“Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan [..] miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra.”
(Lukas 13:8b en 9a)
Dinsdag, 1 September – Lente
Vandag is die eerste dag van die Lente en sien ons oral die blomme ontwaak en sade ontkiem. Ons dank die Here vir die seisoene en dat ons nou die Lente en al sy prag kan ervaar.
Woensdag, 2 September – Dankbaarheid
Dank die Vader vir so baie seëninge: dat ons U kan ken, vir huisvesting; kos en klere; gesondheid en vriende.
Donderdag, 3 September – Vrug van die Gees
Bid dat ons as gemeente die Vrug van die Gees al hoe meer sigbaar sal uitleef dat ander mense dit sal raaksien en daardeur na Jesus getrek word. Ons bid ook dat elke lidmaat bewustelik met die Vrug van die Gees lewe.
Vrydag, 4 September – Bybelstudie
“Dankie Here vir elke Bybelstudie-groepie in ons gemeente. Op so ‘n manier kan ons ons nog meer intiem met U vergader.”
Saterdag, 5 September – Getuienisgeleenthede
Kom ons word bewus van ander se nood om Jesus te ken en help ons met geldelike bydrae sowel as praktiese uitreike om U Woord te versprei.
Sondag, 6 September – Sinodale offer vir Dowes
Here, ons bid vandag dat mense bewus sal wees van mense wat gehoor probleme het en dalk heeltemal doof grootword. Skep ook ‘n bewustheid in ons harte om dit met empatie te hanteer.
Maandag, 7 September – Ons Leiers
Ons verloor daagliks meer en meer vertroue in ons leiers. Bid asseblief ernstig dat die Here ook onder ons leiers Sy kinders sal laat leiding neem.
Dinsdag, 8 September – Werklose Persone
Tydens en na die Covid-tydperk het duisende mense hulle werk verloor. Die getal werkloses is skrikwekkend. Bid vir elkeen wat tot diefstal gedryf word by gebrek aan inkomste en lei hulle om ook ernstig ‘n werk te soek.
Woensdag, 9 September – EVKOM
Elektrisiteitsvoorsiening in ons land is die laaste tyd goed, maar daar is nog baie insidente in ons land waar hulle dae sonder krag is. Ons bid vir ons leiers dat hulle die nodige optrede handhaaf om ons te voorsien van krag.
Donderdag, 10 September – Wêreldvrede
Ons moet gereeld bid vir vrede in hierdie wêreld, en ook vir die vrede en die inwoning van Jesus in elkeen van ons. “Vrede laat Ek vir julle na; My vrede gee Ek vir julle.” (Joh. 14:27).
Vrydag, 11 September – Kerkraad
Dank die Vader vir ons kerkraadslede en hulle bereidheid om te dien. Bid vir wysheid om die wil van die Vader in ons gemeente uit te voer.
Saterdag, 12 September – Sendelinge
Dank die Here vir elkeen wat bereid is om in vreemde lande die Woord te gaan verkondig. Bid vir ons sendelinge wat uitgaan in ‘n wrede wêreld waar Christenskap nie beoefen mag word nie.
Sondag, 13 September – Sinodale offer vir Melaatse Persone
Alhoewel Melaatsheid baie seldsaam is, bestaan dit nog (Hansan se siekte) en bid ons vir hierdie siekte en die genesing daarvan met medikasie wat ontwikkel is om dit te genees.
Maandag, 14 September – Middel afhanklikheid
Vra vandag dat mense bewus sal wees vir mense wat aan allerhande middels verslaaf is en vra die vraag – hoe kan ons help? Baie keer is daardie persoon baie eensaam en ken nie vir God nie en leef ‘n eensame lewe sonder God.
Dinsdag, 15 September – Gebed
“…. en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” (Mat. 6:12). Gee vir ons asseblief genade dat ons werklik sal vergewe en vergeet, sonder om weer die ou koeie uit te grawe.
