2023 SINODESITTING Wes-Kaap Dag 5

AMPTELIKE NUUSBRIEF: SINODE VAN WES-KAAPLAND
Beste Leser
2023 SINODESITTING
Sinodesitting sluit af
Die 2023 Sinodesitting het vandag afgesluit nadat talle mosies gedien het. Die byeenkoms is geëindig met samesang en die nagmaal.

HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG
Kommunikasie loods nuwe logo en webwerf

Kaapkerk spog van vandag af met ‘n splinternuwe logo en 
webblad. Gaan loer gerus op www.kaapkerk.co.za en ontdek, ontwikkel en ontmoet die nuwe Kaapkerk. Bydraes van gemeentes staan aan die hart van ons nuwe kommunikasiestrategie en ons hoop dat dit vir lidmate die geleentheid gee om hulle vreugde in Christus te ontdek. Ons maak op ons gemeentes en lidmate staat om ons op hoogte te hou van onderwerpe/temas waarvan julle graag meer wil leer. 


Die klippies wat rinkel

‘n Bydrae van ‘n sinodeganger wat die sitting vir die eerste keer bygewoon het.”Die massa gelowiges by die sinodesitting vang my onkant. Ek het altyd gehoor dat daar baie mense bywoon, maar dit is die eerste keer dat ek soveel leraars, kerkraad en ander kerkwerkers bymekaar ervaar. Dit sal baie mense in Suid-Afrika hoop gee en tog maak sommige momente baie leraars moedeloos, moeg en kwaad (maar net soos wat dit soms in die kerk ook gaan).Die ordelike, goed georganiseerde program kry  vir my ’n lekker kinkel wanneer ek hoor hoe daar geswem word. Toe ek net in die kerk begin werk het, was daar ’n spotprent in Die Burger. Die prentjie het krities uitgebeeld hoe die leraars “ten duurste” op die “supertube” gly. Die prentjie het nie gewys hoe leraars, vir net een week, sorgeloos met mede-gelowige maats speel nie – hul begrafnisdienste en moeilike beradingsgesprekke vir een oomblik vergete.Die sitting gee ’n goeie ritme vir die kerk om te evalueer, te besin, te beplan en dinge te probeer.
Dit help kollegas om mekaar weer te sien, weer te vind, reg te maak wat voorheen verbrou was. Dit bied ‘n ruimte om verhoudings te bou. Dit help die kleiner gemeentes om te weet hulle behoort en dat hulle steeds ’n plek het. Die geskarrel by die sinode is opmerklik – soveel agtergrondwerkers wat met erns rondhardloop en honderde take uitvoer. Elkeen van hulle moet ’n medalje kry.Wanneer die massa saamsing, hoor en ervaar jy die sinodetema – Christus, ons vreugde! Die oorgawe van sommiges is aansteeklik. Die spiritualiteitsessie dring jou om met begrip en begeleiding vir mekaar te bid.By die sinodesitting word jy opnuut gekonfronteer met jou roeping – dit is ’n plek waar jy moet evalueer en voor God gaan staan. Is jou standvastigheid in Hom of probeer jy dit in jouself en mense/omstandighede rondom jou vind?Die uitstaanmoment is die geluid van klippies wat in die metaalbak rinkel … die klippie verteenwoordig ons vrese wat aan God oorgegee word. Die vrees maak plek vir die weg, waarheid en die lewe – ’n geluid wat deur ons nagmaalglasies in die kerk ge-eggo word. Daardie klippies wat rinkel, maak saam ’n mooi lied wat ons aan God in vertroue aanbied.Met dank ontvang van Alida Vorster, Durbanville-Bergsig.

VERKIESING VAN MODERATUUR
Twee addisionele lede verkies
Hendri Niehaus en Riana Furniss is weer as adddisionele lede tot die moderatuur verkies.
Ons wens julle voorspoed toe vir julle volgende termyn,


GEBED

SINODEMOMENTE


Dankie aan Goudini
Ons wil namens al die sinodegangers ons hartlike dank oordra aan Henlo Lindeque en sy formidabele span van ATKV Goudini. Die week is gekenmerk deur hulle ongelooflike flinke diens en hartlike vriendelikheid.

TEN LAASTE


Dit was ‘n voorreg om elke dag nuus van die 2023 Sinodesitting met julle te deel.Volgende week is VrydagNuus terug.
Foto: Anriëtte de RidderGroete uit Goudini
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler

2023 SINODESITTING Wes-Kaap Dag 4

2023 SINODESITTING
#Thursdaysin Black
Die Boland-saal was vanoggend ‘n see van swart, aangesien die meeste sinodegangers die #ThursdaysinBlack veldtog ondersteun het deur swart aan te trek.

