“Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun.”
1 Joh. 5: 9
Ons het almal die opdrag om te getuig al reeds ontvang by die aanneem van Jesus Christus as Verlosser. Hoe getuig ons deur ons lewe, sodat daar by die mense om ons ‘n sekerheid kan wees dat ons wel gelowiges is? Is ons daar waar God elkeen van ons in die lewe geplaas het, voldoende getuie, sodat almal kan weet ons is God se kinders. Of is die aanhaling van Henry Ward Beecher “As ‘n mens nie ‘n getuie vir Christus kan wees op die plek waar Hy jou geplaas het nie, kan jy nêrens vir Hom ‘n getuie wees nie”, op ons van toepassing? Laat jy die mense om jou met ‘n heerlike soet nasmaak soos van ‘n nartjie? Of laat jy die wrang smaak van ‘n onversoete pomelo agter? Skep jy die vrede van Jesus Christus om jou, of laat jy mense met verwarde gedagtes agter?
Is jy ook een van daardie mense wat liewer ‘n preek sien, as om een te hoor? Doen dan so. Ons is geroep om God se getuies te wees, en nie sielewenners nie! Dit is die Heilige Gees wat die ware sielewenner is; maar ons moet as getuies optree, elke dag; elke plek waar ons beweeg; elke ding wat ons doen; elke projek wat ons aanpak; dis waar ons wesenlik en opreg moet getuig! Want wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in die hart.
“Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in die hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. ” (1 Joh. 5: 10); “”Ek is ‘n mededienaar van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou want Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gee het.”” (Open. 19: 10)
Daar is altyd verskillende reaksie op ‘n mens se getuienis. Dit kan positief of negatief wees. Dit kan seermaak en kwets; of dit kan opbouend van aard wees. Ons is nie altyd voorbedag op die reaksie wat ons gaan kry, deur te lewe na die getuienis van Jesus Christus, nie. So wees voorbereid op ‘n tuimeltreinrit. Indien mens dit regkry om Jesus se voorbeeld uit te leef, doen ons dit nie uit eie krag nie, maar word mens deur die krag van die Heilige Gees gelei.
“Hulle was almal en verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk”” (Hand. 2: 12-13); “Hy het geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandighed te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld”” (Hand. 1: 7-8)
Soos Emil Brunner dit so goed gestel het: “Soos vuur nie anders kan as om te brand nie, kan die kerk nie anders as om te getuig nie”. Besluit self watter getuienis jy agter jou laat. Dan Green stel dit ook goed: “Om te getuig van Hom wie se Naam ons dra, is nie ‘n soort stokperdjie of ‘n een-keer-per week-tydverdryf nie. Dis ‘n manier van lewe. ‘n Mens preek of praat nie oor getuienis nie. Jy is ‘n getuie”. As gelowiges, weet ons verseker dat as ons die opdrag van die Vader uitvoer, soos voorgelê deur Jesus Christus en deur die krag van die Heilige Gees, sal ons ook soos Dawid van ouds sal kan getuig.
“Van Hom sê Dawid: “Ek het die Here altyd voor oê. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.” (Hand. 2: 25-28); “Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand km net wat mooi is.” (Ps. 16: 8-11)


