Gemeentebrief 3 Desember 2021

Goeie more gemeente,

Die seisoen is hier. ‘n Tyd van terugkyk en vorentoe kyk (Adventstyd). Dit was ‘n jaar waarin ons as gemeente met dankbaarheid kon ervaar hoe God op talle wyses voorsien het. Ons het ook verlies ervaar. ‘n Verlies van geliefdes, normaliteit en soms gemeenskap van gelowiges. Ons moes elkeen op kreatiewe maniere nuut dink oor ons lewens, familie en vriende. Ook kerkwees het ‘n nuwe era ingegaan. Virtuele eredienste het ‘n algemene verskynsel geword en ons glo dat, alhoewel ons weer in die kerkgebou bymekaar kom, eredienste virtueel sal voortgaan. Dit kan egter nooit plaasvervangend wees vir die “in die oë kyk” geleenthede nie. Mag ons ere-diens aan God in ons lewens nuwe gestalte kry in ons huise, gemeenskap en wêreld. Ons moedig kreatiewe dissipelskap in u invloedsfeer aan. Soos Christus eens na die wêreld gekom het, mag iets van die gestalte van Sy koms ook in ons en deur ons sigbaar word.

Wat ons eredienste tydens die vakansie aanbetref, het ons besluit om slegs 10h00 eredienste te hou.

Ons Kersdagdienste in die kerkgebou gaan voort met die nodige regulasies in plek sover moontlik. Die tye vir die dienste op 25 Desember is: 07h00, 08h00, 09h00 en 10h00. Daar sal ook ‘n virtuele opname wees. Die oujaarsdiens sal om 23h30 plaasvind. ‘n Virtuele opname word ook daarvan gemaak.

Ons wil graag die volgende goeie nuus met u deel:

Ten spyte van ontwrigtende omstandighede, kon ons dienswerk voortgaan en selfs uitgebrei word. In die afgelope jaar het ons die werk aan die pastorie in Langstraat begin om dit in ‘n versorgingsoord vir bejaardes in te rig. Die projek is naby aan voltooiing en behoort rondom 2 Januarie 2022 in bedryf te wees. Mense kan Mev. Julia van der Merwe kontak vir enige navrae by 084 409 3857. Ons kon die projek aanpak en voltooi sonder om aan ons beleggingsfondse te raak. Ons dank u vir elke offer in die tyd.

Ons poog om al ons gemeente aktiwiteite, preke en gemeente-inligting op ‘n webblad te plaas waar u dit in u voorhuis kan besigtig. Besoek gerus ons webblad by http://www.nggrootbrak.co.za

Ons vertrou en bid dat elkeen in die nuwe jaar ons opgewondenheid sal deel om in die gemeente die liefde en genade van Jesus Christus met mekaar en die wêreld te deel. Ons sien uit om saam met mekaar hierdie tyd en geleenthede aan te gryp.

Kontak ons met u hulp, raad, dienswerk en vrae. Ons wil ook graag help in nood. Help ons om mekaar bewus te maak van enige saak wat u “raaksien” en ons dalk mis.

Mag die vrede en liefde van Jesus Christus met u elkeen wees en bly. “Adventus dei” – Christus kom!

Groete in Christus,

Ds D.J. Goosen

Namens die Kerkraad