Sinode verwelkom ekumeniese vennote
Ons het vandag talle van ons ekumeniese vennote by die sinodesitting ontvang. Hulle het ook spesiale groeteboodskappe van hulle organisasies gebring vir sinodegangers. Besoekers het ingesluit Lionel Louw en Rodney Whiteman (SA Raad van Kerke), Edwin Arrison (South African Christian Leaders Initiative), Llewellyn MacMaster van die VKGSA Kaapland en Martin Abrahams van die Morawiese Kerk SA. Die Calvyn Protestantse Kerk is verteenwoordig deur Steven-John Bam, James Fredericks, Darrell Mackriel en Warren Farmer. Ander spesiale gaste was Renier Schoeman (CRL Rights Commission) en Gustav Claassen van die Algemene Sinode.
HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG

Diversiteit in die kollig
Ds. Charlotte Sibanyoni is die eerste swart vrou wat in die NG Kerk gelegitimeer is. Sy is verbonde aan die NG Universiteitsoord in Pretoria en is tans besig met haar doktorsgraad in Hebreeus. Sy het haar inspirerende lewensverhaal met sinodegangers gedeel en het ‘n staande ovasie ontvang.Sy het in kinderhuise grootgeword en is later deur ‘n NG dominee ingeneem, wat haar oortuig het om teologie te swot met behulp van ‘n skenking.”Diversiteit lyk vir my soos liefde. Ons gee ons tyd, ons harte, ons finansies, ons hulpbronne – en miskien kry jy dan nog ’n Charlotte. Ons soek mense wat die droom saam met ons kan droom, sodat ons kerk 10 jaar later kan lyk soos ons land. Ons moet mense om ons tafels kry met equal voices. Stop having empathy and start showing compassion. Nie net geld nie, maar hart. Ek dink dis wat ons moet doen as ’n kerk. My lewe is ‘n pad van genade van NG lidmate wat my uit liefde ingeneem en gehelp het. Wat my en jou in verbond stel. We need to share the blood of the covenant rather than the water of the womb. We need to open up our homes and our hearts. Dit vra nie iets van jou identiteit nie. Ons moet op ‘n plek kom waar ons tuis voel sonder om ons identiteit te verloor.”Klik hier om Kerkbode se dekking te lees. Kyk ook hieronder na haar volledige aanbieding.

Fokus op netwerkbediening
Diensgroep Diaconia reflekteer op die termyn van vier jaar en lig netwerkfunksionering as ’n baie spesifieke bedieningspraktyk uit wat die diakonale bediening van die kerk betekenisvol verryk. Dit vra dat die gemeente ’n beginselbesluit moet neem: Ons gaan nie meer in isolasie oor ons diakonale betrokkenheid in ons omgewing nadink en handel nie; ons gaan hande vat met ander.  Wie hierdie ander is en hoe om hierdie samewerking te bewerkstellig, is in die aanbieding gedek. Die diensgroep lig tien temas uit oor netwerkfunksionering. Die eerste twee temas plaas hierdie bedieningspraktyk in ’n Trinitariese raamwerk. Die ander temas beweeg van teorie (teologie) na praktiese wenke vir die inisieerder- en leierskapsrol wat die gemeente in netwerkfunksionering kan speel. Netwerkfunksionering rus baie sterk op verhoudings, maar hiervoor moet ruimtes geskep word en basiese prosesse ontsluit word. Die brosjure The networked church wat uitgedeel is tydens die sinode, sal van volgende week af by www.diaconia.co.za beskikbaar wees.

God se alles-insluitende genade maak diversiteitsgesprekke moontlik
Die wegbreeksessie Wie mag praat? Bemagtigende praktyke vir polariserende gesprek is onder leiding van Michelle Boonzaaier, Louis van der Riet en Bianca Truter-Botha van die IAm-beweging aangebied.

Hulle beywer hulself vir die verwesenliking van menseregte vir alle mense in Afrika deur veilige ruimtes vir ontmoetings en gesprekke te skep.
Die sessie is afgeskop met die vraag wat sessiegangers benodig om aan gesprekke oor diversiteit ten opsigte van gender, lyflikheid, seksualiteit en teologie deel te neem. Hulle het daarna ook ‘n kort oorsig gebied oor vier lense, waardeur diversiteitsgesprekke gevoer kan word, naamlik gemeenskaplike waardes, dialoog en debat, veilige en waagmoedige ruimtes, sowel as mag.Enige diversiteitsgesprekke kan slegs aangepak word indien die betrokke persone bewus is van alle emosies wat hulle op daardie oomblik binne hul liggame ervaar. Storievertelling is dikwels ‘n baie effektiewe tegniek en speel ook ‘n belangrike rol in terme van al die genesing wat nog op hierdie gebied moet plaasvind, maar dit is moontlik deur God se alles-insluitende genade.
VERKIESING VAN MODERATUUR
Twee addisionele lede verkies
Ds. Elmarie Dercksen van Bloubergstrand en dr. Jana van den Munckhof is Woensdag as twee addisionele lede tot die moderatuur verkies. Seën en voorspoed vir julle termyn. 
GEBED
SINODEMOMENTE
TEN LAASTE

