Gemeentebrief – September 2023

22 September 2023

Goeiemôre gemeente

Ons is tans in Koninkrykstyd in die kerklike jaar. Dit bevestig dat God deur die werk van Jesus Christus Sy ryk gevestig het, en ons as koningskinders deur die werking van die Heilige Gees hierin deel. Dit is ‘n genadegeskenk (gawe) van God. Mag ons elkeen met danksegging leef!

Ons het daarom goedgedink om ons fees einde Oktober ‘n dankfees te maak. Ons begin die Vrydagaand met ‘n humoristiese konsert wat beloof om die lagspiere te prikkel. Die Saterdag skop die verrigtinge af om 09:00 waar talle produkte te koop sal wees. Ons poog om meer produkte op elke tafel te hê, maar kom vroeg om teleurstelling te voorkom en lekker gesellig saam te verkeer. Ons sluit die naweek af die Sondag met nagmaal in die kerk om 09:00 en 10:00 by Groenkloof. By die erediens is daar geleentheid om u dankbaarheidskoevertjie te bring soos wat u goeddink. Die koevertjie is bloot iets tasbaar wat u tydens die erediens kan ingooi, of andersins kan dit by die kerkkantoor ingegee word. Dit verhoed u nie om ‘n EFT te doen indien u dit verkies nie.

Ons is dankbaar vir die volgende:
– vir Onse Hemelse Vader vir wie Hy is en wat Hy doen.
– vir mense, mense soos u en talle ander wat ten spyte van hul broosheid streef om die goeie te doen.
– vir ons gemeente en elke gawe wat die gemeente rig en bou.
– vir ons gesonde finansies dat die werk van die Here kan voortgaan en blymoedige gewers soos u wat dit moontlik maak.
– talle onderhoudswerk wat afgehandel kon word.
– ons kerkraad, bestuurspan en personeelkorps wat hard saamwerk. In hierdie verband het ons die vakante leraarspos geadverteer en die sluitingsdatum vir die aansoeke is 30 Oktober 2023. Nominasies van leraars of finalejaarstudente kan ook deur lidmate by die kerkkantoor ingedien word. Ons het wel gedink dat die persoon nie ouer as 40 jaar moet wees nie.

Soos u weet sou ons die lys nog kon aanvul, maar ons wil u ook vra om ons te kontak waar ons dalk ‘n paar koninkryksake miskyk.

Laat weet die kerkkantoor indien u ‘n besoek verlang of voorbidding nodig het. Ons
sal so spoedig moontlik reageer.

Ons wil elkeen van u aanmoedig om in onseker tye voort te gaan met die goeie werk waartoe Christus ons geroep het. Ons sluit af met die volgende woorde: “Terwyl ons dan so groot geloofskare rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons maklik verstrik.”(Hebr 12:1-2)
Groete in Christus.
______________
Willem du Preez
Nms die kerkraad