22 Januarie 2021
Goeie môre gemeente,
Ons groet u in die Naam van Jesus Christus ons Here. Ons bid en vertrou dat dit met u goedgaan. Ons besef egter ook dat baie van ons ontberings beleef en verliese ervaar het. Ons vertrou dat elkeen van ons opnuut besef dat ons geloofsvertroue in Jesus Christus ons ook in hierdie tye tot innerlike vrede stem.
Ons wil elkeen bedank vir die wyse hoe u die werk van die Here uitgeleef en ondersteun het. Ons as gelowiges mis die samesyn van gemeentewees in geboue, maar ons het ook die geleentheid aangegryp om Jesus se Liggaam te wees in ‘n brose wêreld.
Ons het werklik gehoop dat dinge vinniger na “normaal” sal terugkeer, maar ons besef dat wat wel gebeur het is dat meer mense en geliefdes naby aan ons ook siek geraak het. Ons bid saam vir elkeen. In die lig hiervan sal geen gemeentelike eredienste plaasvind tot latere kennisgewing nie. Ons dienste gaan voort op Youtube. Ons dienswerk gaan aan soos normaal en u kan ons ondersteun op die volgende maniere:
- Bid vir en ondersteun mekaar en al ons werksaamhede.
- Raak betrokke by ‘n diensaksie waar jy graag wil. Skakel myself of die kerkkantoor in die verband.
- Gee sop of nie- bederfbare produkte en lewer dit by kerk af op Maandae, Woensdae of Vrydae.
- U kan u finansiële bydrae gee deur dit af te gee by die kerkkantoor en in die posbus te gooi, ‘n EFT betaling te doen of deur u bank te reël. Ons is besig om op SNAPSCAN te registreer en ons sal u in kennis stel sodra die registrasie voltooi is. U kan solank die toepassing op u selfoon aflaai. Snapscan is ‘n gerieflike manier om betalings te maak en baie gemeentes gebruik dit vir kollektes en dankoffers.
- Gee opbouende terugvoer oor waar ons kan verbeter en dienend betrokke kan wees by mekaar en in die wêreld in hierdie tye.
DIt is belangrik om te weet dat ons blokbyeenkomste nie nou sal begin nie. Ek is in die week wat die blokbyeenkoms geskeduleer is beskikbaar vir huisbesoeke. Sal graag saam met u wil gesels en bid. Kontak die kerkkantoor vir ‘n afspraak.
Wat fondsinsamelings betref sal ons gholfdag nie nou plaasvind nie as gevolg van die regulasies. Ook beplan ons dat ons eerste dankfees weer n “GRYP EN GAAN” sal wees. Soos u kan sien het baie van ons geleenthede nie gerealiseer nie, maar ons is dankbaar dat ons nog al ons dienswerk en verpligtinge kon nakom.
Ons beplande strategiese sessie vind plaas op ‘ n latere datum. Op die oomblik sien ons nie dat ons in ‘n gees van vrymoedigheid sinvolle gesprekke sal voer nie as gevolg van die huidige hoë aantal infeksies in ons omgewing. Ons sal u verwittig van die datum. Ons sal wel by ons Bestuurspan en kerkraadsvergaderings belangrike besluite neem. U sal in kennis gestel word.
Ons koster, Liana Boshoff, het besluit om na 25 jaar diens meer tyd saam haar familie te spandeer en eindig einde Februarie 2021 by ons. Ons bedank haar vir uitstekende diens en wens haar net die beste toe.
Ons dank u elkeen vir elke goeie daad en opbouende woorde in moeilike tye. Kom ons waak teen negatiwiteit en weet dat God in beheer is.
Groete in Christus.
Ds. Danie Goosen
Namens die kerkraad.
[wpdm_package id=’2086′]