Gebedsgids Desember 2023 – NG Kerk Groot-Brakrivier

Vrydag, 1 Desember: Vakansiemaand

Dit is vakansiemaand in Suid-Afrika. Almal is in ‘n vrolike gees en der duisende mense durf ons paaie aan, geniet ons strande, kuier by familie, kuier by ouers of kinders en dit is so maklik om van ons Skepper te vergeet. Kom ons bid vir die veiligheid van elke vakansieganger en dat die Heilige Gees met elke persoon sal wees en sodoende ‘n verantwoordelikheid in elke persoon sal vaslê.

Saterdag, 2 Desember: Eensaamheid

Desember is die laaste maand waarin ‘n persoon eensaam wil wees. Tog is daar vele bejaardes wat na kinders verlang wat miskien oorsee woonagtig is. Selfs kinders wat na ouers verlang. Kom ons vra die Vader om al die eensames in Sy arms te neem en styf vas te hou sodat hulle van Sy teenwoordigheid bewus sal wees en troos daarin sal vind.

Sondag, 3 Desember: Sending

Oor die hele wêreld heen is daar pragtige mense wat die evangelie aan ander bekendstel en baie mense wat die evangelie aanvaar of dalk twyfel of hulle dit moet aanvaar. In sekere wêrelddele is dit ‘n lewensgevaarlike taak vir beide partye. Kom ons bid dat Vader hulle onder sy vleuels sal intrek, veral nou waar die geboorte van Christus binne dae herdenk sal word.

Maandag, 4 Desember: Oues van dae

In ons gemeente is daar baie mense wat hier kom aftree het en hier kom oud word het. Kom ons dank die Vader vir die voorreg wat ons het om hier in die pragtige Eden te kan woon en dit te kan geniet. Dat ons heelwaarskynlik weer Sy geboorte in hierdie pragtige area sal kan vier met vreugde en dankbaarheid.

Dinsdag, 5 Desember: Mediese Wetenskap

Ons bid en dank die Vader vir die hulp en leiding wat Hy aan die mediese wetenskap gee in die ontwikkeling van medikasie. Medikasie wat siekes oor die hele wêreld van ‘n beter lewe verseker. Maar ook vir die voordeel wat ons hier in die Brak daaruit geniet.

Woensdag, 6 Desember: Diens aan oues van dae

In ons gemeenskap is daar Dokters, Verpleegpersoneel, Verpleeg-assistente en omsien peroneel wat na vele van ons gemeenskap omsien. Kom ons dra hulle almal aan die Here op in ons gebede en dank ook die Here dat ons sulke pratige mense om ons het.

Donderdag, 7 Desember: Knellende droogte

In uitgestrekte gebiede in ons land het verwoestende veldbrande weiding totaal vernietig. Boere, hulle vee, die planteryk en baie mense smag na die dag wanneer ons Hemelse Vader die hemelsluise sal open en die aarde deurdrenk met goeie reën. Kom ons dra al die boere en natuur aan die Here op om almal styf vas te hou en om hulle te help om nooit geloof te verloor nie. Ons smeek ook saam met hulle vir goeie reën wanneer dit God behaag.

Vrydag, 8 Desember: Omgeebediening

Ons dra vandag ons gemeente se omgeebediening aan die Here op deur ons gebede. Ons bid vir Sy seën op al hulle omgeewerk.

Saterdag, 9 Desember: Wolwedans

Die Wolwedans boodskap, sop- en brood bediening voorsien in die behoeftes van arm mense. Ons bid dat die Here hulle en hulle diens sal seën. Ons dank ook die Here omdat hy daagliks in ons behoeftes voorsien.

Sondag, 10 Desember: Vroue en kinders

In ons land word vroue en kinders elke dag deur ongenaakbare mans aangerand en verkrag. Ons bid dat die Here hierdie haatlike kultuur sal verander in ‘n liefdevolle gesindheid.

Maandag, 11 Desember: Skooldogters

Skooldogters is vandag onder geweldige sosiale druk. Duisende is swanger juis as gevolg van hulle weerloosheid. Kom ons dra hulle almal aan die Here op vir Sy beskerming.

Dinsdag, 12 Desember: Ons land Suid-Afrika

Ons land word vandag regeer en geadministreer deur mense wat eerder na hul eie sakke kyk as wat hulle na die land en sy mense se belange omsien. Ons bid dat die Here hierdie situasie sal omkeer en ons land weer vooruitstrewend sal maak.

Woensdag, 13 Desember: U tuin Here

Soos Adam en Eva in ‘n pragtuin gewoon het, woon ons steeds in U tuin Here. Deur ‘n “klein” oortreding het U hulle verblyf opgeskort. In teenstelling bemors en vernietig ons U Skepping teen ‘n ongehoorde tempo. Ons gebede is om die Vader te vra om elke mens se gesindheid teenoor Sy Skepping positief te verander.

Donderdag, 14 Desember: Studente

Baie studente en skoolkinders gaan na die eksamens as groepe by die see uitspan. Ons bid dat die Here elke kind sal vashou om nie die goeie waardes van die lewe oorboord te gooi nie.

