Stof tot nadenke: “Vreugdes!”

Jy moet vol vreugde wees voor die Here jou God oor alles waaraan jy jou hand gewaag het.

Deut. 12: 18

Elkeen van ons vind vreugde in verskillende dinge in ons lewe. In ons werk, in die mense om ons, in die natuur, om te wen, selfs in sotlikhede. Wat is dit in en om jou wat vir jou vreugde verskaf? Die groot vraag is: “Wat gee ware, blywende vreugde?”

…as julle vandag met eerlike bedoelings en in opregtheid opgetree het teenoor Jerubbaäl en sy huis, mag julle vreugde ervaar van Abimeleg en mag hy ook vreugde ervaar van julle.” (Rig. 9: 19);
U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense se koring en nuwe wyn volop is.” (Ps. 4: 8);
Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat mens vreugde vind in sy werk, want dit is sy beloning. Ja, wie kan hom daartoe bring om te sien wat ná hom sal gebeur?” (Pred. 3: 22);
Gaan eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met ‘n vrolike hart, want God het lankal jou dade goedgekeur.” (Pred. 9: 7);
Sotheid is ‘n vreugde vir iemand sonder verstand, maar ‘n skerpsinnige mens loop ‘n reguit pad.” (Spr. 15: 21)

Wat is dit wat ons nodig het om ware blywende vreugde te ervaar. Dit wat ons bybly, selfs onder beproewings en moeilike omstandighede? As gelowiges besef ons dat daar net een plek is om hierdie blywende vreugde te vind. God is regverdig en weet wanneer ons opreg of vals is. Ons kan net vreugde vind wanneer ons in ootmoed voor God staan en weet waar ons heil vandaan kom. By God alleen is daar lig vir elke dag, wat die duisternis uit mens verdryf.

Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee.” (1 Kron. 29: 17);
Ja, dan sal jy jou vreugde vind by die Almagtige, en jou gesig na God ophef.” (Job 22: 26);
Vertrou jou lewenspad aan die Here toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree. Hy sal jou geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson.” (Ps. 37: 5-6);
Lig is gesaai vir die regverdiges, vreugde vir hulle met opregte harte. Verbly julle in die Here, regverdiges, en prys sy heilige, gevierde Naam.” (Ps. 97: 11-12);
U het my rouklag in ‘n koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord, sodat my hele wese U kan besing en nie stilbly nie. Here, my God, ek sal U vir altyd prys!” (Ps.30: 12-13)

Laat ons dan ons vreugde in die Here soek. Hom by wie die fonteine van lewende water verlossing bring, en al ons hartseer in vreugde verander. Laat ons ook vir die Here vreugde verskaf, omdat ons vir Hom ontsag het, en al ons hoop op Sy troue liefde vestig. Laat ons nie kortstondig vreudge ervaar, wanneer ons die evangelie hoor, maar nie wortel skiet soos die saad wat op rotsagtige plekke val nie.

Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het, wat hulle hoop vestig op sy troue liefde.” (Ps. 147: 11);
Julle sal met vreugde water skep uit die fonteine van verlossing. Julle sal op daardie dag sê, ‘Prys die Here! Roep sy Naam uit! Maak onder die volke sy dade bekend! Verkondig dat sy Naam verhewe is!’” (Jes. 12: 3-4);
Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net ‘n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik.” (Matt. 13: 20-21)

Ons weet dat Jesus Christus uit genade en in God se troue liefde vir ons gebore is. Ons kan saam met die skaapwagters van ouds weet dat ons nie bang hoef te wees nie, want die groot bron van Vreugde is daardie dag gebore. Laat ons ons beywer om die wedloop enduit te hardloop, en net soos Christus te weet dat daar ‘n groot vreugde vir ons in die vooruitsigte is, een wat maak dat enige swaar en beproewing van verbygaande aard is. Laat ons nie geestelik uitgeput raak en uitsak nie, maar aanhou uitsien na die vreugdes wat vir ons wag!

Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid, as Verlosser gebore, Christus die Here. ” (Luk. 2: 10-11);
Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. Dink inderdaad aan Hom wat so ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie.” (Heb. 12: 1-3)