2023 SINODESITTING Wes-Kaap Dag 2

Roeping en identiteit onder die soeklig
Vandag se eerste tema vra vir afgevaardigdes om saam te dink oor roeping en identiteit. Dr. Angelique Havenga van Stellenbosch Moederkerk hanteer die spiritualiteitsessie en lees een van die eerste roepingsverhale uit 1 Samuel 3: “Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: ‘Hier is ek, want u het my geroep.’

AMPTELIKE NUUSBRIEF: SINODE VAN WES-KAAPLAND  
Beste Groot-Brakrivier    
2023 SINODESITTING   Roeping en identiteit onder die soeklig
Vandag se eerste tema vra vir afgevaardigdes om saam te dink oor roeping en identiteit. Dr. Angelique Havenga van Stellenbosch Moederkerk hanteer die spiritualiteitsessie en lees een van die eerste roepingsverhale uit 1 Samuel 3: “Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: ‘Hier is ek, want u het my geroep.’  

 
Ons wil Jesus sien
Coenie Burger en Marius Nel gesels oor hulle boek Ons wil Jesus sien – sy geskiedenis en ons getuienis oor Hom. Coenie noem dat ons “oor baie dinge meer praat as oor die hart van ons geloof – Jesus Christus. Dalk sukkel ons met ons ander gesprekke omdat ons nie meer helderheid het oor wie Jesus Christus is nie. Ons soek die fout op ander plekke, maar as ons nie meer weet wie ons as kerk regtig is nie, is daar moeilikheid. Daar is meer aan Jesus as wat ons besef. En as ons dit sien, kan dit ons lewens en ons land verander.” Marius voeg by: “Wanneer ons dink aan ons roeping en identiteit as kerk wat op Jesus gebou is, moet ons ook kyk na die impak van Jesus. Ons moet fokus op die lewe van Jesus – nie net sy woorde nie, maar ook sy dade. Daarom kyk ons na die ses stasies van Jesus se lewe. As ons geanker bly in Jesus, dan moet ons vra wat ons anders as kerk moet doen. Ons moet dit omarm dat ons nie eintlik die antwoorde het nie, maar dat ons in ’n gebroke en stukkende wêreld ‘n verskil kan maak.” Tydens die sinode is die boek by Bybel-Media se boekwinkel in die Hanepoot-saal beskikbaar. Die boek is ook by Bybel-Media se aanlynwinkel beskikbaar.
 
Nuwe bane van teologiese opleiding
“Die Here roep mense in verskillende lewensfases … en om verskillende werk te gaan doen,” het dr. Frederick Marais gesê in ’n bespreking oor die nuwe opleidingsmoontlikhede wat die afgelope paar jaar binne die NG Kerk ontwikkel is.  As jy voel God roep jou tot die bediening, is hierdie die moontlikhede oor hoe jy die baan wat by jou roeping pas, kan kies en sodoende jou roepingspad beplan.  Bedienaars Diensleraars Standplaasleraars Predikante/Gemeenteleraars Kyk die video hieronder en lees meer by http://seminarium.org.za/.  

    VERKIESING VAN MODERATUUR
 
Sinode verwelkom nuwe assessor
Hartlike gelukwense aan prof. Marius Nel wat as assessor (ondervoorsitter) van die Sinode van Wes-Kaapland verkies is. Marius is ‘n professor in Nuwe Testament by die Stellenbosch Universiteit se teologiese fakulteit en verbind aan Oostersee-gemeente. Seën en
voorspoed vir jou termyn.     
SAKE VAN DIE DAG
 
Argief stel dienste bekend
Die NG Kerkargief op Stellenbosch huisves die argivalia van ses streeksinodes, die Algemene Sinode, die VGK, die Volkskerk van Afrika en die Congregational Church, Pniel. Alle rekords sedert 1665 word hier gehuisves in doelmatige kluise wat brandbestand is en toegerus is met beheerde atmosfeer (temperatuur en humiditeit). Dit beslaan twee kluise en beskik oor 5,2 km rakke. Klik hier om ‘n video oor die Argief te kyk saamgestel deur Wordwise Media.  Foto: Collette de Wet, Karen Minnaar en Andrew Kok.  

Gendergeregtigheid lewer verslag

Lou-Maré Denton en Eugene Malan se voorstel namens die Taakspan Gendergeregtigheid is aanvaar. Daarvolgens sal alle predikante, insluitend predikante in sinodale diens (PSD’s) en personeel van die sinode, opleiding ondergaan om sensitief te wees vir wat ander as seksuele teistering kan beleef binne kerklike strukture.