Siegfried Louw van Proteahoogte is pas aangestel as PSD: Predikantebegeleiding en reflekteer oor die sinodesitting.“Is daar nog ʼn muurprop naby? Ons het meer nodig,” vra die een predikant. Sy het dringend plek nodig om haar rekenaar te laai. Oral skuifel mense rond om hulle sit te kry. Drade, luidsprekers, agendas en waterbottels is deel van die gros goedere wat betyds hulle lê moet kry. Sommige daag uitasem op, onverhoeds betrap met die lang opdraende na die vergadersaal. Iemand toets die luidspreker.“Is dit nou dit?” vra nog iemand. “Waarvoor doen ons nou al hierdie moeite?” wil sy weet. ʼn Rukkie later staan almal en sing. Die gewoel verminder. Diegene wat net-nou nog met hulle fone besig was, kyk nou na die borde en sing saam.“Daar is meer in hierdie lewe, as om bloot net te bestaan … Daar is meer, want U gee ʼn liefde wat oorweldig.”Ons gaan sit anders as wat ons opgestaan het. Iets het geskuif. En toe Coenie Burger praat oor Jesus, spits ons weer ons ore. “Daar is meer,” sê hy. “Ons dink ons weet alles van Jesus. Maar daar is meer.”Vanoggend gewaar ek die een bejaarde afgevaardigde, wat met moeite haar swaar handsak saamdra saal toe. Maar net totdat sy die sonsopkoms by die berge gewaar. Eers val haar mond oop. Dan val die handsak summier op die grond. Ywerig word ʼn foon uitgegrawe. Oopmond neem sy foto’s. “Dit verander elke minuut,” sê nog iemand. Sommige kyk, sommige nie. My gedagtes loop na Klaagliedere 3:23. “Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.”

Dit is toe die waarheid. Daar is meer in hierdie lewe. En ons kom bymekaar juis omdat ons dít glo.
Foto: Johan MockeGroete uit Goudini
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler

2023 SINODESITTING Wes-Kaap Dag 3


Waarom glo ons? 
Die eerste tema van die dag is Spiritualiteit in ‘n tyd van sekularisasie. Ds. Andries Cilliers van Drieankerbaai gesels oor sy nuwe boek Onder die Blaredak. Verwonderd oor die gawe om te kan glo.“Ek is verborge omdat ek verbonde is aan God. Veiligheid is nie die afwesigheid van gevaar nie, maar die teenwoordigheid van konneksie. Die hart van geloof en vertroue lê vir my daar. Die tradisionele Godsbewyse is daar, maar dan verwonder ek  my daaraan … dat daar iets is, dat daar orde is, dat daar reg is, dat daar genade is, dat daar waarheid is en uiteindelik dat daar skoonheid is. 
Tydens die sinode is die boek by Bybel-Media se boekwinkel in die Hanepoot-saal beskikbaar. Die boek is ook by Bybel-Media se aanlynwinkel beskikbaar.
VERKIESING VAN MODERATUUR

Sinode verwelkom nuwe skriba
Hartlike gelukwense aan Annelet Slazus wat as skriba van die Sinode van Wes-Kaapland verkies is.Sy is onlangs as die eerste vroue-dominee by Parow-gemeente aangestel.Seën en voorspoed vir jou termyn. 
SAKE VAN DIE DAG

