Lydenstyd “Visio Divina” Dag 38

VISIO DIVINA #38

Deel 1

Nelly Bube – ‘n kunstenaar van Kazakhstan – beeld met hierdie werk die gelykenis van “Die weduwee en die regter” (Luk 18:1-9) uit. Hier is ‘n vrou op haar knieë voor ‘n toe deur. Pleitend. Of is die deur dalk oop en wys die ryk man (met sy geldsak oor sy skouer en luukse bo-kleed) vir haar – letterlik – die deur? Tyd vir haar om op te staan en uit te gaan? Genoeg is genoeg!

Aan die regterkant is kleiner uitbeeldinge van ‘n man – dit lyk amper soos ‘n godsdienstige man; biddend sit hy voor ‘n boekrol; belese; gesagvol. Aan die linkerkant is hy tuis: kos op die tafel; ‘n bed om in te slaap; ‘n familieman. Vergete is die vrou wat voor hom gepleit het.

Wat “hoor” jy soos jy met jou geestesoog na hierdie skildery kyk?

Deel 2

TEKSVERS:

Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?” (Luk 18:11).

Iets pas nie in die gelykenis waar Jesus leer “dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word” (v1). Wie is die regter “wat geen eerbied vir God of agting vir ‘n mens gehad het nie” (v2)? Gewoonlik interpreteer ons die gelykenis asof dit ons is wat, soos die vrou, moet aanhou pleit by God. “Een of ander tyd” sal God (soos die regter) wel van plan verander? Maar juis gister (VD #36) het ons God dan “anders” leer ken!

In Hebreeus beteken weduwee letterlik “die een wie se stem stil gemaak is.” Daar is niemand meer oor om namens haar te kan praat nie. Niemand gee ag nie! In die Ou Testament het die profete die onderdrukte ballingvolk, Israel, gereeld met ‘n vrou vergelyk; en haar dan getroos (bv Jes 54:1-8). Steeds is hulle die onderdruktes van Rome! So lê die las van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes ook op hulle skouers (Matt 11:28-30). (Nou maak die figure in die regterkant van die skildery sin!) Sekeres in die gemeenskap leef gemaklike lewens (soos dié figure aan die linkerkant).

En steeds pleit die onderdruktes dat die Messias moet kom. Die koninkryk van Rome se regsmag moet gebreek word. Hoe nader Jesus aan Jerusalem kom, hoe meer weet Hy, sy Stem gaan stilgemaak word. Almal gaan uitroep, “Kruisig Hom!”

Dalk is Jesus die laaste pleitende: “Vader, vergeef hulle” bid hy. En blaas sy asem uit. Stil – soos ‘n weduwee.

Maar God hóór! Die Stem is nie stil gemaak nie! Die Woord lewe!

GEBED:

Onse Vader, ek wil een van die pleitendes wees wat by U wil intree vir ander, wetend daar word vir my ook by U ingetree.

———

Op Dag 38 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die pragtige verwerking van “Is He Worthy” soos uitgevoer deur Michael Sanchez, twee kore en orkes. Besonderse musiek!

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun