“Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:…”
(Joh. 16: 7-8)
Sonde en verlossing is onlosmaaklik aan mekaar gekoppel. Ons as mens is, in ons swakhede, so geneig om die sonde na te volg. Ten spyte daarvan dat ons weet dat wat ons verkeerd doen, wel verkeerd is. Die Here het Kain reeds in Genesis daarop gewys dat mens in openheid en met geligte kop kan leef wanneer ons goed doen. Ons moet leer om heerser oor ons sondes te wees. Tog lees ons telkemale in die Bybel van mense, asook die hele volk van Israel wat verkeerd doen.
“Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.“ (Gen. 4: 7);
“Moses het toe na die HERE teruggekeer en gesê: “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde gedoen. Hulle het vir hulle ‘n god van goud gemaak.” (Eks. 32: 31);
“Die verdienste van ‘n regverdige lei na die lewe; die inkomste van ‘n goddelose lei na sonde. Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op ‘n dwaalweg.” (Ps. 10: 16-17)
Ons kry ook die versekering dat God begrip het vir ons, en vergewensgesind is, maar tog nie die sonde ongestraf laat bly nie. Hy maan ons ook dat ons empatie vir ons medemens moet hê, en mense moet waarsku wat verkeerd optree, anders bring ons die oordeel oor onsself.
“Die HERE, die HERE, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag.” (Eks. 34: 7);
“Wanneer ‘n regverdige van sy regverdige lewe afwyk en onreg pleeg, en Ek ‘n struikelblok voor hom neersit, sal hy sterf. As jy hom nie waarsku teen sy sonde nie, sal hy sterf; sy regverdige dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie. Sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. En jy as jy ‘n regverdige waarsku om nie te sondig nie, en hy, die regverdige, sondig nie, sal hy beslis leef, omdat jy hom laat waarsku het; en jy, jy het dan jou eie lewe gered.” (Eseg. 3: 20-21)
God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees is ‘n barmhartige God, wat ons so lief het. Hy wil hê dat ons Hom moet ken. Elkeen van ons moet Sy liefde ervaar, en sy verlossende vergifnis. Dis reeds in Jesaja voorspel dat God ons sal verlos uit die slawerny van die sonde. Ons sal vry en vol vreugde wees in die genade wat God aan ons betoon het.
“Die HERE ontbloot sy heilige arm voor die oë van al die nasies. Al die uithoeke van die aarde ervaar die verlossing deur ons God.” (Jes. 52: 10);
“Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal my ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,“ is die uitspraak van die HERE. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie. So sê die HERE,…” (Jer. 31: 34-35);
“Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is ‘n slaaf van die sonde. En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh. 8: 34-36)
‘n Anonieme aanhaling verduidelik so goed waar ons moet begin met die aanvaarding van die verlossing, naamik: ‘Die eerste stap na die herstel van die siel is die kennis van sonde.’ Jesus Christus se kruisdood het tot gevolg gehad dat ons volkome vry kan wees, want die sonde word ons nie meer toegereken nie. Hoe gelukkig kan ‘n gelowige nie wees nie? Ons kan nou tot eer en verheerliking van God leef deur die Heilige Gees se leiding, wat ons lewend maak vir God. In nederige ootmoed voor God vir die wonderlike genadegawe. Hierdie Genadegawe is nie net vir sekere mense nie, maar vir almal! Vir die hele wêreld bedoel! So, elkeen wat Sy Naam aanroep kan hierdie gawe ontvang!
“Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” (Rom. 4: 8);
“Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur een mens, Jesus Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot vryspraak van baie oortredings gelei.” (Rom. 5: 15-16);
“Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.” (Rom. 6: 10-11);
“Dra ook die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God.” (Eff. 6: 17);
“En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.” (1 Joh. 2: 2)


