Stof tot nadenke: Hoe lees ons die Bybel?

Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp.

Matt. 13: 23

In die geesteswetenskappe is daar allerlei teorie oor die verstaan en verklaar van die Bybel. Daar word geredeneer dat ons nie regtig objektief teenoor enigiets in die lewe kan staan nie. Dat dit wat ons raak lees of hoor in ons eie gemoed verwerk word om by ons ervarings te pas. Ons verklaar dinge uit ons eie perspektief. Die vraag ontstaan of dit nie dalk juis die manier is wat God met ons praat nie? Want daar kan antwoorde in ons lewe wees, wat alleen van God af kom. Hoe weet ons dus of dit wat ons hoor wel van God af kom?

Maar Hy antwoord: “Ja, maar waarlik gelukkig is hule wat die woord van God hoor en dit onderhou.” (Luk. 11)

Dit is redelik duidelik dat ons die Woord van God moet onderhou, want Hy was van altyd af daar. Dis alleen wanneer ons in Jesus Christus glo, in Hom bly, dat ons die sekerheid kan hê dat Hy ons sal lei in dit wat Hy vir ons wil wysmaak. Ons moet ons beklee met die wapenrusting van God, en die Heilige Gees sal die Woord vir ons oopmaak. Mens lees so dikwels ‘n teksvers wat jy al menige keer voorheen gelees het, sonder om dit te verstaan. Dis eers wanneer jy reg is vir dié verklaring of verstaan van die betrokke verse, wat God dit vir jou oopmaak. Dan sal ons dissipels van Jesus Christus kan wees.

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God.” (Joh. 1); “Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” (Joh 8: 31)

Ons moet in ons lewe en wandel die wapenrusting van God dra, en deur die bystand van die Heilige Gees, wat ons van God kan bid, kan die woord en evangelie van Christus ten volle in ons woon. Ons moet as gemeente mekaar in liefde vermaan, alles wat ons doen tot eer van God die Vader, doen. “…met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand;…” (2 Kor. 6:7); “Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God. By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid. ” (Ef. 6: 17); “Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare psalms, lof gesange en geestelike liedere tot eer van God te sing.” (Kol 3: 16-17)

Die evangelie het deur die krag van die Heilge Gees tot volle verstaan in ons gekom. Die woord van God is lewend en kragtig, en sterker as ‘n tweesnydende swaard. Hoe ongemaklik die waarheid ookal mag wees. Laat ons standvastig hou aan die oorlewerings, soos wat die Bybel dit aan ons deurgee.
… want ons evangelie het nie alleen deur die woord nie, maar ook met krag deur die Heilige Gees en in volle versekering na julle gekom.” (1 Tess. 1: 5); “Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Ja niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.” (Heb. 4: 12-13);
Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur ‘n woord of ‘n brief van ons af.” (2 Tess. 2: 15).

Ons moet egter tog bedag wees dat ons altyd die leiding van die Heilige Gees vra in die verstaan en verklaar van die Woord van God, sodat ons nie as vals leraars bestempel kan word nie. Probeer alles in jou vermoë om objektief te lees en na die Woord van God te luister!