“Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring” (Joh. 19: 30)
Dit is hierdie komende week die sewende en groot lydensweek. Dit week waarin ons herinner word aan wat Jesus Christus moes deur maak vir elkeen van Sy dissipels, asook elkeen wat deur hulle woorde tot geloof sou kom en wat in Hom glo. Hy het uitsluitlik na hierdie wêreld gekom, met die enigste doel voor oë, om verlossing te bring vir elkeen wat in Hom glo. Jesus Christus is deur God gestuur en Sy opdrag was om God te verheerlik en die evangelie na hierdie aarde te bring, en uiteindelik hierdie donker week te deurleef. Sodoende is die uitvoering van God se opdrag volbring deur aan die kruis te kom sterf.
“En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. ” (Joh. 17: 3-4);“”Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”” (Joh. 17: 20-21)
In hierdie week is Hy gevange geneem, deur die verraaier, ter wille van finansieële gewin. Hy is valslik beskuldig, verhoor en veroordeel. Die aantuigings spreek van opsetlike gekonkel, maar dit is soos dit deur God gewil is. Daarsonder sou Christus nie die lydensbeker kon drink nie. Hy is verloën deur een van sy steunpilare, Petrus, wat selfs vir Christus met geweld verdedig het toe Hy gevange geneem is.
“Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en gevra: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Naseret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.” (Joh. 18: 3-5); “Simon Petrus het ‘n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”” (Joh. 18: 10-11); “Die diensmeisie wat deurwagter was sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” “Nee, ek is nie!”” (Joh. 18: 17)
Selfs Pilatus wat Hom moes veroordeel, kon niks verkeerd vind nie, maar het tog die vonnis tot uitvoer gebring. Hy het egter aan die kruis die feit dat Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode is laat skryf. Jesus Christus is gefolter, en moes self sy kruis na Golgote dra. Waar Hy tussen twee misdadigers moes hang.
“”My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my konikryk nie van hier nie.” “Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos U sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hieroor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”” (Joh. 18: 36-37); “Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”” (Joh. 19: 17-19)
Dit alles het Jesus Christus vir elkeen van ons, wat in Hom glo, kom uitvoer en volbring! Hy wat so graag wil hê dat elkeen van ons sal glo aan wat Hy hier op aarde kom uitvoer en volbring het. Daar is geen groter bewys van Sy liefde vir ons as mense nie. Elkeen van ons moet egter die uitnodiging na Sy koninkryk aanvaar, sodat Sy daad in volle glorie kan uiteindig. Hy het hierdie lydensbeker vir elkeen van ons kom drink. Sodat die genade van die Vader ook vir elkeen van ons kan waarheid word! Dit is hoe ons kan verseker dat God verheerlik kan word tot in alle ewigheid.
“Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suurwyn op ‘n hisoptakke gesit en dit teen sy mond gehou. Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”” (Joh. 19: 28-30); “Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie godelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid!” (Gal. 1: 3-5))


