Goeiemôre gemeente,
Hierdie tyd van die jaar word ons herinner aan die koms van Jesus Christus. Dis ook die begin van ons kerklike jaar. Liedere soos “O, die goeie tyding” en “Welkom o stille nag van vrede” weerklink uit kerkgeboue en winkelsentrums. Midde in hierdie tyd raak ons ook bewus van pyn en lyding wêreldwyd. Oraloor word woorde gebruik soos apokalipties wat verwys na die eindtye. Laat ons gedurigdeur herinner word dat die eindtyd ingelui is met Christus se eerste koms. En Hy maak ons ook deel van Sy tyd en werke totdat Hy weer kom.
Ons gebed is dat die feestyd vir u en u familie iets van die tyding sal weerspieël. Die Adventstyd se hoogtepunt is Kersdag waar ons met sang en Woordverkondiging iets van Christus se koms vier. Die eredienste vind plaas om 07:00, 08:00, 09:00 en 10:00 in die kerkgebou en ook 10:00 by Groenkloof.
Ons vertrou om u en u familie by van die dienste te sien. Ons beste wense vir die jaar 2024 word u toegebid.
Ons oujaardienste vind plaas op 31 Desember 2023 om 09:00 en 18:00. Dieselfde boodskap sal by beide die dienste gebring word.
Ds Danie Goosen neem verlof vanaf 27 Desember 2023 tot 14 Januarie 2024. Ons wens vir hom en Nadia ‘n goeie rustyd en bid ook vir die laaste deel van die swangerskap met die nuweling wat in Februarie verwag word. Dr. Frans Hancke sal in die tyd waarneem in ds Danie se plek en kan gekontak word by 0824905737 in noodgevalle. Ons kantoor sluit vandag om 13h00 en sal open op 8 Januarie 2024.
Op gemeentevlak, sien ons uit dat ds Charné Viljoen in Februarie 2024 by ons haar roeping voortsit. Sy en haar man Ruan, en dogtertjie Emma, kom van Bloemfontein. Ons bid vir ‘n voorspoedige oorgang in die verandering in hulle lewens en vertrou dat hulle gemaklik by ons sal inskakel. U kan op die volgende skakel kliek om ‘n kort video van hulle te sien: https://youtu.be/W6KE1ML5Dc0
Ons dank u elkeen vir u getroue dienswerk en ondersteuning. In moeilike tye herinner ons u aan die goeie tyding: ” In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop…”
Saam in Koninkryksdiens!
Willem du Preez.
Voorsitter van die kerkraad


