23 Junie 2021
Goeie môre gemeente,
Ons besef dat u in hierdie tyd baie uitdagings en beproewings ervaar. Ons wil u bemoedig en aanmoedig om te volhard in die geloof.
Ons dink en bid vir elke familie wat geliefdes aan die dood afgestaan het. Mag u die troos van die Here deur Sy Gees ervaar.
As gevolg van die talle infeksies is ons genoodsaak om eers weer ons eredienste in die kerkgebou te staak. Ons dienste op Youtube gaan voort. Begrafnisse kan geskied met die nodige protokolle in plek volgens die Covidregulasies. Ons is ook bereid om u te help met opnames tydens begrafnisse indien u dit verkies. Kontak die kerkkantoor vir meer inligting.
Ten spyte van die uitdagende tye kan ons getuig dat die Here vir ons baie goed is. Al ons werksaamhede gaan voort.
Ds. Danie Goosen gaan met Sabbatsverlof van 24 Junie tot 24 Julie 2021. Dr. Frans Hancke neem in die tyd waar. U kan hom skakel by ons gemeente se selfoonnommer 073 319 9807. Ons dank hom vir sy bereidwilligheid.
Ons dank u elkeen ook vir u volgehoue ondersteuning. Behalwe al ons diensaksies het die kerkraad ook besluit om die pastorie in Langstraat op te knap en te verander in ‘n versorgingshuis vir bejaardes. Die huis sal by voltooiing verhuur word en die gemeente is verantwoordelik vir die instandhouding van die gebou. U kan Drikus Jacobs vir meer inligting skakel by 082 464 3816.
Ons wil graag ook meer van ons getuienisbediening se inligting met u deel: • Ons ondersteun nog al ons sendelinge en dit gaan ook goed met almal in uitdagende omstandighede. Kom ons volhard met daaglikse voorbidding vir elkeen van hulle. • Gereelde kommunikasie vind plaas en spesifieke nuusbriewe kan by die kerkkantoor aangevra word. • Hier is spesifieke gebedsversoeke: Die verslapping van reise na Madagaskar, sodat Dries (reeds 7 maande in SA) kan terugkeer na sy familie. Die beskerming van kerke en Christene in Algeria, waar vervolging en sluiting van kerke nog steeds gebeur. Dat jong bekeerdes sal volhard om hulle besluit daagliks uit te leef. Dat al die reëlings, voorsorg, finansies en ondersteuning vir die Masada jeugkamp in Reni glad sal verloop. Dat die vennootskapvergadering van Makhathini veilig sal voortgaan op 24 Julie 2021. Geseënde tuisbesoek van dr Stéfan vd Watt en familie wat reeds in SA is en ons gemeente DV op 10 Oktober 2021 sal besoek. Ons bid ook vir Elmar en Nadine se tuisbesoek vanaf DV 16 Julie 2021. • Getuienisbediening behoeftes / versoeke: Ons wil graag 75 komberse aan Wolwedans skenk hierdie winter. Ons sal u hulp / skenkings opreg waardeer. Ons benodig ‘n tweedehandse naaimasjien, in ‘n goeie werkende toestand, vir iemand in Wolwedans wat tans komberse met die hand werk.
Mag u elkeen opnuut ons visie deel en ervaar: “Jesus vir ons, vir almal!”
Groete in Christus,
Namens die kerkraad Ds. Danie Goosen