“Here, U is my God! Ek wil U prys en U Naam loof! U het wonders gedoen; dinge wat U lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer. ”
Jes 25: 1
Wanneer mens na die definisie van ‘n wonderwerk/wonder/tekens gaan kyk, word dit beskryf as ‘n verassende en welkome gebeurtenis, wat nie in wetenskaplike terme of natuurwette verklaar kan word nie. Dit is gebeure wat ons nie kan verstaan nie, of as onbegryplik ervaar. Dit word dus as die ingryp van ‘n goddelike wese beskou. Dit is buitengewone, hoogs onwaarskynlike gebeurtenisse wat verwelkom word met verligting en vreugde en word as ‘n goddelike ingryping beskou wat in ons menslike aangeleenthede manifesteer of in die skepping van God.
So dikwels hoor ons verhale van wonders; self in vandag se tyd, maar ons het gereeld ‘n skeptiese uitkyk op, of aanhoor van hierdie dinge, veral as ons dit nie self beleef het nie. Selfs wanneer die persoon wat vertel entoesiasties en met oortuiging vertel. Daarby is ons ook gewaarsku dat daar vals profete sal wees, wat ook wonders en tekens sal doen, tot so ‘n mate dat selfs gelowiges afvallig sal word (“Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei.” (Matt. 24: 24)). In hierdie teksvers kan ons onsself troos daaraan dat God ons nooit uit sy hand sal laat ruk nie (“Dié wat die Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” (Joh. 10: 29)).
Wonderwerke, wonders of tekens is iets wat ons so dikwels in die Bybel raak lees. Die eerste noem van wonders is toe God besig was om die Farao te oortuig om die Israeliete te laat trek daar in Egipte (“Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen.” (Eks.7: 3); (“Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is.” (Eks. 10: 2)). Dit is dus God se manier om mense te oortuig van Sy bestaan. God gebruik dus die wonders om Sy planne uit te voer. Jesus self het ook genoem dat ons nie glo as ons nie tekens en wonders sien nie (“Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.”” (Joh. 4: 48)).
Van die vroegste tye is dit juis die teenwoordigheid van wonders en tekens wat ons elkeen oortuig om tot geloof te kom. Soos die verhaal van Daniël in die leeukuil (“Hy wat red en verlos en tekens en wonders doen in die hemel en oop die aarde, dit is Hy wat Daniël gered het uit die kloue van die leeus.” (Dan. 6: 28)). Die verskyning van Christus aan die dissipels by die see van Tiberias, toe Hy vir hulle gesê het om die net aan die anderkant van die skuit uit te gooi, en hulle so baie vis gevang het dat hulle bykans nie die nette aan land kon bring nie (“Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.” (Joh. 21: 6-7)).
Ons hele geloof is gebou op die wonders wat deur God, die Vader (“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.” (Gen. 1: 1)); “Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abrham, die God van Isak, die God van Jakob , aan jou verskyn het.” (Eks. 4: 6)), die seun Jesus Christus (“Hoewel Jesus so baie tekens in hulle teenwoordigheid gedoen het, Het hulle nie in Hom geglo nie, sodat die woord wat die profeet Jesaja uitgespreek het, vervul kon word: “Here, wie het ons boodskap geglo? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar? Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê: “Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard sodat hulle nie met hulle oë kon sien en met hulle harte kon verstaan en kon terugdraai, en Ek hulle genees nie.” ” (Joh. 12: 37-40)) onder leiding van die Heilige Gees (“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” (Hand. 1: 8)). Ook die apostels het wonders en tekens gedoen in die tyd na Christus se Hemelvaart (“Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het meet met vrymoedigheid die woord van God verkondig. ” (Hand. 4: 30-31); (“Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen. Party van die lede van die Sinagoge van die Vrygelate Slawe, soos dit genoem is, wat bestaan het uit Jode wat van Sirene en Aleksandrië afkomstig was, het toe saam met die Jode wat van die provinsies Silisië en Asië gekom het, met Stefanus begin redeneer. Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het nie.” (Hand. 6: 8-10); (“Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders en tekens sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy prediking geluister. ” (Hand. 8; 6); (“Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder heidennasies gedoen het.” (Hand. 15: 12)).
Dit is dus redelik duidelik dat wonders en tekens alleen onder die leiding van die Drie-enige God kan gebeur, en dat dit vir die hoofsaaklike doel is om ons mense te oortuig van Sy almag, en die uitbou van Sy koninkryk (“…deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. EN so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak van die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer.” (Rom. 15: 19); (“Daarby het God ook saam getuig deur tekens en wonders en ook deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees, soos Hy dit toebedeel het volgens sy wil.” (Heb. 2: 4); (“Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en ‘n ander mens word. Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou. ” (1 Sam. 10: 6-7)). Dan sal ons ook in die woorde van Nebukadneser kan juig en getuig oor die grootheid en almag van God (“Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag.” (Dan. 4: 3)).


