“Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.”
Hand. 5: 31-32
Met elke verkiesing, wêreldwyd en plaaslik, word mense voor die keuse van ‘n leier geplaas. Met ons beperkte kennis oor enigiemand wat hom, of haarself beskikbaar stel, is dit bykans onmoontlik om ‘n goeie keuse te maak. Dan word dit, waarvoor elke persoon staan, beoordeel. Ons is egter deeglik bewus daarvan dat mense wat politieke aspirasies het, bykans enigiets vir die mense beloof voor sulke verkiesings, want hulle wil verkies word. Dit is onmoontlik om, uit menselike perspektiewe, ‘n goeie keuse te maak. Die media ondersteun duidelik sekere rigtings en persone. Op langerlaas, word daar selde uitvoer gebring aan al hierdie beloftes, want uit die menslike natuur, staan mense dikwels vir hulle self, en wat hulle daardeur vir hulle self kan bereik. Dit maak die volgende verkiesing net nog moeiliker vir ‘n keiser, want wie kan jy glo? Wie kan jy navolg? Wie is getrou aan dit wat hulle beloof het? Wie doen wat hulle doen werklik vir die kieser?
Daar is egter een ewige Leidsman, deur God self ingestel, wat betroubaar, eg en waar is (“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh. 1: 1-5)). In Hand. 5: 31-32 lees ons dat Christus as Verlosser en Leidsman vir ons deur God self ingestel is.
Die hele Bybel vertel ons die verhaal van die Almag van God, en Sy belofte van die Verosser (“Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring.” (Heb. 2: 10)), wat sou kom; en ook uiteindelik gekom het (“Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding julle genees is.” (1 Pet. 2: 21-24)).
Christus het, as Leidsman, self vir ons kom wys hoe ons moet lewe , hoe om op te tree, watter eienskappe om toe te laat in ‘n mens se bestaan (“Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soor dinge is daar nie ‘n wet nie.” (Gal. 5: 22-23)), en te besef dat dit alles uit genade aan ons geskenk is. Ons kan aan niks voldoen sonder die totale oorgee van onsself nie (“Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil volg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red.” (Luk. 9: 23-24); (“Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matt. 16: 24)). Ons moet vra vir die leiding van die Heilige Gees (“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!” (Luk 11: 13)), wat God se geskenk aan ons is (“Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders, en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad het, en Homself ter wille van ons oorgegee het as offergawe aan God, as ‘n offerhande met ‘n aangename geur.” (Eff. 5: 1-2)).
Wie anders kan die ware en enigste Leidsman wees, as die Een van wie daar jare vooruit voorspel is, en wat dit alles as waar en eg bewys het (“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenis aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” (Luk. 4: 18-19); (“Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos,…” (Jes. 61: 1-2)).