Terugvoer van Diensgroep Getuienis
Stephen Pedro van die Taakspan vir Gemeentegetuienis het verduidelik dat die taakspan fokus op die toerusting van lidmate ten einde gemeentes geestelik op te bou en tot vervulling van hulle getuienis en diens, in die gemeente en in die wêreld. Dit word gedoen deur besoeke, werkswinkels, inligtingsessies sowel as gesprekke-konferensies met 17 ringe en 37 gemeentes.Daniël de Wet van Afrika Ekumene gee terugvoer oor die taakspan se aktiwiteite insluitend besoeke aan RCZ in Zimbabwe, CCAP in Zimbabwe en Malawi en die CCAP Livinstonia bediening in die Wes-Kaap. Hulle was ook by die IRM Mphatso en Tumbini Sinodes asook hulle mobiele kliniek in Mosambiek, Hefsiba in Mosambiek en die Reformed Church of East Africa in Kenia. Plaaslik het hulle in Kwa-Zulu Natal besoek afgelê by Msinga en die Makhathini Kinderbediening. Hulle is ook deel van die Reformed Family Forum wat bestaan uit verteenwoordigers van al die kerke wat sedert die 19de eeu uit die NG Kerk in Suid-Afrika ontstaan het.Daarna was Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis aan die woord. Hy vertel dat getuienis ‘n opdrag is en dat sosiale kohesie een van hulle fokusareas is. Projekte waarmee SPG besig is, sluit in die #100DorpeDialoog waarmee hy in meer as 70 dorpe betrokke was, konflikmediasie, die GROEI-projek van die Hoop en Versoening Trust asook behuising van haweloses en ‘n behuisingsprojek saam met The Shackbuilder in De Hoop. Hy dien ook op die raad van die Southern African Faith Communities Environment Institute en die Western Cape Ecumenical Network.
Sien ook die Taakspan Ekologie se video-oorsig oor hulle aktiwiteite hieronder.
Die huwelik en seksualiteit
Die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake is voortdurend besig om navorsing te doen oor etiese sake. Hulle dien ‘n ontwikkelende dokument vir gesprek. Die doel van hierdie navorsing is nie primêr formele standpuntinname nie, maar om gemeentes en predikante te dien.Hoe dink NG lidmate oor die huwelik? Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry, het die teologiese navorser Marileen Steyn (onder regs) onderhoude gevoer met ’n groep van 32 NG-lidmate. Die respondente sluit mans, vroue, geskeides, getroudes, gays en heteroseksuele mense van die platteland asook stede in.Die respondente het eenderse idees, blyk dit. “Dit sê vir ons daar is universele sienings oor die huwelik,” het Steyn gesê. Met dié verskil, dat daar gay lidmate is met diep seer oor die taal wat hulle in die kerk oor hulle verbintenisse hoor, aldus Steyn. “Ek voel soos die monster wat afgedruk wil word en die kerk is die wag,” het een genoem. ’n Ander het genoem dat die Bybel aggressief voel.’n Literatuurstudie oor die werk van teoloë soos John Witte en James Nelson (liggaamsteologie) was deel van die verslag. Dr. Nadia Marais (foto links) het dit kortliks behandel. Marais het gewys daarop dat hierdie gesprek binne die NG Kerk nie in isolasie plaasvind nie. Dit geskied binne ’n konteks waar die kerk se insette ook gevra word rondom die opstel van ’n nuwe huwelikswet wat poog om die diskriminasie te vermy wat in die bestaande huwelikswetgewing voorkom, aldus ’n uitspraak van die betrokke minister. 
HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG

Fokus op intergenerasionele bediening
Diensgroep Jeug en Familie het ’n baie interaktiewe sessie aangebied en die verskillende uitdagings in die huidige konteks van die kerk uitgelig. Tafelgesprekke het gekyk na tendense soos besige huise, eenrigting eredienste, lae energie kategese, skole en koshuise, gemeenskapkinders en onbetrokke jong volwassenes. Intergenerasionele bediening is ook bespreek.

VKO meer as net ‘n crèche
Die wegbreeksessie Dis nie (net) ‘n crèche nie – vroeëkindontwikkeling, missionale diakonaat en gemeentes is vandag onder leiding van VKO-beampte en diensleraar ds. Melanie Thirion aangebied.Die doel van hierdie sessie was om meer inligting te verskaf rakende die verskillende dienste wat deur Little Seeds, ‘n gesamentlike inisiatief tussen Badisa en Diaconia, aangebied word. Hierdie geregistreerde projek speel ‘n rol in die voorkoming van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Elke kind se basiese behoeftes soos liefde, sekuriteit of veiligheid, voeding en ouderdomsgepaste stimulasie dien ook as boublokke van vroeëkindontwikkeling.“Ons is bevoorreg om ‘n funksionerende sisteem in die vorm van die NG en VG Kerke te hê, soos duidelik blyk uit die feit dat daar op elke klein dorpie reeds ‘n kerk opgerig is. Ek dink dis tyd dat ons daardie kerktorings moet begin gebruik om vir die kinders van daardie gemeenskappe hoop te gee,” het Thirion verduidelik.
Little Seeds volg ‘n gemeenskapsgebaseerde benadering, waar hulle hande vat met diegene binne ‘n spesifieke gemeenskap wat reeds na kinders in hulle plaaslike omgewing kyk deur hulle te bemagtig om dit meer doeltreffend te kan doen. Dit word gedoen deur middel van verskeie dienste wat Little Seeds aanbied, insluitend gemeentefasilitering, dagmoederprojek met behulp van Brilliant Boxes, Little Seeds leesgroepe, bystand met VKO-sentrums se registrasie en die SmartStart-program.
SINODEMOMENTE
Afgevaardigdes deel hulle ervaring oor die sinodesitting en hulle gevoel oor die tema Christus, ons vreugde in hierdie reeks kort videos.
TEN LAASTE

En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. (Johannes 1:14)
Foto: KerkbodeGroete uit Goudini
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler

2023 SINODESITTING Wes-Kaap Dag 2

Roeping en identiteit onder die soeklig
Vandag se eerste tema vra vir afgevaardigdes om saam te dink oor roeping en identiteit. Dr. Angelique Havenga van Stellenbosch Moederkerk hanteer die spiritualiteitsessie en lees een van die eerste roepingsverhale uit 1 Samuel 3: “Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: ‘Hier is ek, want u het my geroep.’

