“Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip weggerol is.”
Joh. 20: 1
Soos wat ons mense nou maar is, dink ons dadelik mense het iets gedoen. Dit was ook nie anders met Maria Magdalena nie. Sy het dadelik vermoed dat iemand Jesus se liggaam geskuif het. Sy wou nog die laaste eer betoon aan Christus. Daar was egter engele om haar te verseker dat dit nie die geval was nie. Dit was omdat Jesus Christus opgewek is uit die dood. Maria wat buite die graf gestaan en huil het, het Christus se verheerlikte liggaam met die van die tuinopsigter verwar. Sy is gou reggehelp, en het Hom herken.
“Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek”” (Luk. 24: 5-6); ”Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra haar toe: “ Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: Rabboeni!” Dit beteken leermeester.” (Joh. 20: 14-16)
Ons kan ons die vreugde indink, toe Maria Magdalena vir Jesus herken. Sy het haar gehaas om die dissipels te vertel dat sy Hom gesien het. Hulle wou haar nie glo nie, en moes self ondersoek instel. Petrus en Johannes het inderhaas na die graf gegaan, en dit net so gekry soos wat Maria Magdalena vertel het. Die dood kon Jesus Christus nie bind nie. Alles het so gebeur soos wat Hy hulle voor die tyd vertel het. Hy sou gekruisig word en sterf, maar sou op die derde dag weer opstaan, en sodoende vir ewig ons van ons sondes verlos.
”Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekkom. Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, oook die doek wat om Jesus se kop was…” (Joh. 20: 3-7).
Na hierdie gebeure, nog dieselfde aand, het Jesus Christus aan die dissipels, waar hulle agter geslote deure was, verskyn. Hy het hulle sy hande gewys, waar die letsels van die kruisiging nog duidelik was, en hulle was in ekstase. Hy groet hulle met “Vrede vir julle!”, en herhaal weer die boodskap dat hulle die evangelie moet gaan verkondig.
“Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” (Joh. 20: 19); “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!”” (Joh. 20: 21-22)
So het Jesus Christus verskeie kere aan ook ander mense verskyn, sodat hulle verseker kon weet dat daar geen twyfel is oor die feit dat die dood geen houvas op Hom kon kry nie! Selfs die gekonkel van die priesterhoofde nadat die wagte die berig aangebring het, moes geweet het, al het hulle ‘n leuen versprei, dat Jesus Christus waarlik opgestaan het. Die groot genade wat aan ons bewys is deur hierdie oorwinning van die dood kan ons dikwels nie begryp nie. Ons hoef geen vrees te hê wanneer ons in geloof vashou aan hierdie waarheid. Jesus Christus het regtig opgestaan, en daarom kan ons nou ook oorwinnaars wees in geloof. God, die Vader, die Seun, Jesus Christus en die Trooster, Die Heilige Gees het ons so lief dat ons nooit alleen hoef te stry teen die sonde nie. Dit is reeds oorwin. Glo in die opstanding van Jesus Christus, en jy kan verseker weet dat ons niks het om te vrees nie; maar ons het ook die opdrag gekry om dit vir die Wêreld te vertel!
“Terwyl die vroue oppad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het.” (Matt. 28: 11); ”Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle dié wat Hom na sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.” (Mark. 16: 14-16)


