“Gelukkig is mense wie se krag in U lê!”
Ps 84: 6
Almal van ons soek deur ons hele lewe daarna om gelukkig te wees. Ons dink as ons maats ons sal aanvaar, sal ons gelukkig wees; as ons mooi is, soos die tydskrifte ons wys, sal ons gelukkig wees; as ons deur mense geliefd is, sal ons gelukkig wees; as ons in ‘n pragtige huis met al die toebehore leef, soos die media en advertensieborde ons wys, sal ons gelukkig wees; as ons die vinnigste motor ry of as ons die rykste is, sal ons gelukkig wees. Maar helaas, die geluk wat aardse goed vir ons bring is van korte duur, en dan soek ons weer verder na nog iets wat ons gelukkig kan maak, maar dit voel altyd asof dié geluk net altyd buite ons bereik is. Miskien is dit omdat ons gedurig op die verkeerde plekke na geluk soek!
Ons as Christene het die een bron van inligting wat die Waarheid is (“Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid.” (Joh. 17: 17); (“Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” (Joh. 14: 6)), en vir ons as riglyn moet dien deur ons hele lewe. Dit is in hierdie waarheid waar ons ware geluk sal vind. Ons moet Jesus Christus se woorde ter harte neem en ons lewens daarvolgens inrig. Die leef in die liefde van God, die aanvaarding dat Jesus Christus die Verlosser is, en onder leiding van die Heilige Gees kan ons die woord van God as Waarheid aanvaar. Ons kan gerus Salomo en Dawid se raad aanvaar en navolg (“Gelukkig is ‘n mens wat voortdurend ontsag koester vir God! Maar wie sy hart verhard, stort in die ellende.” (Spr. 28: 14); (“Troue liefde en waarheid moet jou nooit verlaat nie. Bind dit om jou nek, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy guns en goeie begrip vind in die oë van God en die mense. Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die Here, bly weg van die kwaad.” (Spr. 3: 3-7); (“Heer, Heerser oor alle magte, gelukkig is mense wat op U vertrou” (Ps. 84: 13); (“Gelukkig is elkeen wat vir die Here ontsag het, wat sy paaie volg!” (Ps. 128: 1); (“Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop gevestig is op die Here, sy God –” (Ps. 146: 5)).
In die Bergpredikasie het Jesus vir ons verduidelik wat dit is wat mense ware geluk, vreugde en vrede sal gee. (“Hy het begin praat en hulle geleer en gesê: ‘Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word. Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang. Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”” (Matt. 5: 2-12)). Hierdie beskrywings vir gelukkige mense sluit ons almal in. Daar is ‘n gepaste beskrywing vir ‘n ieder en elk van ons, waarin ons ooreenkomste met dinge in ons lewe kan vind. Dit is dus in elkeen van ons se vermoë om ware geluk te hê!
Salomo lei ons verder met sy woorde van lofprysing aan die Wysheid en wat ‘n mens gelukkig kan maak (“Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. Ja wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die Here” (Spr. 8: 34-35)). Ook in die woorde van Christus, na sy opstanding, aan Thomas (“Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het.” (Joh. 20: 29)) kan ons aanklank vind, want ons leef in ‘n tyd waar ons nie gesien het nie, en die van ons wat glo kan dus gelukkig wees in die wete dat God vir ons Sy Woord nagelaat het sodat ons die Waarheid kan weet en ontdek. Ook Jakobus verseker ons dat as ons vashou aan wat Jesus Christus ons geleer het, sal ons gelukkig wees in wat ons doen (“Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.” (Jak. 1: 25)). Selfs al word ons ter wille van Christus beledig, lei dit tot die ware geluk (“As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op ons rus.” (1 Pet. 4: 14)).
Johannes verseker ons dat ons in die Seun, Jesus Christus moet glo; want dan sal ons in liefde met mekaar kan leef, en kan sekerheid hê dat ons in Jesus Christus bly (“En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.” (1 Joh. 3: 23-24)). Waar daar liefde is, is daar niks om te vrees nie (“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” (1 Joh. 4: 18-19)). Ook Dawid, in al sy swakheid, het geweet waar ware geluk en troue liefde is (“Want ek hou U troue liefde voor oë en ek leef volgens u waarheid” (Ps. 26: 3)).
Mag ons dan in verootmoediging op die Here, ons God, die almagtige skepper en Vader wag soos Jesaja ook getuig (“Om dié rede wag die Here om aan julle genade te betoon; om dié rede rig Hy Hom op om Hom oor julle te ontferm. Want God van reg is die Here; gelukkig is almal wat op Hom wag.”(Jes. 30: 18)). God het Sy belofte aan ons nagekom, deur Jesus Christus. Hy het Sy volmaakte ware liefde aan ons betoon. Mag God ook oor elkeen van ons voel, soos Paulus gevoel het oor Fillipus, wanneer Hy aan ons dink en saam met ons leef en wandel (“Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys. My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het.” (Fil. 1: 4-7)).
Daardie ware geluk wat elkeen van ons soek, is dus nie te vinde in aardse plesier, eiendom en goed nie, maar wel in die die lewe in nabyheid, onder leiding van die Heilige Gees, van God, die Vader en in die navolging van die voorbeeld van die Seun, Jesus Christus, ons Verlosser.