AMPTELIKE NUUSBRIEF: SINODE VAN WES-KAAPLAND  
Beste Groot-Brakrivier    
2023 SINODESITTING   Roeping en identiteit onder die soeklig
Vandag se eerste tema vra vir afgevaardigdes om saam te dink oor roeping en identiteit. Dr. Angelique Havenga van Stellenbosch Moederkerk hanteer die spiritualiteitsessie en lees een van die eerste roepingsverhale uit 1 Samuel 3: “Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: ‘Hier is ek, want u het my geroep.’  

 
Ons wil Jesus sien
Coenie Burger en Marius Nel gesels oor hulle boek Ons wil Jesus sien – sy geskiedenis en ons getuienis oor Hom. Coenie noem dat ons “oor baie dinge meer praat as oor die hart van ons geloof – Jesus Christus. Dalk sukkel ons met ons ander gesprekke omdat ons nie meer helderheid het oor wie Jesus Christus is nie. Ons soek die fout op ander plekke, maar as ons nie meer weet wie ons as kerk regtig is nie, is daar moeilikheid. Daar is meer aan Jesus as wat ons besef. En as ons dit sien, kan dit ons lewens en ons land verander.” Marius voeg by: “Wanneer ons dink aan ons roeping en identiteit as kerk wat op Jesus gebou is, moet ons ook kyk na die impak van Jesus. Ons moet fokus op die lewe van Jesus – nie net sy woorde nie, maar ook sy dade. Daarom kyk ons na die ses stasies van Jesus se lewe. As ons geanker bly in Jesus, dan moet ons vra wat ons anders as kerk moet doen. Ons moet dit omarm dat ons nie eintlik die antwoorde het nie, maar dat ons in ’n gebroke en stukkende wêreld ‘n verskil kan maak.” Tydens die sinode is die boek by Bybel-Media se boekwinkel in die Hanepoot-saal beskikbaar. Die boek is ook by Bybel-Media se aanlynwinkel beskikbaar.
 
Nuwe bane van teologiese opleiding
“Die Here roep mense in verskillende lewensfases … en om verskillende werk te gaan doen,” het dr. Frederick Marais gesê in ’n bespreking oor die nuwe opleidingsmoontlikhede wat die afgelope paar jaar binne die NG Kerk ontwikkel is.  As jy voel God roep jou tot die bediening, is hierdie die moontlikhede oor hoe jy die baan wat by jou roeping pas, kan kies en sodoende jou roepingspad beplan.  Bedienaars Diensleraars Standplaasleraars Predikante/Gemeenteleraars Kyk die video hieronder en lees meer by http://seminarium.org.za/.  

    VERKIESING VAN MODERATUUR
 
Sinode verwelkom nuwe assessor
Hartlike gelukwense aan prof. Marius Nel wat as assessor (ondervoorsitter) van die Sinode van Wes-Kaapland verkies is. Marius is ‘n professor in Nuwe Testament by die Stellenbosch Universiteit se teologiese fakulteit en verbind aan Oostersee-gemeente. Seën en
voorspoed vir jou termyn.     
SAKE VAN DIE DAG
 
Argief stel dienste bekend
Die NG Kerkargief op Stellenbosch huisves die argivalia van ses streeksinodes, die Algemene Sinode, die VGK, die Volkskerk van Afrika en die Congregational Church, Pniel. Alle rekords sedert 1665 word hier gehuisves in doelmatige kluise wat brandbestand is en toegerus is met beheerde atmosfeer (temperatuur en humiditeit). Dit beslaan twee kluise en beskik oor 5,2 km rakke. Klik hier om ‘n video oor die Argief te kyk saamgestel deur Wordwise Media.  Foto: Collette de Wet, Karen Minnaar en Andrew Kok.  

Gendergeregtigheid lewer verslag

Lou-Maré Denton en Eugene Malan se voorstel namens die Taakspan Gendergeregtigheid is aanvaar. Daarvolgens sal alle predikante, insluitend predikante in sinodale diens (PSD’s) en personeel van die sinode, opleiding ondergaan om sensitief te wees vir wat ander as seksuele teistering kan beleef binne kerklike strukture.

