“Blus die Gees nie uit nie.”
1 Tess. 5: 19
Ons dink so dikwels dat ons in eie krag dinge moet doen en aanpak. Ons word dikwels groot met die gedagte dat ons self wil besluit, dat ons self ons eie pad wil loop. Tog, as Christene, bely ons die drie-eenheid van die Vader, die Seun en die Heilige Gees; maar besef nie altyd hoe kragtig die werking van die Heilige Gees is nie. Die krag van God is altyd naby. Deur gebed en gesprekke met God kan ons vir bystand en leiding vra.
Laat ons dan nie die Gees van God probeer uitblus, deur nie vir Sy nabyheid, leiding en vir Sy vrede te vra nie. Daar is geen lewe wanneer ons na die vleeslike begeertes lewe nie. Ons kan alleenlik kinders van God wees, wanneer ons deur die Heilige Gees gelei word. Deur hierdie pad te volg kan ons vervul word deur die krag van die Heilige Gees en ware blydskap en vrede deur die geloof ervaar. Die Heilige Gees is vir ons gegee deur die Verlossing van Christus en die liefde van God, wat besef dat ons maar swak is, en heel dikwels verkeerde besluite of keuses maak.
“want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” (Rom. 8: 13-14);
“En mag die God van Hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 15: 13);
“As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Luk 11: 13)
Ons kan nie eers in oortuiging getuig, as ons nie deur die Heilige Gees gelei word nie. Dit is die Heilige Gees wat woorde in ons mond lê, wanneer dit nodig is. Ons moet net tot die volle besef kom dat ons in oorgawe aan die Heilige Gees, altyd leiding van Hom sal ervaar. Ons sal beheer kry oor ons tonge, oor ons dade en alle gesprekke! Ons sal sonder om te skroom kan getuig, wanneer die regte tyd daarvoor aanbreek. Ons sal 24/7 getuies vir die evangelie van Jesus Christus kan uitleef.
“En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in die uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.” (Mark. 13: 11);
“… maar die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” (Joh. 14: 26);
“maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” (Hand. 1: 8);
“En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.” (Hand. 4: 31)
Kan ons die werking van die Heilige Gees met finansies bewerkstellig? Stellig nie!
“En toe Simon sien dat deur handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang. Maar Petrus sê vir hom: “Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.” (Hand. 8: 18-19)
Wat kan ons dan doen om deel te hê aan die Heilige Gees se krag? Ons moet besef dat die Heilige Gees ‘n geskenk is van God, wat uit genade aan ons gegee word, sodat almal wat in Hom glo wedergeboorte kan beleef. Ons kan in nietigheid voor God vra vir bystand, omdat ons in Hom glo. Die hoop beskaam nie, omdat God ons so lief gehad het. Ons moet besef dat die koninkryk nie aardse kos is nie, maar wel geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees.
“… en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Rom. 5: 5);
“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” (Rom. 14: 17);
“nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.” (Tit. 3: 5);
“Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel is,…” (Ef. 3: 14-17)
Ons moet tot die besef kom dat ‘Die Heilige Gees kan meer in een minuut doen, as wat ons in ‘n hele leeftyd kan doen.’ (Anonieme aanhaling) en ‘Die Heilige Gees is God in aksie.’ (Aanhaling deur H Berkhof). Ons moet ons alledaagse lewe laat beïnvloed deur die krag van die Heilige Gees soos Charles G Finney aanhaal: ‘Of ons nou preek, bid, skryf, besigheid doen, reis, kinders oppas of in die regering dien – wat ons ookal doen – behoort ons hele lewe en invloed gevul te wees met die krag van die Heilige Gees.’
Dit is alleen die Heilige Gees wat harte kan verander, soos Malan Nel se aanhaling so mooi stel: ‘Dit is die Heilige Gees wat harte van mense verander. Die rol van die evangelis is dat hy in die proses gebruik word.’ Laat ons dus instrumente in God se hand word, omdat ons die verlossing van Jesus Christus aanvaar het en ons oorgegee het aan die leiding van die Heilige Gees. Dan alleen sal ons kragtige getuies vir God kan wees, met of sonder woorde!


