Gemeentebrief 26 April 2022

26 April 2022
Goeie môre gemeente,
Die evangelie verkondig die boodskap dat Jesus Christus die Here is. Dit word beklemtoon in die Paasgebeure met die opstanding uit die dood en verskyning van Jesus Christus aan talle getuies. Ons deel in die skare getuies van gelowiges wat gereeld ons geloof in die Opgestane Christus bely. Ons hoop is op Hom gerig en in Hom gesetel. Mag ons dit gereeld met mekaar en die wêreld deel.

In die kerklike jaar leef ons nou in die tyd tussen Paasfees, Hemelvaart en Pinkster. Ons Pinkster begin 29 Mei 2022 in die kerk om 10h00 en daar sal slegs van die eerste Sondag se diens ‘n opname gemaak word, wat ook by Groenkloof uitgesaai word. Daar sal dus elke oggend om 10h00 ‘n erediens wees by Groenkloof en saans om 18h00 by die kerk. Die week sluit af Woensdagaand in die kerk en die volgende oggend om 10h00 by Groenkloof. Na ons aanddienste sal ons ‘n koppie sop geniet in die saal. Kontak u kerkraadslid om te help met die maak van die sop. Prof Ian Nell van die Universiteit van Stellenbosch sal die Pinkster dienste lei. Kom ons bid vir hom vir sy voorbereiding. Ons sien met verwagting daarna uit.
Daar is ook die mooi gebeurtenis, waar ons as gemeente saam met ds. Paul en Hettie Roodt gaan kuier omrede die Covidpandemie dit verhoed het toe hy op vroeë aftrede gegaan het. Die dag is 8 Mei 2022 en ons wil u elkeen uitnooi om die dag na die erediens te kom en daarna lekker eetgoed in die saal saam met hulle te geniet.
Ons gemeentefees vind op die 14de Mei 2022 om 09h00 plaas. Ons vertrou dat dit ‘n groot sukses sal wees. Hierdie is ‘n geleentheid waar ons saam kuier en saam werk. Ons het u elkeen se hulp nodig en daar is talle wyses hoe u betrokke kan raak nl.

Kom geniet die dag saam met ons.

Kontak die sameroepers as u produkte wil skenk of saam werk by die tafels (Ons kort veral nog by die
koektafel enige gebak, asook by die poedingtafel.)

Dra finansieel by deur ‘n EFT te maak wat duidelik gemerk is “gemeentefees”, of maak ‘n betaling by die
kerkkantoor of u kerkraadslid.

Bid vir ‘n mooi dag en samesyn.


Ons eredienste is tans nog op Youtube beskikbaar en ons kom bymekaar in die kerkgebou. Ons wil u aanmoedig om ons eredienste in persoon by te woon, aangesien die gemeenskap van gelowiges ‘n belangrike deel van ‘n gemeente is. Ons Youtube dienste gaan voort soos in die verlede.
Die projek waar ons die pastorie omgeskakel het in ‘n tehuis vir verswakte bejaardes is voltooi en word verhuur aan mev. Julia van der Merwe. U kan haar kontak vir meer inligting by 084 409 3857.
Wat ons finansies aanbetref is ons gemeente geseënd. Ons kan al ons diensaksies onverpoosd voortsit. Ons ondersoek die moontlikheid om die poste van ‘n tweede leraarspos, asook ‘n voltydse orrelistepos te vul.

Ons dank u vir u offervaardigheid in moeilike tye. Ons sal sodra ons boeke geoudit is, terugvoer gee aan die gemeente.
Op ons vorige Bestuurspanvergadering is Willem du Preez verkies as voorsitter van ons Bestuurspan en Johan Smit as onder-voorsitter. Hartlike geluk Willem en Johan. Ons bid vir hulle vir die taak en vra ook u ondersteuning vir die werk wat hul verrig. Willem kan gekontak word by 082 823 5988.

Mag u elkeen in hierdie jaar die besondere teenwoordigheid van ons Here Jesus ervaar deur Sy Gees. Bid vir ons, bid vir mekaar en bid in besonder vir ‘n brose stukkende wêreld.

Groete in Christus.
Danie Goosen.
(Nms die Kerkraad)