Stof tot nadenke: Waarop steun ons?

Wat help dit ‘n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan.”
Luk. 9: 25

Elkeen van ons leun of steun op iemand of iets in hierdie wêreld. As kinders is ons vertroue ten volle op ouers, hetsy of hulle liefdevol is of nie. Later begin mens draai na vriende, familie, eggenote, werksplekke, kollegas, aansien, rykdom, aanvaarding deur mense, eie krag in sterkte of verstandelike vermoëns. Selfs verslawing van enige aard en dwelmgebruik neem toe omdat mense dink dat dit hulle kan steun in moeilike tye. So dikwels staan mens teleurgesteld wanneer jy na die vernietigende resultate in nabetragting kyk. Niemand kyk na hierdie wêreld deur dieselfde oë as jy nie. Elkeen se lewenservarings en ondersteunings bronne was en is verskillend. Mense is so dikwels ingestel op hulle manier van dink en doen, dat hulle nie ‘n ander se manier van doen, eienskappe en gawes kan verstaan of raaksien nie. Prediker stel dit so goed: “Ek het gesien dat al die inspanning en al die kundigheid waarmee gewerk word, naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is sinloos en ‘n gejaag na wind. Die dwaas vou sy hande en vernietig homself. ‘n Handvol rus is beter as ‘n dubbele hand vol inspanning, en ‘n gejaag na wind.” (Pred. 4: 4-6). Wanneer mens na die wêreld kyk wonder mens wanneer gaan mense besef dat hulle in ‘n herhalende siklus van vernietiging leef, omdat hulle nie die enigste bron van steun en krag kan of wil ontdek nie!

In Korinthiers gee Paulus ons leiding in hoe ons as mense mekaar moet ondersteun en help (“As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie. Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees,…” (2 Kor. 8: 12)). Paulus wys ons op die boodskap van Christus se sterwe aan die kruis (“Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak”. ” (1 Kor. 18-19)).

Ondersteuning van mekaar is dus net moontlik uit die krag en ondersteuning van God, Die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en moet in liefde en opregtheid aan ‘n ander betoon word, en nie in naywer en afguns nie (“Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Èk sal vergeld, sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. ” (Rom. 12: 9-21)).

In Kronieke word ons krag en sterkte bekelemtoon (“Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron. 16: 9)). Jesaja vra ons om op God alleen te steun (“Wie van julle dien die Here en luister na sy dienaar? Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun.” (Jes. 50: 10)). Ook Dawid noem dat God hom sterk maak soos ‘n olyfboom, want sy steun is op die regte plek (“Maar ek staan sterk soos ‘n welige olyfboom; ek is in die huis van God en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg.” (Ps. 52: 10); (“Laat my lewe dat ek U kan loof, laat u bepalings my steun wees.” (Ps. 119: 175)). Koning Hiskea het op God vertrou, en dis aangeteken dat daar geen ander koning soos hy was nie (“Op die Here, die God van Israel, het hy vertrou. Ná hom was daar onder al die konings van Juda niemand soos hy nie, ook niemand onder dié wat voor hom daar was nie. Hy het aan die Here vasgehou en nie van Hom weggedraai nie…” (2 Kon. 18: 5-6)). Vir ons is daar net een kragbron (“Die Here is my krag en my beskerming, Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvadders, Hom prys ek.” (Eks. 15: 2)), een steunpilaar (“Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Here ons God. Húlle sal struikel en val, maar óns sal regop en vas bly staan.” (Ps. 20: 8-9); “…op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie.” (Ps. 22: 6)) en een hoop (“Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat sy wil vra;” (Kla. 3: 25); (“…en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (Rom. 5: 4-5)).

Laat ons dan elke dag opnuut die steun van God vra, want daarin alleen sal ons in hierdie wêreld kan staande bly en leef; en ‘n verskil kan maak deur ander te steun, waar dit ookal vir ons moontlik is om dit te doen (“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41.10); (“As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.” (Rom. 12: 8)). Laat ons oorwinnaars in Jesus Christus wees (“Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?” (Mark. 8: 23) & sien ook Luk. 9: 25).