Nuusbrief vanaf Michele uit Suid-Oekraine: Gebedsbrief Augustus 2026

Liewe vriende en familie 

23 September sal dit ’n jaar wees sonder Mari-Alena. 11 Oktober vyf jaar sonder Ockert, en amper vyf jaar van oorlog in Oekraïne. Ja, die tyd vlieg. Ek kan nie dink dat dit al amper ’n jaar sonder haar is nie. My twee beste maats in die Hemel.

Ek wil net al die eer gee aan my Here, my Vertrooster en my Vader. Hy wat stukkende harte heelmaak en genees.

Al wat ek vra, is om staande te bly deur Sy genade en om die wedloop getrou te voltooi. Party dae is dit moeilik en raak die verlange te veel. Sonder Hom is ek niks en kan ek nie leef nie.

“Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer allerhande beproewings oor julle kom, omdat julle weet dat, wanneer julle geloof getoets word, dit volharding voortbring. En die volharding moet end-uit volhou sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom en nie tekortskiet nie.”
— Jakobus 1:2–4

My gedeeltelike knievervanging hier in Stellenbosch het goed gegaan, en die dokter en fisioterapeut is meer as tevrede met my vordering.
Prys die Here daarvoor!

Pappa Hannes, Ockert se pa, is op 17 Augustus na sy ewige woning.

Sy begrafnis was in Santa Rosa, Kalifornië, waar Rynie, Keith en my skoonma, Magda, woon. Hannes-Joshua, Benjamin en Cilliers kon by Oupa se begrafnis wees. Cor, Ockert se broer was ook by die begrafenis. Hy en sy vrou Francis woon nou in Pringlebaai. 

Bid asseblief vir mamma Magda, Rynie en Cor vir vertroosting, asook vir die kleinkinders. 

In Suid-Oekraine gaan dit goed met die gemeente. Dankie dat julle bid. Elkeen van die bedienings gaan voort.

Ons bid steeds vir voldoende fondse vir die Kleuterskool, Pro-Lewe sentrum, asook vir die bou van die Ark-kindersentrum en skuiling vir kinders in moeilike huislike omstandighede.

Verlede week was daar ‘n doop geleentheid in Suid-Oekraine en dit is so wonderlik om jongmense te sien wat hul lewens vir die Here gee. Bid asseblief vir hierdie nuwe bekeerlinge. 

Suid-Oekraine is Donderdagnag weer deur hommeltuie aangeval, en ’n boot in die hawe het groot skade opgedoen.

Ria, een van ons leiers en die direkteur van Pro-Lewe, se seun, is voor hul woonstelblok gevang en in ’n bussie ontvoer, sonder om sy ouers te groet, en gestuur om in die oorlog te gaan veg. Die kanse op oorlewing is baie klein. Net die Here kan ’n mens daar beskerm.

Bid asseblief vir hom en vir die baie ander jongmanne van ons gemeente en van Suid-Oekraine . Omtrent elke week is daar een of twee begrafnisse in Suid-Oekraine van soldate wat in die oorlog gesneuwel het.

Dan het ons ’n dringende gebedsversoek.

Bid asseblief.

Môre (Maandag) moet ons die laaste van drie betalings doen vir die koop van Ons gebou se aandele. Lya en Ghisha se dogter studeer medies in Europa, en hulle moet vir haar studies betaal. Ons het reeds twee dele afbetaal en moet teen môre die laaste deel betaal vir hulle aandele.

Ons het vandag, sover, net 8% van die bedrag wat ons nodig het. Ons vertrou die Here vir ’n wonderwerk.

Wat ’n vreugde sal dit wees wanneer ons 100% van die aandele van die kerkgebou in die kerk se besit kan hê.

Bid asseblief ook steeds vir die ander twee, wat 23 jaar gelede weg is met 30% van Ockert se aandele.

Die Here is altyd goed en getrou. Alles is in Sy hande.

Baie liefde en seën

Michele 

Donasies:

https://www.zeffy.com/en-GB/donation-form/donate-to-lovereni

🌿Projekte rekening:

Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

🌿My persoonlike besonderhede:

Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
 SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)
 International Sort/Routing/Clearing Code: 470010
Account number/IBAN: 1554335599