Stof tot nadenke: Waarop moet ons let?

Maar julle geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.””.
Jud. 1: 17-18

Hoe weet ons wie is vals leraars en mense wat nie saam met God wandel nie? Hoe verstaan ons die listige tonge wat die waarheid so maklik kan verdraai deur fyn woord nuanses? Waarop moet ons bedag wees? Waarteen moet ons waak? Wie kan ons nog in hierdie dae na luister en glo wat hulle verkondig? In Jud. 1 word hierdie mense redelik duidelik beskryf. (“Maar hierdie mense praat lasterlik oos dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang. Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop, vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg, soos Korag het hulle in opstand gekom, en dit was hulle ondergang. Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. Hulle is sterre wat uit hulle baan geslinger is. God hou vir hulle plek gereed in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly. Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag na Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesë het”. Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daaruit vir hulleself voordeel te trek” (Jud. 1: 10-16)). Is daar iemand wat jy herken uit hierdie bybelboek van Judas. Dan het jy reeds ‘n blik waarop jy bedag moet wees wanneer jy mense ontmoet, en weet dat jy versigtig moet trap om diesulkes, want Jesus Christus het ons geleer en ons reeds duisende jare gelede getoon waarteen ons moet waak (Jud.1: 17-18).

Hierdie mense bring verdeeldheid en hou van chaos. Hulle is nie onder leiding van die Heilige Gees nie (“Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie.”(Jud. 1: 19)). Paulus waarsku ons in Fillipense om versigtig te wees vir mense wat kwaad stig en klem lê op betekenislose dinge. Dinge wat nie so belangrik is dat dit die moeite werd is om daaroor af te stig of ‘n nuwe gemeenskap van gelowiges te begin nie (“Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op die uiterlike dinge vertrou nie” (Fil. 3: 2-4)). Ook in 1 Timoteus word ons gewaarsku dat daar vals leerstellinge van bose magte sal wees, leerstellinge van mense sonder gewete; mense wat allerhande onsinnige reëls en regulasies sal neerlê wat sonder enige betekenis of navolgenswaardig is (“Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig” (1 Tim. 4: 1-5); Sien ook Kol. 2: 20-23). Ook in Openbaring word ons gewaarsku teen die dwaalleraars, wat valsheid liefhet, onsedelik leef, mense wat geen waarde aan lewe heg nie en allerhande afgode aanhang (“Buitekant is die dwaalleraars, die bedreërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen” (Open. 22: 15)). Ook die Psalmdigter het reeds eienskappe van die dwaalleraars of goddeloses uitgelig, naamlik dat hulle meer waarde heg aan hulle hartsbegeertes as aan die Skepper van hemel en aarde (“Ja, ‘n goddelose spog oor sy hartsbegeertes, en terwyl hy wins maak, vervloek en verag hy die Here” (Ps. 10: 3)).

Hoe moet ons dan reageer op al hierdie gevaar tekens waarop ons moet let? Ook hier is daar vir ons aanduidings, neergelê in die Bybel, van hoe ons moet reageer op die aanslae van hierdie aardse bestaan; riglyne wat ons moet volg en wat ons kan help om ligvoets deur valshede te stap. In 1 Johannes waarsku Paulus ons om nie die dinge van hierdie wêreld lief te kry nie, want dit dryf ‘n wig tussen ons en God (“Moenie die sondige wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Joh. 2: 15-17)). Ons moet voortgaan om ons lewens voort te bou in geloof, gebed en afhanklikheid van God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees (“Julle geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee” (Jud. 1 20-21)). In 1 Johannes wys Paulus ons op die leuenaars wat Jesus Chris tot leuenaar wil maak, terwyl hulle self die pad totaal byster is. (“Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hy is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie” (1 Joh. 2: 22)). Ons moet egter bly vashou aan die waarheid en ons moet besef dat ons niks anders nodig het nie (“Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe” (1 Joh. 2: 24-)), want die Gees bly in ons en gee ons daagliks leiding (“Wat julle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.” (1 Joh. 2: 27)).

Ons moet egter ook daarop let dat indien daar twyfel is om ons, moet ons alles in ons vermoë doen om ons oor hulle met versigtigheid te ontferm en hulle na die regte pad te help lei (“Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm…” (Jud. 1: 22-23); (“Moet hom egter nie soos ‘n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos ‘n broer.” (2 Tess. 3: 15)). Ons moet ook vir almal bid, ongeag of hulle vriend of vyand is. Wees egter verseker dat as jy alles in jou vermoë gedoen het om ‘n persoon wat afgedwaal het te waarsku oor sy verkeerde weë, en hy nie ag slaan op jou waarskuwings nie, en ook die geloof in Jesus Christus nie sy eie gemaak het nie, sal jy jou deel gedoen het, en het jy geen verdere skuld daaraan nie (“Maar as jy ‘n goddelose waarsku, en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid en sy goddelose lewenswyse nie, sal hy deur sy sondeskuld sterf, en jy, jy het dan jou eie lewe gered” (Eseg. 3: 19); “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal kan hê.” (Joh. 3: 16)). Aan God kom alle eer toe! Want Hy bewaar ons, lei ons en begenadig ons (“Lof aan God. Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!” (Jud. 1: 23-25)).

Kom ons lewe bedag op moontlike struikelblokke in ons pad deur dit versigtig te benader, ons plig in alle opsigte te doen, en die verleidelikheid van die wêreld ligvoets te vermy.