![]() Waarom glo ons? Die eerste tema van die dag is Spiritualiteit in ‘n tyd van sekularisasie. Ds. Andries Cilliers van Drieankerbaai gesels oor sy nuwe boek Onder die Blaredak. Verwonderd oor die gawe om te kan glo.“Ek is verborge omdat ek verbonde is aan God. Veiligheid is nie die afwesigheid van gevaar nie, maar die teenwoordigheid van konneksie. Die hart van geloof en vertroue lê vir my daar. Die tradisionele Godsbewyse is daar, maar dan verwonder ek my daaraan … dat daar iets is, dat daar orde is, dat daar reg is, dat daar genade is, dat daar waarheid is en uiteindelik dat daar skoonheid is. Tydens die sinode is die boek by Bybel-Media se boekwinkel in die Hanepoot-saal beskikbaar. Die boek is ook by Bybel-Media se aanlynwinkel beskikbaar. |
![]() |
| VERKIESING VAN MODERATUUR |
![]() Sinode verwelkom nuwe skriba Hartlike gelukwense aan Annelet Slazus wat as skriba van die Sinode van Wes-Kaapland verkies is.Sy is onlangs as die eerste vroue-dominee by Parow-gemeente aangestel.Seën en voorspoed vir jou termyn. |
| SAKE VAN DIE DAG |
![]() ![]() ![]() Terugvoer van Diensgroep Getuienis Stephen Pedro van die Taakspan vir Gemeentegetuienis het verduidelik dat die taakspan fokus op die toerusting van lidmate ten einde gemeentes geestelik op te bou en tot vervulling van hulle getuienis en diens, in die gemeente en in die wêreld. Dit word gedoen deur besoeke, werkswinkels, inligtingsessies sowel as gesprekke-konferensies met 17 ringe en 37 gemeentes.Daniël de Wet van Afrika Ekumene gee terugvoer oor die taakspan se aktiwiteite insluitend besoeke aan RCZ in Zimbabwe, CCAP in Zimbabwe en Malawi en die CCAP Livinstonia bediening in die Wes-Kaap. Hulle was ook by die IRM Mphatso en Tumbini Sinodes asook hulle mobiele kliniek in Mosambiek, Hefsiba in Mosambiek en die Reformed Church of East Africa in Kenia. Plaaslik het hulle in Kwa-Zulu Natal besoek afgelê by Msinga en die Makhathini Kinderbediening. Hulle is ook deel van die Reformed Family Forum wat bestaan uit verteenwoordigers van al die kerke wat sedert die 19de eeu uit die NG Kerk in Suid-Afrika ontstaan het.Daarna was Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis aan die woord. Hy vertel dat getuienis ‘n opdrag is en dat sosiale kohesie een van hulle fokusareas is. Projekte waarmee SPG besig is, sluit in die #100DorpeDialoog waarmee hy in meer as 70 dorpe betrokke was, konflikmediasie, die GROEI-projek van die Hoop en Versoening Trust asook behuising van haweloses en ‘n behuisingsprojek saam met The Shackbuilder in De Hoop. Hy dien ook op die raad van die Southern African Faith Communities Environment Institute en die Western Cape Ecumenical Network. Sien ook die Taakspan Ekologie se video-oorsig oor hulle aktiwiteite hieronder. |
| Die huwelik en seksualiteit Die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake is voortdurend besig om navorsing te doen oor etiese sake. Hulle dien ‘n ontwikkelende dokument vir gesprek. Die doel van hierdie navorsing is nie primêr formele standpuntinname nie, maar om gemeentes en predikante te dien.Hoe dink NG lidmate oor die huwelik? Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry, het die teologiese navorser Marileen Steyn (onder regs) onderhoude gevoer met ’n groep van 32 NG-lidmate. Die respondente sluit mans, vroue, geskeides, getroudes, gays en heteroseksuele mense van die platteland asook stede in.Die respondente het eenderse idees, blyk dit. “Dit sê vir ons daar is universele sienings oor die huwelik,” het Steyn gesê. Met dié verskil, dat daar gay lidmate is met diep seer oor die taal wat hulle in die kerk oor hulle verbintenisse hoor, aldus Steyn. “Ek voel soos die monster wat afgedruk wil word en die kerk is die wag,” het een genoem. ’n Ander het genoem dat die Bybel aggressief voel.’n Literatuurstudie oor die werk van teoloë soos John Witte en James Nelson (liggaamsteologie) was deel van die verslag. Dr. Nadia Marais (foto links) het dit kortliks behandel. Marais het gewys daarop dat hierdie gesprek binne die NG Kerk nie in isolasie plaasvind nie. Dit geskied binne ’n konteks waar die kerk se insette ook gevra word rondom die opstel van ’n nuwe huwelikswet wat poog om die diskriminasie te vermy wat in die bestaande huwelikswetgewing voorkom, aldus ’n uitspraak van die betrokke minister. |
![]() ![]() |
| HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG |
Fokus op intergenerasionele bediening Diensgroep Jeug en Familie het ’n baie interaktiewe sessie aangebied en die verskillende uitdagings in die huidige konteks van die kerk uitgelig. Tafelgesprekke het gekyk na tendense soos besige huise, eenrigting eredienste, lae energie kategese, skole en koshuise, gemeenskapkinders en onbetrokke jong volwassenes. Intergenerasionele bediening is ook bespreek. |
![]() |
VKO meer as net ‘n crèche Die wegbreeksessie Dis nie (net) ‘n crèche nie – vroeëkindontwikkeling, missionale diakonaat en gemeentes is vandag onder leiding van VKO-beampte en diensleraar ds. Melanie Thirion aangebied.Die doel van hierdie sessie was om meer inligting te verskaf rakende die verskillende dienste wat deur Little Seeds, ‘n gesamentlike inisiatief tussen Badisa en Diaconia, aangebied word. Hierdie geregistreerde projek speel ‘n rol in die voorkoming van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Elke kind se basiese behoeftes soos liefde, sekuriteit of veiligheid, voeding en ouderdomsgepaste stimulasie dien ook as boublokke van vroeëkindontwikkeling.“Ons is bevoorreg om ‘n funksionerende sisteem in die vorm van die NG en VG Kerke te hê, soos duidelik blyk uit die feit dat daar op elke klein dorpie reeds ‘n kerk opgerig is. Ek dink dis tyd dat ons daardie kerktorings moet begin gebruik om vir die kinders van daardie gemeenskappe hoop te gee,” het Thirion verduidelik. Little Seeds volg ‘n gemeenskapsgebaseerde benadering, waar hulle hande vat met diegene binne ‘n spesifieke gemeenskap wat reeds na kinders in hulle plaaslike omgewing kyk deur hulle te bemagtig om dit meer doeltreffend te kan doen. Dit word gedoen deur middel van verskeie dienste wat Little Seeds aanbied, insluitend gemeentefasilitering, dagmoederprojek met behulp van Brilliant Boxes, Little Seeds leesgroepe, bystand met VKO-sentrums se registrasie en die SmartStart-program. |
| SINODEMOMENTE |
| Afgevaardigdes deel hulle ervaring oor die sinodesitting en hulle gevoel oor die tema Christus, ons vreugde in hierdie reeks kort videos. |
| TEN LAASTE |
![]() En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. (Johannes 1:14) Foto: KerkbodeGroete uit Goudini Ronelda Visser en Wilmi Wheeler |