Hierdie is een van twee voorstelle gemaak deur ds. Lou-Maré Denton, voorsitter van die Taakspan Gendergeregtigheid. Die tweede is dat daar ondersoek moet word of ’n pos vir ’n “gender-lessenaar binne die sinodale strukture” geskep kan word om op hierdie manier die kapasiteit van hierdie taakspan uit te brei. Sy het vir Kerkbode verduidelik dat die twee versoeke spruit uit hulle taakspan se belewenis dat vroue in kerklike ampte ervaar dat daar soms ’n gebrek is aan sensitiwiteit oor genderongelykheid of wat sy ook sal omskryf as “micro-aggressions” teenoor vroue-kollegas.    
HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG  
Moderamenverslag dien
Nelis Janse van Rensburg gee ‘n video-oorsig oor die sinodale werksaamhede van die afgelope vier jaar. Hy bedank ook die moderatuur, PSD’s, diensgroepleiers, taakspanne en personeel vir hulle uitmuntende werk van die afgelope paar jaar en sê dat dit ‘n ongelooflike voorreg was om met sulke toegewyde mense te werk.  
 
Fokus op geestesgesondheid

Etienne van der Walt en Cuan Macnab-Holding van Neurozone het ‘n insiggewende aanbieding gedoen oor die neurowetenskap van veerkragtigheid. Hulle het in samewerking met Diensgroep Toerusting en Navorsing ‘n studie onder 64 predikante gedoen met verskillende assesseringstelsels, insluitend die NeuroZone Resilience Index en die Communitas leierskapsontwikkeling-vraelys.  
 

Kerk van die toekoms stel nuwe boek en webblad bekend

“Hoekom is daar al hoe minder jong volwassenes wat deel is van die kerk? Hierdie brandende vraag het aanleiding gegee tot ‘n vyf jaarlange navorsingsprojek waarvan die boek Ontmoet die Toekoms: 12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes, die Kerk en Spiritualiteit een van die uitkomste is en vandag by een van die wegbreeksessies deur DinkJeug bekendgestel is! Die boek is gemik op jong volwassenes en enige persoon wat nuuskierig is oor hoe ‘n nuwe kerk gestalte gaan vind. Die formaat van die boek nooi die leser uit om deel te word van ‘n reis na die toekoms. Hierdie video gee ‘n kort beskrywing van die boek. Die boek kan teen R250 (posgeld ingesluit) by jeug@kaapkerk.co.za bestel word of teen die spesiale prys van R100 by die sinodesitting verkry word. Maak ook ‘n draai by die wegbreeksessie “12 Rigtingwysers oor Jong Volwassenes” op Woensdag en Donderdag om 14:30 in die Slanghoek-lokaal.

Besoek die splinternuwe Kerk van die Toekoms webblad by www.kerkvandietoekoms.co.za
om solank ‘n kykie na die stories en navorsing te kry.
 
Suksesvolle wegbreeksessies
Verskillende diensgroepe en taakspanne het vanmiddag agt wegbreeksessies aangebied. Daar is gesels oor teologiese opleiding en navorsing, gemeentebegeleiding, kommunikasie asook ras en versoening. MIV se impak op die kerk is bespreek sowel as rigtingwysers vir jong volwassenes. Sien die skedule vir Woensdag se wegbreeksessies hieronder.  
 

Taakspan Ras en Versoening
Die wegbreeksessie Op reis met ras en versoening het klem gelê op die feit dat gesprekvoering die sleutel tot rasversoening- en geregtigheid in Suid-Afrika is. Die proses hiervoor is deur die woorde van prof. Klippies Kritzinger, ‘n missionale teoloog van Pretoria, geïnspireer. Hy het gesê dat verskillende tipe in-persoon gesprekke tussen verskillende kerke gehou moet word om aan lidmate die geleentheid te gee om hulle verhale en ervarings met mekaar te deel en na mekaar te luister sodat hulle uiteindelik ook kan begin om dinge saam te doen. Daarom is ‘n veilige ruimte vir sessiegangers geskep, waarbinne hulle vanuit verskillende omgewings en perspektiewe met mekaar in gesprek kan tree om sodoende nader aan die koninkryk van God te kan kom. Ter afsluiting is almal gevra om een woord op plakkers neer te skryf wat volgens hulle God se versoende toekomsdroom vir ons land, gemeenskap en/of kerk verteenwoordig. Terwyl hulle hierdie sessie in stilte verlaat het, is hulle plakkers op die Nagmaalskers aangebring. Hierdie kers dien nie slegs as ‘n kragtige visuele voorstelling van hierdie groep se visie vir ras en versoening in Suid-Afrika nie, maar ook as die stille getuie dat hierdie gesprekke nog baie ver van afgehandel
is…    
SINODEMOMENTE
 
   
FOTO’S VAN ONS RINGE
 
Ring van Paarl

Ring van Oudtshoorn
 
Ring van Worcester

Ring van Stellenbosch
    TEN LAASTE
 
Die tweede dag van die sinodesitting het die omvang van sinodale werksaamhede oor die afgelope vier jaar in oënskou geneem. Sinodegangers beleef die byeenkoms as ‘n veilige ruimte waar hulle geloofsonderskeidend oor kwessies van die kerk kan gesels. Woensdag is die halfpadmerk vir die sinodesitting en ‘n propvol dag is op die agenda. 

