“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”
Joh. 14: 18
Ons vier so gereeld elke jaar Jesus Christus se eerste koms, soos ons ook weer op die oomblik doen. Dis ‘n wonderlike tyd van feesvier, geskenke uitdeel, en tot die besef kom dat Jesus Christus dit alles vir ons as mense gedoen het omdat God die Vader ons so lief gehad het (“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” (Joh. 3: 16-17)). Maar besef ons dat ons ons moet reghou vir die wederkoms? Christus se geboorte het reeds oor die tweeduisend jaar gelede plaasgevind. Jesus Christus gee ons egter die versekering dat Hy weer na ons sal terugkeer (“Julle het gehoor dat EK gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is.” (Joh. 14: 28)).
Daar is dus geen twyfel dat Jesus Christus weer gaan kom nie. Ook Jakobus verwys daarna, en maan ons om geduldig te wees, en nie verkeerde dinge te doen nie (“Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laat reëns geval het. Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die regter staan voor die deur.” (Jak. 5: 7-9)).Daar is ook verwysings na wat alles hier op aarde aan die gebeur sal wees, wanneer die eindtyd nader kom (“Baie vals profete sal verskyn en hulle sal mense mislei. En omdat wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.” (Matt. 24: 11-14)).
Ons word gemaan om gereed te wees, maar is ons reg vir hierdie grootste gebeurtenis? (“Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” (Matt. 24: 44)). Dit gaan gebeur wanneer ons dit nie verwag nie. Ons moet dus elke dag gereed wees vir Jesus Cristus se wederkoms, te midde van moontlike haat en nyd van die wêreld se kant (“Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. Red julle lewens deur te volhard.” (Luk. 21: 17-18)). Ons moet volhard in geloof. Ons moet nie twyfel nie en ons elke dag in verootmoediging voor God plaas, want die tyd van die wederkoms is nie vir ons om te weet nie (“Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal nie.”” (Hand. 1: 6-7)). Ook Openbaring wys ons daarop dat die wederkoms onverwags sal wees (“”Kyk, Ek kom soos ‘n dief! Gelukkig is die een wat wakker bly en sy klere byderhand hou, sodat hy nie naak loop, en die mense sy skaamte sien nie.”” (Open. 16: 15)).
Ons moet gedurig bedag wees op die vals profete wat hulle sal voordoen as Jesus Christus, maar volgens Matteus sal daar geen twyfel wees, in die hele wêreld, wanneer die werklike wederkoms van Jesus Christus is nie (“Onmiddelik na die verdrukking van daardie dae “sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.’ Dan sal die teken van die Seun van die mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en groot heerlikheid. Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander.”” (Matt. 24: 29-31)).
Laat ons dus volhard in die geloof en as kinders ons laat lei deur God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. (“En nou, kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn, en nie met sy wederkoms deur Hom in die skande gestel word nie. As julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat doen wat reg is, uit Hom gebore is.” (1 Joh. 2: 28-29)). Laat ons in nederigheid en verwondering leef oor die grootsheid en almag van die Alfa en die Omega, wat in die nuwe Jerusalem vir ons van lewende water sal laat drink (“Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is. Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Afa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! Wie oorwin, sal hierdie dinge beëerf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.”” (Open. 21: 5-8)). Mag ons as oorwinnaars volhard en die stryd voltooi, nie uit eie krag nie, maar in totale afhanklikheid van die genade van God!