Woensdag, 16 September – Ons Gemeente
Kom ons bid vir ons gemeente in al sy fasette: finansies, uitdra van die Evangelie, gebed, sorg vir behoeftiges, oues van dae en eensames, uitreike en kosvoorsiening. Dank die Here vir elkeen wat U saak in ons gemeente bevorder.
Donderdag, 17 September – Munisipaliteite en ander bestuur
Ons sien die verval in baie van ons eens pragtige dorpies en omgewing raak. Bid vir ‘n gesindheidsverandering in terme van bewaring en waardering van al ons dorpies se munisipaliteite.
Vrydag, 18 September – Polisie
Dank die Here vir elke polisieman en ander sekuriteitsbeamptes. Dis ‘n moeilike werk want jou “kliënte” is gewoonlik wetsoortreders. Bid vir geloof, geduld en verantwoordelikheid vir elkeen wat help om orde te handhaaf.
Saterdag, 19 September – Die Aarde
Here, ons bid vandag vir ons pragtige aarde, asook aardverwarming en druk dit op elkeen van ons se harte dat ons by die skepping die opdrag gekry het om U aarde op te pas.
Sondag, 20 September – Groenewaldfonds
Jesus, Ons dank U vir mense wat fondse bemaak en beurse stig vir ons gemeente se kinders wat wil verder leer, maar dalk nie die nodige fondse het nie. Ons bid ook dat dit by die regte kind sal uitkom om te help.
Maandag, 21 September – Ekonomie
Die ekonomie in ons land is besig om so te verswak dat al hoe meer mense nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie. Gevolglik wend baie hulle tot onwettige praktyke. Kom ons dra almal en alles aan die Here op.
Dinsdag, 22 September – Skoliere
Die skole sluit more en vra ons dat U elke dag vir hulle bid waar hul ‘n bietjie rus, asook matrikulante wat nou regmaak vir hul laaste fase.
Woensdag, 23 September – Versorgingsoorde
Bid vandag vir alle versorgingsoorde: weeshuise, huise vir gestremdes, vir bejaardes, asook vir privaat persone wat individue versorg. Ons bid vir geduld, insig, deernis en vriendelikheid van die personeel.
Donderdag, 24 September – Erfenisdag
Vandag dink ons aan ons erfenis en vier ons dit ook om te braai. Gee dat ons ook vandag U naam sal hoog hou waar ons U wil bedank vir ons ryklike kultuur en erfenis.
Vrydag, 25 September – Gevreesde siektes
Vader, ons bid vandag vir genesing van mense met allerhande gevreesde siektes en bid ons ook dat die ander, gesonde mense sal probeer verstaan hoekom die siek persoon optree soos hy doen.
Saterdag, 26 September – Sport
Ons dank U Here vir sport en dat dit ook baie goeie ontlading van energie is. Ons bid ook dat deelnemers die Here se Naam sal eerbiedig en hoog hou.
Sondag, 27 September – Bediening aan Jode
Jesus was ‘n Jood, maar sy bediening het gekom waar Hy sê dat ons in die hemel kom deur in Hom te glo. Ons bid vandag vir die Jode en die bediening aan hulle sodat hulle ook sal insien dat Jesus alreeds gekom het en gesterf het vir ons siektes.
Maandag, 28 September – Kategeseleiers
Dank die Here vir elke leier wat bereid is om ons kinders in die Kategeseklasse te onderrig. Bid dat hul voorbeelde ook ons kinders nader aan die Here sal trek. Dinsdag, 29 September – God se liefde
“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.” (Rom. 13:10). Bid dat ons elkeen met ons hele hart sal glo en sal strewe om ons naasteliefde uit te leef.
Woensdag, 30 September – Getuienisbediening
Kom ons sê dankie vir elke lid wat bereid is om op die Getuienis-kommissie te dien. Hulle help dat die fondse reg aangewend en versprei word sodat U Woord daarbuite uitgedra word.