“As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer;….”
(2 Tim. 2: 11-1220)
Wedloop van die lewe
Die lewe is een groot wedloop. Elkeen wat aan hierdie lewe vashou, wil die beste wees. Die beste presteer. Die mooiste, of die grootste, of die sterkste, of die bekendste wees. In hierdie lewe is daar egter slegs een kans op wen. As jy nie eerste by daardie wenstreep verby gegaan het nie, is jou kans op oorwinning so dikwels verby. Dis net die persoon wat aanhou, wat die fisiese eindstreep in hierdie lewe bereik.
Ons is so besig om deur die lewe te hardloop, om daardie oorwinning te behaal, dat ons die eintlike en belangrikste wedloop en doel van die lewe mis! Die wedloop om in geloof in Jesus Christus te volhard. Die wedloop om as kind van God gekenmerk te word. Die wedloop, deur goeie en slegte tye aan te hou hardloop. Hier was Job so ‘n goeie voorbeeld. Hy wat getrou gebly het in sy geloof aan God, die Vader.
Teksverse:
“Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen”(2 Pet. 3: 1820);
“Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.” (1 Joh. 3: 920):
“Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede,…” (Job 2: 320);
“Kyk, ons beskou hulle wat volhard as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (Jak. 5: 1120);
“Hierdie slegte volk, wat weier om na my woorde te luister, wat volhard in die verstoktheid van hulle harte, en agter ander gode aanloop om hulle te dien…” (Jer. 13: 1020)
Entoesiasme
Entoesiasme, daardie sterk gevoel van lewendige belangstelling en opwinding oor iets. Dis daardie vermoë van iemand om ander opgewonde te maak oor ‘n onderwerp. Dis aansteeklik. Wanneer iemand besiel is vir ‘n saak, versprei dit dikwels soos ‘n veldbrand. Dit is wat God van ons vra!
Ons moet entoesiasties wees oor ons geloof in die evangelie van Jesus Christus. Entoesiasme gaan dikwels gepaard met blydskap. Dis iets wat pragtig uitkom in die brief aan die Filipense en ook Kolossense. Die wonderlike blydskap wat Paulus, te midde van ongerief en swaarkry, steeds bly handhaaf het. Die blydskap oor wat God vir ons gedoen het, deur die Verlossing wat Jesus Christus vir ons deurgaan het. Ook die nabyheid van die Heilige Gees, wat dit vir ons moontlik maak om teenslae te oorwin, is ‘n bron van vreugde en blydskap.
Teksverse:
“Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank.” (Kol. 1: 9-1120)
Volhard tot die einde toe
Daar word nie ‘n pad van net maanskyn en rose belowe nie. Jesus self het die dissipels gemaan dat hulle deur mense gehaat gaan word terwille van se Naam. In dieselfde teks moedig Hy hulle aan om te volhard tot die einde, want dan alleen kan die verlossing in vervulling gaan.
Hoe kry ons dit reg? Net soos die eerste gemeentes dit gedoen het. Hulle het bly volhard in die leer van die evangelie, deur samekomste en gebed. Hulle het mekaar ondersteun en gehelp waar nodig.
Ons het ook die belofte dat God ons sal bewaar in beproewing wat hierdie wêreld mag tref. Ons word telkens daarop attent gemaak dat die God van Vrede met ons sal wees, wanneer ons aanhou om goed te doen, en te lewe soos wat God van ons vra.
Willie Jonker stel dit pragtig: ‘Volharding is ‘n gawe van die Heilige Gees. Dit is die hoop op die dinge wat kom, wat die gelowige die krag gee om uit te hou totdat die wedloop voltooi is.”.
Teksverse:
“En julle sal deur almal gehaat word, ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.” (Matt. 10: 2220);
“Julle sal ook deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie. Red julle lewens deur te volhard.” (Luk. 21: 17-1920);
“Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” (Hand. 2: 4220);
“Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek,…” (Open. 3: 1020);
“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.” (Fil. 4: 8-920)


