom jy aansoek doen vir die pos na die volgende eposadres: kassiere@nggrootbrak.co.za

Navrae kan gerig word aan:

Mnr. Willem du Preez: 082 823 5988 (voorsitter van kerkraad)

Mnr. Johan Smit: 084 500 4296 (onder-voorsitter van kerkraad)

Ds. Danie Goosen: 079 525 3624 (leraar)

Die kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

NUWE SEISOEN VIR Christelike Lektuur Fonds

Dit is seker ’n cliché om die stelling te maak dat ons in voortdurend veranderende tye leef. Dit is egter empiries waarneembaar dat die tydsgewrig waarin ons tans leef gekenmerk word deur snel opeenvolgende gebeurtenisse met omvangryke impak op gemeenskappe. Hierdie impak voel dikwels aardskuddend met ontwrigtende gevolge vir almal wat daardeur geraak word. Die werklikheid van globale interaktiwiteit en onderlinge verbondenheid het die effek van ’n web wat beweeg wanneer enige van die drade daarvan geraak word. Dit is waarvan ons by CLF ook die afgelope aantal jare bewus geword het met Covid, die oorlog in Oekraïne, plundering in KZN in 2022, jarelange oorloë in Sirië, aardbewings in Turkye en noem maar op.

By CLF is ons diep bewus daarvan dat dit presies die wêreld is waarbinne die Here hierdie
bediening vandag roep om van sy liefde en verlossing te getuig. Te midde van die kontekstuele ontwrigting en uitdagings rondom ons, is daar ’n gees van entoesiasme en roepingsbesef binne die CLF. Personeel, Beheerraadslede en ondersteuners openbaar ’n bewussyn dat God sy kerk en kinders roep om sy koninkryk te laat kom, ook deur die bediening van CLF.

Lees meer “NUWE SEISOEN VIR Christelike Lektuur Fonds”

Lydenstyd: “Visio Divina” -Dag 31

VISIO DIVINA #31

Deel 1

Die Russies-gebore, Alexey Pismenny, het ‘n ikoon in drie panele geskilder van verskillende vyeboom-tonele uit die evangelies. Hierdie paneel is ‘n verwysing na die gelykenis van die onvrugbare vyeboom (Luk 13:6-9). As jy na die ikoon as ‘n geheel kyk, sien jy die gewelddadigheid raak. Behalwe vir die byl wat gereed is in Petrus (langs Jesus) se hande; tuimel die toring van Siloam op mense neer (lees Luk 13:3). Aan die anderkant sit Pilatus op sy troon en kyk toe hoe ‘n laksman gereed staan met ‘n slagtersmes om iemand te onthoof (aldus Luk 13:1).

Duidelik hou die tonele verband met geweld. Maar Jesus hou sy een hand na bo; die simbool van shalom en seën. Sy ander hand wys na die ontkiemende groen blaartjies. Simbole van lewe. Asof Jesus wil sê, gee genade net nog eers ‘n kans.

Moet dit nie dalk ‘n ikoon vir ons tyd genoem word nie?

Deel 2

TEKSVERS:

“Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap” (Luk 13:8-9).

Kyk weer lank na die ikoon: moenie die graaf en die waterhouer miskyk nie! Simbole van ‘n tuinier se werk. Jesus vereenselwig hom baie duidelik as die tuinier in die gelykenis. Die een wat vir nog ‘n kans by die boer pleit. Duidelik is Jesus die een wat die “genadejaar” vir die vyeboom bewerk het.

Drie jaar reeds is Jesus met sy preekbediening besig en steeds wil die Jode hom nie as Messias aanvaar nie. (Simbolies: drie jaar lank is daar geen vrug in die vyeboom nie). Nog net een jaar, vra Hy. Wat Hom gegun word – alhoewel dit Hy is wat dan die byl se kap sal moet verduur.

Die sinnetjie, “Meneer, laat hom (die vyeboom) staan” kan vertaal word met, “vergewe hom.” Jesus se kruiswoorde, “Vader, vergewe hulle”, is ‘n pleit: “laat hulle staan … moenie hulle iets aandoen nie.” En dit is presies wat ons bid: Gee ons tog U genadejaar, Heilige God, sodat die Tuinier kan omspit en bemes, sodat ons weer kan vrug dra.

GEBED:

Dankie dat die Tuinier ook vir ons by U intree, Ons Vader.


Emmy Rose – “Tend” (“Be the gardener of my heart”)

Op Dag 31 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Emmy Rose wat “Tend” (“Be the gardener of my heart”) sing. Die lirieke verskyn in die video.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun