Stof tot nadenke: Vooroordele…

Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die maat waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal julle afgemeet word.

(Matt. 7: 1-2)

Iewers in elkeen van ons se lewe ontwikkel ons vooroordele teenoor mense; wat ons toelaat of nie toelaat in ons lewe nie. Dit is ‘n manier van ouers om hulle kinders te waarsku teen moontlike gevare. Dit word dikwels gekoppel aan die uiterlike van mense, daar waar ons dit maklik kan sien. Die wêreld om ons, maak dat ons baie dikwels mense in sekere kategorieë in plaas. Wat is aanvaarbaar en wat is nie aanvaarbaar nie. Dit kan enige vorm van vooroordeel aanneem. Wanneer hierdie vooroordeel/e eers pos gevat het in jou mense bestaan, is dit bitter moeilik om dit weer af te leer! Maar nie onmoontlik nie.

In die Bybel word ons dikwels daarop gewys dat God die Vader en die Seun niemand op die uiterlike oordeel nie. Hoe is dit dat hierdie gebruik van vooroordeel, wat niks anders is as om iemand te oordeel nie, so ‘n alledaagse gebruik in ons lewens geword het. Ook ons wat onsself Christene noem, het vooroordele teenoor enigiemand wat anders as ons is, wat anders as ons leef, wat anders as ons lyk, wat anders as ons optree.

Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig.” (Joh. 7: 24);
Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.” (Joh. 8: 15-16);
Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie.” (Rom. 2: 11);
En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap.” (1 Pet. 1: 17);
Petrus het toe begin praat en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie,…” (Hand. 10: 34);
…God slaan nie ag op die aansien wat ‘n mens het nie…” (Gal 2: 6);
En julle, eienaars, tree net so op teenoor slawe, en staak julle dreigemente, omdat julle weet dat julle en hulle Here in die hemel is, en Hy niemand volgens die uiterlike beoordeel nie.” (Eff. 6: 9);
Elkeen wat verkeerd doen, sal immers vir sy verkeerde dade vergeld word; niemand word volgens die uiterlike beoordeel nie.” (Kol. 3: 25).

Dit word redelik duidelik gestel dat ons deur vooroordele teenoor ander te hê, ‘n oordeel oor onsself uitspreek. Ons maak dit ook moelik vir ander om na God te draai, aangesien ons ‘n onwelkome atmosfeer skep, deur soms onbewuste vooroordele. Elkeen van ons moet ons lewens ondersoek, en seker maak dat ons nie met moontlik onbewuste vooroordele saam leef, en dink dit is reg so nie.

Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie.” (Luk. 6: 37);
Waarom sien jy die splinter in jou broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? ” (Luk. 6: 41);
En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel kan word nie. Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is.” (Joh. 3: 19-21);
Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is…” (Hand. 15: 19-20);
Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ook al is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen.” (Rom 2: 1)

Ons moet mekaar in die liefde van God, die Vader, die Seun, Jesus Christus, en deur die leiding van die Heilige Gees te vra, aanvaar. Laat ons nie oordele oor onsself bring omdat ons dink dat ons manier van doen die enigste manier van doen is nie. Elkeen van ons is uniek, het verskillende lewenservarings, het verskillende voorkeure en afkeure, het verskillende uitkyke op die lewe, het verskillende maniere van doen. Maar die een ding is seker, as jy ‘n Christen is, doen jy, wat jy ookal doen, tot die eer van die Here. As ons aanhou met vooroordele, doen ons kwaad aan onsself! Mag ons elkeen daaraan gaan werk om vooroordele teenoor ander uit ons lewens uit te werk. Jesus Christus het dit vir ons baie goed kom demonstreer.

Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar.” (Rom. 14: 1-3);
Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir ‘n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. Die een wat ‘n bepaaldde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. ” (Rom. 14: 5-6);
Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie ‘n doener van die wet nie, maar ‘n regter. Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel.” (Jak. 4: 11-12);
Hulle vooroordeel getuig teen hulle; en hulle sonde – soos Sodom maak hulle dit bekend en steek dit nie weg nie. Wee hulle! Want hulle doen hulleself kwaad aan.” (Jes. 3: 9)