Vrydag, 15 Desember: Ons gemeente

Ons bid vir ds Danie en alle kantoor- en terreinpersoneel en vir almal se gesinne. Ons dra hulle aan die Vader op met dank vir wat hulle in ons gemeente met soveel liefde doen.

Saterdag, 16 Desember: Nooddienste

Dis hoë verkeertyd, dar is baie mense by die see en ook by ander gevaarplekke. Ons dra al die nooddienswerkers aan die Here op in hierdie tyd van die jaar. Mag hulle werk die seën van ons Vader ontvang.

Sondag, 17 Desember: Vakansiegangers

Baie baie vakansiegangers sal weer op die paaie, by die see en ander vakansieplekke uitspan. Ons bid tot die Vader om die slagting op ons paaie te verhoed, asook ander ongelukke en verdrinkings.

Maandag, 18 Desember: Misdaad

In hierdie vakansietydperk skiet die misdaadsyfer die hoogte in. Dit is diefstal, rooftogte, aanrandings, moord, vrekragtings, dronkenskap ens, ens. Ons vra vir die Vader se ingrype hier.

Dinsdag, 19 Desember: Veiligheidsdienste

Die land se Beskermingsdienste verkeer in die vakansietyd onder groot druk. Ons bid Vader om hulle by te staan in die uitvoering van hul pligte en dat Sy naam altyd in hulle werk verheerlik sal word.

Woensdag, 20 Desember: Leiers

Ons dra ons land se leiers aan die Here op. Ons land is in groot verknorsing op alle gebiede. Ons vra vir die Vader om ons leiers met helderheid van verstand en eerlikheid toe te rus om sodoende ons land weer op ‘n wenpad te plaas.

Donderdag, 21 Desember: Eensames

Dit is in hierdie tyd van die jaar dat eensames baie swaar trek. Ons vra die Heer om by hulle elkeen te wees en hulle styf vas te hou in Sy arms van Liefde en Vriedskap.

Vrydag, 22 Desember: Siekes

Kom ons bid ook vir die siekes wat hierdie Kersfees op ‘n siekbed sal moet deurbring. Dat hulle geliefdes by hulle sal wees om hulle situasie met liefde en vreugde draaglik te maak.

Saterdag, 23 Desember: Midde-Ooste

Ons bid dat Vader die Midde Ooste, waar soveel verwoesting en dood gesaai is, gedurende die nuwe jaar met vrede sal seën.

Sondag, 24 Desember: Die dag voor Die Geboorte

Ons is almal besig met geskenke koop, die kersboom opmaak, die kersete voor te berei, pakkies opmaak en toedraai en nog vele meer dat ons geneig is om die waarde van die komende dag te vergeet. Ons bid vir leiding, vrede, vreugde en liefde vir die ganse wêreld in afwagting vir die ster van Bethlehem om aan ons te verskyn en die pad vir ons te verlig na ons Redder en Meester toe.

Maandag, 25 Desember: Dis KERSFEES !!!

Ons ewige Koning, die Onverganklike, Onsienlike en enigste God wat ons ken is op hierdie dag baie jare gelede gebore. Ons herdenk dit met eerbiedige vreugde. Ons dank Hom omdat hy nog altyd daar is om na sy kinders om te sien. Ons dank Hom omdat ons die voorreg het om deur Hom Sy kinders te kan wees.

Dinsdag, 26 Desember: Welwillendheidsdag (Ook genoem Gesinsdag)

Laat ons op hierdie dag mekaar met liefde omhels. Binne ons gesinne, as families, as vriende en as landsburgers. Laat ons tot ons ewige Vader ook bid vir vrede in die wêreld, en dat Sy teenwoordigheid oral vreugde sal bring, maar bo alles ook ons land sal seën met verdraagsaamheid, kalmte en vooruitgang.

Woensdag, 27 Desember: Toewyding

Laat ons bid dat die Here elkeen van sy kinders sal help om gehoorsaamheid aan Hom na te streef. Ons te lei om Sy insettinge te verstaan en gehoorsaam aan Hom te wees. Dat Hy ons sal help om toewyding aan Hom ons missie te maak.

Donderdag 28 Desember: Verwaarloosde mens

Daar is vele verwaarloosde mense in ons en in die breër gemeenskap om ons, wat in wanhoop lewe. Laat ons Vader in ons gebede vra om ook met elkeen van sulke mense te wees. Dat ons as sy bevooregte kinders die moed sal hê om ook na hierdie mense om te sien, al is dit net deur ‘n bydrae te maak aan hulle wat daagliks na hierdie mense omsien.

Vrydag, 29 Desember: Gesindheid

Kom ons bid tot die Vader vir ‘n positiewe gesindheid in ons Gemeente, ons gemeenskap en ons land. Dat ons die nuwe jaar met reikhalsende hoop sal ingaan met die wete dat ons God steeds regeer.

Saterdag, 30 Desember: Afskeid

2023 Is bykans verby kom ons dank God vir ‘n jaar waarin ons kon wees en waarin Hy ons onderskraag het.

Sondag, 31 Desember: Dankie

Dankie Here vir die jaar waarin ons die wonderlike vooreg gehad het om in te kon lewe.