Wat is ‘n sinodevergadering? Sinodale Sitting 2023 – Wes Kaap

Die Sinode van Wes-Kaapland is een van die tien sinodes van die NG Kerk.

Die Sinode van Wes-Kaapland bestaan uit 222 gemeentes, wat strek van sover as Springbok en Beaufort-Wes in die Wes-Kaap en Plettenbergbaai in die Suid-Kaap.  Daar is 186 084 belydende lidmate, wat bedien word deur 303 leraars.

Plaaslik word die gemeentes geografies georganiseer in 25 ringe, naamlik Beaufort, Bellville, Brackenfell, Caledon, Clanwilliam, Durbanville, George, Kaap die Goeie Hoop, Knysna, Kuilsrivier, Mosselbaai, Namakwaland, Oudtshoorn, Paarl, Piketberg, Riversdal, Somerset-Wes, Stellenbosch, Swartland, Swellendam, Tulbagh, Tygerberg, Vredenburg, Worcester en Wynberg.

Die administrasie van hierdie sinode vind plaas vanuit die NG Sinodale Sentrum in Bellville. Ander kantore is geleë in die Communitas-netwerk op Stellenbosch.

Saam vorm die tien sinodes die Algemene Sinode van die NG Kerk.
Die Algemene Sinode het in 1962 tot stand gekom. Die AS-kantoor is in Pretoria, met ander administratiewe komponente in Wellington.

Die 2023 Sinodesitting spog met ‘n kleurvolle logo wat deur die grafiese kunstenaar Lizanne Jordaan ontwerp word. Daar is egter baie simboliek en dinkwerk agter die blom.

In die abstrak is daar gekyk na ‘n kaleidoskoop om die diversiteit van die Wes-Kaap vas te vang, maar terselfdertyd vorentoe te kyk met God as ons middelpunt. Uiteindelik het sy haar inspirasie gekry uit die unieke inheemse plantegroei in die Wes-Kaap soos ons fynbos.

Sy die vorm van proteablare gebruik om die Drie-eenheid en vyf bewegings tydens die sinode uit te beeld met ‘n kleurvolle palet om die ankergedagte Christus, ons vreugde! te vergestalt. Klik gerus hieronder om haar visiebord en ontwerpproses te sien.

Wat is ‘n sinodevergadering?

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) bestaan as organisasie uit tien (10) sinodes. Nege sinodes is in Suid-Afrika en die tiende sinode in Namibië. Die sinodes se grense volg min of meer dié van die provinsies van die land.

Elkeen van die verskillende sinodes het hulle eie sinodale struktuur met ‘n eie sinodale kantoor in die hoofsentrum (dorp of stad) wat daardie betrokke sinode bedien. Elke sinode het ook jurisdiksie oor hulle eie werksaamhede. 

Elke sinode vergader elke 4 jaar. 

Waar en wanneer vind die sinodesitting van Wes-Kaapland plaas?

8 – 12 Mei 2023 by die ATKV Goudini spa. Volg die onderstaande skakel vir Google maps aanwysings.

Wat gebeur tydens die vergadering?

‘n Sinodevergadering is ‘n opwindende en geseënde viering van God se heelmakende betrokkenheid by die wêreld deur die liggaam van Christus. Vir die afgevaardigdes wat dit bywoon, lei dit dikwels tot ‘n herwaardering van die rol van die kerk in sy of haar lewe en ‘n herontdekking van ‘n roepingsgetroue lewe saam met Christus.  

Die vergadering is in die eerste plek ‘n geloofsonderskeidende byeenkoms. Die ankergedagte vir 2023 is “Christus, ons vreugde!” 

Tydens die vergadering is daar ook amptelike prosesse wat gevolg word om die vergadering te konstitueer en die leierskapstruktuur vir die volgende termyn vas te stel. Daar is ook heelwat belangrike verslae wat dien voor die vergadering vir besluitneming en goedkeuring. Tussendeur word daar hegte vriendskapsbande gesmee in die saamgesels, saambid, saamwees, saamdink en saamkuier deur die loop van die week.