Gemeentebrief 27 Augustus 2021

Goeie môre gemeente,

Ons groet u hier in Augustusmaand in die naam van Jesus Christus. Dit is ‘n maand waar ons dink aan al die vrouens in ons lewens, maar veral ook in ons land en wêreld. Ons is dankbaar vir al ons oumas, ma’s, dogters, eggenote en vriendinne.

Daar is egter ook vroue wat gebuk gaan onder geweldige mishandeling, hetsy fisies en/of emosioneel. Waar dit moontlik is, kan ons betrokke raak en ‘n verskil maak in mense se lewens. Self kan ons hulp soek en aanklop vir raad. Bewusmaking van onreg is deel van ons verantwoordelikheid as gelowiges. Kom ons staan saam in die stryd teen onreg in ons mooi land.

In hierdie tyd het ons een van ons ma’s, Elmarie Jonker, aan die dood afgestaan. Sy was ons koster en ons betreur haar afsterwe. Die Covid pandemie het naby aan elkeen van ons gekom. Ons bid vir elkeen van julle wat iemand in die tyd aan die dood afgestaan het asook al die siekes in ons gemeente.

Dit het ons genoodsaak om ons eredienste in die kerkgebou vir eers te staak tot latere kennisgewing en voort te gaan met ons Youtube eredienste. Ons kategese sal later begin waar ons slegs ‘n paar byeenkomste sal hê voor ons afsluiting op 14 November 2021. Ons sal u in kennis stel van enige verwikkelinge. Volgende jaar doen ‘n teologiese student, Tijané Visser, haar prakties in ons gemeente. Sy sal ‘n aanwins wees vir ons gemeente en ons is op soek na ‘n kamer/woonstel vir haar verblyf vanaf Februarie 2022 tot einde November 2022. Kontak ons indien u kan help.

Elmarie Jonker was ook ons organiseerder van ons dankfees en ons versoek dat indien jy hier betrokke wil raak, ons kerkkantoor te skakel. Daar is ook ‘n vraelys by jou kerkraadslid of kerkkantoor beskikbaar wat jy kan invul oor jou betrokkenheid in ons gemeente. Ons gawes en talente maak ‘n verskil in menselewens en in die koninkryk van God.

Noël-Jean Creille ons vorige orrelis is al geruime tyd in @Peace Haven, 14 Dahliastraat, Mosselbaai. Dit gaan nie goed met sy gesondheid nie en ons vra voorbidding vir hom.

Wat al ons werksaamhede in die gemeente betref is ons dankbaar dat ons gemeente in die bevoorregte posisie is om ons verpligtinge na te kom, maar ook op ‘n voortgesette wyse by ons diensaksies en uitreikaksies betrokke te kan wees. Ons wil u aanmoedig om waar u bewus is van nood, of self in nood verkeer, ons dadelik te verwittig van u omstandighede. Ons wil help!

Die onderhoudsgedeelte van die pastorie se omskakeling in ‘n bejaardesorg fasiliteit, word binne die volgende twee tot drie weke afgehandel. Die spesialisgedeelte van die werk sal vroeg in September in aanvang neem sodra die publieke deelname proses afgehandel is.

Ons geouditeerde state vir die jaar geëindig op 28 Februarie 2021 is vir u insae by die kerkkantoor beskikbaar. Ons het die jaar op ‘n mooi surplus afgesluit van R286 000. Dit is te danke aan u volgehoue bydrae tot die saak van die Here en ons wil u elkeen hiervoor bedank. Ons glo ons sal op u volgehoue ondersteuning kan vertrou. Die surplus sal ‘n gedeelte van die onderhoudskoste aan die pastorie betaal. Ons dank die Here dat Hy ons op talle vlakke versorg, ook ten opsigte van ons geldsake. Kontak gerus vir Anton Gericke (0832772777) indien u enige verdere inligting aangaande die gemeente se finansies wil weet.

Die kosterpos is geadverteer en ons sal spoedig ‘n aanstelling maak.

In hierdie tyd wil ons u aanmoedig om u vreugde in die Here te behou. Wees dankbaar en blymoedig, en wanneer die lewe druk help mekaar. Indien nodig kry hulp. Ons deure is vir elkeen oop.

Groete in Christus.

Ds. Danie Goosen.

Nms. Die kerkraad