Stof tot nadenke: Beproewings…

Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.

Mark. 9: 49

Soms wonder mens hoekom ons as mense dink dat ons enige beproewings sal vryspring? Elkeen van ons word deur ons lewe blootgestel aan ‘n verskeidenheid van beproewings. Dit is iets wat reeds vroeg in mens se lewe kan gebeur, of heelwat later. Een van die groot beproewings van ons tyd, is om aan kanker of een of ander ongeneeslike siekte of onverwagte dood blootgestel te word. Daar is sekerlik bitter min mense wat nie een of ander direkte kontak of verlies gehad het van ‘n geliefde, ouer, vriend, vriendin, broer of suster wat deur erge beproewing moes gaan en heel dikwels die geveg teen die groot K of ongeneeslike siekte verloor het. In ons gemeente was ons die laaste maand blootgestel aan die verlies van verskeie mense, wat baie geliefd was. Omdat ons dit nie altyd verstaan nie, hou dit vir ons ‘n sekere vrees of angs in! Ek kan onthou hoe my Pa eenmaal sy vakansie moes kortknip as gevolg van ‘n gemeentelid se dood aan kanker. Dit het my destyds regtig beangs gelaat. Nie baie jare daarna nie, moes ek my Pa aan die groot K afgee; en dit nadat hy 6 weke gegee is om nog te leef…omtrent tot op die dag.

So ‘n verlies, veral in redelike vroeë ouderdom is ‘n beproewing wat moeilik is om te oorkom. Wanneer mens jonk is dink jy daar is nie einde aan hierdie lewe nie, totdat jy met dood gekonfronteer word. Dis dan wat mens besef dat elke mens een of ander tyd voor hierdie grootse verlies van aardse geliefdes te staan gaan kom. Een of ander tyd in jou lewe. Dis nooit maklik nie, want daar is altyd onbeantwoorde vrae, of raad van so ‘n persoon, maar tog help God ons daardeur. Job stel dit so mooi in Job 36, en Petrus wys ons daarop dat dit vir ons tot vreugde kan lei. Ons het nodig om gelouter te word, sodat ons kan fokus op God se woord wat Hy wil hê dat ons moet hoor.

Hy red magteloses deur hulle verdrukking; Hy maak deur beproewing hulle ore oop.” (Job 36: 15);
Geliefde, moenie verbaas wees wanneer ‘n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel.” (1 Pet. 4: 12-13).

Onverwagte of verwagte dood in ‘n familie, gesin of vriende kring ruk mens tot stilstand. Daar is egter niks meer seker op aarde, as die aardse dood van elkeen van ons, nie. Wanneer mens ‘n gelowige is, is dit ons deurgaan na God toe, en behoort ons nie so beangs te laat nie. Wat sal groter vreugde verskaf as om in aanskoue van Jesus Christus se heerlikheid te kan bestaan nie? Want dit sal ons in staat stel om die toets te kon deurstaan. Wanneer mens egter nog nie vir Jesus Christus as Verlosser aanvaar het nie, kan dit ongekende angs in mens se lewe laat. Die tydelikheid van hierdie bestaan word skerp beklemtoon. Ons moet besef dat dit ons kans kan wees om terug te keer na ons Skepper. Laat ons leef soos wat Christus van ons verwag, te midde van enige beproewings.

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te Volhard. ” (Jak. 1: 2-3);
…dat hulle, te midde van swaar beproewing as gevolg van verdrukking, hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede laat oorvloei het in ‘n rykdom aan vrygewigheid van hulle kant af.” (2 Kor. 8: 2)

Ons moet besef dat God elke tree wat ons gee daar is. Hy wil ons beskerm en in genade het Hy Jesus Christus vir ons sondes laat sterf. Dit is ‘n onverstaanbare maar liefdevolle genadegawe wat die Vader aan ons skenk. Hy wil ons oë en ore oop maak vir Sy liefde en bystand, wat altyd daar is vir ons deur die Heilige Gees. Ons kan verseker weet dat God nooit sal toelaat dat mens enige moeilikheid ervaar, as Hy nie ‘n spesifieke doel daarmee het nie. Dis eers na die hartseer en pyn wat mens soms tot die besef kom dat daar groot seën in die beproewing opgeskuil lê. En ons kan weet dat ons dan ook bewaar sal word in die uur van grootste beproewing.

Die Here bring wel hartseer, maar Hy het ook medelye omdat sy troue liefde so groot is.” (Kla. 3: 32);
Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (Open. 3: 10)