Goeiemôre gemeente
Ons as ‘n gemeente is dankbaar dat ons die dienswerk van Christus kan voortsit waartoe Hy ons geroep het. Ons wil elkeen bedank vir enige vorm van dienswerk waarby u betrokke is. Ons besef ook dat hierdie betrokkenheid ook buite ons gemeentegrense val en moedig u aan om voort te gaan met die goeie werke waartoe Christus ons geroep het.
Ons het in die afgelope tyd ons bedienings in die gemeente probeer opsom in ‘n kort inligtingstuk waar gemeentelede betrokke kan raak en nie uitgesluit voel nie. Dit is by die kerkkantoor beskikbaar indien u dit nog nie onder oë gehad het nie. Ons het tans die behoefte aan lidmate wat ons wil help met die rekenaar en die klank in ons eredienste, asook met ons preekopnames Woensdagmiddae. Kontak ons indien u hierin belangstel.
Ons het in die tyd besluit om ons eredienste in Groenkloof uit te brei en om twee keer per maand ‘n leraar daar te akkommodeer om daar dienste te lei. Ons is ook in die proses om die haalbaarheid van nog ‘n leraar te beroep in diepte te ondersoek en vra u voorbidding in die verband.
Ons kerkraad het nadat ons verskeie versoeke gekry het, ons eredienstye ondersoek en besluit om ons eredienstye te vervroeg na 09h00 vanaf 1 Januarie 2023. In die verband kan die leraar in die kerkgebou preek en dan 2 dienste per maand by Groenkloof hou om 10h00. Die enigste uitsondering sal ons Kersdagdienste wees waar ons vanaf 07h00 ‘n erediens het en elke uur tot 10h00.
Ons benodig tans lidmate wat ook ons jeugbediening wil help met die bediening van ons kinders tydens eredienste.
Ons wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om elkeen te bedank vir hulle bydraes. Ons gemeente is in ‘n gesonde finansiële posisie en ons dienswerk kan onverpoosd voortgaan. Ons kon al ons sendelinge ondersteun en ons dienswerk in die gemeente voortsit. Ons kon die kerkgebou binne en buite onderhou.
In die tyd het ons mev. Marida Bridges as ons orreliste aangestel. Sy is ‘n groot aanwins in ons gemeente en ons sang in die gemeente is ‘n belewenis. Ons het ook ‘n begeleidingsgroep wat ons help om werklik tot eer van God te sing. Ons begin eersdaags met kooroefeninge en moedig u aan om hierby in te skakel.
Ons vertrou dat elkeen van u die genade van Christus in die tyd ervaar. Mag die van u wat lyding beleef ook die troos van die Heilige Gees ervaar. Hou aan bid vir ons en die werk waartoe God ons geroep het.
Groete in Christus.
Namens die kerkraad
Willem du Preez
Voorsitter van die kerkraad