Getuienisbediening: Naaldwerk Projek

Die naaldwerkprojek gebruik die afval materiaal wat deur die Stoffeerwinkel CurtainsUp van George geskenk word, asook dit wat die gemeente skenk. Die afval-lappies word weekliks aan die deelnemende Oumas in die Wolwedans gemeenskap voorsien. Reeds 4 naaimasjiene het werkplek gekry, maar nog masjiene sal handig te pas kom. Die Oumas wat nie masjiene het nie, doen naaldwerk, hekel of breiwerk met die hand.

Die klaargemaakte produkte word dikwels uitgedeel in die gemeenskap. Van die naaldwerksters reken dat die Here hulle voorsien het van die materiaal en naaimasjien en wil dus graag eerder die items gratis lewer aan hulle eie gemeenskap waar daar ‘n groot behoefte is – dit ten spyte van hul karige SASSA toelae. Dit is ‘n inspirerende les waar ons elkeen van kan leer.

Gesamentlik met die naaldwerk word daar elke twee weke ‘Lewensvaardigheids’- aanbiedings deur Aletia Nortje in Miemie se kerkie aangebied. Miemie se kerkie is ‘n huiskerkie wat deur Miemie bedryf word waar predikers gevra word om ‘n boodskap te bring.

Hierdie betrokkenheid van die NG Groot-Brakrivier het nou ook uitgeloop op betrokkenheid by die Grootbrak Network Forum, wat deur die Searle Memorial Kerk geïnisieer is. Hierdie forum is daarop gemik om die gemeenskap van Grootbrak te verenig en op te bou deur aktiwiteite en kosvoorsiening vir o.a. ook die jongmense van die dorp, daar te stel. Die jongmens aktiwiteite is gesentreer om die Youth Cafe, waar ook rekenaar opleiding voorsien word.