“Ek prys U omdat ek op ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is. Wonderbaarlik is U werke en ek besef dit maar te goed.”
Ps. 139: 14
Dié vers was die tema wat die Cook Eilande se Christene gekies het vir die pas afgelope Wêreldbiddag vir vroue. Dit was ‘n wonderlike, en onvergeetlike belewenis, veral toe die vroue, aan die einde spontaan en sonder enige begeleiding, die Onse Vader as finale gebed tot God gesing het. Die program het gedraai om die skepping van ons as mens, en dat ons volmaak geskape is deur God. Hy wat ons reeds van voor geboorte af ken. Ons kan net in verwondering staan oor die werking en instandhouding van ons liggame, wat deur God beplan en uitgevoer is.
“Dit is immers U wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.” (Ps.139: 13)
“…het die Here God diemens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende wese geword.” (Gen. 2: 7)
“God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.” (Gen 1: 31)
Ons is wonderbaarlik en mooi geskep. Geen ander persoon het die reg om ons sleg te praat, of af te maak as nie mooi genoeg, of perfek nie. In God se oë is ons perfek soos elkeen van ons is. Hy het in Sy verhouding met elkeen van ons, ons gevorm na Sy wil. Vir elkeen van ons is daar ‘n doel in hierdie lewe, ‘n rede hoekom God gedink het ons is nodig in hierdie skeppingswerk van Hom.
“Maar nou Here, Here U is ons Vader, ons is die klei en U is ons pottebakker – ons almal is die werke van U hande.” (Jes. 64: 8)
“Dit berus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm. Die skrif sê immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou verhef, sodat Ek deur jou my krag kan toon, en sodat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word. Hy ontferm Hom dus oor wie Hy wil,en Hy maak hardkoppig wie Hy wil.“ (Rom 9: 16 – 18)
“Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie?” (Rom. 9: 21)
God was ook al baie kwaad vir die mens en wou as gevolg van die menslike boosheid alles van die aarde wegvee. Ons sien so baie daarvan ook in hierdie tyd wat ons leef. Die woede, die magsbeheptheid, die moord, oorloë, vernietiging van alles wat mooi en goed is, soos deur God geskape. Dit alles het reeds begin in die tuin van Eden, toe die self-aangestelde kritikus, die slang, die wurm van twyfel in die vreugde van die Skepping geplaas het. (Vryhand vertaling van Peter Godwin se ma se woorde nadat hy ‘n kunswerk van haar bevraagteken het. “A, art,’ she sighs, ‘ruined since time of Eden by self-appointed critics, inserting the worm of doubt into the joy of creation.”). Dit is so goed gestel.
“Toe sê die Here: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem af uitwis – mens sowel as dier, ook kruipende diere en die voëls van die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.” (Gen 6: 7)
Tog het God ons as mense so liefgehad dat Hy ons, wat in Hom glo, gered het van die sondelas. Sodat ons in vreugde kan juig en bly wees, omdat Hy ons nooit uit Sy hand sal laat ruk nie. Omdat Hy ons liefhet en ons elke dag in genade lei en help om staande te bly in hierdie woeste wêreld. Omdat hy sy enigste, en unieke Seun na hierdie aarde gestuur het, om ons te verlos van al die sondeskuld en boosheid. Hy het ons ook nie alleen agtergelaat nadat Jesus Christus opgevaar het na Hom toe nie. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons vas te hou en te help as ons wil struikel! Die Heilige Gees lei ons, in genade, om meer en meer soos Christus te word, sodat ons die liefde van God verder kan versprei.
“Van agter en van voor omsuit U my; U plaas U handpalms op my.” (Ps. 139: 5)
“Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. ” (Ps. 139: 9-10)
“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word.” (Joh. 3: 16 -17)
“Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor.” (Hand. 2: 33)


