Stof tot nadenke: ‘Betrokkenheid!’

Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

1 Joh. 2: 6

Hoe en waar is ons betrokke? Hoe leef ons ons betrokkenheid in die gemeenskap uit? Hoe wys ons vir die wêreld dat ons Christene is? Of is dit maar moeilik vir die mense om ons, om te weet dat ons vir Jesus ken, en graag soos Hy wil wees? Volgens Nina Smit is dit eers wanneer jy iets betekenisvol vir iemand anders doen, daar waar jy ook hulle probleme kan raaksien en daarby betrokke raak, dat jou eie lewe verryk word. Dit is gewoonlik jy wat baie meer verryk word as die persoon wat jy help. Dis hier waar die hemel naby aan ons kom.

Nou kan mens jouself afvra hoe kan jy betrokke raak? Waar kan ek in opregtheid help? Wat het ek wat ek aan ander kan uitdeel wanneer ek betrokke raak? Henri Nouwen het gereken dat ‘die mense wat die meeste vir ons beteken, dié is wat min raad uitdeel, weinig oplossings of herstelfoefies aanbied, maar wat liefs ons pyn en wonde met ‘n figuurlike sagte hand en stille betrokkenheid aanraak’. Hoe kry ons dit reg om so ‘n hulp vir ander te wees deur eerlik en opreg te wil help? Daar is ‘n paar mense wat reken dat mens passievol moet wees oor die saak wat jy aanpak. Volgens Tom Connellan is ‘Een persoon met passie beter as 40 wat bloot belangstel’ en Antoine de Saint-Exupéry het gereken dat ‘As een man in ‘n solderkamertjie brand van passie, kan hy die hele wêreld aan die brand steek.’ Hoe doen ons dit? Ons moet egter ook gefokus en passievol wees oor ons betrokkenheid by die saak van die Here, om die passie en voorbeeld van Christus verder uit te dra.

Ons wil so graag opreg betrokke wees, maar ons moet waak daarteen dat ons nie verwaand en vermetel oor enige saak raak, asof dit ons is wat dit uitgedink het nie. Ons dade se opregtheid word deur God geweeg! Vir God is niks verborge nie! Indien ‘n mens gevul is met die liefde en genade van God die Vader, Jesus Christus die Seun en die algehele beheer en leiding van die Heilige Gees, straal die liefde van God deur so ‘n mens. Niemand wonder oor die opregtheid van so ‘n mens nie. Want dis dan wanneer ‘n mens in nederigheid alles doen, soos wat Jesus Christus so wonderlik vir ons kom demonstreer het, dat mense jou opregtheid begin beleef. Daardie opregtheid wat net die Heilige Gees in jou kan bewerkstellig.

Julle moet nie verwaand bly praat nie, nie vermetele woorde oor julle lippe laat kom nie; want ‘n God van kennis is die Here; deur Hom word dade geweeg. ” (1 Sam. 2: 3);
Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.” (2 Kor. 3: 18)

Laat ons gaan betrokke raak, daar waar ons passie is. Die passie wat deur die Heilige Gees in ons bewerk is. Laat elkeen van ons in nederige ootmoed dit doen, wat die Here op ons hart gelê het om te doen. Mag ons ook soos Paulus bereid wees, om selfs te midde van moeilike omstandighede, dit te doen, en passievol betrokke daarby te wees.

”…maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees – een in liefde, een van gees, een in denke; deur nie iets uit selfsug of ydelheid te doen nie, maar in nederigheid die een die ander hoër te ag as homself; deur elkeen nie net na sy eie belange om te sien nie, maar ook na dié van ander.” (Fil. 2: 2-4);
Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”” (1 Pet. 5: 5);
En kyk, nou gaan ek, gebind deur die Gees, na Jerusalem, sonder om te weet wat daar gaan gebeur – behalwe dat die Heilige Gees van stad tot stad aan my bevestig het dat gevangenskap en swaarkry op my wag. Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi: om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God. ” (Hand. 20: 22-24)