Groete uit Goudini


Ronelda Visser en Wilmi Wheeler   Twitter Facebook Instagram YouTube

2023 SINODESITTING Wes-Kaap Dag 1

Vreugdevolle atmosfeer op eerste dag van sinodesitting
Bykans 700 afgevaardigdes en waarnemers het vandag die opening van die 49ste sitting van die Wes-Kaapse Sinode in Goudini bygewoon. Elmarie Dercksen, leier van die spiritualiteitspan, het die opening met Skriflesing, gebed en samesang waargeneem.

AMPTELIKE NUUSBRIEF: SINODE VAN WES-KAAPLAND   Beste Groot-Brakrivier     2023 SINODESITTING   Vreugdevolle atmosfeer op eerste dag van sinodesitting
Bykans 700 afgevaardigdes en waarnemers het vandag die opening van die 49ste sitting van die Wes-Kaapse Sinode in Goudini bygewoon. Elmarie Dercksen, leier van die spiritualiteitspan, het die opening met Skriflesing, gebed en samesang waargeneem.  
    VERKIESING VAN MODERATUUR
 
Welkom aan die nuwe moderator
Ons wens vir Marinus Theron, gemeentepredikant van Stellenbosch-Wes en voormalige skriba van die sinode, geluk met sy verkiesing as die nuwe moderator van die Sinode van Wes-Kaapland. Seën en voorspoed vir die komende week in die voorsitterstoel en met jou termyn.  Foto: Kerkbode    

HOOGTEPUNTE VAN DIE DAG  

Anglikaanse aartsbiskop spreek sitting toe
Tydens ‘n geskiedkundige oomblik in die geskiedenis van die NG Kerk, spreek aartsbiskop Thabo Makgoba die Wes-Kaapse Sinode toe op die openingsdag van die weeklange sitting. Nelis Janse van Rensburg, uitgaande voorsitter van die moderamen, beskryf die aartsbiskop as ‘n ware en outentieke wêreldleier in sy bekendstelling. “He speaks the truth to power.” Klik hier vir sy videoboodskap.
 
Top politieke analis kyk na landsake
Moeletsi Mbeki was die hoofspreker vandag om die tema rondom die nood in Suid-Afrika te bespreek. Hy kyk hoekom ons so ‘n probleemryke staat is en beklemtoon dat ons gebrekkige stand op die menslike kapitaalindeks, swak opvoedingstandaarde en gebrek aan ontwikkeling bydraende faktore is tot die stand van die land. Kerkbode berig as volg: “Hy het die stand van die swart middelklas bespreek, probeer sinmaak hoe Suid-Afrika die land met die hoogste moordsyfer geword het van enige land wat nie amptelik oorlog voer nie en agt fokus-areas bespreek wat hy glo aandag moet geniet om die situasie te beredder. Hy het die rol en deelname van die kerk in hierdie proses beklemtoon.” “As daar geen ontwikkeling plaasvind nie, kan die nasionaliste nie voorbestaan nie. Dis hoekom kerke so ’n belangrike rol speel – hulle moet deel wees van die herstrukturering van politieke mag, want tans deur die swart middelklas, deel van georganiseerde arbeid en leiers van burgerlike samelewing saamgestel word,” sê Mbeki.     
GEBED
 
Seëngebed
Hierdie vryvertaling van Jan Richardson se gedig het die openingsatmosfeer vasgevang. Soms, onverwags, voel ‘n mens verlore
Jou bekende landskap is skielik weg
Jou bekende paaie is ver en jy bevind jou op ‘n vreemde plek in jou eie storie. 
Laat jouself dan toe om ‘n bietjie verlore te voel.
Vertrek in jou binneste na ‘n plek waarvan jy nie die kontoere ken nie, waarvan die kadense vir jou hart vreemd is.
Laat jou voete trap oor die drumpel van ‘n nuwe deur, selfs al weerspieël dit jou eie onsekerheid.
Wie ook al jou verwelkom, sal ‘n verrassing wees.
Maar hulle sal jou naam ken en jou verwelkom aan die tafel.
Laat dit maar gebeur. Laat hulle jou glas vol maak, laat hulle die kerse aansteek en sien die hande raak wat jou honger sal stil.
Laat die lag toe, nooi die soetheid en die seer,
Laat die saamwees vir jou wees soos skielike, ongenooide genade. Wat ook al gesê word, ontvang dit met ‘n oop gemoed.
Wat ook al aangebied word, neem dit met dankbaarheid.
Seën diegene wat saam met jou sit en onderneem stilweg om hulle nie te vergeet nie
Want hulle is die wat vir jou as vreemdeling plek gemaak het by ‘n tafel
En jou wou leer ken.    