Hierdie is een van twee voorstelle gemaak deur ds. Lou-Maré Denton, voorsitter van die Taakspan Gendergeregtigheid. Die tweede is dat daar ondersoek moet word of ’n pos vir ’n “gender-lessenaar binne die sinodale strukture” geskep kan word om op hierdie manier die kapasiteit van hierdie taakspan uit te brei. Sy het vir Kerkbode verduidelik dat die twee versoeke spruit uit hulle taakspan se belewenis dat vroue in kerklike ampte ervaar dat daar soms ’n gebrek is aan sensitiwiteit oor genderongelykheid of wat sy ook sal omskryf as “micro-aggressions” teenoor vroue-kollegas.    
HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG  
Moderamenverslag dien
Nelis Janse van Rensburg gee ‘n video-oorsig oor die sinodale werksaamhede van die afgelope vier jaar. Hy bedank ook die moderatuur, PSD’s, diensgroepleiers, taakspanne en personeel vir hulle uitmuntende werk van die afgelope paar jaar en sê dat dit ‘n ongelooflike voorreg was om met sulke toegewyde mense te werk.  
 
Fokus op geestesgesondheid

Etienne van der Walt en Cuan Macnab-Holding van Neurozone het ‘n insiggewende aanbieding gedoen oor die neurowetenskap van veerkragtigheid. Hulle het in samewerking met Diensgroep Toerusting en Navorsing ‘n studie onder 64 predikante gedoen met verskillende assesseringstelsels, insluitend die NeuroZone Resilience Index en die Communitas leierskapsontwikkeling-vraelys.  
 

Kerk van die toekoms stel nuwe boek en webblad bekend

“Hoekom is daar al hoe minder jong volwassenes wat deel is van die kerk? Hierdie brandende vraag het aanleiding gegee tot ‘n vyf jaarlange navorsingsprojek waarvan die boek Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit een van die uitkomste is en vandag by een van die wegbreeksessies deur DinkJeug bekendgestel is! Die boek is gemik op jong volwassenes en enige persoon wat nuuskierig is oor hoe ‘n nuwe kerk gestalte gaan vind. Die formaat van die boek nooi die leser uit om deel te word van ‘n reis na die toekoms. Hierdie video gee ‘n kort beskrywing van die boek. Die boek kan teen R250 (posgeld ingesluit) by jeug@kaapkerk.co.za bestel word of teen die spesiale prys van R100 by die sinodesitting verkry word. Maak ook ‘n draai by die wegbreeksessie “12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes” op Woensdag en Donderdag om 14:30 in die Slanghoek-lokaal.

Besoek die splinternuwe Kerk van die Toekoms webblad by www.kerkvandietoekoms.co.za
om solank ‘n kykie na die stories en navorsing te kry.
 
Suksesvolle wegbreeksessies
Verskillende diensgroepe en taakspanne het vanmiddag agt wegbreeksessies aangebied. Daar is gesels oor teologiese opleiding en navorsing, gemeentebegeleiding, kommunikasie asook ras en versoening. MIV se impak op die kerk is bespreek sowel as rigtingwysers vir jong volwassenes. Sien die skedule vir Woensdag se wegbreeksessies hieronder.  
 

Taakspan Ras en Versoening
Die wegbreeksessie Op reis met ras en versoening het klem gelê op die feit dat gesprekvoering die sleutel tot rasversoening- en geregtigheid in Suid-Afrika is. Die proses hiervoor is deur die woorde van prof. Klippies Kritzinger, ‘n missionale teoloog van Pretoria, geïnspireer. Hy het gesê dat verskillende tipe in-persoon gesprekke tussen verskillende kerke gehou moet word om aan lidmate die geleentheid te gee om hulle verhale en ervarings met mekaar te deel en na mekaar te luister sodat hulle uiteindelik ook kan begin om dinge saam te doen. Daarom is ‘n veilige ruimte vir sessiegangers geskep, waarbinne hulle vanuit verskillende omgewings en perspektiewe met mekaar in gesprek kan tree om sodoende nader aan die koninkryk van God te kan kom. Ter afsluiting is almal gevra om een woord op plakkers neer te skryf wat volgens hulle God se versoende toekomsdroom vir ons land, gemeenskap en/of kerk verteenwoordig. Terwyl hulle hierdie sessie in stilte verlaat het, is hulle plakkers op die Nagmaalskers aangebring. Hierdie kers dien nie slegs as ‘n kragtige visuele voorstelling van hierdie groep se visie vir ras en versoening in Suid-Afrika nie, maar ook as die stille getuie dat hierdie gesprekke nog baie ver van afgehandel
is…    
SINODEMOMENTE
 
   
FOTO’S VAN ONS RINGE
 
Ring van Paarl

Ring van Oudtshoorn
 
Ring van Worcester

Ring van Stellenbosch
    TEN LAASTE
 
Die tweede dag van die sinodesitting het die omvang van sinodale werksaamhede oor die afgelope vier jaar in oënskou geneem. Sinodegangers beleef die byeenkoms as ‘n veilige ruimte waar hulle geloofsonderskeidend oor kwessies van die kerk kan gesels. Woensdag is die halfpadmerk vir die sinodesitting en ‘n propvol dag is op die agenda. 

Groete uit Goudini


Ronelda Visser en Wilmi Wheeler   Twitter Facebook Instagram YouTube