Goeiemôre gemeente
Hier in die begin van die jaar is ons dankbaar dat ons in die afgelope jaar kon getuig dat ons al die werke van ons gemeente met blymoedigheid kon doen.
Dat ons dienswerk en uitbreiding van die koninkryk nooit ‘n voltooidheid bereik nie, maar eerder die voortsetting van pelgrims saam op reis is, is ‘n voorreg. Ons dank u elkeen vir u aandeel en bemoediging om hierdie reis voort te sit.
In die proses van al die uitdagings wat ons ervaar het, het ons besluit om ds. Charné Viljoen na ons gemeente te beroep. Dit het ons gedoen in die vertroue dat God haar met al haar gawes hier wil gebruik. Ons is dankbaar dat sy, Ruan en Emma hier by ons is, en dat hulle die bedieningslas in die span verlig en ook nuwe energie bring. Ons vertrou hulle sal by die dag ook ervaar dat hulle deel is van ‘n span om ons visie “Jesus vir ons, Jesus vir almal” uit te leef. Die afgelope naweek het hulle reeds saam ‘n klomp gesinne gaan kamp.
Ons is ook bly om saam ds. Danie en Nadia deel te kon wees van die geboorte van klein Theo. Ons bid saam vir hulle groot taak in sy opvoeding.
Die nood in ons omgewing en in ons gemeente raak groter. Saam besef ons al hoe meer dat ons rol in die verband van kardinale belang is. Net so ervaar ons dat ons sendelinge wêreldwyd dieselfde ervaring deel dat die wêreld al hoe meer ‘n gevaarliker plek is om in te leef. Ons is tans in ‘n bevoorregte posisie om ons dienswerk en roeping te kan uitleef. Dit beteken om in hierdie wêreld nood te kan verlig en die Woord van God te kan verkondig.
Om hierdie werk te kan voortsit, het ons u volgehoue ondersteuning en betrokkenheid nodig. Of dit by die jong gesinnebediening is, aftreeoorde, omgeebediening, ondersteuningsgroepe of getuienisbediening waar u betrokke is, wil ons u aanmoedig om die goeie werk voort te sit. Ons wil u ook nederig vra om waar moontlik, ons te ondersteun in u offervaardigheid en bydraes sodat ons al die goeie werke van God deur Sy genade kan
voortsit.
Eersdaags is dit ons gemeentefees, en ons lyste begin die week in die gemeente sirkuleer. Ondersteun die fees deur u bydraes op verskillende wyses te gee, maar veral om die dag, 27 April 2024, by te woon en saam te kuier. Dit beloof om hierdie jaar af te skop met ‘n ervaring waar die gemeenskap van gelowiges saamwerk, saam kuier en verhoudings versterk word.
Ons is dankbaar dat dit tans ook voorkom dat ons die vorige finansiële jaar op ‘n surplus kon eindig, maar ons begroot vir ‘n tekort die komende jaar in die lig van die ekonomiese klimaat van ons land. Ons vertrou egter dat die Here sal voorsien in al ons behoeftes.
Ons beste wense vergesel u in hierdie jaar en kom klop aan ons deur of kontak ons indien u enige vorm van nood beleef of raaksien.
Saam in Koninkryksdiens.
Willem du Preez