SINODEMOMENTE
     
TEN LAASTE
 
“Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die heiliges, hou ek nie op om God oor julle te dank wanneer ek in my gebede aan julle dink nie. Dan bid ek dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en die oë van julle harte verlig mag wees.” Efesiërs 1:15

Groete uit Goudini

Ronelda Visser en Wilmi Wheeler   Twitter Facebook Instagram YouTube

Wat is ‘n sinodevergadering? Sinodale Sitting 2023 – Wes Kaap

Die Sinode van Wes-Kaapland is een van die tien sinodes van die NG Kerk.

Die Sinode van Wes-Kaapland bestaan uit 222 gemeentes, wat strek van sover as Springbok en Beaufort-Wes in die Wes-Kaap en Plettenbergbaai in die Suid-Kaap.  Daar is 186 084 belydende lidmate, wat bedien word deur 303 leraars.

Plaaslik word die gemeentes geografies georganiseer in 25 ringe, naamlik Beaufort, Bellville, Brackenfell, Caledon, Clanwilliam, Durbanville, George, Kaap die Goeie Hoop, Knysna, Kuilsrivier, Mosselbaai, Namakwaland, Oudtshoorn, Paarl, Piketberg, Riversdal, Somerset-Wes, Stellenbosch, Swartland, Swellendam, Tulbagh, Tygerberg, Vredenburg, Worcester en Wynberg.

Die administrasie van hierdie sinode vind plaas vanuit die NG Sinodale Sentrum in Bellville. Ander kantore is geleë in die Communitas-netwerk op Stellenbosch.

Saam vorm die tien sinodes die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Die Algemene Sinode het in 1962 tot stand gekom. Die AS-kantoor is in Pretoria, met ander administratiewe komponente in Wellington.

Die 2023 Sinodesitting spog met ‘n kleurvolle logo wat deur die grafiese kunstenaar Lizanne Jordaan ontwerp word. Daar is egter baie simboliek en dinkwerk agter die blom.

In die abstrak is daar gekyk na ‘n kaleidoskoop om die diversiteit van die Wes-Kaap vas te vang, maar terselfdertyd vorentoe te kyk met God as ons middelpunt. Uiteindelik het sy haar inspirasie gekry uit die unieke inheemse plantegroei in die Wes-Kaap soos ons fynbos.

Sy die vorm van proteablare gebruik om die Drie-eenheid en vyf bewegings tydens die sinode uit te beeld met ‘n kleurvolle palet om die ankergedagte Christus, ons vreugde! te vergestalt. Klik gerus hieronder om haar visiebord en ontwerpproses te sien.

Wat is ‘n sinodevergadering?

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) bestaan as organisasie uit tien (10) sinodes. Nege sinodes is in Suid-Afrika en die tiende sinode in Namibië. Die sinodes se grense volg min of meer dié van die provinsies van die land.

Elkeen van die verskillende sinodes het hulle eie sinodale struktuur met ‘n eie sinodale kantoor in die hoofsentrum (dorp of stad) wat daardie betrokke sinode bedien. Elke sinode het ook jurisdiksie oor hulle eie werksaamhede. 

Elke sinode vergader elke 4 jaar. 

Waar en wanneer vind die sinodesitting van Wes-Kaapland plaas?

8 – 12 Mei 2023 by die ATKV Goudini spa. Volg die onderstaande skakel vir Google maps aanwysings.

Wat gebeur tydens die vergadering?

‘n Sinodevergadering is ‘n opwindende en geseënde viering van God se heelmakende betrokkenheid by die wêreld deur die liggaam van Christus. Vir die afgevaardigdes wat dit bywoon, lei dit dikwels tot ‘n herwaardering van die rol van die kerk in sy of haar lewe en ‘n herontdekking van ‘n roepingsgetroue lewe saam met Christus.  

Die vergadering is in die eerste plek ‘n geloofsonderskeidende byeenkoms. Die ankergedagte vir 2023 is “Christus, ons vreugde!” 

Tydens die vergadering is daar ook amptelike prosesse wat gevolg word om die vergadering te konstitueer en die leierskapstruktuur vir die volgende termyn vas te stel. Daar is ook heelwat belangrike verslae wat dien voor die vergadering vir besluitneming en goedkeuring. Tussendeur word daar hegte vriendskapsbande gesmee in die saamgesels, saambid, saamwees, saamdink en saamkuier deur die loop van die week.